fbpx

poster-good-governance-copy3In Alicestine October se artikel in Beeld van Dinsdag, 7 Julie 2015, getiteld “Munisipale saamsmelt kan sake vererger – DA”, word die nuwe munisipale grense (soos voorgestel deur die munisipale afbakeningsraad) en die impak daarvan bespreek. Wat ʼn duidelike politieke oefening van die ANC is ter voorbereiding van 2016 se munisipale verkiesing, sal egter verreikende praktiese gevolge hê.

Ek stem volkome saam met die opskrif van die artikel dat verdere sentralisering van munisipaliteite, dienslewering selfs nog verder sal verswak. Die redes hiervoor is deels omdat munisipale amptenare (wat reeds sukkel om die mas op te kom) nou met groter begrotings moet werk en ook meer veranderlikes moet verreken, maar merendeels is dit omdat die sentrum van gesag verder vanaf die kiesers geskuif word.

Met elke stap tot sentralisering, vind daar ʼn verdere verwydering van assosiasie (vervreemding as u wil) tussen die amptenaar en die plaaslike gemeenskap plaas, wat noodwendig sal beteken dat die verhouding tussen hulle ook meer burokraties sal word.

Die amptenaar wat byvoorbeeld nou in Potchefstroom woon en werk, sal minder met die probleme op Ventersdorp identifiseer, sy bestuur sal meer uit pas wees met uitdagings op Ventersdorp en hy sal ook minder verantwoordbaar voel teenoor die gemeenskap van Ventersdorp.

Die oplossing vir swak dienslewering is daarom presies die teenoorgestelde van wat die ANC tans beplan. In stede van sentraliseer, moet ons desentraliseer; in stede daarvan om mag op te wentel, moet dit afgewentel word, sodat besluitneming en bestuur so na as moontlik aan die plaaslike gemeenskap is – dit is naas bestuursaanstellings op meriete die grootste faktor om effektiewe dienslewering te verseker. Sodoende kan probleme en uitdagings geïsoleer en aangespreek word, eerder as om dit binne die finansies van ʼn groter entiteit te verdoesel.

As voorbeeld vir my argument wil ek u graag na Orania verwys. In die 2013/2014 finansiële jaar het die Orania Dorpsraad sy 24ste skoon oudit in 24 jaar gekry. Aangesien Orania as ‘n aandeleblok bedryf word, word Orania streng deur die Wet op die Beheer van Aandeleblokke 59 van 1980 gereguleer. Die dorpie wat in 1991 vir R1,6 miljoen aangekoop is, se waarde word nou op meer as R500 miljoen gereken. Dit staan in skrille kontras met die algemene verskynsel in die res van Suid-Afrika.

Van die 325 munisipale entiteite in Suid-Afrika wat in 2013/2014 deur die ouditeur-generaal geoudit is, het slegs 40 skoon oudits ontvang. Fokus ons hierdie syfers spesifiek op die Noord-Kaap, vind ons dat geen plaaslike munisipaliteit in die provinsie ʼn skoon oudit ontvang het nie. Terwyl vyf plaaslike munisipaliteite se oudits ongekwalifiseerd was (maar wel bevindings gehad het), is nege verwerp, drie kon nie voltooi word nie en die res is almal gekwalifiseerd.

Die ouditeur-generaal se verslag dui verder aan dat die Noord-Kaap se plaaslike munisipaliteite in 2013/2014 ʼn totale bedrag van R828 miljoen op ongemagtigde, buitengewone of vrugtelose en verkwistende uitgawes spandeer het. Dit is bo en behalwe die R1,9 miljard se ongemagtigde, buitengewone of vrugtelose en verkwistende uitgawes van vorige jare wat nooit ondersoek is nie (soos vereis deur die Munisipale Finansiële Bestuurswet, Nr. 56 van 2003).

Orania dien daarom as bewys dat wanneer ʼn gefokusde en doelgedrewe gemeenskap toegelaat word om homself te bestuur en daar ʼn noue band van assosiasie tussen die plaaslike bestuur en burgery bestaan, dienslewering effektief sal wees en die gemeenskap in die breë veerkragtig en gesond sal wees.