fbpx

FederalDie Verenigde State van Amerika word deur baie federaliste voorgehou as ‘n voorbeeld van hoe mag na state afgewentel kan word. In die VSA is dit nie net state wat oor omvattende bevoegdhede beskik nie, maar ook distrikte en munisipaliteite.

Die afgelope paar dekades is daar egter ‘n voortdurende agteruitgang van die federale stelsel in die VSA. Die stryd tussen federaliste en dié Amerikaners wat sentralisme nastreef, is nie iets nuuts nie. Dit het reeds gedurende die negentiende eeu bestaan.

Tydens die negentiende eeu en die eerste helfde van die twintigste eeu is die verlies aan federalisme in die VSA hoofsaaklik gekenmerk deur wetgewing oor belasting, invoertariewe en die ontwikkeling van ‘n sterk sentrale weermag. Die afgelope paar dekades is meer en meer mag egter ook in die wetgewende gesag gesentreer deurdat die kongres in Washington DC toenemend wetgewing begin deurvoer het wat state verplig het om sekere stappe te neem. Veral op die terreine van onderwys en gesondheid is daar sodanig gesentraliseer dat bitter min beleid nog deur state bepaal kan word.

Sentralisme in die VSA is egter die afgelope paar maande na ‘n nuwe vlak geneem deur uitsprake van die hooggeregshof. Een voorbeeld is die onlangse uitspraak oor gay-huwelike. Tot voor die uitspraak was sodanige huwelike wettig in 36 Amerikaanse state en in die oorblywende 14 state was dit onwettig. Die hofuitspraak wat sulke huwelike tot ‘n nasionale reg bevorder, het egter state se mag om hieroor te besluit vernietig.

Ook onlangse uitsprake oor gesondheidsorg en die rol van geloof in die openbare lewe het bewys dat die VSA meer en meer ‘n sentralistiese land word wat beheer word deur ‘n sterk sentrale regering. Beide die uitvoerende, wetgewende en regsprekende gesag tree voortdurend op binne ‘n terrein wat eintlik vir die state gereserveer is.

Beide die Demokrate en die Republikeine is vandag sentralistiese partye wat voortdurend magte wil opwentel, in plaas daarvan om dit te desentraliseer.

Die agteruitgang van federalisme is ook aanwesig in Australië. Is federalisme besig om uit te sterf? Dalk wel in die VSA, Australië en enkele ander lande, maar definitief nie in die res van die wêreld nie. Een voorbeeld van ‘n land waar federalisme steeds sterk is, is Duitsland waar veral Beiere in die Suid-Ooste van die land voortdurend sy regte as staat opeis en sodoende ‘n unieke kulturele karakter behou. In Kanada het die Franssprekendes in Quebec ook uitgebreide magte.

Die Konserwatiewe Party in Engeland het die afgelope tyd ‘n interessante nuwe rigting ingeslaan om magte na munisipaliteite af te wentel. Hulle beplan om dit oor die volgende paar jaar voort te sit.

Suid-Afrika het gedurende die negentigerjare ook ‘n goue geleentheid gehad om ‘n meer federalistiese land te word. Die swak onderhandelaars van die NP en die ANC se sentralistiese drange het dit egter verhoed. ‘n Federale Suid-Afrika sou vir die Afrikaner ‘n eie plek kon verseker. Ook vir die Zoeloes, Xhosas en ander volkere. Die stryd is egter nie verlore nie. Volkere regoor die wêreld wat groepsregte ondersteun moet aanhou om federalisme te bevorder.