fbpx

thumb(8)200 jaar sedert die Weense Kongres. Presies 200 jaar gelede het die Weense Kongres plaasgevind. Dit was die groot byeenkoms van Europese staatsleiers om die toekoms van Europa na die oorwinning oor Napoleon te bepaal. Dit vergelyk met die Potsdam Konferensie van 1945. Napoleon se verowerings het grense geskuif en die ou orde deurmekaar gekrap. Die Weense Kongres het amper 9 maande geduur en het in September 1814 begin, kort na die neerlaag van Napoleon tydens die Volkereslag by Leipzig en het op 9 Junie 1815 geëindig. Napoleon het nie net ‘n Franse Ryk opgebou nie, maar in die proses talle adellikes in die vele klein staatjies van Europa ontsetel. Om nie ‘’n vakuum wat Napoleon se verwydering gelaat het aan demokrate en republikeine oor te laat nie, moes die oorblywende monargie die ou orde probeer herstel. Die leidende rol het die Oostenrykse kanselier Metternich gespeel wat die kongres byeengeroep het. Die belangrikste deelnemers was Oostenryk, Rusland, Pruise, Engeland, die Vatikaan en Frankryk in die vorm van die voormalige koningshuis. Napoleon was na Elba verban (maar sou later ‘’n “comeback” loods wat eers met die slag van Waterloo beëindig is). Die monargie is weer herstel en het in meeste gevalle tot in die vroeë 20ste eeu as absolute heersers voortbestaan. Vrede is bewerkstellig wat sou hou tot omtrent 1870, of in meeste gevalle tot 1914.

Turkye se Parlementsverkiesing `n terugslag vir president Erdogan. In die onlangse parlementsverkiesing het die konserwatiewe, gematigde Islamitiese AKP (Party vir Gergtigheid en Ontwikkeling) van president Recep Tayip Erdogan die volstrekte meerderheid wat hulle gehad het verloor en teruggesak na 41%. Dit is die eerste verlies na ‘n reeks verkiesingsoorwinnings die afgelope sowat 12 jaar. Hulle steun is veral sterk in die sentrale dele van Turkye, maar selfs in Istanbul.

Die tweede grootste party met 25% is die sekulêre, sosiaal-demokratiese CHP (Republikeinse Volksparty) wat die nalatenskap van Kemal Atatuerk in beskerming neem en voor die opkoms van die AKP Turkye se natuurlike party van regering was. Hulle steun is veral sterk in die westelike, toeristiese en meer Europese dele van Turkye

In die derde plek is die nasionalistiese MHP (nasionale Beweging Party) met 16%. Hulle wil niks weet van minderheidsregte nie en glo aan ‘n sterk, sentralistiese, maar sekulêre Turkye.

Die groot verrassing en relatiewe oorwinnaar was die HDP (Demokratiese Volksparty), ‘n linksgesinde party wat veral die belange van die Koerdiese minderheid (20%) verteenwoordig. Hulle het die keer 12 % en is die eerste keer in die parlement verteenwoordig. In Turkye geld ‘n 10% drempel wat dit moeilik maak vir kleiner, belangegerigte partye om verteenwoordiging te kry. Hulle steun is die sterkte in die oostelike dele. Hulle het egter nie net steun van Koerde gekry nie, maar ook van etniese Turke wat hulle as teenvoeter teen Erdogan se houvas op die mag sien. Dit is ’n deurbraak as ‘n mens dink dat Koerde tot onlangs toe nog verbied is om hulle taal in die openbaar te praat en nie as minderheid erken is.

Erdogan se plan was om ‘n tweederdemeerderheid te bereik en dit te gebruik om belangrike grondwetwysingings aan te bring wat die staat Turkye van ’n parlementêre tot ‘n presidiale demokrasie omskep soos die VSA. Tans het Turkye ‘n stelsel met ’n eersteminister (’n posisie wat Erdogan self lank beklee het maar na 3 termyne moes verlaat) en ‘n president, wat Erdogan tans is. Die president se posisie is veral seremonieël, iets wat nie genoeg is vir die magsbehepte Erdogan nie.

Mnr Erdogan kan as die suksesvolste leier sedert Kemal Atatuerk gereken word omdat hy belangrike kragte wat die Turke dryf kon bondel. Sy beleid is deels nasionlaisties en hy het sy land in ’n streeksmoondheid omskep. Verder het hy Turkye ekonomies sterk gemaak en talle mense, veral in die tradisioneel arm sentrale dele, het gebaat by ekonomiese groei en ’n sakevriendelike omgewing. Diegene wat glo aan Islam en sy behoudende waardes word ook deur sy gematigde Islamisme verteenwoordig.

Sy toenemend onverdraagsame en arrogante optrede en tendense in die rigting van ‘n diktatorskap het sy gewildheid egter laat taan en die opposisie laat saamstaan en hulle energie teen die AKP (wat die media grootliks beheer) en nie teen mekaar laat aanwend.

Turkye moet nou die eerste keer in sy geskiedenis ‘n koalisie vorm. Geen van die opposisiepartye wil met die AKP saamwerk nie, maar hulle verskil onder mekaar ook te veel om ’n koalisie teen die AKP te vorm. Interessante tye lê voor vir Turkye. Die verkiesing het dalk die begin van die einde vir mnr Erdogan ingelui.