Nog ‘n pragtige ou kerkgebou is verlede week gesloop. Die Gereformeerde Kerk Bloemfontein, waarvan die gemeente reeds ‘n paar jaar gelede ontbind het, het verlede week in die stof gebyt. Die gebou moes plek maak vir ‘n blink nuwe ontwikkeling.
Hierdie kerkgebou is nie die eerste een wat val nie. Talle historiese kerkgeboue is die afgelope paar jaar gesloop. Ook ander historiese geboue loop deur ten spyte van wetgewing wat dit probeer verhoed. ‘n Pragtige ou historiese huisie in die stadskern van Colesberg is onlangs gesloop om vervang te word met ‘n laekoste gebou wat winkeltjies huisves.
Regdeur Suid-Afrika sien ons dat die waarde en betekenis van historiese geboue nie net onderskat word nie, maar ook toenemend totaal misken word. Sedert die aankoms van Westerlinge aan die suidpunt van Afrika is ‘n enorme argitektoniese kultuurskat hier ontwikkel. Van Kaaps-Hollandse huise in en om Kaapstad en die doelgemaakte, eenvoudige Karoohuise, tot die sandsteenkerke van die Vrystaat, is daar oor meer as 300 jaar groot werk gedoen om hierdie kultuurskat te ontwikkel.
Soos wat Afrikaners groter dele van Suid-Afrika beset het, het hulle ook hul sin vir goeie estetika en mooi argitektuur afgedwing. Pragtige kerkgeboue is in die sentrum van dorpe gebou en huise, soms nederig klein en eenvoudig, maar byna altyd esteties mooi, is gebou en bewoon.
Vandag word baie plekke waar Afrikaners kerke, huise, skole en winkels gebou het, nie meer deur Afrikaners besit nie. Een van die groot demografiese realiteite van die afgelope 20 jaar is die wyse waarop Afrikaners uit middestede en woonbuurte naby aan middestede na die verre uithoeke van voorstede en dorpe getrek het.
Verder vind daar steeds verstedeliking van Afrikaners plaas soos wat plattelandse jongmense ná hul studies eerder na die stede gaan en dan deur hul ouers gevolg word. Afrikaners bly vandag op ander plekke as 20 jaar gelede.
Gaan ry gerus deur byna enige dorp of stad in veral die noordelike en sentrale dele van Suid-Afrika en jy sal strate en woonbuurte vind waar daar op ‘n stadium hoofsaaklik Afrikaners gewoon het en daar vandag min of geen Afrikaners oor is nie.
Daar het egter ook ‘n ander soort verskuiwing plaasgevind. Met die ontstaan van mega-moderne kerke taan die lidmaatgetalle van tradisionele kleiner gemeentes. Net soos ons kerkgewoontes verander het, het ons inkopie en kulturele gewoontes ook verander. Die winkels in die hoofstrate van sommige dorpe word deesdae vermy en blink nuwe inkopiesentrums op die buitewyke van dorpe en stede word eerder besoek.
Hoe dan nou gemaak met ons argitektoniese skat? Ons almal aanvaar dat demografiese en ander veranderings sal bly voortduur. Gemeentes sal sluit en huise sal nuwe eienaars kry. Dat ons egter ‘n groter mate van respek vir historiese geboue in Suid-Afrika moet kry, is dringend nodig. Die behoud van ook hierdie goeie uit ons verlede mag nie nagelaat word nie.
Baie nodige artikel. Dis hartseer maar dit moet gesê word. Die Afrikaner-hergeboorte waarvoor Orania staan gaan inderdaad oor alle aspekte van ‘n volk. Nie net veiligheid en materiele oorlewing nie, maar ook behoud van ons kultuur, sowel die alledagse “volkskultuur” asook die kultuur met langtermynwaarde, soos goeie argitketuur.