Internasionale terrorisme het ontwikkel tot een van die belangrikste kwessies waaroor mense deesdae regoor die wêreld bekommerd is. Sommige mense verwys na die een-en-twintigste eeu as die eeu van terrorisme.
Die talle voorvalle van gewapende aanvalle op onskuldige burgers in verskillende lande die afgelope paar weke, het hierdie persepsie selfs erger gemaak. Die vraag is egter: Wat is terrorisme en hoe ernstig is die probleem van internasionale terrorisme werklik?
Die Amerikaanse ministerie van Buitelandse Sake het sopas hul jaarverslag oor internasionale terrorisme vir 2014 bekendgestel. Die verslag van byna 400 bladsye bespreek elke land in die wêreld waar daar in ʼn spesifieke jaar terroristiese aktiwiteite plaasgevind het of waar stappe geneem is wat tot terrorisme aanleiding kan gee.
Volgens die verslag was daar gedurende 2014 ʼn styging van 81% in die aantal sterftes weens terrorisme in die wêreld. ʼn Verdere ontleding van die verslag toon egter dat 80% van hierdie voorvalle in slegs vyf lande plaasgevind het. Irak, Afganistan, Sirië, Nigerië en Pakistan is almal lande wat tans ʼn volskaalse burgeroorlog of ten minste ʼn langdurige interne konflik beleef. Kan hierdie konflik werklik as internasionale terrorisme bestempel word? Kan die stryd tussen Sunni-Moslems en Koerde in die noorde van Irak as internasionale terrorisme bestempel word?
Philip Giraldi, uitvoerende hoof van die Raad vir Nasionale Belange, ʼn nieregeringsorganisasie in die VSA gaan sover om te vra om baie van die lande waar sogenaamde internasionale terrorisme plaasvind nie juis onstabiliteit beleef weens die militêre inmenging deur Westerse magte nie.
Die huidige chaos in Irak, Afganistan en Libië kan toegeskryf word aan die feit dat diktators wat dié lande regeer het deur Westerse magte uit die kussings gelig is. Al hierdie diktators dra verantwoordelikheid vir heelwat swaarkry en sterftes in hul lande, maar dit is baie klein in vergelyking met die totale chaos wat tans in hierdie lande heers. Leiers soos Saddam Hoesein en Moeammar Ghaddafi het op wrede maniere stabiliteit in hul lande verseker. Vandag in die vlakke van onstabiliteit, bloedvergieting en swaarkry in Irak en Libië egter baie erger. Westerse lande se ondersteuning van opposisiegroepe in Sirië het ook meegebring dat die burgeroorlog daar geen einde ken nie.
Volens Giraldi het daar sedert September 2011 reeds meer as 2 miljoen mense in konflik in lande waar die VSA se weermag betrokke geraak het, gesterf.
Giraldi beweer dat die terroriste-bedreiging vir Amerikaners baie klein is. Byna geen Amerikaners sterf deesdae in terroriste-aanvalle buite Amerika nie.
Wat is terrorisme dan presies? Die onlangse aanval van ʼn Moslem op ʼn gasaanleg in Frankryk is deur die land se regering as terrorisme beskryf. Die aanvaller woon egter al baie lank in Frankryk. Is dit werklik ʼn voorbeeld van internasionale terrorisme?
Giraldi vra of Amerika en ander Westerse lande se inmenging in konfliksituasies in ander wêrelddele nie eerder die probleem is nie. ʼn Mens kan seker byvoeg dat interne konflik weens kultuurverskille in moderne multikulturele samelewings ook tot sogenaamde terrorisme aanleiding gee. Internasionale terrorisme bestaan, maar ʼn mens moet oppas om sommer net alle konfliksituasies so te beskryf.
Insiggewend, dankie, maar ongelukkig ontbreek ‘n onontbeerlike, korrekte Bybelse perspektief – sien bv http://www.bibleguidance.co.za/Librarylists/Afrikaanseartikelslys.htm .
Die rol wat Islam speel in die aanblaas van terrorisme kan nie onderskat word nie. Let wel: Ek praat hier van Islam, nie Moslems nie. Daar is baie vreedsame Moslems in die wereld wat nooit sulke dade sal pleeg nie, en selfs dapper genoeg sal wees om dit te veroordeel. Sulke Moslems tree egter in stryd op teen hulle godsdiens soos bevat in die Koran, Sira en Hadith. Die Westerse bereidwilligheid om te glo dat Islam ‘n “Godsdiens van vrede” is, is doelbewuste onkunde oor ‘n baie gevaarlike ideologie wat ons duur te staan gaan kom.
Volgens Islam, is Muhammad die voorbeeld wat alle mense moet navolg. Muhammad het toe hy 40 is, sy eerste openbaring ontvang in Mekka waarna hy 10 jaar lank die mense oor hulle afgodery aangespreek het en homself so baie onpopuler gemaak het. Tog het hy 150 mense oortuig om hom te volg. Die “vreedsame verse” van die Koran kom uit hierdie tydperk uit.
Daarna is Muhammed uit Mekka verban, waarna hy na Medina toe is. Daar het hy politieke mag bekom deur verskillende opponente aan te val. Mohammad se mag het bly groei, tot hy uiteindelik Mekka verower het. In die tyd het Muhammad moslems gedwing om deel te neem aan Jihad: Offensiewe oorlogvoering. Wanneer ‘n bevolking oorgeneem is, moes hulle kies tussen die swaard of die Koran. Jode en Christene het ‘n derde opsie gehad: Om Dhimmi’s te word. Dit is basies ‘n twederangse burger met geen regte nie. Baie geweldadige verse het in die Koran in gekom. Hierdie opdragte is universieel vir alle Moslems. Moslems wat in Mohammad se tyd nie wou oorlog voer nie, is as skeinheiliges uitgetrap, en soos heidene behandel. (Dit verklaar waarom Moslems die grootste slagoffers van Islamitiese geweld is!)
Hieruit moet dit duidelik word dat daar baie teenstrydighede in die Koran is. Wanneer daar twee verse is wat mekaar weerspreek, vervang die latere vers die vroeere vers. Die “vreedsame verse” in die Koran is dus onderhewig aan die geweldadige verse. (PS. Die Koran is nie in kronologiese volgorde saamgestel nie, maar volgens die lengte van die hoofstuk. Dit is onmoontlik om die Koran te verstaan sonder die Hadith)
Na die dood van Muhammad, het die moslems inderdaad Muhammad se voorbeeld voort gesit met volgehoue oorlog en uitbreiding. Die Armeense volksmoord deur Turkye was maar net een in ‘n lang geskiedenis van geweld. Europese kolonialisme het vir ‘n kort tydtjie Islam se mag gebreek, maar met die opkoms van liberalisme wat die Weste se mag geweldig in geperk het, sien ons nou ‘n terugkeer na wat Islam oorspronklik was.
Om die geweld in die midde ooste slegs toe te skryf aan die Weste, sal ‘n kollosale fout wees.
Twee bronne wat ek kan aanbeveel vir diegene wat meer wil uitvind is Bill Warner van die Center for the Study of Political Islam (https://www.youtube.com/watch?v=t_Qpy0mXg8Y)
Die ander bron is David Wood van Act17 (https://www.youtube.com/watch?v=9LlLmSTK250)
Dit is nou die tyd vir die wereld om te weet wat in Islam se godsdienstige literatuur staan, wat dit affekteer ons. As ons dit nie doen nie, gaan ons nooit die situasie in die midde-ooste verstaan nie.