Die emigrasie van Boere na Patagonië (‘n streek van Argentinië) na die Tweede Vryheidsoorlog is goed bekend, maar min van ons weet van die Walliese gemeenskap wat sowat 40 jaar vroeër as die Boere, in 1865, van Wallis na Patagonië geëmigreer het. Walliesers was deel van die groot menigte Europeërs wat veral in die tweede helfte van die 19de eeu na Amerika (Noord en Suid) geëmigreer het op soek na ‘n beter lewe en geleenthede in die “Nuwe Wêreld”. Verreweg die meeste het gekies om na die multikulturele en ontwikkelde VSA toe te gaan. ‘n Klein groep Walliesers, gelei deur die charismatiese predikant Michael Jones (wat egter net die trek gereël het en self in Wallis aangebly het) het egter doelbewus in die yl bevolkte en geharde Patagonië gevestig, juis om hulle taal en kultuur in isolasie lewendig te hou, terwyl hulle volksgenoot in die VSA vinnig ingesmelt is in die “melting pot”.
Die Walliesers het hulle land verlaat as gevolg van die Industriële Revolusie, wat die Walliese tuisproduksie verdring het, deur massaproduksie en daarmee saam ook Engelse invloed en kultuur in Wallis ingedra het. ’n Hele oeroue leefwyse en kultuur is bedreig en talle wou eerder in Amerika nuut begin as om deur Engeland geassimileer en verarm te word. Alhoewel in die VSA ook Walliese kolonies gestig is, was die druk van Engels as taal (wat die Walliesers natuurlik ook kon praat) en die assimilasie te sterk. In Argentinië met sy vreemde kultuur en onbekende Spaans was dit makliker om geïsoleerd en kultureelhomogeen te bly.
Die Argentynse regering was dankbaar vir setlaars in sy ylbevolkte gebied en kon daardeur effektiewe beheer toepas. Onbevolkte gedeeltes kon maklik deur die buurland Chili, in ‘n tyd van “sagte grense”, beset en opgeëis word (soos wat dit met die voormalige kusstrook van Bolivië gebeur het).
Die eerste groep van sowat 200 Walliesers het in Mei 1865 met die skip “Mimosa” vanaf Liverpool na Patagonië vertrek. Die nuwe land was egter ‘n teleurstelling en het min met die groen, boomryke en waterryke Wallis in gemeen gehad. Dit was ’n land van uiterstes: koud, winderig, en droogtes en oorstromings het mekaar afgewissel. Aanvanklik is hulle deur skepe versorg, maar dan kon hulle hulle benarde situasie beredder deur besproeiing aan te lê om kos te verbou. Na sowat 10 jaar van moeilike pioniersbestaan was die kolonie gevestig en het hulle selfs ’n mate van voorspoed beleef en nuwe intrekkers het van Wallis gearriveer. Skole en administratiewe instellings is geskep en die amptelike taal in die outonome kolonie was Wallies. Teen die eeuwisseling was die kolonie so voorspoedig, dat nuwe nedersettings in die provinsie aangelê is.
Die aankoms van ander, nie-Walliese setlaars as gevolg van die ontwikkeling in Patagonië en die ontdekking van olie het die Walliesers en hulle outonomie bedreig. Dit was ook in daardie tyd wat die Boere in min of meer dieselfde streek as die Walliesers gearriveer het en ook kolonies gestig het. Die Walliesers was darem meer gewoond aan koue as die Boere en het die beter lande vir hulle gevat. Beide groepe was vreemdelinge in Argentinië en het kultureel en godsdienstig van die Spaanssprekende Argentyne verskil. Hulle was en is ook Protestante en in sekere dele het die Walliesers en die Boere kerkgeboue gedeel.
Soos wat die provinsie ontwikkel het, het die Argentynse regering sy houvas versterk en Spaans as enigste amptelike taal afgedwing. Die Walliesers (en die Boere) is aan sterk assimilasiedruk onderworpe en teen 1950 was daar min wat nog Wallies gepraat het.
Die honderdjarige herdenking in 1965 het egter weer herlewing gebring en so ook die huidige 150jarige herdenking van die nedersetting. Alhoewel min mense nog werklik suiwer Wallies is, is daar heelwat in die provinsie Chubut wat hulle herkoms vier en die bewustheid van die Walliese afkoms en kultuur en die bewusmaking daarvan is sterker as onder die nakomelinge van die Boere. Die unieke Walliese taal, wat geen ooreenkoms met Engels het nie, word blykbaar (anders as Engels) nog heelwat in die provinsie gepraat en kulturele byeenkomste soos die Eisteddfod word gehou ter herdenking aan die Walliese erfenis. Sowat 50 000 mense in die provinsie het iewers Walliese voorsate, maar slegs sowat 1500 praat nog Wallies.
Interessante brokkie geskiedenis waarvan ek glad nie bewus was nie. Ek sit nou en wonder. Was ons Boere wat soontoe gegaan het suiwer Afrikaans sprekend was, of suiwer Nederlands sprekend was? Ek vermoed dat hulle eerder gemengde Hollands/Afrikaans gepraat het. Vandaar dalk een van die groot redes hoekom hul nasate nie soos die Walliesers hul taal van herkoms kon behou nie. Volgens die Bloomberg Missery Index gaan dit maar beroerd in Argentinia en dis regtig jammer dat ons nie in staat is om hierdie mense te kan help nie.
Interessant. Volgens die Bloomberg Misery Index van 2015 is Venezuela die land met die slegste ekonomie. Argentinië die tweede slegste en Suid-Afrika die derde slegste. Ek het egter nie na die metode agter die indeks gekyk nie en vermoed dat dit sekere kleiner piesangrepublieke soos Somalië uitsluit.
Flip, ek dink jy is reg, teen die begin van die 20ste eeu het die Afrikaners, of Boere soos hulle destyds genoem is, nog nie vandag se Afrikaans gepraat nie, maar ‘n soort mengvorm tussen Nederlands en Afrikaans. Vriende van my het so ‘n paar jaar gelede die nasate van die Boere in Patagonië besoek. Ek sal by hulle hoor watter tipe Afrikaans die mense daar gepraat het.
Terloops, as ons ‘n eie staat gehad het dan kon ons sulke dinge doen soos om na ons mense in ander lande om te sien en die kultuur en taal lewend te hou deur uitruilprogramme, kultuurfeeste, ‘n konsulaat ens. Ek is egter bevrees dat daar oor sowat 20 jaar niks meer sal oor wees van die Boere-nasate en hulle volledig verspaans het.