fbpx

Kan die Afrikaner uit die as opstaan? 

Hoe lyk die vooruitsigte vir die Afrikaner en vir Orania gemeet aan die vorige artikel in die reeks?

thumb(3)Die kritieke massa is wel daar wat getalle betref. Twee tot drie miljoen Afrikaners is genoeg as volk. Wat egter ontbreek is konsentrasie. Die wye verspreiding van die Afrikaner, wat amper ‘n historiese onveranderlike is, belemmer enige hoop op vryheid en heropstanding. Orania se hoofargument is juis die politiek van konsentrasie wat selfbeskikking moontlik maak maar `n minderheid Afrikaners het dit al as oplossing aanvaar. Selfs net 500 000 Afrikaners in die Noordwes-Kaap kan hier ‘n eerstewêreldland skep soos nêrens anders in Afrika nie.

Oor die historiese en legitieme aanspraak is al baie gedebatteer. Diegene wat graag die Boererepublieke wil laat herleef gebruik gereeld die argument. Dit is egter nie voldoende om slegs op historiese aansprake staat te maak sonder konsentrasie in die gebied nie. Histories is die Afrikaner wel ’n inheemse volk in Suid-Afrika en word dit deur almal behalwe mal radikale sonder enige historiese kennis erken. Dus het die Afrikanervolk histories aanspraak op ‘n plek in Suid-Afrika en is die Noordwes-Kaap ten minste ‘n deel waar Afrikaners, saam met Khoisan en Griekwas, lank voor swart mense gevestig was. Die geografie is juis ‘n sterk argument vir die Noordwes-Kaap, met die Oranjerivier en die Weskus as natuurlike grense aan weerskante.

Wat die nasionale bewussyn betref is dit die voorwaarde dat die Afrikanervolk oorleef tot omstandighede eendag gunstig vir selfbeskikking is. Die verspreidheid, die druk tot assimilasie, asook Afrikaners se geneigdheid om te konformeer, individualiseer en globaliseer werk alles teen die behoud van nasionale bewussyn, maar aan die ander kant kan juis die druk om te assimileer en diskriminasie weer tot herlewing van nasionale bewussyn lei. Trouens, dit gebeur alreeds, al is dit nog sporadies en nie altyd samehangend nie. Vir die behoud van nasionale bewussyn is Afrikaanse skole, literatuur, kuns, kultuur en gewoontes van belang. Ander volke het baie langer as 20 jaar onder ‘n vreemde bewind “oorwinter”.

Wat bestaande, erkende grense betref is dit meer as honderd jaar terug dat daar twee Boererepublieke bestaan het met erkende grense, maar met ‘n redelik kortstondige bestaan van minder as 50 jaar. Slegs die grense van die (Oranje)-Vrystaat bestaan voort, maar daar is lankal geen meerderheid Afrikaners meer in die gebied nie en ook geen beweging vir groter outonomie van die gebied nie. Slegs in die provinsies Noord- en Wes-Kaap is daar enkeles wat strewe na groter outonomie. Alle argumente oor historiese grense is nutteloos sonder getalle en konsentrasie binne die grense.

Wat onderdrukking betref is die skaal nie vergelykbaar met die lot van die Armeniërs of selfs die Koerde nie. Dit neem egter toe en dit is betekenisvol dat die Afrikaner verteenwoordig word by die Raad vir Onverteenvoordigde Nasies en Volkere (UNPO). Die groeiende geweld en moorde op spesifiek Afrikaners versterk die argument vir ‘n eie land. Die Afrikanervolk het eintlik ‘n lang geskiedenis as volk wat deur ander, veral Brittanje, onderdruk word en het dus ’n aangrypende verhaal om te vertel wat  die volk aanwakker om te wil oorleef en vry te wil wees en wat ander volke aangryp en simpatie wakker maak. Dit word egter nog in vele gevalle uitgekanselleer deur die sterk indruk wat die storie van onderdrukking tydens die Afrikanerbeheer wêreldwyd (te reg of te onreg) gemaak het. Internasionale simpatie en steun is dus tans nog redelik beperk, maar groei wel. En die Afrikanervolk het al tevore na skynbaar totale vernietiging uit die as opgestaan.

Die onderdrukking van Afrikaners in die vorm van ‘n vlaag geweld en misdaad en diskriminasie op talle vlakke het toe, soos verwag kon word, sedert 1994 tot ‘n grootskaalse emigrasie en die ontstaan van ‘n Afrikaner-diaspora gelei. Die Afrikaner is nog ‘n nuweling wat die diaspora betref, heel anders as byvoorbeeld Jode en Armeniërs met hulle gevestigde en kultureel lewendige emigrante-gemeenskap. In meeste gevalle is dit nog die eerste generasie Afrikaners in die verstrooiing en relatief min is al langer as 20 jaar uit die land en het enige idee aan terugkeer opgegee. Verder is die diaspora nog nie van dieselfde kulturele diepte as byvoorbeeld die Joodse een nie. Afrikaners pas te maklik in veral Engelssprekende, Westerse lande aan en beskou hulle in die buiteland te dikwels in die eerste plek as individue, nie as uitgewekenes van ‘n volk nie. Verder is vir talle die hunkering na die Suid-Afrikaanse lewenstyl sterker as die kulturele bewussyn as Afrikaner. Nogtans is daar ‘n hele paar wat as enkelinge sterk deelneem aan die saak van Afrikanervryheid in Suid-Afrika en wat finansieel en met kundigheid bydra tot Orania.

Die laaste en dalk belangrikste faktor is die houding en toestand van die moederland. Behalwe lippetaal, hoofsaaklik tydens die Mandela-bewind, en ‘n vae klousule oor selfbeskikking is daar niks waarmee die regering enigsins die Afrikaner tegemoet gekom het ten opsigte van outonomie of selfbeskikking nie. ‘n Vreedsame, onderhandelde afskeiding of groter outonomie lyk onwaarskynlik. Meer waarskynlik is ‘n geval van ‘n vervallende staat wat vir volke geleentheid bied om selfstandig te (moet) raak as hulle nie saam met die staat wil ondergaan nie. Alhoewel staatkundige selfstandigheid tans vêr lyk, is Suid-Afrika vinnig besig om op talle terreine te verval en dwing dit die Afrikaner om eenvoudig saam te staan en sekere funksies self te vervul, soos voorsiening van basiese dienste, veiligheid en onderwys. ‘n Vervallende staat verminder eerstens die burgers se emosionele binding aan die staat, veral die van ’n reeds gemarginaliseerde minderheid en is tweedens al hoe minder in staat om groeiende selfstandigheid en selfs afstigting te keer.