thumb(4)Waarom sal ‘n 21-jarige jong wit man in ‘n oorwegend swart kerk instap en tydens Bybelstudie nege mense, insluitende die predikant, doodskiet?

Die onlangse aanval deur Dylann Roof op ‘n kerk in Charleston, Suid-Carolina het hierdie vraag op ‘n eenvoudige wyse na vore gestoot. Die skieter het na sy inhegtenisname van ‘n rasoorlog gepraat en die media het vinnig tot die eenvoudige gevolgtrekking gekom dat Roof ‘n rassis is wat swart mense wou dood maak. Sogenaamde kenners en kommentators het selfs verder gegaan om te beweer dat hierdie voorval ‘n toonbeeld van die algemene voorkoms van wit rassisme is.

Tog het Roof verskeie swart vriende op sosiale media gehad. Hy het in die dae voor die skietery ook gereeld saam met ‘n swart vriend gekuier en dronk geword. Enkele dae voordat hy die misdaad gepleeg het, het hy aan dié swart vriend genoem dat hy ‘n aanval op ‘n plaaslike kollege beoog.

Roof het egter voortgegaan om ‘n swart kerk te besoek, nege swartmense dood te skiet en daarna te verklaar dat hy graag ‘n rasse-oorlog in Amerika wil sien afspeel.

Die hoofstroommedia in die VSA en talle ander lande se eenvoudige opsomming van die gebeure as maar net nog ‘n teken van onopgeloste rassisme onder blankes, is nie voldoende nie.

Eenvoudige misdaadstatistiek en die talle haataanvalle van swart Amerikaners op wittes weerlê in elk geval die idee dat daar ‘n eendimensionele rasseprobleem van wit op swart rassisme in die Amerikaanse samelewing teenwoordig is.

Roof se misdaad wat duidelik rasgedrewe. Hy het self so gesê. Daar word egter ook voortdurend in die VSA haatmisdade deur swartmense op blankes en deur mense van Latyns-Amerikaanse afkoms op swartmense en omgekeerd gepleeg.

Om Amerika se rasseverhoudinge op ‘n eenvoudige tydslyn van slawerny gevolg deur die Burgerregtestryd en nou die laaste asem van witrassisme te beskou, is naïef. Baie liberale Amerikaners gaan selfs so ver om te dink dat die verwydering van die historiese konfederatiewe vlag uit alle openbare ruimtes tot ‘n einde aan rassisme sal lei.

Amerika het ‘n komplekse multikulturele samelewing wat gedurende die afgelope paar jaar deur massa-immigrasie, pogings tot geforseerde integrasie, veral onder mense van ‘n laer inkomstegroep en rassewetgewing, selfs meer ingewikkeld gemaak is.

Groot klem word steeds deur die media, die vermaaklikheidsbedryf en politici soos Barack Obama op witskuld en swartagterstand geplaas. Verder woed daar in verskeie Amerikaanse gemeenskappe ‘n stryd tussen behoeftige mense van verskillende rasse vir behuising, werk, toegang tot goeie skole en ander dienste. Die vraag moenie wees oor of wit Amerikaners hul rassisme agter hulle geplaas het nie, maar veel eerder hoe Amerika toenemende rassespanning gaan ontlont wat deur die druk van multi-kulturalisme veroorsaak word.

Dylann Roff kom uit ‘n gebroke gesin en ‘n gebroke gemeenskap. Hy was en is duidelik ‘n gebroke persoon opsoek na betekenis in die lewe.

In samelewings soos die VSA sal die probleem van haat en woede wat tot misdaad aanleiding gee eerder opgelos word indien mense ruimte kry om hul self te wees en hul plek in die samelewing te vind. Stabiele gesinne, ruimte en respek vir elke kultuurgemeenskap en ‘n aanvaarding van diversiteit eerder as geforseerde integrasie moet ernstig oorweeg word.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel