fbpx

Tans woed ‘n debat in Suid-Afrika oor die interpretasie van die geskiedenis en die herbeoordeling, selfs verwydering van simbole en figure uit die Afrikaner en die blanke se geskiedenis.  Dit is nie ongewoon as ‘n voorheen benadeelde en oorheersde groep die mag verkry, soos wat in die 20ste eeu in alle voormalige kolonies gebeur het en alles op sy kop keer. Dit kom egter vreemd voor as ‘n land dit doen waar geen regimeverandering plaasgevind het nie en dieselfde etniese groep in beheer is. Dit gebeur egter nou in die VSA (en Europa). Die linkse siening, dat geskiedenis en herinnering reggestel moet word, omdat wit heteroseksuele mans te prominent voorkom en by implikasie altyd die onderdrukkers van vroue, swart mense en ander sogenaamde minderhede is, het ook in die VSA momentum gekry, deur president Obama en sy beleid en uitsprake in die algemeen en ‘n slagting van swart mense deur ‘n jong rassistiese blanke in Charleston, Suid-Carolina, in Junie vanjaar, in die besonder. Omdat die jongman hom onder andere laat afneem het met die vlag van die Konfederasie, die groep state van die suide wat in 1861 onsuksesvol probeer afskei het, is die vlag nou ‘n simbool van rassisme wat orals verban moet word. Eerste moes die vlag op die Kapitool van Columbus, Suid-Carolina se hoofstad, waai. Dit het daar, saam met die VSA-vlag, gewapper as verwysing na die geskiedenis. Suid-Carolina was die voorloper met die afskeidingspoging. Vir talle mense in die suide het die vlag van die Konfederasie ‘n sterk emosionele betekenis. Daarna het talle winkelgroepe in vooruitlopende onderdanigheid die verkoop van die vlag stopgesit, nog voor iemand daarvoor gevra het. Soos met alle veldtogte wat met linkse ywer bedryf word, is die vlag net die eerste stap in ‘n oorlog teen alles in die geskiedenis wat linkses nie van hou nie. Volgende word nou standbeelde van generaals en leiers van die Konfederasie geteiken. Georgia se Stone Mountain Park, waar beelde van die leiers van die Konfederasie uit klip gekerf is, is nou in die spervuur, asook ander beelde elders. Ook die herdenkingsdag van die Konfederasie is nou onder druk.

Natuurlik is daar ook mense wat opkom vir hulle erfenis en optogte met die vlag van die Konfederasie het juis nou die hoogte ingeskiet. Alhoewel linkses die Konfederasie en die emosie oor die vlag graag gelyk wil stel met die rassistiese Ku-Klux-Klan (KKK), is die sentiment baie wyer en is die KKK in elk geval net so min ‘n faktor in die VSA, soos die AWB in Suid-Afrika (maar totaal buite proporsie opgeblaas). Die skielike aanvalle op simbole van die Konfederasie kan juis tot ‘n herontwaking van waardering vir die Suide se geskiedenis en ander wese lei. Immers is die meeste monumente vir die Konfederasie opgerig in tye van en as reaksie op linkse oorwinnings, soos in die 1960’s.

Net soos in Suid-Afrika word ook in die VSA gevra hoekom simbole nou geteiken word en nie die werklike probleme aangespreek word nie, naamlik die groot armoede, werkloosheid en maatskaplike probleme onder swart Amerikaners. Die verwydering van monumente is ‘n goedkoop afleidingstrategie en slaan die strooipop van die bose rassis, maar verander niks aan die toedrag van sake van ongelykheid in die VSA.

Om die sesessieoorlog van 1861-1865 te wil verkort tot ‘n geveg tussen suidelike slawedrywers en mensliewende noordelikes is net so simplisties soos die ANC-geskiedenisbeskouing van “350 jaar van onderdrukking sedert Jan van Riebeek”, of om die vrystelling van slawe as die enigste motivering vir die Groot Trek te sien. Vir die Suide was die oorlog troumaties en die verbrande aarde beleid van die noorde se uitwerking vergelykbaar met die van die Tweede Vryheidsoorlog. Verder, as ‘n mens vandag se maatstawwe van politieke korrektheid gebruik, sal bykans elke leier van die verlede verwyder moet word. Selfs Abraham Lincoln, wat in die kollektiewe geheue as die bevryder van die slawe gevier word, was na huidige maatstawwe ‘n rassis, wat geglo het dat rasse ongelyk is en geskei moet word en dat swartes nooit op dieselfde vlak as wittes moet vorder nie. Die bevryding van die slawe was nie vir hom die doel van die oorlog nie, maar ‘n middel om steun te werf en gemoedere op te sweep. Wat die debat boweal ook weer wys is dat daar nie iets is soos “nasionale geskiedenis” nie, allermins in multi-kulturele lande soos die VSA of Suid-Afrika.Stone Mountain Park