fbpx

Twee insette tot hierdie inskrywing.

  • Ek lees in bykans elke kritiek op konserwatiewes die een of ander verwysing na die ons/hulle-houding as bewys dat konserwatiewes skoor soek. Spesifiek wys diegene wat reken ons is eerstens Suid-Afrikaners en tweedens Afrikaners dikwels uit hoe die alternatief (Afrikaners in die eerste instansie) noodwendig van die ander inwoners van ons land ‘n soort “ander” maak.

Laat ek dan uit die staanspoor my posisie stel en dan kan die leser die res van die stuk oordeel soos hulle in elk geval gaan doen. Ek glo dat ons/hulle ‘n natuurlike manier is om oor die wêreld te dink en dat verskeie interaksies tussen die “ons” en die “hulle” moontlik is: samewerking, parasitisme, isolasie en vyandskap. Die ons/hulle-denkwyse is nie op sig self opponerend gerig nie.

Ek beplan om vanuit die ons/hulle-denkwyse aan te dui hoe vyandige denke die mins konserwatiewe is.  Ek doen daarmee dan ‘n implisiete oproep om nie vyandskap as verstekposisie ten opsigte van andere in ons land in te neem nie.

 

Die wese van ‘n ons/hulle-denkwyse

Die mens vorm groepe.  As sosiale gediertes is dit ons natuurlike optrede. Die Afrikaner in sy gestalte soos wat Orania se inwoners daaruit sien, reken daar is party mense wat makliker groepe vorm as ander.  Byvoorbeeld:  Ek het nou die dag ‘n MatLab-kursus bygewoon. Daar was seker vyftig mense, waarvan so tien swart was.  Tydens middagete het daardie tien in een groep gestaan.  Verder was daar ‘n groep wat staan en krieket kyk het en ‘n groep wat die ENB-mense bevat het, ‘n groep vegetariërs.  Van hierdie groepe was daar net twee waartussen ‘n mens geredelik gewissel het: die krieketgroep en die vegetariërs.

Ek argumenteer dat die plek waar elkeen van daardie groepe tuisgevoel het, te doen het met die een of ander eienskap wat hulle gemeen het: ras, belangstelling, werkgewer, voedselkeuse. In die voedselkeuse se geval was  dit boonop hoogs korrelerend met geloof, siende dat daar nie ‘n halaal-tafel was nie. As ‘n mens nou die stereotipe hier kan onderstreep, reken ek dít was die rede vir die vloeibaarheid tussen vegetariërs en krieket.

Hierdie dinge het gebeur op ‘n plek waar daar heelwat rede was vir die kursusgangers om buite hierdie groepe te beweeg:  Almal het kom leer hoe om MatLab se risikobestuurstoepassings te gebruik. As jy op soek was na ‘n sin wat jou eerste kontak kon bewerkstellig, kon jy nie ‘n makliker een gekies het nie! Jy weet hierdie mense werk op ‘n soortgelyke veld as jy.  Jy weet hulle het rede om hulle tegniese vaardighede te kom opskerp. Tog het bykans niemand daardie geleentheid aangegryp nie.

Die groepe hierbo genoem het nie gevorm uit een of ander afsku van die ander groepe nie. Dit het positief gevorm: ek beweeg nie wég van mense af omdat hulle anders is as ek nie, ek beweeg ná mense toe omdat ek duidelik kan sien waar ons iets deel.

My hoop (en my oortuiging) is dat Orania nie gevorm het (en aanhou vorm) weens ‘n wegbeweeg van iets af nie, maar eerder ‘n nader beweeg aan iets. Ons beweeg na mense toe wat ‘n taal, kultuur en ‘n klomp gewoontes deel.  Dit is ons wat dink daardie eendersheid is iets wat kosbaar genoeg is om te koester.  Dit is die “ons”.  En as jy nie deel van die “ons” is nie, is jy deel van die “hulle”. Uit die staanspoor is dit nie ‘n negatiewe “hulle” nie.  Ek ontleed dit hieronder.

Verskillende soorte interaksies ontleed

Uit die eerste deel neem ek die ons/hulle-denkwyse as vertrekpunt. Die vraag is nou hoe daardie verhouding lyk.

‘n Groot deel van die verwarring oor Orania gaan rondom die verstaan van selfwerksaamheid as ‘n soort uitsluiting.  Die “hulle” moet op ‘n afstand gehou word.  Dus bestaan Orania mos as wegvlugplek vir mense wat nie vir interaksie met iemand kans sien wat van hulle verskil nie.

Wanneer mense dan met die werklike Orania te doen kry, is daar ‘n paar reaksies tot die realiteit van die idee.

Eerstens is daar diegene wat Orania se karakter wil verander. Daar is sommiges wat raaksien hoe Orania se leierskap nie net ruimte maak vir “ander” nie, maar aktief samewerking met mense buite die “eie” gaan opsoek. Dit verwar iemand wat aangeneem het dis onmoontlik. Ek onthou spesifiek ‘n kommentator wat nie geweet het wat om daarmee te maak nie en vir Carel (iv) Boshoff tot ‘n liberale verklaar het om dit in sy eie kop te laat sin maak!  Volgens die skrywer van daardie berig se opinie was dit die hoogste lof wat hy kon toedeel.

Tweedens is daar ‘n ontkenning van die realiteit dat Orania nie daarop uit is om vyande te maak nie. Die bestaansdoel van Orania is mos om mense uit te sluit en geen optrede wat daarmee in stryd is, word enigsins raakgesien nie.

Derdens is daar ‘n aanklag/hoop dat vriendskappe (soos met Mnyameni) vals is.  Julle gee maar voor, want… (en vul die sin aan soos jy lus kry).

Vierdens is daar sommiges wat diep teleurgesteld is. Party mense het gehoop Orania is ‘n militêre basis vanwaar “ons” “hulle” gaan platskiet. As dit blyk ‘n doodgewone, rustige dorp te wees, voldoen dit nie aan die strydkreet wat hierdie mense graag wil laat opklink nie.

Ek glo die aard van Orania se interaksies met die “ander” van ons land, is gewortel in ‘n beter verstaan van watter interaksies moontlik is.  My beskrywings hieronder volg bykans die vak Biologie se sillabus.  Ek dink die tipes interaksies tussen organismes wat daar beskryf word, is vir interaksies tussen gemeenskappe ook geldig:

  • Mutualisme
  • Kommensalisme
  • Parasitisme
  • Kompetisie

 

Mutualisme is waar beide voordeel trek.

Soos die heuningvoëltjie en die ratel. Hulle lyk en ís niks soos mekaar nie. Hulle wil ook nie die een soos die ander wees nie. Maar die voëltjie het kennis wat die ratel kortkom: waar die heuning is. Die ratel het weer krag en taaiheid wat die voëltjie kortkom. Sonder die heuningvoëltjie, is die ratel se dik pels iets wat hom teen geen by gaan beskerm nie want hy sal nooit die korf kry nie. Sonder die ratel, is die heuningvoëltjie se kennis waardeloos: hy is nie self teen die klomp bye opgewasse nie.

Wanneer verskillende spesies saamwerk, is dit tot almal se voordeel. Almal kry iets te ete.

Op soortgelyke wyse kan gemeenskappe wat niks na mekaar lyk nie en niks na mekaar WIL lyk nie, tog saamwerk vir beter resultate vir almal. Let asseblief daarop dat ek nie hier (of elders) ’n verwysing sal maak na assimilasie nie. Net soos die heuningvoëltjie nie ‘n ratel hoef te wees om met hom saam te werk nie, net so hoef gemeenskappe nie enigiets meer as gemene belang op een veld te hê om saam te span nie.

Dis vir my uiters teleurstellend hoe min bruin mense veg vir Afrikaans by universiteite. Is dit omdat hulle onwelkom voel tussen ‘n klomp wit mense wat (dalk met opset, dalk sonder opset) hulle soos buitestaanders laat voel? Of is dit omdat hulle nie genoeg die belangrikheid van hulle taal of die belangrikheid van tersiêre opleiding vir hulle taal besef nie? Ek weet nie, maar dis ‘n ooglopende geval van die heuningvoëltjie en die ratel wat vir mekaar kyk en besluit het: hierdie ou is te anders as ek. Ek gaan nie met hom saamwerk nie… Dit was vir my vreeslik hartseer om te hoor dat die bruines op die PUK uitgesluit voel deur die kultuur op kampus. Dus was baie van hulle ten gunste van die afskaffing van Afrikaans in die hoop dat ‘n Engelse omgewing meer insluitend sou wees. ‘n Bespreking van die akkuraatheid van so ‘n aanname is ‘n storie vir ‘n ander dag, maar dis jammer dat die wit Afrikaners so goed is daarmee om vriende weg te jaag.

Kommensalisme is waar die een voordeel trek wat nie die ander beïnvloed nie.

Dit is soos die orgideë in ‘n groot boom.  Hulle gebruik die boom bloot om hoog genoeg te kom dat hulle son kan vang.  Dit doen niks aan die boom nie maar vir die epifiete is dit van groot waarde want hulle kan makliker fotosinteer.

Die boom het geen belang daarby om die orgideë te hê of nie.  Maar omdat die orgideë iets te wen het uit die verhouding, is die boom vir hulle baie belangrik.

Orania staan tans in hierdie verhouding tot die res van Suid-Afrika. ‘n Dorp van kort oor die duisend inwoners gaan nie aan ‘n land met oor die 50 miljoen inwoners veel verskil maak nie, maar die optrede van daardie land gaan die dorp vir seker raak.  Die ora is direk aan die rand gekoppel vir ‘n eenvoudige voorbeeld.

Parasitisme is waar die een ten koste van die ander bevoordeel word.

‘n Belangrike punt hier is dat hierdie verhouding op die oog af tussen entiteite nét soos parasitisme kan lyk.  Die lantana wat teen bome oprank, kry dieselfde voordeel uit die boom uit as wat die orgideë doen: hoogte, stewigheid, minder diere wat hom vreet.  Maar die lantana wat die boom dooddruk, het op die boom totaal ‘n ander impak as plante wat hom net vir hoogte gebruik.

Daar is tans ‘n groot en moedswillige poging om enige mens met ‘n wit wel soos hierdie parasiete te laat lyk. Dit is dan ook redelik maklik om dit te doen want wat was kolonialisme dan anders? Dit is een land wat ‘n ander se hulpbronne tot sy eie voordeel inspan of daardie hulpbronne nou gewasse, of minerale of mense is.

Die fyner nuanses sou hierdie selfde argument voer vanuit ‘n Marxistiese klasse-oogpunt. Daar is die elite, die middelklas en die werkersklas en die werkersklas wat só uitgebuit is, het daarom ‘n reg tot die welvaart van die ander. Hulle moet net reg georganiseer word.  Uiteindelik lyk die Suid-Afrikaanse demografiese welvaartverdeling steeds na ‘n ryk wit mens en ‘n arm swarte.

Vandaar dan die geldigheid van die argument.

Daar is egter ‘n byproduk tot die argument wat selde verreken word.  ‘n Welvaartstaat, waar ‘n derde die ander twee derdes dra, is dan ook ‘n soort parasitisme. As twee vyfdes van my inkomste vir belasting gaan en daardie belasting bloot vir die onderhoud van behoeftiges gebruik word, is dit mos presies wat parasitisme is.   Dit is die keer egter geregverdig vanuit ‘n oogpunt van die “onregte” van die verlede.

Ek besef dat ek nuwe paaie en ‘n Gautrein ook aan my belasting te danke het.  So, bogenoemde is natuurlik ‘n oordrywing, maar die geldigheid van my punt gaan nie daarmee verlore nie.

Kompetisie is waar een entiteit beter wil presteer as ‘n ander.

Die springbok en die blesbok is kompetisie. Hulle vreet dieselfde gras en wat die een vreet, is nie beskikbaar vir die ander nie.

Maar let tog daarop dat dit selfs in hierdie geval nie noodwendig beteken die een hoef die ander skade te berokken nie. Eers wanneer die weiding min raak, maak hierdie kompetisie regtig saak.

As jy op die koerante af probeer vasstel wat in die wêreld aangaan, sal jy elke dag dink die weiding is nou op sy laagste vlakke ooit. Wag, nee, nóú is dit die minste. Niemand kon glo dit gaan nóg erger raak nie en toe gebeur dit.  Dit is dié dat ’n  mens maar met ‘n knippie sout moet neem hoe aaklig dit nou al weer gaan.

Die ongeluk van kompetisie is dat die een wat in die minderheid is, geneig is om die uiteindelike stryd te verloor.  As 1 in 10 oorleef en daar is 80 van die een en 20 van die ander, gaan daar waarskynlik 8 en 2 oorbly.  Tussen 8 is ‘n broeipaar veel meer waarskynlik…

Die uitsondering op hierdie reël  is waar die een spesie alternatiewe voeding kan kry om hom deur die maer jare te dra. ‘n “Boer maak ‘n plan” durf dus nie bloot tot ‘n slagspreuk te verval nie.

Enigeen wat al die spel Risk gespeel het, sal weet dat as die een 80 mannetjies en die ander 20 het, die een met 80 tussen 50 en 70 gaan oorhou as die geveg verby is.  Dis daarom dat minderheidsgroepe ook maar uit hulle pad uit moet gaan om seker te maak dat hierdie geveg nie plaasvind nie.  Dis nie lafhartig nie.  Om die teendeel te doen, om ‘n geveg te gaan soek wat kon gebly het, is net dom.

Hierdie les is een wat diegene wat hulleself aan standbeelde gaan vasketting vinnig moet leer.

Slotopmerkings

Die konserwatiewe agenda is een van bewaring.  Dit gaan daaroor om bereid te wees om aan ‘n goeie idee te skaaf om dit te laat oorleef.

Die idees hierbo beskryf hoedat ons/hulle natuurlik gebeur. Dit wys ook hoe die natuur baie vorme van interaksies tussen die “ons” en die “hulle” voorsien. Enige een wat reken dat die blote erkenning dat daar ‘n “ons” en ‘n “hulle”  terselfdertyd vyandskap daarstel, het die spoor verloor.  Eweneens beteken die verskillende moontlikhede dat daar in interaksie met ‘n ander groep altyd meer as een soort ooreenkoms moontlik is.   Hiervan is mutualisme die beste.  Dit is die beste om met almal, van Tirool tot Mnyameni, wat wil vriendskappe smee, daardie samewerking te hê.

As ons nie kan saamwerk nie, wil ‘n mens minstens ‘n situasie onderhou waar kommensalisties omgegaan kan word met mekaar.  Soms beteken dit om te sluk aan beskrywings oor Orania soos “laat hulle daar in hulle eie hoekie sit en vergaan”.  Ons weet dat hierdie hoekie nie aan die vergaan is nie, hy bloei soos blomme, nie soos wonde nie.  Om gelos te word om jou eie ding te doen oor jy bejammer moet word, is immers beter as om ‘n vyand te maak.

Parasitisme is onplesierig. Niemand wil voel hy dra die res wat nie ‘n bydrae maak nie.  Om egter tot vyandige gesindheid oor te gaan, is tot almal se nadeel en in elk geval van ‘n minderheidsgroep, veral jy self.

Kom ons wees konserwatief.  Kom ons bewaar wat ons het, al moet dit dalk vorentoe anders daar uitsien.

Naskrif

Ek besef dat die analogie van verskillende spesies vir verskillende groepe uit verband geruk kan word.  Hier word geensins aangevoer dat verskillende soorte rasse tot verskillende spesies behoort nie, nes die pugsterriër en die foksterriër nie verskillende spesies is nie.

So is daar nog ‘n moontlikheid wat glad nie bespreek word nie: dat die twee groepe wedersyds niks met mekaar te doen het nie.  Hierdie posisie moet nie met vyandigheid verwar word nie. Dis ‘n opsie dat elkeen bloot sy eie bevorder en die ander gun om sy eie te bevorder.  Dis seker maar ‘n biologiese interaksie wat nie interessant genoeg was om vir skoolkinders te leer nie.

Laastens:  As uitwoner gee ek geensins voor om namens Orania te praat nie. Dit is net my perspektief op hoe die pad vorentoe gebaan moet word.