fbpx

SlagofferElke volk was in sy geskiedenis slagoffer sowel as onderdrukker. Die grade van die een of die ander een verskil. Dit hang ook af van ‘n volk se omstandighede en geleenthede tot onderdrukking. Volke wat groot is, is uit die aard van die saak meer in staat om die boelie te wees as klein en swak volke. Die indeling van die wêreld en die geskiedenis in onderdrukkers (wat gewoonlik wit, manlik en Westers is) en onderdruktes, wat al die ander is, is onsinnig en histories ongegrond. Dat Europeërs Afrika en dele van Asië gekoloniseer het en nie andersom nie het te doen met die Weste se destydse tegnologiese moontlikhede en hulle uitwaartse kyk en hulle goeie skepe, nie met hulle wese van aggressie en brutaliteit nie. Afrika en die Ooste het in die grootste deel van hulle geskiedenis ‘n inwaartse kyk gehad. Ontdekkingstogte het kolonisasie vooruitgeloop.

Dat Afrika en Asië nie soos die Weste gekoloniseer het nie, beteken egter nie dat hulle vreedsaam was nie. Hulle slagoffers was net volke naby hulle wat dieselfde velkleur gehad het. Daar was egter ook verwoestende aanvalle vanuit Asië of Afrika na ander vastelande. Dink maar aan die aanvalle van die Mongole uit die Asiatiese steppe tot diep binne-in Europa, waar niemand ontsien is nie, of die Moslems van Noord-Afrika. Daar was die strooptogte wat sterk Afrika-stamme teen swakker stamme gevoer het. Dat dit tot Afrika beperk gebly het, het meer met die nie-bestaan van skepe in die Afrika-kultuur te doen as met Afrikane se minder aggressiewe aard. Die enkele klein volke wat ewig aan die ontvangkant was, soos die Boesmans, bestaan om die rede nie meer nie. Geen volk kan oorleef as dit net ‘n slagoffer is, en die redenasie van Afrika as die ewige onderdrukte is gewoon nie waar nie. So grusaam soos swartmense tydens die era van Slawerny behandel is, so grusaam was hulle teenoor mekaar. Dat sterker swart stamme meegedoen het aan slawerny deur ander stamme te oorval en aan die slawehandelaars te verkoop is ‘n bekende feit, wat egter dikwels verswyg word omdat dit nie inpas in die beeld van die “edele wilde” (met erkenning aan Jean-Jaques Rousseau) en die gees van ubuntu nie. Die grootste oorloë vind in elke geval tussen dieselfde ras plaas. Europa se vergrype in Afrika word deur die gruwels binne in Europa tydens die talle oorloë in die skaduwee gestel.

Om die geskiedenis te verkort tot die Europese ontdekkings- en veroweringstogte, is om geskiedenis in te span vir ‘n ideologie. Dié ideologie is die van die ewige slagoffer wat geregtig is op ewigdurende medelye en kompensasie. Die Afrikaner se geskiedenis is ‘n toonbeeld van veral onderdrukking deur ander, groter volke, by name die Britte, maar ook onderdrukking van ander. Laasgenoemde was egter tot ’n relatiewe kort tydperk beperk, eintlik maar die hoogtyd van die sogenaamde apartheid en selfs daar was die vergrype nie naastenby so erg soos wat dit nou gemaak word nie. Die vereenvoudiging dat alle onderdrukking met Jan van Riebeek begin het is natuurlik histories uiters aanvegbaar, om die minste te sê. Ongeag die vraag watter volk meesal onderdrukkers en watter meesal verdruktes is, is die mentaliteit wat saamgaan met diegene wat hulle, te reg of te onreg, as ewige verdruktes sien, teenproduktief. Die Afrikaner het na die Tweede Vryheidsoorlog met al sy gruwels wat deur die Britte teenoor hulle gepleeg is, uit die stof opgestaan en nuwe hoogtes bereik. Ten spyte van afgebrande plase en verskeurde families het hulle weer opgebou en vorentoe gekyk. Nie om te vergeet nie, maar om nie deur bitterheid en haat verlam te word nie. Dit was juis die opstaan wat respek afgedwing het, en latere Britse regerings het besef dat hulle voorgangers die Boere onreg aangedoen het en die Unie van Suid-Afrika van 1910 het spoedig aan die verloorders mede-seggenskap gegee, wat selfs later op volle beheer uitgeloop het. Dit was nie ‘n maklike proses nie, maar die alternatief, om die Britte vir elke mislukking, elke misoes en elke epidemie te blameer sou die Afrikanervolk verbitterd, versukkeld en sonder selfrespek gelos het.

Ook die Jode het na al die gruwels van die Tweede Wêreldoorlog nie in sak en as gesit en net gekla oor hulle lot nie (dit natuurlik ook, te reg), maar ‘n nuwe begin in Israel gemaak en dit juis as reaksie op die voortdurende haat en onderdrukking wat hulle moes ervaar, uitgebou tot ‘n moderne en welvarende land wat hulle sou beskerm teen toekomstige onderdrukking. Ongelukkig het talle volke in Afrika nie dieselfde gedoen nie. Meer as 50 jaar na kolonialisme en breedweg 150 jaar na die einde van slawerny word dit nog steeds vir elke euwel en mislukking geblameer. Sonder om die negatiewe impak van die twee faktore te wil ontken, moet vasgestel word dat die kultuur en mentaliteit van slagofferskap jou juis afhanklik en onderdruk hou. Alle geld ter kompensasie en alle verskonings van die nakomelinge van die onderdrukkers kan nie die agterstand uitwis as volke wat onderdruk was nie besef dat hulle nou die verlede moet agterlaat en juis hulle geskiedenis van onderdrukking deur ‘n hede en toekoms van prestasie ongedaan moet maak. ‘n Slagoffer kry simpatie en medelye, maar nie respek en waardering nie. Alle volke smag egter na respek en waardering. Nadat wedersydse oortredings bely is en waar moontlik vergoeding betaal is, moet egter vorentoe gekyk word en gewerk word vir ‘n beter toekoms. Afrikaners mag nie die onreg wat tans teen ons gepleeg word verswyg nie, maar juis die onreg, soos moorde, diskriminasie en miskenning van ons taal en kultuur behoort ons as volk kollektief te laat opstaan om saam vir ons ‘n toekoms te bou waar ons nie meer slagoffers sal wees nie. Elke Afrikanergemeenskap behoort wit kruise ter bewusmaking van plaasmoorde te plant, of ander bakens ter herinnering aan ons onderdrukking, in die verlede en tans, op te rig, maar dit moet nooit as verskoning gebruik word om niks te doen nie, altyd ander te blameer en as’t ware in ‘n gemaksone van slagoffermentaliteit te verval.

Sebastiaan Biehls is `n navorser by die Orania Beweging