fbpx

thumb(6)Soedan/Suid-Afrika: Internasionaal gesoekte volksmoordenaar ontsnap met goedkeuring van Suid-Afrikaanse regering.

By die beraad van die Afrika-Unie in Suid-Afrika was die meeste staatsleiers van Afrika teenwoordig. Onder andere is oor die stigting van ‘n vryhandelsone in die grootste deel van Afrika gepraat. Die beraad het egter internasionaal opslag gemaak omdat die Soedanese diktator Omar al-Basjir deur die Suid-Afrikaanse regering genooi is en diplomatieke steun en beskerming geniet het. Die Internasionale Strafhof (IS) het ’n bevel vir sy inhegtenisname uitgereik en die regterpresident van die Suid-Afrikaanse Hooggeregshowe het gelas dat al-Basjir in hegtenis geneem moet word. Die Minister van Binnelandse Sake moes toegesien het dat al-Basjir nie die land mag verlaat nie. Volgens die Roomse Statuut van 1999, wat deur Suid-Afrika onderteken is, moes die Suid-Afrikaanse regering die bevel eerbiedig het. Al-Basjir het egter Maandag teruggevlieg Soedan toe om inhegtenisname te ontsnap. Dit kon net met goedkeuring van die Suid-Afrikaanse regering geskied het, maar geen verduideliking is deur die regering voorsien nie.

Intussen het dit ook aan die lig gekom dat Suid-Afrikaanse troepe, wat as deel van ‘n VN-vredesmag in Darfoer, Soedan, gestasioneer is, omsingel en effektiewelik gyselaar gehou is terwyl al-Basjir nog in Suid-Afrika was en met inhegtenisneming gedreig het. Suid-Afrika kon daardeur beweeg gewees het om liewer bes te gee as om sy troepe in gevaar te stel, maar dan sal die land die ongehoorde optrede met Soedan opneem. Daar bestaan egter steeds `n vermoede dat die regering al-Basjir doelbewus en sonder dwang laat ontsnap om vir die IS en “die Weste” te wys dat hulle kan en dat Afrika-solidariteit en die AU bo internasionale reg en verdrae verhewe is.

Die voorsitter van die kommissie van die AU, mev. Dlamini-Zuma, het met ‘n vreemde verduideliking Suid-Afrika se verantwoordelikheid afgewys. Daarvolgens is die AU outonoom en as die AU sy beraad hou word die plek waar dit plaasvind “eksterritoriaal”, is dus nie meer Suid-Afrika nie, maar vir die tyd van die beraad die AU se grondgebied.

Al-Basjir het 1989 deur middel van ‘n staatsgreep aan bewind gekom en word vir die volksmoord van sowat 300 000 mense in Soedan verantwoordelik gehou. Al-Basjir is ‘n Islamitiese fundamentalis en beveg bloedig alle volke in die veelvolkige Soedan wat nie Moslems en/of nie van Arabiese afkoms is nie. Tot en met die afskeiding van Suid-Soedan danksy Amerikaanse druk is die Nilotiese volke van die suide (Christene en Animiste) grusaam vermoor. Dokumentasie oor volksmoord is volop danksy internasionale organisasies. Ook die swart mense van Darfoer, ‘n streek in die weste van Soedan, wat wel Moslems is, maar nie Arabiere nie, is grusaam vermoor deur die aanstigting van al-Basjir, wat die berugte Janjawid-paramilitêre magte op hulle losgelaat het. Onbeskryflike gruweldade is daar gepleeg.

Die Internasionale Strafhof vervolg mense wat aan volksmoord skuldig is. Die meeste state wêreldwyd, ook Suid-Afrika, het die verdrag van Rome van 1999, wat die IS opgerig het, onderteken en is aan sy bepalings gebonde. Veral Afrika-lande steur hulle egter nie daaraan nie en solidariteit met mekaar weeg sterker as menseregte, alhoewel altyd lippetaal daaraan bewys word. Trouens, min Afrika-leiers het ‘n skoon rekord en die solidariteit onder mekaar kan as ‘n soort mafia-erekode verstaan word. Die AU se leiers beweer dat op Afrika gepik word en die ou geykte “die Weste/imperialiste teen die mense van Afrika” tema skemer deur. Die IS pik nie op Afrika nie, maar Afrika is die enigste vasteland wat nie self sy menseregteskendings en volksmoorde (behalwe as dit deur die ou blanke bewind gepleeg is) aanspreek nie. Die enigste uitsondering was die tribunaal oor die volksmoord in Ruanda. Daarteenoor het Latyns-Amerika en selfs Asië al sekere volksmoorde en menseregteskendings deur interne tribunale ondersoek en die skuldiges gestraf.

Dit is onwaarskynlik dat daar nou sanksies teen Suid-Afrika ingestel gaan word, alhoewel dit moontlik is en ook regtens sou wees weens ‘n growwe oortreding van ‘n internasionale verdrag. Suid-Afrika het die steun van omtrent alle Afrika-lande en sanksies is moeilik toepasbaar as net enkele lande dit doen. Swaarder weeg egter die verdere verlies van die eens hemelhoë morele status wat Suid-Afrika se regering na “bevryding” gehad het, veral by sy links-liberaal gesinde ondersteuners in die Weste. Hier moet egter opgemerk word dat ook onder mnr. Mandela die buitelandse beleid min met ‘n kruistog vir menseregte te doen gehad het. In mnr. Mandela se tyd is die diktator Muammar Gaddafi soos ‘n held in Suid-Afrika verwelkom en geen diplomatieke stryd is met Nigerië gestry oor die doodmaak van menseregteaktiviste nie.

Nuwe regse fraksie in EU-parlement.

Meer as ‘n jaar na die laaste verkiesing tot die Europese parlement kon die regse partye uiteindelik daarin slaag om ’n eie fraksie te vorm. Die verskeie partye wat nasionaal tot die Europese parlement verkies word, vorm met ideologies ooreenstemmende partye van ander lande politieke fraksies, soos sosialiste/sosiaal-demokrate, christen-demokrate, groenes, liberales ens. Die talle nasionalistiese partye kon dit weens te veel interne verskille tot dusvêr nie regkry nie. ’n Fraksie het besliste voordele bo enkele partye wat debatte, tyd om te praat, meer personeel en veral fondse betref. Die vereiste om ‘n fraksie te vorm is om ten minste 25 lede uit 7 verskillende lande te hê. Kort na die EU-verkiesing wou die Franse Front National en die Nederlandse PVV so ‘n fraksie vorm en het genoeg lede gehad, maar kon nie lede uit genoeg verskillende lande bykry nie. Die fraksie wat gevorm is noem hulleself “Europa van Vaderlande en Vryheid” en hulle staan vir ‘’n EU wat ‘’n statebond van soewereine vaderlande is, soos wat dit tot en met die verdrag van Maastricht bestaan het. Hulle het 36 lede. Hulle is ook teen onbeheerde immigrasie en teen islamisering gekant. Natuurlik is hulle deur die ander fraksies dadelik as “anti-Europa” gebrandmerk. Die grootste twee partye van die fraksie is die Franse Front National en die Nederlandse Partij Voor de Vrijheid. Ander partye is die Italiaanse Lega Nord, die Oostenrykse FPO, die Poolse Kongres van die Nuwe Regses, die Hongaarse nasionalistiese Jobbik, die Belgiese Vlaams Belang en ‘n enkeling van die United Kingdom Independence Party (UKIP) wat uitgeskop is. Mev. Marine Le Pen is tot die voorsitter van die nuwe fraksie verkies. UKIP het in die verlede ‘n ooreenkoms onmoontlik gemaak omdat hulle die FN as anti-semities verwerp het. Hulle is deel van die meer gematig regse fraksie “Europa vir vryheid en direkte demokrasie”.

Die verskillende fraksies is die Europese Volksparty (gematigd, christen-demokrate) met 221 lede, die Progressiewe Alliansie van Sosialiste en Demokrate (hoofstroom linkse partye) met 191 lede, Europese Konserwatiewes en Hervormingsgesindes (konserwatiewe en gematigd regse partye soos die Britse konserwatiewes, België se NVA en Pole se Reg en Geregtigheid) met 72 lede, die Alliansie van Liberales en Demokrate met 69 lede, die Verenigde Europese Linkses met 52 lede, die Europese Groenes met 50 lede, Europa vir Vryheid en direkte demokrasie (euro-skeptiese partye soos UKIP en die Italiaanse Vyf Sterre beweging) met 47 lede en laastens, Europa van Vaderlande en Vryheid met 36 lede. Sekere partye skuif tussen die fraksies en nuwes word gevorm na verkiesings.