by Orania Beweging | Jun 26, 2015 | Nuus |
In die jongste uitgawe van The Economist word daar ondersoek ingestel na die rede waarom sekere volke uit die as opstaan en uiteindelik staatskap bereik en ander as volk vergaan en nooit enige kans op vryheid en selfbeskikking het nie. Die historikus Eugene Rogan van die Universiteit van Oxford praat van sekere voorwaardes wat noodsaaklik is om as minderheidsvolk sonder ‘n eie staat te oorleef en uiteindelik uit die as op te staan en selfs volle onafhanklikheid te bereik.
Die belangrikste voorwaarde is kritieke massa, veral in die vorm van ‘n konsentrasie in ‘n gebied wat omlyn en afgeskei kan word. Hy vergelyk die gevalle van twee Midde-Oosterse minderheidsvolke, die Koerde en die Assiriërs/Arameërs, ‘n oeroue volk wat reeds in die Bybel genoem word. Die Koerde is vir lang tye wreed onderdruk, veral onder die Irakese diktator Saddam Hussein, maar hulle kon dit regkry om in die noorde van Irak (en dele van Turkye, Iran en Sirië) gekonsentreerd te bly woon. Die konsentrasie het gemaak dat die Koerde in die post-Saddam era op territoriale outonomie kon aanspraak maak en dat die outonomie selfs in die toekoms tot onafhanklikheid kan verander. Die Assiriërs daarteenoor is deur die burgeroorlog in Sirië verstrooi en het geen noemenswaardige konsentrasie meer nie. Ook die Krim-Tatare, wat vir eeue op die Krim-skiereiland in Rusland gewoon het, is deur Stalin na Siberië verban en verstrooi en is vandag slegs ’n minderheid van sowat 15% op die Krim. Verder is dit ook voordelig as ‘n volk ’n historiese en legitieme aanspraak op ‘n gebied het. Geografie speel ook ‘n rol. Die fisiese isolasie, natuurlike grense en beveiliging wat die berge van Noord-Irak aan die Koerde bied help beslis in hulle selfhandhawing.
Om ‘n nasionale bewussyn te behou is ook belangrik. As ‘n volk nie weet wat hom uniek maak nie, as hy nie trots is op sy geskiedenis, taal, kultuur en gewoontes nie, dan bestaan daar ook geen wil om voort te bestaan nie. Pole was vir ‘n eeu nie ’n staat nie, maar omdat die Poolse kultuur voortgeleef het, kon ‘n onafhanklike Pole later weer hergebore word.
Administratiewe en staatsregtelike sake soos grense wat eenmaal getrek en erken is moet egter ook nie buite rekening gelaat word nie. Armenië was ‘n kortstondige staat tussen die twee Wêreldoorloë en is deur die Sowjet-Unie ingelyf. Armenië het gedweë ingestem en sy grense is behou maar afgegradeer tot status van deelstaat. As deelstaat kon Armenië later egter weer onafhanklik word na die opbreek van die Sowjet-Unie in 1991. Die Tsjetsjene daarteenoor is gewelddadig in die Sowjet-Unie ingelyf na woeste verset en het geen status as deelstaat gekry nie (al het hulle in hulle gebied bly woon) en kon dus ook nie wettiglik afstig in 1991 nie.
Bloedige onderdrukking kan ’n volk óf vernietig en versprei, óf juis aanspoor om te oorleef en na vryheid te strewe. Laasgenoemde word dan ‘n soort messiaanse roeping om te oorleef of ‘n aangrypende verhaal van onderdrukking en ‘n vryheidsgees wat volksgenote tot uiterste opofferings aanspoor om vryheid te bereik. Die bloedige onderdrukking lei ook tot internasionale simpatie en steun. Die Armeniërs, Jode en Koerde is voorbeelde daarvan. Die Armeense en Joodse volksmoorde word internasionaal erken en weeg swaar en aktiveer ook ander volke en state om diegene wat reeds onder volksmoord deurgeloop het te beskerm. Onderdrukking lei verder tot nog iets wat in sekere gevalle voordelig kan wees: die ontstaan van ‘n diaspora (wêreldwye verstrooiing). Sowel in die geval van die Armeniërs en die Jode het die diaspora (in al twee gevalle groter as die moederlande se bevolking) ‘n groot rol gespeel in befondsing, inspirasie en steun. Ook die intellektuele en kulturele bevrugting van die diaspora moet nie onderskat word nie. Dikwels is die mense van die diaspora die groter nasionaliste en idealiste as diegene wat tuis gebly het en daagliks om oorlewing veg. Alles is egter nutteloos sonder een kritieke voorwaarde:
Die houding en toestand van die staat waarvan die minderheid wil afstig. In min gevalle vind afstigting met toestemming van die moederland plaas. In meeste gevalle moet die moederland eers so agteruitgaan dat dit verbrokkel (staatsverval). Die Osmaanse Ryk en die Sowjet-Unie se verbrokkeling het vir talle volke soos die Armeniërs vryheid moontlik gemaak (na lyding) en in vandag se tyd is dit die verval van Irak en Sirië wat dalk ‘n vrye toekoms vir die Koerde skep. In die sterk en funksionerende state soos Turkye en Iran, waar meeste Koerde woon, is die vooruitsig op eie staatskap egter gering.
Deel 2 van die artikel verskyn Maandag.
by Orania Beweging | Jun 19, 2015 | Nuus |
Soedan/Suid-Afrika: Internasionaal gesoekte volksmoordenaar ontsnap met goedkeuring van Suid-Afrikaanse regering.
By die beraad van die Afrika-Unie in Suid-Afrika was die meeste staatsleiers van Afrika teenwoordig. Onder andere is oor die stigting van ‘n vryhandelsone in die grootste deel van Afrika gepraat. Die beraad het egter internasionaal opslag gemaak omdat die Soedanese diktator Omar al-Basjir deur die Suid-Afrikaanse regering genooi is en diplomatieke steun en beskerming geniet het. Die Internasionale Strafhof (IS) het ’n bevel vir sy inhegtenisname uitgereik en die regterpresident van die Suid-Afrikaanse Hooggeregshowe het gelas dat al-Basjir in hegtenis geneem moet word. Die Minister van Binnelandse Sake moes toegesien het dat al-Basjir nie die land mag verlaat nie. Volgens die Roomse Statuut van 1999, wat deur Suid-Afrika onderteken is, moes die Suid-Afrikaanse regering die bevel eerbiedig het. Al-Basjir het egter Maandag teruggevlieg Soedan toe om inhegtenisname te ontsnap. Dit kon net met goedkeuring van die Suid-Afrikaanse regering geskied het, maar geen verduideliking is deur die regering voorsien nie.
Intussen het dit ook aan die lig gekom dat Suid-Afrikaanse troepe, wat as deel van ‘n VN-vredesmag in Darfoer, Soedan, gestasioneer is, omsingel en effektiewelik gyselaar gehou is terwyl al-Basjir nog in Suid-Afrika was en met inhegtenisneming gedreig het. Suid-Afrika kon daardeur beweeg gewees het om liewer bes te gee as om sy troepe in gevaar te stel, maar dan sal die land die ongehoorde optrede met Soedan opneem. Daar bestaan egter steeds `n vermoede dat die regering al-Basjir doelbewus en sonder dwang laat ontsnap om vir die IS en “die Weste” te wys dat hulle kan en dat Afrika-solidariteit en die AU bo internasionale reg en verdrae verhewe is.
Die voorsitter van die kommissie van die AU, mev. Dlamini-Zuma, het met ‘n vreemde verduideliking Suid-Afrika se verantwoordelikheid afgewys. Daarvolgens is die AU outonoom en as die AU sy beraad hou word die plek waar dit plaasvind “eksterritoriaal”, is dus nie meer Suid-Afrika nie, maar vir die tyd van die beraad die AU se grondgebied.
Al-Basjir het 1989 deur middel van ‘n staatsgreep aan bewind gekom en word vir die volksmoord van sowat 300 000 mense in Soedan verantwoordelik gehou. Al-Basjir is ‘n Islamitiese fundamentalis en beveg bloedig alle volke in die veelvolkige Soedan wat nie Moslems en/of nie van Arabiese afkoms is nie. Tot en met die afskeiding van Suid-Soedan danksy Amerikaanse druk is die Nilotiese volke van die suide (Christene en Animiste) grusaam vermoor. Dokumentasie oor volksmoord is volop danksy internasionale organisasies. Ook die swart mense van Darfoer, ‘n streek in die weste van Soedan, wat wel Moslems is, maar nie Arabiere nie, is grusaam vermoor deur die aanstigting van al-Basjir, wat die berugte Janjawid-paramilitêre magte op hulle losgelaat het. Onbeskryflike gruweldade is daar gepleeg.
Die Internasionale Strafhof vervolg mense wat aan volksmoord skuldig is. Die meeste state wêreldwyd, ook Suid-Afrika, het die verdrag van Rome van 1999, wat die IS opgerig het, onderteken en is aan sy bepalings gebonde. Veral Afrika-lande steur hulle egter nie daaraan nie en solidariteit met mekaar weeg sterker as menseregte, alhoewel altyd lippetaal daaraan bewys word. Trouens, min Afrika-leiers het ‘n skoon rekord en die solidariteit onder mekaar kan as ‘n soort mafia-erekode verstaan word. Die AU se leiers beweer dat op Afrika gepik word en die ou geykte “die Weste/imperialiste teen die mense van Afrika” tema skemer deur. Die IS pik nie op Afrika nie, maar Afrika is die enigste vasteland wat nie self sy menseregteskendings en volksmoorde (behalwe as dit deur die ou blanke bewind gepleeg is) aanspreek nie. Die enigste uitsondering was die tribunaal oor die volksmoord in Ruanda. Daarteenoor het Latyns-Amerika en selfs Asië al sekere volksmoorde en menseregteskendings deur interne tribunale ondersoek en die skuldiges gestraf.
Dit is onwaarskynlik dat daar nou sanksies teen Suid-Afrika ingestel gaan word, alhoewel dit moontlik is en ook regtens sou wees weens ‘n growwe oortreding van ‘n internasionale verdrag. Suid-Afrika het die steun van omtrent alle Afrika-lande en sanksies is moeilik toepasbaar as net enkele lande dit doen. Swaarder weeg egter die verdere verlies van die eens hemelhoë morele status wat Suid-Afrika se regering na “bevryding” gehad het, veral by sy links-liberaal gesinde ondersteuners in die Weste. Hier moet egter opgemerk word dat ook onder mnr. Mandela die buitelandse beleid min met ‘n kruistog vir menseregte te doen gehad het. In mnr. Mandela se tyd is die diktator Muammar Gaddafi soos ‘n held in Suid-Afrika verwelkom en geen diplomatieke stryd is met Nigerië gestry oor die doodmaak van menseregteaktiviste nie.
Nuwe regse fraksie in EU-parlement.
Meer as ‘n jaar na die laaste verkiesing tot die Europese parlement kon die regse partye uiteindelik daarin slaag om ’n eie fraksie te vorm. Die verskeie partye wat nasionaal tot die Europese parlement verkies word, vorm met ideologies ooreenstemmende partye van ander lande politieke fraksies, soos sosialiste/sosiaal-demokrate, christen-demokrate, groenes, liberales ens. Die talle nasionalistiese partye kon dit weens te veel interne verskille tot dusvêr nie regkry nie. ’n Fraksie het besliste voordele bo enkele partye wat debatte, tyd om te praat, meer personeel en veral fondse betref. Die vereiste om ‘n fraksie te vorm is om ten minste 25 lede uit 7 verskillende lande te hê. Kort na die EU-verkiesing wou die Franse Front National en die Nederlandse PVV so ‘n fraksie vorm en het genoeg lede gehad, maar kon nie lede uit genoeg verskillende lande bykry nie. Die fraksie wat gevorm is noem hulleself “Europa van Vaderlande en Vryheid” en hulle staan vir ‘’n EU wat ‘’n statebond van soewereine vaderlande is, soos wat dit tot en met die verdrag van Maastricht bestaan het. Hulle het 36 lede. Hulle is ook teen onbeheerde immigrasie en teen islamisering gekant. Natuurlik is hulle deur die ander fraksies dadelik as “anti-Europa” gebrandmerk. Die grootste twee partye van die fraksie is die Franse Front National en die Nederlandse Partij Voor de Vrijheid. Ander partye is die Italiaanse Lega Nord, die Oostenrykse FPO, die Poolse Kongres van die Nuwe Regses, die Hongaarse nasionalistiese Jobbik, die Belgiese Vlaams Belang en ‘n enkeling van die United Kingdom Independence Party (UKIP) wat uitgeskop is. Mev. Marine Le Pen is tot die voorsitter van die nuwe fraksie verkies. UKIP het in die verlede ‘n ooreenkoms onmoontlik gemaak omdat hulle die FN as anti-semities verwerp het. Hulle is deel van die meer gematig regse fraksie “Europa vir vryheid en direkte demokrasie”.
Die verskillende fraksies is die Europese Volksparty (gematigd, christen-demokrate) met 221 lede, die Progressiewe Alliansie van Sosialiste en Demokrate (hoofstroom linkse partye) met 191 lede, Europese Konserwatiewes en Hervormingsgesindes (konserwatiewe en gematigd regse partye soos die Britse konserwatiewes, België se NVA en Pole se Reg en Geregtigheid) met 72 lede, die Alliansie van Liberales en Demokrate met 69 lede, die Verenigde Europese Linkses met 52 lede, die Europese Groenes met 50 lede, Europa vir Vryheid en direkte demokrasie (euro-skeptiese partye soos UKIP en die Italiaanse Vyf Sterre beweging) met 47 lede en laastens, Europa van Vaderlande en Vryheid met 36 lede. Sekere partye skuif tussen die fraksies en nuwes word gevorm na verkiesings.
by Orania Beweging | Jun 16, 2015 | Nuus |
Die sekularisering van die openbare lewe het die afgelope paar dekades soos ‘n golf oor die Westerse wêreld gespoel. ‘n Voorloper in hierdie proses was Nederland. Nederland was die eerste land waar huwelike tussen twee persone van dieselfde geslag wettig verklaar is. Nederland was ook een van die eerste lande waar genadedood goedgekeur is.
Nederland is vandag algemeen bekend as ‘n liberale land met min mense wat nog konserwatiewe Christelike waardes aanhang. Die fokus op die liberale sy van Nederland oorskadu egter die feit dat daar steeds vandag ‘n sterk Christelike streek in Nederland is. Die sogenaamde Bybelgordel strek uit Zeeland in die suide in ‘n band deur die oostelike dele van Suid-Holland en Utrecht en dan deur groot dele van Gelderland tot in Overijssel verder Noord. In die Bybelgordel is daar ‘n groot hoeveelheid dorpe en gemeenskappe waar konserwatiewe Christene in die meerderheid is en waar konserwatiewe, Christelike politieke partye soos die Staatkundig Gereformeerde Party goed doen in verkiesings en in talle gevalle selfs munisipale rade beheer.
‘n Belangrike stukkie nuus wat verlede week stil-stil plaagevind het, was ‘n referendum in die Ede-munisipaliteit. Ede is ‘n munisipaliteit in die weste van Gelderland, aangrensend aan die Hoge Veluwe Nasionale Park, waar daar onder andere ‘n standbeeld van Generaal De Wet, teenwoordig is. Ede word beskou as deel van die Bybelgordel en Christelike partye doen besonder goed in verkiesings in Ede.
Verlede week het daar ‘n referendum in Ede plaasgevind om inwoners self te laat besluit of hulle wil toelaat dat winkels op Sondae oop kan wees. Tans is alle besighede in Ede op Sondae gesluit. In Nederland word munisipaliteite die reg gegee om self oor hierdie aangeleenthede te besluit. In groot stede soos Amsterdam en Rotterdam word daar Sondae inkopies gedoen, terwyl daar in talle plattelandse dorpe geen handel gedryf word nie. Daar was die afgelope tyd in talle munisipaliteite in Nederland ‘n debat oor handel op Sondae. In Ede is egter besluit om vir inwoners te vra wat hul keuse sou wees. Sowat 46% van inwoners het aan die referendum deelgeneem. Dit is nogals ‘n hoë deelname, inaggenome die feit dat die referendum ‘n spesiale verkiesing was en nie deel was van ‘n nasionale of provinsiale verkiesing nie.
‘n Meerderheid van 57% van inwoners het gestem dat winkels steeds op Sondae toe moet bly. Dit is verrassend hoog omdat baie mense en partye in aanloop tot die referendum verwag het dat die verbod op handel op Sondae deur die referendum omgekeer sou word. Dit het egter nie gebeur nie. Ten spyte van mediaveldtogte en die boodskap van sogenaamde vooruitgang en modernisering het die mense van Ede besluit dat hulle steeds Sondag as ‘n rusdag wil respekteer.
Die debat oor handel op Sondae sal in Nederland en op ander plekke bly voortwoed. Die belangrike punt egter hier is dat gemeenskapsregte geseëvier het. Die gedelegeerde mag van ‘n gemeenskap om self oor sy sake te besluit is iets wat in liberale Nederland steeds geld en dit is goed. Afrikaners het selfstandige gemeenskappe soos Orania waar ons ook oor ons eie sake kan besin nodig.
by Orania Beweging | Jun 11, 2015 | Nuus |
200 jaar sedert die Weense Kongres. Presies 200 jaar gelede het die Weense Kongres plaasgevind. Dit was die groot byeenkoms van Europese staatsleiers om die toekoms van Europa na die oorwinning oor Napoleon te bepaal. Dit vergelyk met die Potsdam Konferensie van 1945. Napoleon se verowerings het grense geskuif en die ou orde deurmekaar gekrap. Die Weense Kongres het amper 9 maande geduur en het in September 1814 begin, kort na die neerlaag van Napoleon tydens die Volkereslag by Leipzig en het op 9 Junie 1815 geëindig. Napoleon het nie net ‘n Franse Ryk opgebou nie, maar in die proses talle adellikes in die vele klein staatjies van Europa ontsetel. Om nie ‘’n vakuum wat Napoleon se verwydering gelaat het aan demokrate en republikeine oor te laat nie, moes die oorblywende monargie die ou orde probeer herstel. Die leidende rol het die Oostenrykse kanselier Metternich gespeel wat die kongres byeengeroep het. Die belangrikste deelnemers was Oostenryk, Rusland, Pruise, Engeland, die Vatikaan en Frankryk in die vorm van die voormalige koningshuis. Napoleon was na Elba verban (maar sou later ‘’n “comeback” loods wat eers met die slag van Waterloo beëindig is). Die monargie is weer herstel en het in meeste gevalle tot in die vroeë 20ste eeu as absolute heersers voortbestaan. Vrede is bewerkstellig wat sou hou tot omtrent 1870, of in meeste gevalle tot 1914.
Turkye se Parlementsverkiesing `n terugslag vir president Erdogan. In die onlangse parlementsverkiesing het die konserwatiewe, gematigde Islamitiese AKP (Party vir Gergtigheid en Ontwikkeling) van president Recep Tayip Erdogan die volstrekte meerderheid wat hulle gehad het verloor en teruggesak na 41%. Dit is die eerste verlies na ‘n reeks verkiesingsoorwinnings die afgelope sowat 12 jaar. Hulle steun is veral sterk in die sentrale dele van Turkye, maar selfs in Istanbul.
Die tweede grootste party met 25% is die sekulêre, sosiaal-demokratiese CHP (Republikeinse Volksparty) wat die nalatenskap van Kemal Atatuerk in beskerming neem en voor die opkoms van die AKP Turkye se natuurlike party van regering was. Hulle steun is veral sterk in die westelike, toeristiese en meer Europese dele van Turkye
In die derde plek is die nasionalistiese MHP (nasionale Beweging Party) met 16%. Hulle wil niks weet van minderheidsregte nie en glo aan ‘n sterk, sentralistiese, maar sekulêre Turkye.
Die groot verrassing en relatiewe oorwinnaar was die HDP (Demokratiese Volksparty), ‘n linksgesinde party wat veral die belange van die Koerdiese minderheid (20%) verteenwoordig. Hulle het die keer 12 % en is die eerste keer in die parlement verteenwoordig. In Turkye geld ‘n 10% drempel wat dit moeilik maak vir kleiner, belangegerigte partye om verteenwoordiging te kry. Hulle steun is die sterkte in die oostelike dele. Hulle het egter nie net steun van Koerde gekry nie, maar ook van etniese Turke wat hulle as teenvoeter teen Erdogan se houvas op die mag sien. Dit is ’n deurbraak as ‘n mens dink dat Koerde tot onlangs toe nog verbied is om hulle taal in die openbaar te praat en nie as minderheid erken is.
Erdogan se plan was om ‘n tweederdemeerderheid te bereik en dit te gebruik om belangrike grondwetwysingings aan te bring wat die staat Turkye van ’n parlementêre tot ‘n presidiale demokrasie omskep soos die VSA. Tans het Turkye ‘n stelsel met ’n eersteminister (’n posisie wat Erdogan self lank beklee het maar na 3 termyne moes verlaat) en ‘n president, wat Erdogan tans is. Die president se posisie is veral seremonieël, iets wat nie genoeg is vir die magsbehepte Erdogan nie.
Mnr Erdogan kan as die suksesvolste leier sedert Kemal Atatuerk gereken word omdat hy belangrike kragte wat die Turke dryf kon bondel. Sy beleid is deels nasionlaisties en hy het sy land in ’n streeksmoondheid omskep. Verder het hy Turkye ekonomies sterk gemaak en talle mense, veral in die tradisioneel arm sentrale dele, het gebaat by ekonomiese groei en ’n sakevriendelike omgewing. Diegene wat glo aan Islam en sy behoudende waardes word ook deur sy gematigde Islamisme verteenwoordig.
Sy toenemend onverdraagsame en arrogante optrede en tendense in die rigting van ‘n diktatorskap het sy gewildheid egter laat taan en die opposisie laat saamstaan en hulle energie teen die AKP (wat die media grootliks beheer) en nie teen mekaar laat aanwend.
Turkye moet nou die eerste keer in sy geskiedenis ‘n koalisie vorm. Geen van die opposisiepartye wil met die AKP saamwerk nie, maar hulle verskil onder mekaar ook te veel om ’n koalisie teen die AKP te vorm. Interessante tye lê voor vir Turkye. Die verkiesing het dalk die begin van die einde vir mnr Erdogan ingelui.
by Orania Beweging | Jun 10, 2015 | Nuus |
(Foto: Netwerk24)Die lees van my neef Wilhelm se toespraak toe hy aan die verwyderingseremonie van ‘n HF Verwoerd-plaket deelgeneem het, het my teleurgestel. Nie omdat ek van sy sentimente en menings onbewus was nie, want dit is ou nuus. Miskien eerder omdat hy nie met iets sterker vorendag gekom het nie; omdat dit ‘n flouerige oproep is om, soos hy, ten spyte van jouself en jou agtergrond, liewer vir die “goeie” as die “slegte” te kies. En boonop omdat hy die “goeie” en “slegte” so eenvoudig vind om raak te sien. Maar liewer as om sy “salwing van die verlede” punt vir punt te probeer antwoord, konfronteer ek dit met ‘n meer komplekse siening van die werklikheid en die geskiedenis.
Dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf, is ‘n waarneming so oud soos die berge. ‘n Meer onlangse verwagting is dat die verloorder die oorwinnaar se siening moet deel. Van ouds het elke volk sy land en sy god gehad; elk ten volle oortuig van sy reg, al verloor hy die oorlog. Selfs mede-Christene in vyandige kampe was elkeen oortuig van sy eie reg voor God.
Na die Eerste Wêreldoorlog het die Geallieerdes die eerste maal gepoog om Duitsers te dwing om te aanvaar dat hulle nie alleen verloor het nie, maar ook verkeerd was. Met die pistool teen die kop het die Duitsers geteken, en van daardie dag af ‘n wrok gekoester. Die grootste Geallieerde oorwinning van die Tweede Wêreldoorlog was om Duitsers die skuld te laat aanvaar. Ten spyte van oorlogsmisdade aan albei kante, is slegs dié van Duitsers verhoor en gestraf.
Na 1994 beleef Afrikaners iets soortgelyk. Maar kom ons gaan haal die Suid-Afrikaanse storie verder terug.
Sedert ongeveer 1800 is die Suid-Afrikaanse geskiedenis gekenmerk deur ‘n magstryd (verskeie magstryde) tussen Afrikaners, die Britse Ryk en die swart mense van Suid-Afrika. Afrikaners (Boere) het hulle gevestig waar hulle hulleself teenoor swart stamme kon handhaaf. ‘n Diplomatieke proses van regte vestig het soms op militêre aksie uitgeloop, maar die Boere kon nooit ‘n klinkende oorwinning oor swart stamme behaal nie. Dit was juis die sentrale rede hoekom Brittanje die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in 1877 geannekseer het, voor dit in 1881 teruggehandig is.
Die ontdekking van goud in die ZAR in 1886 het die Boere se militêre onvermoë om swart stamme finaal te onderwerp, vir Britte van die komieklike na die skadelike laat beweeg. Die myne het arbeid benodig, wat die grootliks selfversorgende swart stamme net in genoegsame hoeveelhede sou lewer as hulle gedwing word. Die Britse oorwinning van 1902 het hulle in staat gestel om die trekarbeid-stelsel, wat reeds bestaan het, meer doeltreffend te maak en af te dwing. Die kern van die administratiewe taak in “Naturelle-reservate” was om die arbeidsvloei só te reguleer, dat daar altyd genoeg, maar nooit te veel nie, swart arbeiders in die mynstede beskikbaar sou wees. Ontwikkeling van dié gebiede was nie eers ‘n oorweging nie. Dit was die geval tot dr. H.F. Verwoerd in 1950 Minister van Naturelle Sake geword het.
Waar swart weerstand teen blanke oorheersing in die negentiende eeu oorwegend stamgedrewe was, het Britse sendingskole mettertyd ‘n nuwe klas van swartmense tot stand gebring – die wat ingevolge koloniale beleid, opgelei moes word om die kolonies namens Brittanje te regeer. Die opvoedingsdoel aan hierdie instansies was om ‘n klein groepie swartmense met die “nodige potensiaal” te identifiseer en ten volle te verEngels. Hulle finale lojaliteit moes aan Brittanje wees, en nie aan die stam waaruit hulle gekom het nie. Soos dié soort proses ook elders gewerk het, het dit in Suid-Afrika ‘n bykomende groep geskep, wat op mag aanspraak maak – ‘n verwestersde swart elite.
Aanspraakmakers op mag in Suid-Afrika was dus in die twintigste eeu:
- Aanhangers van die Britse Ryk, wat in Britsheid en die Engelse taal die ruimste en hoogste kulturele uitdrukking in die wêreldgeskiedenis gesien het. Die hoogste eer wat hulle Afrikaners of swartmense kon toebring, was om hulle binne dié geledere te aanvaar.
- Afrikanernasionaliste, wat rondom eie volk, eie taal, eie land gemobiliseer het. Hulle het bykans magteloos teen Britse kulturele mag aan die een kant, en swart getalle aan die ander kant, gevoel. Tog kon hulle die twee magte te bowe kom deur hulle volle sosio-ekonomiese spektrum in eie taal en kultuur te bemagtig; van “armblank” tot wêreldklas in twee geslagte.
- Verskeie swart stamme, wat wrokkig oor hulle onderhorige status was, maar nie veel daarteen kon uitrig nie.
- ‘n Klein maar groeiende swart elite (Swart nasionaliste), wat hulleself toenemend as die eintlike erfgename van Suid-Afrika gesien het. Hulle grootste struikelblokke was blanke mag (Engels of Afrikaans) en die verdelende effek van stamlojaliteit. Hulle stryd sou wees om dié twee te oorwin. Namate die eeu gevorder het, het ‘n doodstryd tussen Swart nasionaliste en Afrikanernasionaliste al meer onafwendbaar gelyk.
Nou iets oor H.F. Verwoerd. Hy het Stellenbosch kort na die Eerste Wêreldoorlog bereik as ‘n jong student met goeie skoolprestasies, maar sonder “kontakte”. Tog het hy hom as knap student, debatteerder en leier onderskei, sodat hy die buitengewone eer van ‘n Abe Bailey-studiebeurs na Oxford aangebied is – en geweier het. Liewer vir hom, ‘n aaneenlopende studie van Bacchalaureus- tot doktorale vlak, wat niemand tevore volledig aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het nie, want alleen só sou ons Afrikaneruniversiteite status verwerf.
Na verwerwing van ‘n doktorsgraad in die Sielkunde het hy in 1925 ‘n studietoer na Duitsland (waar Nasionaal-Sosialisme nog geen faktor was nie – veral nie in die Akademia nie) en die VSA onderneem. Hy het as professor in Sielkunde na Stellenbosch teruggekeer, maar spoedig die nuutste ontwikkeling in die internasionale geesteswetenskappe, Sosiologie, as ‘n akademiese dissipline gevestig. Hy was ‘n aktivis-akademikus, vir wie Sosiologie nie net ‘n akademiese dissipline was nie, maar eintlik ‘n skatkis van hulpbronne om die armoede en sosiale verval van sy tyd teen te werk.
Die aktivisme van Verwoerd het hom ‘n veilige akademiese pos vir die gebrek aan sekuriteit van ‘n nuwe Afrikaner-koerant in Johannesburg (van alle plekke) laat verruil. “Die stryd om die siel van die Afrikaner sal in Johannesburg gewen of verloor word” was ‘n oproep wat hom ook besiel het.
Die volgende groot stap in sy loopbaan was om die kabinetspos vir Naturelle Sake te aanvaar. Dit lyk net na ‘n veilige stap, tot ‘n mens sy werk in dié departement in oënskou neem. Een ding waaroor Afrikaners en Engelssprekendes in Suid-Afrika saamgestem het, was hulle vrees vir swart getalle. Om ten spyte daarvan in beheer te bly, is algemeen geglo dat swartmense “op hulle plek” gehou moes word. Onderwys moes tot die noodsaaklike minimum beperk word en mag aan swartmense moes uitgeskakel word. Die tradisionele rol van stamhoofde moes erken word, maar slegs ter wille van doeltreffende beheer van die massas.
As junior kabinetslid lê Verwoerd ‘n ambisieuse program vir swart onderwys voor, wat vir die eerste keer massa-onderwys van primêre tot tersiêre vlak in die oog gehad het. Boonop kort hy nie die mag van swart tradisionele leiers in nie, hy brei dit uit. Hy stel in die vooruitsig dat ‘n post-koloniale regeringstelsel in Afrika ontwikkel moes word wat Westerse – en Afrika-kenmerke in ‘n werklik inheems-moderne regeringstelsel sou insluit – ‘n formule waarna Afrika-denkers tot vandag toe soek.
Verwoerd se optrede as minister het teen die intuïsie van blanke Suid-Afrikaners ingedruis. Die VP opponeer die NP toe nie meer omdat “apartheid” onregverdig is nie, maar omdat tuislande die Kommunisme ‘n vastrapplek in Suid-Afrika sou gee. Die enigste party wat direkte swart verteenwoordiging in die Suid-Afrikaanse parlement bepleit het, die Liberale Party, het in 1958 al sy verteenwoordiging in die parlement verloor.
Strydig met hulle intuïsie, oortuig Verwoerd die kieserskorps en die NP-koukus dat massiewe besteding van geld en oordrag van mag aan swart belange, die enigste manier was om ‘n kop-aan-kop botsing tussen wit en swart in Suid-Afrika te voorkom. Hy verstom ‘n amptenaar as hy noem dat paswette tydelik moes wees, en dat blankes geen idee het hoeveel pyn dit veroorsaak nie. Nog ‘n amptenaar vra versigtig of dit wys is om universiteite vir swartmense te bou as daar nog sovee behoefte aan blanke kant is, waarop hy wys op die onskatbare waarde daarvan as in die toekoms met swart leiers oor die land se toekoms onderhandel sou moes word. Hy stuur die polisie by geleentheid stert-tussen-die-bene weg om ‘n “terroris” vry te laat, omdar hulle hom buite die Suid-Afrikaanse grondgebied in Swaziland gevang het.
Vir Verwoerd was die aansprake van liberale blankes en die swart elite nie polities gevaarlik nie. Hulle getalle en mag was té beperk. Die beskuldiging dat hy grond, mag en geld aan swart mense weggee, was polities gevaarlik – dit kon ‘n blanke-politikus sy posisie oornag laat verloor.
Maar vir swart nasionaliste (ontstam en grootliks verwesters) kon Verwoerd se beleid die doodsklok lui. Wat sou met hulle steun gebeur as ‘n swart middelklas binne die tuislande geskep kon word, soos Verwoerd se uitdruklike beleid was? Wat sou gebeur as die swart “proletariaat” in die tuislande ekonomies geaktiveer kon word? Wat sou gebeur as mag vinniger aan tuislande oorgedra sou word as wat enigiemand verwag (soos tot in 1963 die geval was) en swart mense die geleenthede met albei hande aangryp? Wat sou gebeur as swart mense hulle etniese identiteit minstens gelyk met hulle ras-identiteit waardeer? Wat sou gebeur as Verwoerd se aanbod om met die internasionaal erkende Lesotho en Botswana saam te werk en selfs Suid-Afrikaanse grond aan hulle af te staan (soos hy in 1966 in vooruitsig gestel het) aanvaar word? Wat sou gebeur het as stedelike swart owerhede as leerskole vir onafhanklike state aangewend sou word, soos Verwoerd in die 1950s voorgestel het?
Wat sou gebeur het, is dat swart nasionalisme veld sou verloor het. Die mag sou nie meer noodwendig in hulle skote val nie. Hulle sou die status as die enigste geloofwaardige stem van swart Suid-Afrika verloor. Hulle bestaan as politieke mag was op die spel. Daarom was hulle stryd nie dié van ‘n moreel hoogstaande bevolkingsmassa teen ‘n ‘n regering sonder moraliteit nie, maar van ‘n bepaalde magsgroepering wat hom teen ‘n onvoorsiene veroop van sake moes verweer. Nie reg teen onreg nie, maar ‘n aanspraakmaker op mag, wie se vooruitsigte nie die ontknoping van ‘n direkte konfrontasie kon oorleef nie.
Die aanbod wat Verwoerd aan swart mense gemaak het, het teen die aanbod van die ANC te staan gekom. Verwoerd het die model van Afrikaner-bemagtiging in die agterkop gehad en as’t ware gesê: “Bring julle vermoëns, hulpbronne en julle ywer, en die staat sal daarby voeg, en dan word julle bemagtig deur julle etniese trots met ekonomiese aktiwiteit te konkretiseer.”
Die ANC se aanbod was veel meer aanloklik: Dit het as’t ware gesê: “Sien julle alles rondom julle? Dit is julle s’n, maar julle gaan dit eers kry as die regering se planne skipbreuk ly. Boikot skole, moenie vir dienste betaal nie, moenie aan regeringstrukture deelneem nie, dan sal julle alles beërwe”
Natuurlik was die ANC se aanbod die aantreklikste. En ook het dit ‘n kultuur van wanbetaling en weiering tot samewerking geskep. Nadat die ANC in 1994 oorgeneem het, het hulle veral drie vrugte daarvan gepluk:
- ‘n Swart minderheid is in staat gestel om die openbare bates van Suid-Afrika op ongekende skaal te privatiseer, terwyl die swart meerderheid se steeds verswakkende onderwys en afnemende werksgeleenthede moet verteer deur onvolhoubare maatskaplike besteding te ontvang.
- Soos die NP van ouds en Verwoerd spesifiek, moes hulle sluk dat stabiliteit van ‘n regering kan vereis om werklikhede wat hom dwars in die krop steek, voort te sit. Daarom hou die huidige regering ook (soos Verwoerd) die uiters problematiese stelsel van trekarbeid in stand. Die winste word tans tussen mynbase (baie van hulle uit die swart elite) en arbeidsmakelaars (byna almal uit die swart elite) verdeel.
- ‘n Kultuur van nie-betaling en nie-samewerking word moeilik omgekeer. Die ANC moet vandag ‘n land regeer waar skole liewer afgebrand as met gemeenskapsaksie opgebou word; waar krag liewer gesteel as wettig aangesluit word; waar mense gaan woon waar hulle ‘n gerieflike stuk grond sien, sonder om te vra waarvoor dit bedoel is.
Hierdie is een perspektief op die bepaalde stuk geskiedenis. Dit is beslis nie die enigste geldige perspektief nie – en as ek Wilhelm se verslag moet glo, is ek voor hom met die teenoorgestelde gekonfronteer, al is ek ses jaar jonger.
Die perspektiewe wat mekaar uitdaag, is nie reg teen verkeerd nie. Dit is een aanspraakmaker op mag teen ‘n ander een. Nou word alles wat in die 1948-1994 bedeling verkeerd was, as bedoelde, of minstens voorsienbare, gevolge aangebied. En as jy moreel voortreflik genoeg is, soos Wilhelm, sal jy vreesloos daarvoor verskoning vra en selfs aan simboliese aanrandings deelneem. Dit is dieselfde as om toenemende blanke armoede, plaasmoorde, ander misdaad en die ESKOM-krisis as bedoelde of voorsienbare gevolge van die ANC-regering aan te bied.
Ek verstaan waarom dit vir die huidige maghebbers noodsaaklik is om die vorige bedeling te demoniseer. Ek verstaan ook waarom Verwoerd gedemoniseer moet word, want hy het die naaste daaraan gekom om hulle projek te dwarsboom. Ek verstaan ook hoekom iemand uit my eie familie daaraan sal deelneem.
Ek verstaan dit, maar ek verwerp dit met my hele hart.
by Orania Beweging | Jun 10, 2015 | Nuus |
Afrikaners sê deesdae graag dat ons die verlede moet vergeet en moet leer om aan te beweeg en op die toekoms te fokus. Daar is egter genoeg rede om nie net alles wat agter ons is te vergeet en te maak asof daar niks uit ons verlede te leer is nie.
Een terrein waarop ons, maar ook ander Westerse volkere gerus uit die verlede kan leer, is dié van demografie. Daar was voorwaar ‘n tyd in ons verlede toe die Afrikaner gebiede beheer en regeer het waar ons toe nog ‘n meerderheid was.
Vandag is die Afrikaner bykans orals ‘n minderheid. Demografiese veranderinge weens die noodsaak vir goedkoop arbeid en die onvermoë om die grond wat ons besit het, volwaardig te kon regeer en beheer, het veroorsaak dat Afrikaners lank gelede reeds ‘n minderheid op hul eie grond geraak het.
In Europa sien ons vandag hoe etniese volkere in land na land besig is om as persentasie van die totale bevolking te krimp. Iin lande soos Frankryk, Nederland, België en Duitsland is Moslems reeds byna 10% van die totale bevolking. In Engeland het die Moslembevolking vanaf 2001 tot 2011 verdubbel. Ook in die VSA is daar ‘n enorme styging in die Moslembevolking. Die Pew Navorsingsentrum voorspel dat die huidige Moslembevolking in Amerika teen 2033 sal verdubbel. Dan is daar ook groot hoeveelhede nie-Moslems uit Afrika, die Midde-Ooste, Oos-Europa en Asië wat na Westerse lande immigreer, sommige op wettige wyses, miljoene ander egter op onwettige maniere. Onlangse navorsing in Oostenryk wys daarop dat 19% van dié land se bevolking immigrante of kinders van immigrante is en dat daar ‘n enorme toename in immigrasie uit lande soos Turkye is.
Hierdie groot bevolkingverskuiwing skep die vraag of Nederlanders ‘n minderheid in Nederland en Duitsers ‘n minderheid in Duitsland kan en gaan word. Die bekende Nederlandse politikus en vriend van die Afrikaner, Martin Bosma, het sopas ‘n opspraakwekkende boek oor hierdie tema bekendgestel. Sy boek, Minderheid in Eigen Land, behandel die Afrikaner se magsverlies in diepte en vra dan die vraag oor of etniese volkere in Europa dieselfde pad gaan stap. Ek het self die voorreg gehad om onlangs die bekendstelling van hierdie boek in Den Haag by te woon.
Bosma het vir meer as vyf jaar aan hierdie boek van meer as 500 bladsye gewerk. Dit is ‘n kragtoer van deeglike navorsing, sterk argumente en uiteindelik ‘n somber blik op die toekoms van die Westerse beskawing.
‘n Groot deel van sy boek word gewy aan die wyse waarop Westerlinge, en hier verwys hy veral na Nederlandse politici, kunstenaars en denkers, gedurende die vorige eeu teen die Afrikaner gewerk het. Volgens Bosma is die sterk ANC van die laat tagtigerjare ‘n skepsel van Westerse magte wat die Afrikaner wou ondergrawe. Soos wat die Afrikaner vandag deur ‘n meerderheid onder leiding van ‘n onvriendelike ANC regeer word, kan die vraag tereg gevra word of Nederland eendag deur ‘n Moslemmeerderheid beheer sal word.
Afrikaners en ander Westerse volkere sal vinnig hieruit moet leer indien ons nie maar net bloot minderhede op ons eie grond wil wees nie. Die lees van Martin Bosma se boek, is ‘n goeie vertrekpunt. Daarna moet daar ernstig oor konsentrasie, eie arbeid en ‘n nuwe identiteitsbewustheid onder ons mense besin word. Orania is tans ‘n ligpunt waar ons minstens gedeeltelik nie ‘n minderheid in ons eie land is nie.
Nuutste Opmerkings