Is federalisme dood?

FederalDie Verenigde State van Amerika word deur baie federaliste voorgehou as ‘n voorbeeld van hoe mag na state afgewentel kan word. In die VSA is dit nie net state wat oor omvattende bevoegdhede beskik nie, maar ook distrikte en munisipaliteite.

Die afgelope paar dekades is daar egter ‘n voortdurende agteruitgang van die federale stelsel in die VSA. Die stryd tussen federaliste en dié Amerikaners wat sentralisme nastreef, is nie iets nuuts nie. Dit het reeds gedurende die negentiende eeu bestaan.

Tydens die negentiende eeu en die eerste helfde van die twintigste eeu is die verlies aan federalisme in die VSA hoofsaaklik gekenmerk deur wetgewing oor belasting, invoertariewe en die ontwikkeling van ‘n sterk sentrale weermag. Die afgelope paar dekades is meer en meer mag egter ook in die wetgewende gesag gesentreer deurdat die kongres in Washington DC toenemend wetgewing begin deurvoer het wat state verplig het om sekere stappe te neem. Veral op die terreine van onderwys en gesondheid is daar sodanig gesentraliseer dat bitter min beleid nog deur state bepaal kan word.

Sentralisme in die VSA is egter die afgelope paar maande na ‘n nuwe vlak geneem deur uitsprake van die hooggeregshof. Een voorbeeld is die onlangse uitspraak oor gay-huwelike. Tot voor die uitspraak was sodanige huwelike wettig in 36 Amerikaanse state en in die oorblywende 14 state was dit onwettig. Die hofuitspraak wat sulke huwelike tot ‘n nasionale reg bevorder, het egter state se mag om hieroor te besluit vernietig.

Ook onlangse uitsprake oor gesondheidsorg en die rol van geloof in die openbare lewe het bewys dat die VSA meer en meer ‘n sentralistiese land word wat beheer word deur ‘n sterk sentrale regering. Beide die uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag tree voortdurend op binne ‘n terrein wat eintlik vir die state gereserveer is.

Beide die Demokrate en die Republikeine is vandag sentralistiese partye wat voortdurend magte wil opwentel, in plaas daarvan om dit te desentraliseer.

Die agteruitgang van federalisme is ook aanwesig in Australië. Is federalisme besig om uit te sterf? Dalk wel in die VSA, Australië en enkele ander lande, maar definitief nie in die res van die wêreld nie. Een voorbeeld van ‘n land waar federalisme steeds sterk is, is Duitsland waar veral Beiere in die Suid-Ooste van die land voortdurend sy regte as staat opeis en sodoende ‘n unieke kulturele karakter behou. In Kanada het die Franssprekendes in Quebec ook uitgebreide magte.

Die Konserwatiewe Party in Engeland het die afgelope tyd ‘n interessante nuwe rigting ingeslaan om magte na munisipaliteite af te wentel. Hulle beplan om dit oor die volgende paar jaar voort te sit.

Suid-Afrika het gedurende die negentigerjare ook ‘n goue geleentheid gehad om ‘n meer federalistiese land te word. Die swak onderhandelaars van die NP en die ANC se sentralistiese drange het dit egter verhoed. ‘n Federale Suid-Afrika sou vir die Afrikaner ‘n eie plek kon verseker. Ook vir die Zoeloes, Xhosas en ander volkere. Die stryd is egter nie verlore nie. Volkere regoor die wêreld wat groepsregte ondersteun moet aanhou om federalisme te bevorder.

Ook ons argitektoniese kultuurskat moet bewaar word

thumbNog ‘n pragtige ou kerkgebou is verlede week gesloop. Die Gereformeerde Kerk Bloemfontein, waarvan die gemeente reeds ‘n paar jaar gelede ontbind het, het verlede week in die stof gebyt. Die gebou moes plek maak vir ‘n blink nuwe ontwikkeling.

Hierdie kerkgebou is nie die eerste een wat val nie. Talle historiese kerkgeboue is die afgelope paar jaar gesloop. Ook ander historiese geboue loop deur ten spyte van wetgewing wat dit probeer verhoed. ‘n Pragtige ou historiese huisie in die stadskern van Colesberg is onlangs gesloop om vervang te word met ‘n laekoste gebou wat winkeltjies huisves.

Regdeur Suid-Afrika sien ons dat die waarde en betekenis van historiese geboue nie net onderskat word nie, maar ook toenemend totaal misken word. Sedert die aankoms van Westerlinge aan die suidpunt van Afrika is ‘n enorme argitektoniese kultuurskat hier ontwikkel. Van Kaaps-Hollandse huise in en om Kaapstad en die doelgemaakte, eenvoudige Karoohuise, tot die sandsteenkerke van die Vrystaat, is daar oor meer as 300 jaar groot werk gedoen om hierdie kultuurskat te ontwikkel.

Soos wat Afrikaners groter dele van Suid-Afrika beset het, het hulle ook hul sin vir goeie estetika en mooi argitektuur afgedwing. Pragtige kerkgeboue is in die sentrum van dorpe gebou en huise, soms nederig klein en eenvoudig, maar byna altyd esteties mooi, is gebou en bewoon.

Vandag word baie plekke waar Afrikaners kerke, huise, skole en winkels gebou het, nie meer deur Afrikaners besit nie. Een van die groot demografiese realiteite van die afgelope 20 jaar is die wyse waarop Afrikaners uit middestede en woonbuurte naby aan middestede na die verre uithoeke van voorstede en dorpe getrek het.

Verder vind daar steeds verstedeliking van Afrikaners plaas soos wat plattelandse jongmense ná hul studies eerder na die stede gaan en dan deur hul ouers gevolg word. Afrikaners bly vandag op ander plekke as 20 jaar gelede.

Gaan ry gerus deur byna enige dorp of stad in veral die noordelike en sentrale dele van Suid-Afrika en jy sal strate en woonbuurte vind waar daar op ‘n stadium hoofsaaklik Afrikaners gewoon het en daar vandag min of geen Afrikaners oor is nie.

Daar het egter ook ‘n ander soort verskuiwing plaasgevind. Met die ontstaan van mega-moderne kerke taan die lidmaatgetalle van tradisionele kleiner gemeentes. Net soos ons kerkgewoontes verander het, het ons inkopie en kulturele gewoontes ook verander. Die winkels in die hoofstrate van sommige dorpe word deesdae vermy en blink nuwe inkopiesentrums op die buitewyke van dorpe en stede word eerder besoek.

Hoe dan nou gemaak met ons argitektoniese skat? Ons almal aanvaar dat demografiese en ander veranderings sal bly voortduur. Gemeentes sal sluit en huise sal nuwe eienaars kry. Dat ons egter ‘n groter mate van respek vir historiese geboue in Suid-Afrika moet kry, is dringend nodig. Die behoud van ook hierdie goeie uit ons verlede mag nie nagelaat word nie.

Is daar werklik ʼn probleem met internasionale terrorisme?

thumb(1)Internasionale terrorisme het ontwikkel tot een van die belangrikste kwessies waaroor mense deesdae regoor die wêreld bekommerd is. Sommige mense verwys na die een-en-twintigste eeu as die eeu van terrorisme.

Die talle voorvalle van gewapende aanvalle op onskuldige burgers in verskillende lande die afgelope paar weke, het hierdie persepsie selfs erger gemaak. Die vraag is egter: Wat is terrorisme en hoe ernstig is die probleem van internasionale terrorisme werklik?

Die Amerikaanse ministerie van Buitelandse Sake het sopas hul jaarverslag oor internasionale terrorisme vir 2014 bekendgestel. Die verslag van byna 400 bladsye bespreek elke land in die wêreld waar daar in ʼn spesifieke jaar terroristiese aktiwiteite plaasgevind het of waar stappe geneem is wat tot terrorisme aanleiding kan gee.

Volgens die verslag was daar gedurende 2014 ʼn styging van 81% in die aantal sterftes weens terrorisme in die wêreld. ʼn Verdere ontleding van die verslag toon egter dat 80% van hierdie voorvalle in slegs vyf lande plaasgevind het. Irak, Afganistan, Sirië, Nigerië en Pakistan is almal lande wat tans ʼn volskaalse burgeroorlog of ten minste ʼn langdurige interne konflik beleef. Kan hierdie konflik werklik as internasionale terrorisme bestempel word? Kan die stryd tussen Sunni-Moslems en Koerde in die noorde van Irak as internasionale terrorisme bestempel word?

Philip Giraldi, uitvoerende hoof van die Raad vir Nasionale Belange, ʼn nieregeringsorganisasie in die VSA gaan sover om te vra om baie van die lande waar sogenaamde internasionale terrorisme plaasvind nie juis onstabiliteit beleef weens die militêre inmenging deur Westerse magte nie.

Die huidige chaos in Irak, Afganistan en Libië kan toegeskryf word aan die feit dat diktators wat dié lande regeer het deur Westerse magte uit die kussings gelig is. Al hierdie diktators dra verantwoordelikheid vir heelwat swaarkry en sterftes in hul lande, maar dit is baie klein in vergelyking met die totale chaos wat tans in hierdie lande heers. Leiers soos Saddam Hoesein en Moeammar Ghaddafi het op wrede maniere stabiliteit in hul lande verseker. Vandag in die vlakke van onstabiliteit, bloedvergieting en swaarkry in Irak en Libië egter baie erger. Westerse lande se ondersteuning van opposisiegroepe in Sirië het ook meegebring dat die burgeroorlog daar geen einde ken nie.

Volens Giraldi het daar sedert September 2011 reeds meer as 2 miljoen mense in konflik in lande waar die VSA se weermag betrokke geraak het, gesterf.

Giraldi beweer dat die terroriste-bedreiging vir Amerikaners baie klein is. Byna geen Amerikaners sterf deesdae in terroriste-aanvalle buite Amerika nie.

Wat is terrorisme dan presies? Die onlangse aanval van ʼn Moslem op ʼn gasaanleg in Frankryk is deur die land se regering as terrorisme beskryf. Die aanvaller woon egter al baie lank in Frankryk. Is dit werklik ʼn voorbeeld van internasionale terrorisme?

Giraldi vra of Amerika en ander Westerse lande se inmenging in konfliksituasies in ander wêrelddele nie eerder die probleem is nie. ʼn Mens kan seker byvoeg dat interne konflik weens kultuurverskille in moderne multikulturele samelewings ook tot sogenaamde terrorisme aanleiding gee. Internasionale terrorisme bestaan, maar ʼn mens moet oppas om sommer net alle konfliksituasies so te beskryf.

‘n Plan vir Afrikaneronderwys is nou nodig

thumb(2)Die afgelope naweek het honderde atlete en nog heelwat meer ouers en toeskouers op Groblersdal toegesak vir die jaarlikse BCVO Winterspele. Leerlinge uit vyf provinsies en meer as 30 CVO-skole het aan dié jaarlikse rugby- en netbaltoernooi deelgeneem. Die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys het ook sy 21ste verjaardag gevier.

Die Gromar CVO-skool, in Groblersdal was ‘n gepaste gasheer vir hierdie toernooi. Die skool is die grootste CVO-skool en beskik ook oor van die beste fasiliteite van alle CVO-skole. Orania CVO-skool, een van die grootste CVO-skole in die land, was ook goed teenwoordig.

Tog is ‘n baie klein persentasie van Afrikanerkinders in CVO-skole en ander privaat Afrikanerskole. Die meerderheid Afrikanerkinders is steeds in staatskole. Kultuur- en godsdiensgefokusde skole soos die CVO-skole sukkel om te groei en om in ‘n werklike alternatief te ontwikkel. In Orania het ons dit reeds met Orania CVO-skool en Volkskool Orania was ook deur hul Afstandsleer Plus vir meer as 100 Afrikanerkinders afstandsonderrig aanbied. In die res van Suid-Afrika is die situasie egter wesenlik anders.

Daar bestaan vandag nog talle goeie Afrikaanse staatskole en baie Afrikanerouers wend groot pogings aan om hierdie skole en die unieke kulturele en geloofskarakter wat hulle nog het, te behou. Die realiteit is egter dat Afrikaners stelselmatig hul vermoë om openbare skole te beheer, verloor.

Die huidige regering se benadering van gedwonge integrasie sal uiteindelik daartoe lei dat bitter min staatskole hul Afrikaanse en Christelike karakter sal kan behou. Staatskole sal gedwing word om die breër demografie te weerspieël en dit sal net soos wat met ons universiteite gebeur het, tot ‘n totale magsverlies en uiteindelik ‘n totale transformasie van die instellings lei.

Die regering het die afgelope tyd selfs verby hul fokus op staatskole getree deur selfs privaatskole te begin teiken. Die gebeure onlangs by die Roodeplaat Curro-skool, het net weer bevestig dat die regering nie respek het vir kultuureie onderwys nie.

Afrikaners wat dus voel dat hul kinders in ‘n kultuurvriendelike en geloofsvriendelike omgewing onderrig moet word, sal moet saamwerk om ‘n langtermynoplossing te skep.

Daar is vyf stappe wat Afrikaners nou sal moet begin neem om te verseker dat ons kinders nog in die toekoms volgens ons eie voorwaardes onderrig sal kan word. Eerstens sal bestaande Afrikanerinstellings in die onderwys en breër burgerlike samelewing, ten spyte van klemverskille, bymekaar moet kom om ‘n strategie vir volhoubare Afrikaneronderwys te bepaal.

Tweedens moet bestaande privaatskole soos die CVO-skole en die talle gereformeerde skole vanuit die Afrikanergemeenskap bemagtig word om meer volhoubaar te vestig en om vanuit ‘n posisie van oorlewing na ‘n posisie van groei en uitnemendheid te ontwikkel. Dieselfde geld vir instellings soos AROS wat Afrikaneronderwysers oplei. ‘n Groot onderwysfonds moet moontlik hiervoor gestig word.

Derdens moet bestaande privaatskole hulself vernuwe deur tot moderne Afrikaners te spreek sonder om op waardes en beginsels in te boet.

Vierdens moet pogings om sommige staatskole wat nog ‘n Afrikanerkarakter het te beskerm en te behou voortgesit word. Die behoud van staatskole kan egter nie ten koste van privaatalternatiewe geskied nie.

Laastens moet daar gefokus word op internasionale samewerking. Die akkreditering van kwalifikasies by oorsese instellings, werwing van steun by oorsese vriende van die Afrikaner en samewerkingsooreenkomste met onderwysinstellings in ander lande is noodsaaklik.

Indien Afrikaners gefokus saamwerk kan ons verseker dat ons kinders in die toekoms steeds goeie onderig in hul taal en in ‘n kultuur- en geloofsvriendelike omgewing ontvang.

Hoekom vergaan party volke en staan ander uit die as op en bereik vryheid? (Deel 2)

Kan die Afrikaner uit die as opstaan? 

Hoe lyk die vooruitsigte vir die Afrikaner en vir Orania gemeet aan die vorige artikel in die reeks?

thumb(3)Die kritieke massa is wel daar wat getalle betref. Twee tot drie miljoen Afrikaners is genoeg as volk. Wat egter ontbreek is konsentrasie. Die wye verspreiding van die Afrikaner, wat amper ‘n historiese onveranderlike is, belemmer enige hoop op vryheid en heropstanding. Orania se hoofargument is juis die politiek van konsentrasie wat selfbeskikking moontlik maak maar `n minderheid Afrikaners het dit al as oplossing aanvaar. Selfs net 500 000 Afrikaners in die Noordwes-Kaap kan hier ‘n eerstewêreldland skep soos nêrens anders in Afrika nie.

Oor die historiese en legitieme aanspraak is al baie gedebatteer. Diegene wat graag die Boererepublieke wil laat herleef gebruik gereeld die argument. Dit is egter nie voldoende om slegs op historiese aansprake staat te maak sonder konsentrasie in die gebied nie. Histories is die Afrikaner wel ’n inheemse volk in Suid-Afrika en word dit deur almal behalwe mal radikale sonder enige historiese kennis erken. Dus het die Afrikanervolk histories aanspraak op ‘n plek in Suid-Afrika en is die Noordwes-Kaap ten minste ‘n deel waar Afrikaners, saam met Khoisan en Griekwas, lank voor swart mense gevestig was. Die geografie is juis ‘n sterk argument vir die Noordwes-Kaap, met die Oranjerivier en die Weskus as natuurlike grense aan weerskante.

Wat die nasionale bewussyn betref is dit die voorwaarde dat die Afrikanervolk oorleef tot omstandighede eendag gunstig vir selfbeskikking is. Die verspreidheid, die druk tot assimilasie, asook Afrikaners se geneigdheid om te konformeer, individualiseer en globaliseer werk alles teen die behoud van nasionale bewussyn, maar aan die ander kant kan juis die druk om te assimileer en diskriminasie weer tot herlewing van nasionale bewussyn lei. Trouens, dit gebeur alreeds, al is dit nog sporadies en nie altyd samehangend nie. Vir die behoud van nasionale bewussyn is Afrikaanse skole, literatuur, kuns, kultuur en gewoontes van belang. Ander volke het baie langer as 20 jaar onder ‘n vreemde bewind “oorwinter”.

Wat bestaande, erkende grense betref is dit meer as honderd jaar terug dat daar twee Boererepublieke bestaan het met erkende grense, maar met ‘n redelik kortstondige bestaan van minder as 50 jaar. Slegs die grense van die (Oranje)-Vrystaat bestaan voort, maar daar is lankal geen meerderheid Afrikaners meer in die gebied nie en ook geen beweging vir groter outonomie van die gebied nie. Slegs in die provinsies Noord- en Wes-Kaap is daar enkeles wat strewe na groter outonomie. Alle argumente oor historiese grense is nutteloos sonder getalle en konsentrasie binne die grense.

Wat onderdrukking betref is die skaal nie vergelykbaar met die lot van die Armeniërs of selfs die Koerde nie. Dit neem egter toe en dit is betekenisvol dat die Afrikaner verteenwoordig word by die Raad vir Onverteenvoordigde Nasies en Volkere (UNPO). Die groeiende geweld en moorde op spesifiek Afrikaners versterk die argument vir ‘n eie land. Die Afrikanervolk het eintlik ‘n lang geskiedenis as volk wat deur ander, veral Brittanje, onderdruk word en het dus ’n aangrypende verhaal om te vertel wat  die volk aanwakker om te wil oorleef en vry te wil wees en wat ander volke aangryp en simpatie wakker maak. Dit word egter nog in vele gevalle uitgekanselleer deur die sterk indruk wat die storie van onderdrukking tydens die Afrikanerbeheer wêreldwyd (te reg of te onreg) gemaak het. Internasionale simpatie en steun is dus tans nog redelik beperk, maar groei wel. En die Afrikanervolk het al tevore na skynbaar totale vernietiging uit die as opgestaan.

Die onderdrukking van Afrikaners in die vorm van ‘n vlaag geweld en misdaad en diskriminasie op talle vlakke het toe, soos verwag kon word, sedert 1994 tot ‘n grootskaalse emigrasie en die ontstaan van ‘n Afrikaner-diaspora gelei. Die Afrikaner is nog ‘n nuweling wat die diaspora betref, heel anders as byvoorbeeld Jode en Armeniërs met hulle gevestigde en kultureel lewendige emigrante-gemeenskap. In meeste gevalle is dit nog die eerste generasie Afrikaners in die verstrooiing en relatief min is al langer as 20 jaar uit die land en het enige idee aan terugkeer opgegee. Verder is die diaspora nog nie van dieselfde kulturele diepte as byvoorbeeld die Joodse een nie. Afrikaners pas te maklik in veral Engelssprekende, Westerse lande aan en beskou hulle in die buiteland te dikwels in die eerste plek as individue, nie as uitgewekenes van ‘n volk nie. Verder is vir talle die hunkering na die Suid-Afrikaanse lewenstyl sterker as die kulturele bewussyn as Afrikaner. Nogtans is daar ‘n hele paar wat as enkelinge sterk deelneem aan die saak van Afrikanervryheid in Suid-Afrika en wat finansieel en met kundigheid bydra tot Orania.

Die laaste en dalk belangrikste faktor is die houding en toestand van die moederland. Behalwe lippetaal, hoofsaaklik tydens die Mandela-bewind, en ‘n vae klousule oor selfbeskikking is daar niks waarmee die regering enigsins die Afrikaner tegemoet gekom het ten opsigte van outonomie of selfbeskikking nie. ‘n Vreedsame, onderhandelde afskeiding of groter outonomie lyk onwaarskynlik. Meer waarskynlik is ‘n geval van ‘n vervallende staat wat vir volke geleentheid bied om selfstandig te (moet) raak as hulle nie saam met die staat wil ondergaan nie. Alhoewel staatkundige selfstandigheid tans vêr lyk, is Suid-Afrika vinnig besig om op talle terreine te verval en dwing dit die Afrikaner om eenvoudig saam te staan en sekere funksies self te vervul, soos voorsiening van basiese dienste, veiligheid en onderwys. ‘n Vervallende staat verminder eerstens die burgers se emosionele binding aan die staat, veral die van ’n reeds gemarginaliseerde minderheid en is tweedens al hoe minder in staat om groeiende selfstandigheid en selfs afstigting te keer.

Komplekse rasseverhoudinge en ‘n massamoord in die VSA

thumb(4)Waarom sal ‘n 21-jarige jong wit man in ‘n oorwegend swart kerk instap en tydens Bybelstudie nege mense, insluitende die predikant, doodskiet?

Die onlangse aanval deur Dylann Roof op ‘n kerk in Charleston, Suid-Carolina het hierdie vraag op ‘n eenvoudige wyse na vore gestoot. Die skieter het na sy inhegtenisname van ‘n rasoorlog gepraat en die media het vinnig tot die eenvoudige gevolgtrekking gekom dat Roof ‘n rassis is wat swart mense wou dood maak. Sogenaamde kenners en kommentators het selfs verder gegaan om te beweer dat hierdie voorval ‘n toonbeeld van die algemene voorkoms van wit rassisme is.

Tog het Roof verskeie swart vriende op sosiale media gehad. Hy het in die dae voor die skietery ook gereeld saam met ‘n swart vriend gekuier en dronk geword. Enkele dae voordat hy die misdaad gepleeg het, het hy aan dié swart vriend genoem dat hy ‘n aanval op ‘n plaaslike kollege beoog.

Roof het egter voortgegaan om ‘n swart kerk te besoek, nege swartmense dood te skiet en daarna te verklaar dat hy graag ‘n rasse-oorlog in Amerika wil sien afspeel.

Die hoofstroommedia in die VSA en talle ander lande se eenvoudige opsomming van die gebeure as maar net nog ‘n teken van onopgeloste rassisme onder blankes, is nie voldoende nie.

Eenvoudige misdaadstatistiek en die talle haataanvalle van swart Amerikaners op wittes weerlê in elk geval die idee dat daar ‘n eendimensionele rasseprobleem van wit op swart rassisme in die Amerikaanse samelewing teenwoordig is.

Roof se misdaad wat duidelik rasgedrewe. Hy het self so gesê. Daar word egter ook voortdurend in die VSA haatmisdade deur swartmense op blankes en deur mense van Latyns-Amerikaanse afkoms op swartmense en omgekeerd gepleeg.

Om Amerika se rasseverhoudinge op ‘n eenvoudige tydslyn van slawerny gevolg deur die Burgerregtestryd en nou die laaste asem van witrassisme te beskou, is naïef. Baie liberale Amerikaners gaan selfs so ver om te dink dat die verwydering van die historiese konfederatiewe vlag uit alle openbare ruimtes tot ‘n einde aan rassisme sal lei.

Amerika het ‘n komplekse multikulturele samelewing wat gedurende die afgelope paar jaar deur massa-immigrasie, pogings tot geforseerde integrasie, veral onder mense van ‘n laer inkomstegroep en rassewetgewing, selfs meer ingewikkeld gemaak is.

Groot klem word steeds deur die media, die vermaaklikheidsbedryf en politici soos Barack Obama op witskuld en swartagterstand geplaas. Verder woed daar in verskeie Amerikaanse gemeenskappe ‘n stryd tussen behoeftige mense van verskillende rasse vir behuising, werk, toegang tot goeie skole en ander dienste. Die vraag moenie wees oor of wit Amerikaners hul rassisme agter hulle geplaas het nie, maar veel eerder hoe Amerika toenemende rassespanning gaan ontlont wat deur die druk van multi-kulturalisme veroorsaak word.

Dylann Roff kom uit ‘n gebroke gesin en ‘n gebroke gemeenskap. Hy was en is duidelik ‘n gebroke persoon opsoek na betekenis in die lewe.

In samelewings soos die VSA sal die probleem van haat en woede wat tot misdaad aanleiding gee eerder opgelos word indien mense ruimte kry om hul self te wees en hul plek in die samelewing te vind. Stabiele gesinne, ruimte en respek vir elke kultuurgemeenskap en ‘n aanvaarding van diversiteit eerder as geforseerde integrasie moet ernstig oorweeg word.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel