fbpx

BurgermonumentFoto: Die Burgermonument van Burgersdorp is onlangs gevandaliseer. Dié monument is opgerig ter nagedagtenis aan die slag van Stormberg op 10 Desember 1899 tydens die Tweede Vryheidsoorlog, waarin ’n aantal inwoners van die dorp gesneuwel het. Die onthulling van die monument in 1908 is deur twee van die boere-generaals, Koos Delarey en C.F. Beyers, bygewoon.

“Ek stel nie belang in geskiedenis en monumente nie, ek lewe vir vandag,” is ‘n sentiment wat gereeld by veral jongmense gehoor word. “Vandag” is egter net ‘n vlietende oomblik en binnekort ook geskiedenis. “Vandag” is ‘n produk van jou verlede en “vandag” bestaan net as gevolg van wat in die verlede gebeur het. Net so is “vandag” ‘n klein boublok vir die toekoms. Om vir “vandag” te lewe is reg as dit bedoel word om vandag se geleenthede aan te gryp en nie te treur oor wat verby is nie, en om jou nie onnodig te bekommer oor die toekoms nie. As dit egter verder gevat word en daaruit ‘n lewensbeskouing gemaak word, is dit ‘n armoedige stelling. Mense en volke wat nie ‘n verlede het nie, of eerder nie daarvan bewus is nie, het ook nie ‘n trots nie. Hulle het niks om op voort te bou nie en hulle lewe “vir vandag” is ‘n gejaag na kortstondige plesier, of ‘n geswoeg om te oorleef, albei sonder ewigheidswaarde. Daarom is ‘n besef van jou geskiedenis so belangrik. Behalwe vir die vertelling van die geskiedenis en die akkurate optekening daarvan is monumente belangrike bakens op die pad. Waar vaste bakens ontbreek, word die soeke na geskiedenis ‘n rondtas in die donker, en ontstaan daar dikwels mites wat niks met die werklikheid te make het nie.

Die “lewe vir vandag”, wat nogal deel van die swart kultuur is, het ongelukkig tot gevolg dat min swart historici hulle eie geskiedenis in beskerming geneem het. In die meeste gevalle is dit wit argeoloë en historici wat die nie-blanke nalatenskap, van Boesmantekeninge tot Mapungubwe of Great Zimbabwe, ondersoek en beskryf het. Om daarvoor te kompenseer word nou oral standbeelde van oud-president Nelson Mandela opgerig. Nkandla mag dalk in ‘n Post-Zumabedeling ‘n monument word wat toeriste besoek en hulle vergaap aan die spandabelrigheid van die president en die skandaal wat dit ontketen het.

Elke volk is geneig om sy eie geskiedenis te idealiseer. In talle Afrikalande word die stryd teen blanke beheer geïdealiseer met enorme monumente wat dikwels geweld en vernietiging verheerlik. Wat egter ontbreek, is ‘n deurlopende lyn van geskiedenis, of iets soos ‘n nasionale of volksgeskiedenis wat die bakens wat die volk gevorm het, toon. Omdat Suid-Afrika ‘n veelvolkige land is, is daar eintlik geen monumente waarmee almal kan vereenselwig nie en daarom is monumente ook so omstrede. Die een se held is die ander een se onderdrukker.

Die Afrikaner se geskiedenis kan wel nie losgemaak word van Suid-Afrika nie, maar daar is tog talle bakens wat die volk se ontstaan en vorming aandui en daar kan met reg van ‘n volksgeskiedenis gepraat word. Hermann Giliomee se meesterstuk “Die Afrikaner” is juis moontlik omdat die Afrikaners hulle geskiedenis van die begin af gedokumenteer het en ook vir elke tydperk en gebeurtenis monumente opgerig het wat hulle teenwoordigheid en dade uitlig. Die Kasteel in Kaapstad bewys vir almal dat Jan van Riebeeck die stad gestig het en dorpe soos Stellenbosch, Swellendam en Graaff-Reinet met hulle Kaapshollandse argitektuur toon die verdere trek die binneland in. Die talle gedenktekens van die Groot Trek wys die roete en gebeure uit, soos Winburg, Vegkop, Kerkenberg, Bloedrivier. Die slagvelde van die Vryheidsoorloë soos Majuba, Magersfontein en Spioenkop met hulle monumente, om maar enkeles te noem, staan vir die Boere se heldhaftige stryd teen die Engelse oormag. Die Vrouemonument en die oorblyfsels van konsentrasiekampe staan vir die hartseer en lyding van die vroue en kinders. Talle monumente wat na 1948 opgerig is, staan vir die volk se heropstanding, prestasie en selfvertroue, soos die Taalmonument en beelde van volksleiers. Al word die ou Suid-Afrika deur die nuwe bewind hoe sterk veroordeel, kan niemand die groot vordering op die gebied van kultuur, navorsing, onderwys en nywerheidsontwikkeling ontken nie. Die universiteite, skole, maatskappykantore, damme, teaters, deurpaaie en navorsingsinstellings toon dit.

Vir dit alles beny die huidige bewindhebbers die Afrikaners want hulle het min eie bewyse van hulle geskiedenis en moet hulle dikwels met legendes, soos die mitiese hoofman Tshwane die saak beredder. Omdat daar egter geen bewyse bestaan of hy hoegenaamd gelewe het nie, en nog minder van sy voorkoms en sy dade, word ‘n figuur geskep vir wie ‘n standbeeld opgerig word daar waar Marthinus Wessel Pretorius Pretoria gestig het. Dit is egter nie geskiedenis nie, dit is die skep van mites. Die monumente vertel orals, waar hulle is iets van ‘n volk en sy prestasies. Die monumente herinner ook ons kinders, wat grootgeword het in skole wat vertel dat voor Mandela alles sleg was, dat daar lewe voor 1994 was, selfs goeie tye en dinge om op trots te wees. Daarom is ons monumente vir ons so belangrik, en daarom is daar soveel haat en venyn van radikale soos die EVV daarteen. Dat ons mense egter opruk om ons monumente te beskerm en te herstel na vandalisering, is ‘n bemoedigende teken en toon dat die goue draad van die Afrikaner se geskiedenis nie geknip is nie.