fbpx

FAKDaar is ʼn ou sêding dat die geskiedenis deur die oorwinnaars geskryf word. Die afgelope twintig jaar tree die ANC-regering ook soos oorwinnaars op deurdat Suid-Afrika se geskiedenis herskryf word op maniere wat Afrikaners soos Nazi-monsters laat lyk en wat ʼn skeefgetrekte beeld oor ons land se geskiedenis aan kinders oordra.

Die Federasie vir Afrikaanse Kultuurverenigings, die FAK, se verslag wat onlangs hieroor bekend gemaak is, is dus besonder belangrik. In hierdie omvattende verslag word uitgewys hoe daar in skoolhandboeke ʼn weergawe van Suid-Afrika se geskiedenis gegee word wat nie met die waarheid kers vas hou nie.

Daar word onder andere in handboeke geskryf dat Jan van Riebeeck en die Nederlanders die vrede en harmonie wat in Suid-Afrika geheers het, kom versteur het. Enigiemand wat al ʼn paar geskiedenisboeke oor die konflik tussen Suid-Afrika se vroeë bewoners gelees het, sal weet dat hierdie opmerking totale onsin is.

Die probleem met geskiedenis is dat dit baie keer nogal op ongemaklike maniere van die populêre denke verskil. Neem nou maar vir Nelson Mandela as voorbeeld. Hy verdien sekerlik krediet vir baie dinge wat hy in sy lewe reggekry het. Hy het egter ook foute gemaak. Geskiedenisboeke behoort Mandela se goeie en slegte sy uit te beeld en nie van hom ʼn soort onaantasbare heldefiguur te maak nie. Die redes waarom Mandela voor die hof gedaag en in die tronk gestop is behoort ook in vandag se geskiedenisboeke gepubliseer te word.

Een belangrike instrument in die skep van ʼn balans tussen die propaganda van die meerderheid en die waarheid oor ʼn minderheid se geskiedenis, is die media. Dit is daarom uiters kommerwekkend dat Pieter du Toit, nuusredakteur van die Afrikaanse dagblad, Beeld, vroeër hierdie week ʼn genadelose, bykans emosionele, aanval op die FAK-verslag gelewer het. Du Toit verkleineer die leierskap van die FAK en gaan sover om Afrikaners met Nazi-Duitsland te vergelyk in sy regverdiging van die ANC se projek om ons geskiedenis te kriminaliseer.

Hierdie soort van anti-Afrikaner retoriek word gereeld in Beeld en ander Naspers-koerante gevind. Die rubriekskrywer Henry Jeffreys het ook ʼn tyd gelede in Beeld geskryf dat Apartheid net so sleg soos die Nazi’s se volksmoord op die Jode in Duitsland was. Die werklikheid is egter dat meer as 10 miljoen mense, hoofsaaklik Jode, deur die Nazi’s uitgewis is. Minder as 5000 mense is deur die Apartheidsregering vermoor.

Afrikaners moenie probeer om die foute in ons eie verlede te regverdig nie. Ons het egter ʼn reg daarop om seker te maak dat ons kinders in skole aan ʼn billike weergawe van ons geskiedenis blootgestel word. Geskiedenishandboeke speel hier ʼn belangrike rol en dit is daarom belangrik dat instellings soos die FAK ʼn waghondrol moet speel om seker te maak dat ANC-propaganda nie as feitelike waarhede aan ons kinders oorgedra word nie.