Orania se nuwe publikasiereeks, wat volg na ‘n lang stilte sedert die Vryheidsreeks wat in die geboortejare van Orania en die volkstaatideaal in die laat 1980’s en vroeë 1990’s verskyn het, het verlede jaar afgeskop met Frans de Klerk se Orania – van dorp tot stad. ‘n Nuwe strategie. Dit is nou opgevolg met ‘n besonder omvattende werk uit die pen van Carel Boshoff getiteld Verder as vryheid. Die boek kan nie in een sin opgesom word nie. Dit is ‘n samevatting van Carel Boshoff se politieke en filosofiese denke, asook ‘n geskiedenis van die volkstaatstrewe en ‘n hedendaagse motivering daarvan. Ten spyte van die erns van die saak, naamlik die toekoms van die Afrikanervolk, maak die humorsin en die persoonlike staaltjies wat in die boek ingeweef is dit maklik leesbaar, ook vir iemand wat nie, soos Carel Boshoff, die volkstaatstrewe en Afrikanerskap met die moedersmelk ingekry het nie.
Die eerste deel van die boek vertel waar die skrywer, sy familie en die volk waarvan hy deel is vandaan kom en hoe dit ontwikkel het in die afgelope breedweg honderd jaar. Die ontwikkeling van die Afrikaner word bespreek, wat volgens Boshoff in drie duidelik onderskeibare fases plaasgevind het, van die eerste, oftewel landelike en familiegebonde Afrikaner van die 19de en vroeë 20ste eeu na die tweede, stedelike en individualistiese Afrikaner van die Republiek van Suid-Afrika tot en met die huidige derde, nog ontluikende derde Afrikaner in die swart beheerde Suid-Afrika na 1994. Daarmee saam word ook beslissende terme soos volk, staat en volkstaat filosofies en histories verduidelik, maar op ‘n hoogs leesbare en kontekstuele wyse. Deel een gaan breedweg oor die tyd van Afrikanerbeheer oor Suid-Afrika.
Die tweede deel gaan oor die oorgang na en voltrekking van die “nuwe” Suid-Afrika en die volkstaatstrewe wat in die tyd momentum gekry het. Boshoff gee binne-insig in organisasies en instansies waarby hy betrokke was in daardie tyd, soos die Afrikaner-Volkswag, Afrikaner-Vryheidstigting, Vryheidsfront en Volkstaatraad en die wisselwerking en onderhandelinge met die regering en belangrike rolspelers. Dit was ook in daardie tyd wat Orania deur Boshoff se pa gestig is. Kragte soos demografiese verandering, globalisering en die individualisering en liberalisering van die Afrikaner staan teenoor die ontwikkeling van Orania as alternatief.
Die derde deel gaan spesifiek oor die toekoms, vergestalt deur Orania en die Orania Beweging, wat nuwe antwoorde op nuwe vraagstukke moes vind en ‘n nuwe strategie om vryheid en volhoubaarhied vir die Afrikanervolk te bereik, moes bedink. Die paradigamskyf van “kits-vryheid” binne ‘n territoriale staat na groeiende vryheid binne ‘n gemeenskap word ook bepleit. Die boeiende vraag wat vryheid nou eintlik is en hoekom almal daarna smag en strewe, ten spyte van die erg verskillende interpretasies daarvan, word laaste behandel. Die boek gee ook ’n volledige antwoord op die vraag hoekom Orania en sy mense doen wat hulle doen en waar Orania in die breë konteks, sowel van die Afrikaner asook Suid-Afrika, inpas.
Die boek is uiters leesbaar deur sy afwisseling van outobiografiese grepe, ligtelike staaltjies, politieke filosofie, Griekse mitologie en onlangse geskiedenis vanuit ‘n Afrikaner-perspektief. Die outeur is ten nouste betrokke en die liefde vir sy volk is sigbaar, maar dit maak hom nie blind vir talle foute wat begaan is en wat deels die oorsaak is vir Afrikaners se huidige magtelose toestand. Die boek bied egter hoop en wys ‘n uitweg vir Afrikaners wat vry wil wees en self hulle lot wil bepaal.
Lede van die Orania Beweging kan `n gratis kopie kry. Posgeld is wel betaalbaar. Stuur gerus `n e-pos aan ontvangs@orania.co.za. Boeke is ook te koop teen R150 (posgeld uitgesluit).
Bravo, Carel IV!
Dankie, Sebastian!
Ek het hom bestel. Kan nie wag om te begin lees nie.
As Carel so duidelik en verstaanbaar oos jy skryf Sebastiaan, dan moet ek daardie boek ook lees.
Dankie vir jou interresante skrywes. Baie moeilik om daarop kommentaar te lewer. Jy het die vermoë om sommer klaar die vraë in jou skrywe te beantwoord.
Dankie Arnold. My en Carel se skryfstyl verskil wel, maar hy skryf in die boek uiters leesbaar, verstaanbaar en boeiend.
Is die opsie van ‘n elektroniese kopie beskikbaar?
Sias, ongelukkig nie. Ons kan die boek vir jou pos. Vir lede van die Orania Beweging is dit gratis.