Die afgelope naweek het honderde atlete en nog heelwat meer ouers en toeskouers op Groblersdal toegesak vir die jaarlikse BCVO Winterspele. Leerlinge uit vyf provinsies en meer as 30 CVO-skole het aan dié jaarlikse rugby- en netbaltoernooi deelgeneem. Die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys het ook sy 21ste verjaardag gevier.
Die Gromar CVO-skool, in Groblersdal was ‘n gepaste gasheer vir hierdie toernooi. Die skool is die grootste CVO-skool en beskik ook oor van die beste fasiliteite van alle CVO-skole. Orania CVO-skool, een van die grootste CVO-skole in die land, was ook goed teenwoordig.
Tog is ‘n baie klein persentasie van Afrikanerkinders in CVO-skole en ander privaat Afrikanerskole. Die meerderheid Afrikanerkinders is steeds in staatskole. Kultuur- en godsdiensgefokusde skole soos die CVO-skole sukkel om te groei en om in ‘n werklike alternatief te ontwikkel. In Orania het ons dit reeds met Orania CVO-skool en Volkskool Orania was ook deur hul Afstandsleer Plus vir meer as 100 Afrikanerkinders afstandsonderrig aanbied. In die res van Suid-Afrika is die situasie egter wesenlik anders.
Daar bestaan vandag nog talle goeie Afrikaanse staatskole en baie Afrikanerouers wend groot pogings aan om hierdie skole en die unieke kulturele en geloofskarakter wat hulle nog het, te behou. Die realiteit is egter dat Afrikaners stelselmatig hul vermoë om openbare skole te beheer, verloor.
Die huidige regering se benadering van gedwonge integrasie sal uiteindelik daartoe lei dat bitter min staatskole hul Afrikaanse en Christelike karakter sal kan behou. Staatskole sal gedwing word om die breër demografie te weerspieël en dit sal net soos wat met ons universiteite gebeur het, tot ‘n totale magsverlies en uiteindelik ‘n totale transformasie van die instellings lei.
Die regering het die afgelope tyd selfs verby hul fokus op staatskole getree deur selfs privaatskole te begin teiken. Die gebeure onlangs by die Roodeplaat Curro-skool, het net weer bevestig dat die regering nie respek het vir kultuureie onderwys nie.
Afrikaners wat dus voel dat hul kinders in ‘n kultuurvriendelike en geloofsvriendelike omgewing onderrig moet word, sal moet saamwerk om ‘n langtermynoplossing te skep.
Daar is vyf stappe wat Afrikaners nou sal moet begin neem om te verseker dat ons kinders nog in die toekoms volgens ons eie voorwaardes onderrig sal kan word. Eerstens sal bestaande Afrikanerinstellings in die onderwys en breër burgerlike samelewing, ten spyte van klemverskille, bymekaar moet kom om ‘n strategie vir volhoubare Afrikaneronderwys te bepaal.
Tweedens moet bestaande privaatskole soos die CVO-skole en die talle gereformeerde skole vanuit die Afrikanergemeenskap bemagtig word om meer volhoubaar te vestig en om vanuit ‘n posisie van oorlewing na ‘n posisie van groei en uitnemendheid te ontwikkel. Dieselfde geld vir instellings soos AROS wat Afrikaneronderwysers oplei. ‘n Groot onderwysfonds moet moontlik hiervoor gestig word.
Derdens moet bestaande privaatskole hulself vernuwe deur tot moderne Afrikaners te spreek sonder om op waardes en beginsels in te boet.
Vierdens moet pogings om sommige staatskole wat nog ‘n Afrikanerkarakter het te beskerm en te behou voortgesit word. Die behoud van staatskole kan egter nie ten koste van privaatalternatiewe geskied nie.
Laastens moet daar gefokus word op internasionale samewerking. Die akkreditering van kwalifikasies by oorsese instellings, werwing van steun by oorsese vriende van die Afrikaner en samewerkingsooreenkomste met onderwysinstellings in ander lande is noodsaaklik.
Indien Afrikaners gefokus saamwerk kan ons verseker dat ons kinders in die toekoms steeds goeie onderig in hul taal en in ‘n kultuur- en geloofsvriendelike omgewing ontvang.
Ek dink van die vyf voorstelle is die eerste een seker die belangrikste. Daar sal daadwerklik iets gedoen moet word ons mense bymekaar te kry rondom hierdie belangrikke deel van ons volkswees.
Die ANC het dit wat hulle geleer het by die kommunisme suksesvol deurgevoer en dit is om ons jeug te teiken, om ons kinders stelselmatig te beinvloed.
Ek – ‘n Vlaming met ‘n groot hart vir die Afrikaners – stem heeltemal saam met Jaco Kleynhans. Met wysheid, krag en saamstaan is baie goeie perspektiewe vir ‘n seker en stabiele toekoms moontlik. Die geloof in ‘n eerlike saak moet alle kanse kry. Ex unitate vires!
Die ironie is dat sommige van ons staatskole uit ‘n finansiële oogpunt eintlik maar as privaatskole bedryf word – maar dan met die tydige en ontydige inmenging van die Minister. By die skool waar ek betrokke is, is die jaarlikse skoolfonds min of meer dieselfde as in die geval van Windhoek Affies, wat terloops ‘n goeie voorbeeld is van ‘n bekostigbare Afrikaanse privaatskool wat deur die gemeenskap en vir die gemeenskap op die been gebring is. In ons geval betaal die ouers sowat helfte van die totale salarisrekening, en feitlik alle bedryfsuitgawes. Daar bestaan min twyfel dat mens met ‘n bietjie opoffering en beplanning heelwat van die ou Model C-skole privaat sou kon bedryf. Die een groot uitdaging is egter die aanvanklike kapitaaluitgawe om so ‘n skool op die been te bring – perseel en geboue.
Wat meer ook sal bydra is om ook meer beurse beskikbaar te stel, vir die wat so graag onderwys wil studeer, waar ouers nie kan bekostig nie. Ek is een van die ouers wat deur mediese omstandighede nie my kind die geleentheid kan gee nie, wat ‘n bydrae kan maak vir aandagafleibaarheid kinders vir die opbouing van selfvertroue.
Ek steun ONDERWYS-OPLEIDING, nl., Opleiding vir Afrikaner Onderwysers. AROS is werklik n baie goeie vertrek-punt. Die Normaal-Kollege van ouds. Dit moet asseblief beide die spesialis-vakkunde in al die onderskeie vakke, sowel as die pedagogie (onderwys-kunde en onderwys-bedrewenheid) insluit.
Sonder goed-opgeleide ONDERWYSERS en ONDERWYSERESSE kan ons nie goed-opgeleide leerlinge in n volgehoue Afrikaanse Afrikaner-kultuur kweek en oplei nie.
Ek sal sterk aan beveel dat daar ‘n universiteit lanbou kollege bestuurskool as ook n opleiding sentrum waar alle opleiding aangebied kan word opgerig word deur afrikaner hande asook die onwikkeling.