fbpx

thumb(5)In die jongste uitgawe van The Economist word daar ondersoek ingestel na die rede waarom sekere volke uit die as opstaan en uiteindelik staatskap bereik en ander as volk vergaan en nooit enige kans op vryheid en selfbeskikking het nie. Die historikus Eugene Rogan van die Universiteit van Oxford praat van sekere voorwaardes wat noodsaaklik is om as minderheidsvolk sonder ‘n eie staat te oorleef en uiteindelik uit die as op te staan en selfs volle onafhanklikheid te bereik.

Die belangrikste voorwaarde is kritieke massa, veral in die vorm van ‘n konsentrasie in ‘n gebied wat omlyn en afgeskei kan word. Hy vergelyk die gevalle van twee Midde-Oosterse minderheidsvolke, die Koerde en die Assiriërs/Arameërs, ‘n oeroue volk wat reeds in die Bybel genoem word. Die Koerde is vir lang tye wreed onderdruk, veral onder die Irakese diktator Saddam Hussein, maar hulle kon dit regkry om in die noorde van Irak (en dele van Turkye, Iran en Sirië) gekonsentreerd te bly woon. Die konsentrasie het gemaak dat die Koerde in die post-Saddam era op territoriale outonomie kon aanspraak maak en dat die outonomie selfs in die toekoms tot onafhanklikheid kan verander. Die Assiriërs daarteenoor is deur die burgeroorlog in Sirië verstrooi en het geen noemenswaardige konsentrasie meer nie. Ook die Krim-Tatare, wat vir eeue op die Krim-skiereiland in Rusland gewoon het, is deur Stalin na Siberië verban en verstrooi en is vandag slegs ’n minderheid van sowat 15% op die Krim. Verder is dit ook voordelig as ‘n volk ’n historiese en legitieme aanspraak op ‘n gebied het. Geografie speel ook ‘n rol. Die fisiese isolasie, natuurlike grense en beveiliging wat die berge van Noord-Irak aan die Koerde bied help beslis in hulle selfhandhawing.

Om ‘n nasionale bewussyn te behou is ook belangrik. As ‘n volk nie weet wat hom uniek maak nie, as hy nie trots is op sy geskiedenis, taal, kultuur en gewoontes nie, dan bestaan daar ook geen wil om voort te bestaan nie. Pole was vir ‘n eeu nie ’n staat nie, maar omdat die Poolse kultuur voortgeleef het, kon ‘n onafhanklike Pole later weer hergebore word.

Administratiewe en staatsregtelike sake soos grense  wat eenmaal getrek en erken is moet egter ook nie buite rekening gelaat word nie. Armenië was ‘n kortstondige staat tussen die twee Wêreldoorloë en is deur die Sowjet-Unie ingelyf. Armenië het gedweë ingestem en sy grense is behou maar afgegradeer tot status van deelstaat. As deelstaat kon Armenië later egter weer onafhanklik word na die opbreek van die Sowjet-Unie in 1991. Die Tsjetsjene daarteenoor is gewelddadig in die Sowjet-Unie ingelyf na woeste verset en het geen status as deelstaat gekry nie (al het hulle in hulle gebied bly woon) en kon dus ook nie wettiglik afstig in 1991 nie.

Bloedige onderdrukking kan ’n volk óf vernietig en versprei, óf juis aanspoor om te oorleef en na vryheid te strewe. Laasgenoemde word dan ‘n soort messiaanse roeping om te oorleef of ‘n aangrypende verhaal van onderdrukking en ‘n vryheidsgees wat volksgenote tot uiterste opofferings aanspoor om vryheid te bereik. Die bloedige onderdrukking lei ook tot internasionale simpatie en steun. Die Armeniërs, Jode en Koerde is voorbeelde daarvan. Die Armeense en Joodse volksmoorde word internasionaal erken en weeg swaar en aktiveer ook ander volke en state om diegene wat reeds onder volksmoord deurgeloop het te beskerm. Onderdrukking lei verder tot nog iets wat in sekere gevalle voordelig kan wees: die ontstaan van ‘n diaspora (wêreldwye verstrooiing). Sowel in die geval van die Armeniërs en die Jode het die diaspora (in al twee gevalle groter as die moederlande se bevolking) ‘n groot rol gespeel in befondsing, inspirasie en steun. Ook die intellektuele en kulturele bevrugting van die diaspora moet nie onderskat word nie. Dikwels is die mense van die diaspora die groter nasionaliste en idealiste as diegene wat tuis gebly het en daagliks om oorlewing veg. Alles is egter nutteloos sonder een kritieke voorwaarde:

Die houding en toestand van die staat waarvan die minderheid wil afstig. In min gevalle vind afstigting met toestemming van die moederland plaas. In meeste gevalle moet die moederland eers so agteruitgaan dat dit verbrokkel (staatsverval). Die Osmaanse Ryk en die Sowjet-Unie se verbrokkeling het vir talle volke soos die Armeniërs vryheid moontlik gemaak (na lyding) en in vandag se tyd is dit die verval van Irak en Sirië wat dalk ‘n vrye toekoms vir die Koerde skep. In die sterk en funksionerende state soos Turkye en Iran, waar meeste Koerde woon, is die vooruitsig op eie staatskap egter gering.

Deel 2 van die artikel verskyn Maandag.