by Orania Beweging | Jul 31, 2015 | Nuus |
Twee insette tot hierdie inskrywing.
- Ek lees in bykans elke kritiek op konserwatiewes die een of ander verwysing na die ons/hulle-houding as bewys dat konserwatiewes skoor soek. Spesifiek wys diegene wat reken ons is eerstens Suid-Afrikaners en tweedens Afrikaners dikwels uit hoe die alternatief (Afrikaners in die eerste instansie) noodwendig van die ander inwoners van ons land ‘n soort “ander” maak.
Laat ek dan uit die staanspoor my posisie stel en dan kan die leser die res van die stuk oordeel soos hulle in elk geval gaan doen. Ek glo dat ons/hulle ‘n natuurlike manier is om oor die wêreld te dink en dat verskeie interaksies tussen die “ons” en die “hulle” moontlik is: samewerking, parasitisme, isolasie en vyandskap. Die ons/hulle-denkwyse is nie op sig self opponerend gerig nie.
Ek beplan om vanuit die ons/hulle-denkwyse aan te dui hoe vyandige denke die mins konserwatiewe is. Ek doen daarmee dan ‘n implisiete oproep om nie vyandskap as verstekposisie ten opsigte van andere in ons land in te neem nie.
Die wese van ‘n ons/hulle-denkwyse
Die mens vorm groepe. As sosiale gediertes is dit ons natuurlike optrede. Die Afrikaner in sy gestalte soos wat Orania se inwoners daaruit sien, reken daar is party mense wat makliker groepe vorm as ander. Byvoorbeeld: Ek het nou die dag ‘n MatLab-kursus bygewoon. Daar was seker vyftig mense, waarvan so tien swart was. Tydens middagete het daardie tien in een groep gestaan. Verder was daar ‘n groep wat staan en krieket kyk het en ‘n groep wat die ENB-mense bevat het, ‘n groep vegetariërs. Van hierdie groepe was daar net twee waartussen ‘n mens geredelik gewissel het: die krieketgroep en die vegetariërs.
Ek argumenteer dat die plek waar elkeen van daardie groepe tuisgevoel het, te doen het met die een of ander eienskap wat hulle gemeen het: ras, belangstelling, werkgewer, voedselkeuse. In die voedselkeuse se geval was dit boonop hoogs korrelerend met geloof, siende dat daar nie ‘n halaal-tafel was nie. As ‘n mens nou die stereotipe hier kan onderstreep, reken ek dít was die rede vir die vloeibaarheid tussen vegetariërs en krieket.
Hierdie dinge het gebeur op ‘n plek waar daar heelwat rede was vir die kursusgangers om buite hierdie groepe te beweeg: Almal het kom leer hoe om MatLab se risikobestuurstoepassings te gebruik. As jy op soek was na ‘n sin wat jou eerste kontak kon bewerkstellig, kon jy nie ‘n makliker een gekies het nie! Jy weet hierdie mense werk op ‘n soortgelyke veld as jy. Jy weet hulle het rede om hulle tegniese vaardighede te kom opskerp. Tog het bykans niemand daardie geleentheid aangegryp nie.
Die groepe hierbo genoem het nie gevorm uit een of ander afsku van die ander groepe nie. Dit het positief gevorm: ek beweeg nie wég van mense af omdat hulle anders is as ek nie, ek beweeg ná mense toe omdat ek duidelik kan sien waar ons iets deel.
My hoop (en my oortuiging) is dat Orania nie gevorm het (en aanhou vorm) weens ‘n wegbeweeg van iets af nie, maar eerder ‘n nader beweeg aan iets. Ons beweeg na mense toe wat ‘n taal, kultuur en ‘n klomp gewoontes deel. Dit is ons wat dink daardie eendersheid is iets wat kosbaar genoeg is om te koester. Dit is die “ons”. En as jy nie deel van die “ons” is nie, is jy deel van die “hulle”. Uit die staanspoor is dit nie ‘n negatiewe “hulle” nie. Ek ontleed dit hieronder.
Verskillende soorte interaksies ontleed
Uit die eerste deel neem ek die ons/hulle-denkwyse as vertrekpunt. Die vraag is nou hoe daardie verhouding lyk.
‘n Groot deel van die verwarring oor Orania gaan rondom die verstaan van selfwerksaamheid as ‘n soort uitsluiting. Die “hulle” moet op ‘n afstand gehou word. Dus bestaan Orania mos as wegvlugplek vir mense wat nie vir interaksie met iemand kans sien wat van hulle verskil nie.
Wanneer mense dan met die werklike Orania te doen kry, is daar ‘n paar reaksies tot die realiteit van die idee.
Eerstens is daar diegene wat Orania se karakter wil verander. Daar is sommiges wat raaksien hoe Orania se leierskap nie net ruimte maak vir “ander” nie, maar aktief samewerking met mense buite die “eie” gaan opsoek. Dit verwar iemand wat aangeneem het dis onmoontlik. Ek onthou spesifiek ‘n kommentator wat nie geweet het wat om daarmee te maak nie en vir Carel (iv) Boshoff tot ‘n liberale verklaar het om dit in sy eie kop te laat sin maak! Volgens die skrywer van daardie berig se opinie was dit die hoogste lof wat hy kon toedeel.
Tweedens is daar ‘n ontkenning van die realiteit dat Orania nie daarop uit is om vyande te maak nie. Die bestaansdoel van Orania is mos om mense uit te sluit en geen optrede wat daarmee in stryd is, word enigsins raakgesien nie.
Derdens is daar ‘n aanklag/hoop dat vriendskappe (soos met Mnyameni) vals is. Julle gee maar voor, want… (en vul die sin aan soos jy lus kry).
Vierdens is daar sommiges wat diep teleurgesteld is. Party mense het gehoop Orania is ‘n militêre basis vanwaar “ons” “hulle” gaan platskiet. As dit blyk ‘n doodgewone, rustige dorp te wees, voldoen dit nie aan die strydkreet wat hierdie mense graag wil laat opklink nie.
Ek glo die aard van Orania se interaksies met die “ander” van ons land, is gewortel in ‘n beter verstaan van watter interaksies moontlik is. My beskrywings hieronder volg bykans die vak Biologie se sillabus. Ek dink die tipes interaksies tussen organismes wat daar beskryf word, is vir interaksies tussen gemeenskappe ook geldig:
- Mutualisme
- Kommensalisme
- Parasitisme
- Kompetisie
Mutualisme is waar beide voordeel trek.
Soos die heuningvoëltjie en die ratel. Hulle lyk en ís niks soos mekaar nie. Hulle wil ook nie die een soos die ander wees nie. Maar die voëltjie het kennis wat die ratel kortkom: waar die heuning is. Die ratel het weer krag en taaiheid wat die voëltjie kortkom. Sonder die heuningvoëltjie, is die ratel se dik pels iets wat hom teen geen by gaan beskerm nie want hy sal nooit die korf kry nie. Sonder die ratel, is die heuningvoëltjie se kennis waardeloos: hy is nie self teen die klomp bye opgewasse nie.
Wanneer verskillende spesies saamwerk, is dit tot almal se voordeel. Almal kry iets te ete.
Op soortgelyke wyse kan gemeenskappe wat niks na mekaar lyk nie en niks na mekaar WIL lyk nie, tog saamwerk vir beter resultate vir almal. Let asseblief daarop dat ek nie hier (of elders) ’n verwysing sal maak na assimilasie nie. Net soos die heuningvoëltjie nie ‘n ratel hoef te wees om met hom saam te werk nie, net so hoef gemeenskappe nie enigiets meer as gemene belang op een veld te hê om saam te span nie.
Dis vir my uiters teleurstellend hoe min bruin mense veg vir Afrikaans by universiteite. Is dit omdat hulle onwelkom voel tussen ‘n klomp wit mense wat (dalk met opset, dalk sonder opset) hulle soos buitestaanders laat voel? Of is dit omdat hulle nie genoeg die belangrikheid van hulle taal of die belangrikheid van tersiêre opleiding vir hulle taal besef nie? Ek weet nie, maar dis ‘n ooglopende geval van die heuningvoëltjie en die ratel wat vir mekaar kyk en besluit het: hierdie ou is te anders as ek. Ek gaan nie met hom saamwerk nie… Dit was vir my vreeslik hartseer om te hoor dat die bruines op die PUK uitgesluit voel deur die kultuur op kampus. Dus was baie van hulle ten gunste van die afskaffing van Afrikaans in die hoop dat ‘n Engelse omgewing meer insluitend sou wees. ‘n Bespreking van die akkuraatheid van so ‘n aanname is ‘n storie vir ‘n ander dag, maar dis jammer dat die wit Afrikaners so goed is daarmee om vriende weg te jaag.
Kommensalisme is waar die een voordeel trek wat nie die ander beïnvloed nie.
Dit is soos die orgideë in ‘n groot boom. Hulle gebruik die boom bloot om hoog genoeg te kom dat hulle son kan vang. Dit doen niks aan die boom nie maar vir die epifiete is dit van groot waarde want hulle kan makliker fotosinteer.
Die boom het geen belang daarby om die orgideë te hê of nie. Maar omdat die orgideë iets te wen het uit die verhouding, is die boom vir hulle baie belangrik.
Orania staan tans in hierdie verhouding tot die res van Suid-Afrika. ‘n Dorp van kort oor die duisend inwoners gaan nie aan ‘n land met oor die 50 miljoen inwoners veel verskil maak nie, maar die optrede van daardie land gaan die dorp vir seker raak. Die ora is direk aan die rand gekoppel vir ‘n eenvoudige voorbeeld.
Parasitisme is waar die een ten koste van die ander bevoordeel word.
‘n Belangrike punt hier is dat hierdie verhouding op die oog af tussen entiteite nét soos parasitisme kan lyk. Die lantana wat teen bome oprank, kry dieselfde voordeel uit die boom uit as wat die orgideë doen: hoogte, stewigheid, minder diere wat hom vreet. Maar die lantana wat die boom dooddruk, het op die boom totaal ‘n ander impak as plante wat hom net vir hoogte gebruik.
Daar is tans ‘n groot en moedswillige poging om enige mens met ‘n wit wel soos hierdie parasiete te laat lyk. Dit is dan ook redelik maklik om dit te doen want wat was kolonialisme dan anders? Dit is een land wat ‘n ander se hulpbronne tot sy eie voordeel inspan of daardie hulpbronne nou gewasse, of minerale of mense is.
Die fyner nuanses sou hierdie selfde argument voer vanuit ‘n Marxistiese klasse-oogpunt. Daar is die elite, die middelklas en die werkersklas en die werkersklas wat só uitgebuit is, het daarom ‘n reg tot die welvaart van die ander. Hulle moet net reg georganiseer word. Uiteindelik lyk die Suid-Afrikaanse demografiese welvaartverdeling steeds na ‘n ryk wit mens en ‘n arm swarte.
Vandaar dan die geldigheid van die argument.
Daar is egter ‘n byproduk tot die argument wat selde verreken word. ‘n Welvaartstaat, waar ‘n derde die ander twee derdes dra, is dan ook ‘n soort parasitisme. As twee vyfdes van my inkomste vir belasting gaan en daardie belasting bloot vir die onderhoud van behoeftiges gebruik word, is dit mos presies wat parasitisme is. Dit is die keer egter geregverdig vanuit ‘n oogpunt van die “onregte” van die verlede.
Ek besef dat ek nuwe paaie en ‘n Gautrein ook aan my belasting te danke het. So, bogenoemde is natuurlik ‘n oordrywing, maar die geldigheid van my punt gaan nie daarmee verlore nie.
Kompetisie is waar een entiteit beter wil presteer as ‘n ander.
Die springbok en die blesbok is kompetisie. Hulle vreet dieselfde gras en wat die een vreet, is nie beskikbaar vir die ander nie.
Maar let tog daarop dat dit selfs in hierdie geval nie noodwendig beteken die een hoef die ander skade te berokken nie. Eers wanneer die weiding min raak, maak hierdie kompetisie regtig saak.
As jy op die koerante af probeer vasstel wat in die wêreld aangaan, sal jy elke dag dink die weiding is nou op sy laagste vlakke ooit. Wag, nee, nóú is dit die minste. Niemand kon glo dit gaan nóg erger raak nie en toe gebeur dit. Dit is dié dat ’n mens maar met ‘n knippie sout moet neem hoe aaklig dit nou al weer gaan.
Die ongeluk van kompetisie is dat die een wat in die minderheid is, geneig is om die uiteindelike stryd te verloor. As 1 in 10 oorleef en daar is 80 van die een en 20 van die ander, gaan daar waarskynlik 8 en 2 oorbly. Tussen 8 is ‘n broeipaar veel meer waarskynlik…
Die uitsondering op hierdie reël is waar die een spesie alternatiewe voeding kan kry om hom deur die maer jare te dra. ‘n “Boer maak ‘n plan” durf dus nie bloot tot ‘n slagspreuk te verval nie.
Enigeen wat al die spel Risk gespeel het, sal weet dat as die een 80 mannetjies en die ander 20 het, die een met 80 tussen 50 en 70 gaan oorhou as die geveg verby is. Dis daarom dat minderheidsgroepe ook maar uit hulle pad uit moet gaan om seker te maak dat hierdie geveg nie plaasvind nie. Dis nie lafhartig nie. Om die teendeel te doen, om ‘n geveg te gaan soek wat kon gebly het, is net dom.
Hierdie les is een wat diegene wat hulleself aan standbeelde gaan vasketting vinnig moet leer.
Slotopmerkings
Die konserwatiewe agenda is een van bewaring. Dit gaan daaroor om bereid te wees om aan ‘n goeie idee te skaaf om dit te laat oorleef.
Die idees hierbo beskryf hoedat ons/hulle natuurlik gebeur. Dit wys ook hoe die natuur baie vorme van interaksies tussen die “ons” en die “hulle” voorsien. Enige een wat reken dat die blote erkenning dat daar ‘n “ons” en ‘n “hulle” terselfdertyd vyandskap daarstel, het die spoor verloor. Eweneens beteken die verskillende moontlikhede dat daar in interaksie met ‘n ander groep altyd meer as een soort ooreenkoms moontlik is. Hiervan is mutualisme die beste. Dit is die beste om met almal, van Tirool tot Mnyameni, wat wil vriendskappe smee, daardie samewerking te hê.
As ons nie kan saamwerk nie, wil ‘n mens minstens ‘n situasie onderhou waar kommensalisties omgegaan kan word met mekaar. Soms beteken dit om te sluk aan beskrywings oor Orania soos “laat hulle daar in hulle eie hoekie sit en vergaan”. Ons weet dat hierdie hoekie nie aan die vergaan is nie, hy bloei soos blomme, nie soos wonde nie. Om gelos te word om jou eie ding te doen oor jy bejammer moet word, is immers beter as om ‘n vyand te maak.
Parasitisme is onplesierig. Niemand wil voel hy dra die res wat nie ‘n bydrae maak nie. Om egter tot vyandige gesindheid oor te gaan, is tot almal se nadeel en in elk geval van ‘n minderheidsgroep, veral jy self.
Kom ons wees konserwatief. Kom ons bewaar wat ons het, al moet dit dalk vorentoe anders daar uitsien.
Naskrif
Ek besef dat die analogie van verskillende spesies vir verskillende groepe uit verband geruk kan word. Hier word geensins aangevoer dat verskillende soorte rasse tot verskillende spesies behoort nie, nes die pugsterriër en die foksterriër nie verskillende spesies is nie.
So is daar nog ‘n moontlikheid wat glad nie bespreek word nie: dat die twee groepe wedersyds niks met mekaar te doen het nie. Hierdie posisie moet nie met vyandigheid verwar word nie. Dis ‘n opsie dat elkeen bloot sy eie bevorder en die ander gun om sy eie te bevorder. Dis seker maar ‘n biologiese interaksie wat nie interessant genoeg was om vir skoolkinders te leer nie.
Laastens: As uitwoner gee ek geensins voor om namens Orania te praat nie. Dit is net my perspektief op hoe die pad vorentoe gebaan moet word.
by Orania Beweging | Jul 30, 2015 | Nuus |
In Alicestine October se artikel in Beeld van Dinsdag, 7 Julie 2015, getiteld “Munisipale saamsmelt kan sake vererger – DA”, word die nuwe munisipale grense (soos voorgestel deur die munisipale afbakeningsraad) en die impak daarvan bespreek. Wat ʼn duidelike politieke oefening van die ANC is ter voorbereiding van 2016 se munisipale verkiesing, sal egter verreikende praktiese gevolge hê.
Ek stem volkome saam met die opskrif van die artikel dat verdere sentralisering van munisipaliteite, dienslewering selfs nog verder sal verswak. Die redes hiervoor is deels omdat munisipale amptenare (wat reeds sukkel om die mas op te kom) nou met groter begrotings moet werk en ook meer veranderlikes moet verreken, maar merendeels is dit omdat die sentrum van gesag verder vanaf die kiesers geskuif word.
Met elke stap tot sentralisering, vind daar ʼn verdere verwydering van assosiasie (vervreemding as u wil) tussen die amptenaar en die plaaslike gemeenskap plaas, wat noodwendig sal beteken dat die verhouding tussen hulle ook meer burokraties sal word.
Die amptenaar wat byvoorbeeld nou in Potchefstroom woon en werk, sal minder met die probleme op Ventersdorp identifiseer, sy bestuur sal meer uit pas wees met uitdagings op Ventersdorp en hy sal ook minder verantwoordbaar voel teenoor die gemeenskap van Ventersdorp.
Die oplossing vir swak dienslewering is daarom presies die teenoorgestelde van wat die ANC tans beplan. In stede van sentraliseer, moet ons desentraliseer; in stede daarvan om mag op te wentel, moet dit afgewentel word, sodat besluitneming en bestuur so na as moontlik aan die plaaslike gemeenskap is – dit is naas bestuursaanstellings op meriete die grootste faktor om effektiewe dienslewering te verseker. Sodoende kan probleme en uitdagings geïsoleer en aangespreek word, eerder as om dit binne die finansies van ʼn groter entiteit te verdoesel.
As voorbeeld vir my argument wil ek u graag na Orania verwys. In die 2013/2014 finansiële jaar het die Orania Dorpsraad sy 24ste skoon oudit in 24 jaar gekry. Aangesien Orania as ‘n aandeleblok bedryf word, word Orania streng deur die Wet op die Beheer van Aandeleblokke 59 van 1980 gereguleer. Die dorpie wat in 1991 vir R1,6 miljoen aangekoop is, se waarde word nou op meer as R500 miljoen gereken. Dit staan in skrille kontras met die algemene verskynsel in die res van Suid-Afrika.
Van die 325 munisipale entiteite in Suid-Afrika wat in 2013/2014 deur die ouditeur-generaal geoudit is, het slegs 40 skoon oudits ontvang. Fokus ons hierdie syfers spesifiek op die Noord-Kaap, vind ons dat geen plaaslike munisipaliteit in die provinsie ʼn skoon oudit ontvang het nie. Terwyl vyf plaaslike munisipaliteite se oudits ongekwalifiseerd was (maar wel bevindings gehad het), is nege verwerp, drie kon nie voltooi word nie en die res is almal gekwalifiseerd.
Die ouditeur-generaal se verslag dui verder aan dat die Noord-Kaap se plaaslike munisipaliteite in 2013/2014 ʼn totale bedrag van R828 miljoen op ongemagtigde, buitengewone of vrugtelose en verkwistende uitgawes spandeer het. Dit is bo en behalwe die R1,9 miljard se ongemagtigde, buitengewone of vrugtelose en verkwistende uitgawes van vorige jare wat nooit ondersoek is nie (soos vereis deur die Munisipale Finansiële Bestuurswet, Nr. 56 van 2003).
Orania dien daarom as bewys dat wanneer ʼn gefokusde en doelgedrewe gemeenskap toegelaat word om homself te bestuur en daar ʼn noue band van assosiasie tussen die plaaslike bestuur en burgery bestaan, dienslewering effektief sal wees en die gemeenskap in die breë veerkragtig en gesond sal wees.
by Orania Beweging | Jul 30, 2015 | Nuus |
Tans woed ‘n debat in Suid-Afrika oor die interpretasie van die geskiedenis en die herbeoordeling, selfs verwydering van simbole en figure uit die Afrikaner en die blanke se geskiedenis. Dit is nie ongewoon as ‘n voorheen benadeelde en oorheersde groep die mag verkry, soos wat in die 20ste eeu in alle voormalige kolonies gebeur het en alles op sy kop keer. Dit kom egter vreemd voor as ‘n land dit doen waar geen regimeverandering plaasgevind het nie en dieselfde etniese groep in beheer is. Dit gebeur egter nou in die VSA (en Europa). Die linkse siening, dat geskiedenis en herinnering reggestel moet word, omdat wit heteroseksuele mans te prominent voorkom en by implikasie altyd die onderdrukkers van vroue, swart mense en ander sogenaamde minderhede is, het ook in die VSA momentum gekry, deur president Obama en sy beleid en uitsprake in die algemeen en ‘n slagting van swart mense deur ‘n jong rassistiese blanke in Charleston, Suid-Carolina, in Junie vanjaar, in die besonder. Omdat die jongman hom onder andere laat afneem het met die vlag van die Konfederasie, die groep state van die suide wat in 1861 onsuksesvol probeer afskei het, is die vlag nou ‘n simbool van rassisme wat orals verban moet word. Eerste moes die vlag op die Kapitool van Columbus, Suid-Carolina se hoofstad, waai. Dit het daar, saam met die VSA-vlag, gewapper as verwysing na die geskiedenis. Suid-Carolina was die voorloper met die afskeidingspoging. Vir talle mense in die suide het die vlag van die Konfederasie ‘n sterk emosionele betekenis. Daarna het talle winkelgroepe in vooruitlopende onderdanigheid die verkoop van die vlag stopgesit, nog voor iemand daarvoor gevra het. Soos met alle veldtogte wat met linkse ywer bedryf word, is die vlag net die eerste stap in ‘n oorlog teen alles in die geskiedenis wat linkses nie van hou nie. Volgende word nou standbeelde van generaals en leiers van die Konfederasie geteiken. Georgia se Stone Mountain Park, waar beelde van die leiers van die Konfederasie uit klip gekerf is, is nou in die spervuur, asook ander beelde elders. Ook die herdenkingsdag van die Konfederasie is nou onder druk.
Natuurlik is daar ook mense wat opkom vir hulle erfenis en optogte met die vlag van die Konfederasie het juis nou die hoogte ingeskiet. Alhoewel linkses die Konfederasie en die emosie oor die vlag graag gelyk wil stel met die rassistiese Ku-Klux-Klan (KKK), is die sentiment baie wyer en is die KKK in elk geval net so min ‘n faktor in die VSA, soos die AWB in Suid-Afrika (maar totaal buite proporsie opgeblaas). Die skielike aanvalle op simbole van die Konfederasie kan juis tot ‘n herontwaking van waardering vir die Suide se geskiedenis en ander wese lei. Immers is die meeste monumente vir die Konfederasie opgerig in tye van en as reaksie op linkse oorwinnings, soos in die 1960’s.
Net soos in Suid-Afrika word ook in die VSA gevra hoekom simbole nou geteiken word en nie die werklike probleme aangespreek word nie, naamlik die groot armoede, werkloosheid en maatskaplike probleme onder swart Amerikaners. Die verwydering van monumente is ‘n goedkoop afleidingstrategie en slaan die strooipop van die bose rassis, maar verander niks aan die toedrag van sake van ongelykheid in die VSA.
Om die sesessieoorlog van 1861-1865 te wil verkort tot ‘n geveg tussen suidelike slawedrywers en mensliewende noordelikes is net so simplisties soos die ANC-geskiedenisbeskouing van “350 jaar van onderdrukking sedert Jan van Riebeek”, of om die vrystelling van slawe as die enigste motivering vir die Groot Trek te sien. Vir die Suide was die oorlog troumaties en die verbrande aarde beleid van die noorde se uitwerking vergelykbaar met die van die Tweede Vryheidsoorlog. Verder, as ‘n mens vandag se maatstawwe van politieke korrektheid gebruik, sal bykans elke leier van die verlede verwyder moet word. Selfs Abraham Lincoln, wat in die kollektiewe geheue as die bevryder van die slawe gevier word, was na huidige maatstawwe ‘n rassis, wat geglo het dat rasse ongelyk is en geskei moet word en dat swartes nooit op dieselfde vlak as wittes moet vorder nie. Die bevryding van die slawe was nie vir hom die doel van die oorlog nie, maar ‘n middel om steun te werf en gemoedere op te sweep. Wat die debat boweal ook weer wys is dat daar nie iets is soos “nasionale geskiedenis” nie, allermins in multi-kulturele lande soos die VSA of Suid-Afrika.
by Orania Beweging | Jul 29, 2015 | Nuus |
Daar is ʼn ou sêding dat die geskiedenis deur die oorwinnaars geskryf word. Die afgelope twintig jaar tree die ANC-regering ook soos oorwinnaars op deurdat Suid-Afrika se geskiedenis herskryf word op maniere wat Afrikaners soos Nazi-monsters laat lyk en wat ʼn skeefgetrekte beeld oor ons land se geskiedenis aan kinders oordra.
Die Federasie vir Afrikaanse Kultuurverenigings, die FAK, se verslag wat onlangs hieroor bekend gemaak is, is dus besonder belangrik. In hierdie omvattende verslag word uitgewys hoe daar in skoolhandboeke ʼn weergawe van Suid-Afrika se geskiedenis gegee word wat nie met die waarheid kers vas hou nie.
Daar word onder andere in handboeke geskryf dat Jan van Riebeeck en die Nederlanders die vrede en harmonie wat in Suid-Afrika geheers het, kom versteur het. Enigiemand wat al ʼn paar geskiedenisboeke oor die konflik tussen Suid-Afrika se vroeë bewoners gelees het, sal weet dat hierdie opmerking totale onsin is.
Die probleem met geskiedenis is dat dit baie keer nogal op ongemaklike maniere van die populêre denke verskil. Neem nou maar vir Nelson Mandela as voorbeeld. Hy verdien sekerlik krediet vir baie dinge wat hy in sy lewe reggekry het. Hy het egter ook foute gemaak. Geskiedenisboeke behoort Mandela se goeie en slegte sy uit te beeld en nie van hom ʼn soort onaantasbare heldefiguur te maak nie. Die redes waarom Mandela voor die hof gedaag en in die tronk gestop is behoort ook in vandag se geskiedenisboeke gepubliseer te word.
Een belangrike instrument in die skep van ʼn balans tussen die propaganda van die meerderheid en die waarheid oor ʼn minderheid se geskiedenis, is die media. Dit is daarom uiters kommerwekkend dat Pieter du Toit, nuusredakteur van die Afrikaanse dagblad, Beeld, vroeër hierdie week ʼn genadelose, bykans emosionele, aanval op die FAK-verslag gelewer het. Du Toit verkleineer die leierskap van die FAK en gaan sover om Afrikaners met Nazi-Duitsland te vergelyk in sy regverdiging van die ANC se projek om ons geskiedenis te kriminaliseer.
Hierdie soort van anti-Afrikaner retoriek word gereeld in Beeld en ander Naspers-koerante gevind. Die rubriekskrywer Henry Jeffreys het ook ʼn tyd gelede in Beeld geskryf dat Apartheid net so sleg soos die Nazi’s se volksmoord op die Jode in Duitsland was. Die werklikheid is egter dat meer as 10 miljoen mense, hoofsaaklik Jode, deur die Nazi’s uitgewis is. Minder as 5000 mense is deur die Apartheidsregering vermoor.
Afrikaners moenie probeer om die foute in ons eie verlede te regverdig nie. Ons het egter ʼn reg daarop om seker te maak dat ons kinders in skole aan ʼn billike weergawe van ons geskiedenis blootgestel word. Geskiedenishandboeke speel hier ʼn belangrike rol en dit is daarom belangrik dat instellings soos die FAK ʼn waghondrol moet speel om seker te maak dat ANC-propaganda nie as feitelike waarhede aan ons kinders oorgedra word nie.
by Orania Beweging | Jul 22, 2015 | Nuus |
Ons kan seker vasstel dat dit wat algemeen as links beskryf word, of “polities korrek” vandag eintlik orals in die Westerse wêreld die botoon voer. Linkses sal dit natuurlik ontken, want hulle sien hulleself as vegters teen die magtiges en die onderdrukkers, en vir gemarginaliseerde minderhede. Dié siening was dalk etlike dekades gelede korrek gewees, maar wêreldwyd is die linkses sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog op ‘n segetog wat hoogstens plek-plek en tydelik gestuit is. Die een hoofrede hoekom linkses die oorlog kon wen, was dat regses moreel bankrot was na twee wêreldoorloë wat oor “regse” sake soos nasionalisme en nasionale belang geveg is en op ‘n wêreldwye ramp en die vernietiging van die ou orde uitgeloop het. Ten spyte daarvan dat die kommunisme, waar dit geheers het, erger vergrype gepleeg het as regse regimes, kon linkses in die Weste dit regkry om die aandag daarvan af te lei en uit ‘n posisie van die gewaande morele hoërgrond die samelewing te omvorm.
Die ander hoofrede was dat hulle inderdaad skynbare antwoorde op die vraagstukke van die tyd gehad het en die beter argumente kon lewer. Die beskerming van minderhede of groepe wat werklik benadeel was, die beskerming van die omgewing, wêreldvrede, beter verhoudinge tussen verskillende rasse en volke, maatskaplike hulp vir armes en beter lewensomstandighede vir die werkers en ontwikkelingshulp vir die sogenaamde Derde Wêreld was alles sake wat die hoofstroom aangegryp het en in beginsel moreel goed en reg was. Enige beweging wat veg vir die regstelling van dinge wat verkeerd loop, besit die morele hoërgrond en kan met die regte argumente en lobby-arbeid uiteindelik oortuig.
Enige beweging wat veg vir ‘n morele saak bereik egter ‘n punt waar hulle hulle hul doelwitte bereik het en te behoort ontbind. Nadat alle aanvanklike doelwitte bereik is, soos gelyke regte vir vroue (in die Weste oor die algemeen) of vir swart mense (in die VSA spesifiek), die inbring van maatreëls om die omgewing te beskerm, die onafhanklikheid van voormalige kolonies, die ontstaan van internasionale verdrae en organisasies ensovoorts, het die progressiewe beweging egter nie daarmee volstaan nie en hulle beperk tot die monitering daarvan nie, hulle het dit net as ‘n stap beskou om nou aan ‘n meer omvattende verandering van die samelewing te werk. Hulle het van ‘n posisie as avant-garde tot een van hoofstroom wat met politieke mag beklee is, verander. Nou het die volgende fase gevolg en is die doelpale geskuif. Dit was nie meer genoeg dat voorheen gemarginaliseerde groepe soos vroue of swartmense as gelyke aanvaar is en wetgewing hulle beskerm nie, nou moes hulle deur middel van staatsinmenging op elke denkbare vlak bevoordeel word. Verder is nuwe minderhede wat nou tot hulle reg moes kom ontdek, soos mense met afwykende seksuele voorkeure of dwelmgebruikers. Op die terrein van die staatkunde was goeie samewerking van state en die vorming van internasionale organisasies nie meer genoeg nie, nou moes ‘n utopiese wêreldregering gebou word, met die Europese Unie of die Afrika-Unie as boublokke. Dit was ook nie meer genoeg dat voormalige kolonies nou ook op gelyke vlak met die ouer state en volke staan nie, die erfenis en politieke denke van die Weste moes tot niet gemaak word omdat, volgens linkse logika, onderdrukking en uitbuiting inherent deel van die blanke Weste is. Die Christendom is ’n hoofteiken van dié kulturele revolusie, want dit is die fondasie van die Westerse beskawing.
Die linkses sit nou in die sentrums van mag en beheer lankal die debat, maar hulle het die morele hoërgrond verloor. Daar word nie eens meer debatte gevoer nie, maar die wat ander opinies het word stilgemaak en geboelie. Die eertydse vegters vir verdraagsaamheid, oop debat en vir die onderdruktes het nou self die onderdrukkers en sensors geword. Hulle magsgreep lyk onaantasbaar en hulle stoom voort op die suksesse wat behaal is. Die linkse hegemonie staan egter op voete van klei. Die voete van klei is die gebrek aan argumente en aan werklike vraagstukke wat tot die meerderheid spreek. Die bevryding van onderdrukte volke was moreel reg, die tyd was daarvoor ryp en dit het ‘n magtige golf geword. Die stryd vir ‘n “gay-huwelik”, vandag se linkse gunstelingsprojek daarteenoor is ‘n armsalige en kunsmatige debat wat deur radikale meningsvormers en talle opportuniste op die swygende meerderheid wat ander probleme het, afgedwing word, om maar net een voorbeeld te noem.
Die tyd is nou ryp vir behoudendes om, soos die linkses sowat 70 jaar gelede, as nuwe avant-garde na vore te kom en die morele hoërgrond deur beter argumente te beset en om antwoorde op vandag se vraagstukke te gee.
by Orania Beweging | Jul 21, 2015 | Nuus |
Foto: Die Burgermonument van Burgersdorp is onlangs gevandaliseer. Dié monument is opgerig ter nagedagtenis aan die slag van Stormberg op 10 Desember 1899 tydens die Tweede Vryheidsoorlog, waarin ’n aantal inwoners van die dorp gesneuwel het. Die onthulling van die monument in 1908 is deur twee van die boere-generaals, Koos Delarey en C.F. Beyers, bygewoon.
“Ek stel nie belang in geskiedenis en monumente nie, ek lewe vir vandag,” is ‘n sentiment wat gereeld by veral jongmense gehoor word. “Vandag” is egter net ‘n vlietende oomblik en binnekort ook geskiedenis. “Vandag” is ‘n produk van jou verlede en “vandag” bestaan net as gevolg van wat in die verlede gebeur het. Net so is “vandag” ‘n klein boublok vir die toekoms. Om vir “vandag” te lewe is reg as dit bedoel word om vandag se geleenthede aan te gryp en nie te treur oor wat verby is nie, en om jou nie onnodig te bekommer oor die toekoms nie. As dit egter verder gevat word en daaruit ‘n lewensbeskouing gemaak word, is dit ‘n armoedige stelling. Mense en volke wat nie ‘n verlede het nie, of eerder nie daarvan bewus is nie, het ook nie ‘n trots nie. Hulle het niks om op voort te bou nie en hulle lewe “vir vandag” is ‘n gejaag na kortstondige plesier, of ‘n geswoeg om te oorleef, albei sonder ewigheidswaarde. Daarom is ‘n besef van jou geskiedenis so belangrik. Behalwe vir die vertelling van die geskiedenis en die akkurate optekening daarvan is monumente belangrike bakens op die pad. Waar vaste bakens ontbreek, word die soeke na geskiedenis ‘n rondtas in die donker, en ontstaan daar dikwels mites wat niks met die werklikheid te make het nie.
Die “lewe vir vandag”, wat nogal deel van die swart kultuur is, het ongelukkig tot gevolg dat min swart historici hulle eie geskiedenis in beskerming geneem het. In die meeste gevalle is dit wit argeoloë en historici wat die nie-blanke nalatenskap, van Boesmantekeninge tot Mapungubwe of Great Zimbabwe, ondersoek en beskryf het. Om daarvoor te kompenseer word nou oral standbeelde van oud-president Nelson Mandela opgerig. Nkandla mag dalk in ‘n Post-Zumabedeling ‘n monument word wat toeriste besoek en hulle vergaap aan die spandabelrigheid van die president en die skandaal wat dit ontketen het.
Elke volk is geneig om sy eie geskiedenis te idealiseer. In talle Afrikalande word die stryd teen blanke beheer geïdealiseer met enorme monumente wat dikwels geweld en vernietiging verheerlik. Wat egter ontbreek, is ‘n deurlopende lyn van geskiedenis, of iets soos ‘n nasionale of volksgeskiedenis wat die bakens wat die volk gevorm het, toon. Omdat Suid-Afrika ‘n veelvolkige land is, is daar eintlik geen monumente waarmee almal kan vereenselwig nie en daarom is monumente ook so omstrede. Die een se held is die ander een se onderdrukker.
Die Afrikaner se geskiedenis kan wel nie losgemaak word van Suid-Afrika nie, maar daar is tog talle bakens wat die volk se ontstaan en vorming aandui en daar kan met reg van ‘n volksgeskiedenis gepraat word. Hermann Giliomee se meesterstuk “Die Afrikaner” is juis moontlik omdat die Afrikaners hulle geskiedenis van die begin af gedokumenteer het en ook vir elke tydperk en gebeurtenis monumente opgerig het wat hulle teenwoordigheid en dade uitlig. Die Kasteel in Kaapstad bewys vir almal dat Jan van Riebeeck die stad gestig het en dorpe soos Stellenbosch, Swellendam en Graaff-Reinet met hulle Kaapshollandse argitektuur toon die verdere trek die binneland in. Die talle gedenktekens van die Groot Trek wys die roete en gebeure uit, soos Winburg, Vegkop, Kerkenberg, Bloedrivier. Die slagvelde van die Vryheidsoorloë soos Majuba, Magersfontein en Spioenkop met hulle monumente, om maar enkeles te noem, staan vir die Boere se heldhaftige stryd teen die Engelse oormag. Die Vrouemonument en die oorblyfsels van konsentrasiekampe staan vir die hartseer en lyding van die vroue en kinders. Talle monumente wat na 1948 opgerig is, staan vir die volk se heropstanding, prestasie en selfvertroue, soos die Taalmonument en beelde van volksleiers. Al word die ou Suid-Afrika deur die nuwe bewind hoe sterk veroordeel, kan niemand die groot vordering op die gebied van kultuur, navorsing, onderwys en nywerheidsontwikkeling ontken nie. Die universiteite, skole, maatskappykantore, damme, teaters, deurpaaie en navorsingsinstellings toon dit.
Vir dit alles beny die huidige bewindhebbers die Afrikaners want hulle het min eie bewyse van hulle geskiedenis en moet hulle dikwels met legendes, soos die mitiese hoofman Tshwane die saak beredder. Omdat daar egter geen bewyse bestaan of hy hoegenaamd gelewe het nie, en nog minder van sy voorkoms en sy dade, word ‘n figuur geskep vir wie ‘n standbeeld opgerig word daar waar Marthinus Wessel Pretorius Pretoria gestig het. Dit is egter nie geskiedenis nie, dit is die skep van mites. Die monumente vertel orals, waar hulle is iets van ‘n volk en sy prestasies. Die monumente herinner ook ons kinders, wat grootgeword het in skole wat vertel dat voor Mandela alles sleg was, dat daar lewe voor 1994 was, selfs goeie tye en dinge om op trots te wees. Daarom is ons monumente vir ons so belangrik, en daarom is daar soveel haat en venyn van radikale soos die EVV daarteen. Dat ons mense egter opruk om ons monumente te beskerm en te herstel na vandalisering, is ‘n bemoedigende teken en toon dat die goue draad van die Afrikaner se geskiedenis nie geknip is nie.
Nuutste Opmerkings