fbpx

thumb(7)Die sekularisering van die openbare lewe het die afgelope paar dekades soos ‘n golf oor die Westerse wêreld gespoel. ‘n Voorloper in hierdie proses was Nederland. Nederland was die eerste land waar huwelike tussen twee persone van dieselfde geslag wettig verklaar is. Nederland was ook een van die eerste lande waar genadedood goedgekeur is.

Nederland is vandag algemeen bekend as ‘n liberale land met min mense wat nog konserwatiewe Christelike waardes aanhang. Die fokus op die liberale sy van Nederland oorskadu egter die feit dat daar steeds vandag ‘n sterk Christelike streek in Nederland is. Die sogenaamde Bybelgordel strek uit Zeeland in die suide in ‘n band deur die oostelike dele van Suid-Holland en Utrecht en dan deur groot dele van Gelderland tot in Overijssel verder Noord. In die Bybelgordel is daar ‘n groot hoeveelheid dorpe en gemeenskappe waar konserwatiewe Christene in die meerderheid is en waar konserwatiewe, Christelike politieke partye soos die Staatkundig Gereformeerde Party goed doen in verkiesings en in talle gevalle selfs munisipale rade beheer.

‘n Belangrike stukkie nuus wat verlede week stil-stil plaagevind het, was ‘n referendum in die Ede-munisipaliteit. Ede is ‘n munisipaliteit in die weste van Gelderland, aangrensend aan die Hoge Veluwe Nasionale Park, waar daar onder andere ‘n standbeeld van Generaal De Wet, teenwoordig is. Ede word beskou as deel van die Bybelgordel en Christelike partye doen besonder goed in verkiesings in Ede.

Verlede week het daar ‘n referendum in Ede plaasgevind om inwoners self te laat besluit of hulle wil toelaat dat winkels op Sondae oop kan wees. Tans is alle besighede in Ede op Sondae gesluit. In Nederland word munisipaliteite die reg gegee om self oor hierdie aangeleenthede te besluit. In groot stede soos Amsterdam en Rotterdam word daar Sondae inkopies gedoen, terwyl daar in talle plattelandse dorpe geen handel gedryf word nie. Daar was die afgelope tyd in talle munisipaliteite in Nederland ‘n debat oor handel op Sondae. In Ede is egter besluit om vir inwoners te vra wat hul keuse sou wees. Sowat 46% van inwoners het aan die referendum deelgeneem. Dit is nogals ‘n hoë deelname, inaggenome die feit dat die referendum ‘n spesiale verkiesing was en nie deel was van ‘n nasionale of provinsiale verkiesing nie.

‘n Meerderheid van 57% van inwoners het gestem dat winkels steeds op Sondae toe moet bly. Dit is verrassend hoog omdat baie mense en partye in aanloop tot die referendum verwag het dat die verbod op handel op Sondae deur die referendum omgekeer sou word. Dit het egter nie gebeur nie. Ten spyte van mediaveldtogte en die boodskap van sogenaamde vooruitgang en modernisering het die mense van Ede besluit dat hulle steeds Sondag as ‘n rusdag wil respekteer.

Die debat oor handel op Sondae sal in Nederland en op ander plekke bly voortwoed. Die belangrike punt egter hier is dat gemeenskapsregte geseëvier het. Die gedelegeerde mag van ‘n gemeenskap om self oor sy sake te besluit is iets wat in liberale Nederland steeds geld en dit is goed. Afrikaners het selfstandige gemeenskappe soos Orania waar ons ook oor ons eie sake kan besin nodig.