by Orania Beweging | Aug 12, 2015 | Nuus |
In aansluiting aan die vorige uiteensetting oor die sosio-ekonomiese opname van Orania word dit voortgeset met die behandeling van behuising en dienste.
Die lewering van dienste is ‘n brandpunt in menige munisipaliteite en die vorige munisipale verkiesing, (en na verwagting ook die volgende een), het feitlik uitsluitlik daaroor gegaan. Alhoewel Orania gelukkig oor meer gaan as dienslewering, beteken al die ideale van vryheid en selfstandigheid niks sonder werkende dienste en tevrede inwoners nie.
Die meeste huise in Orania (66%) is huise op ‘n enkelerf, wat die gewone patroon vir die gevestigde dorpe in die platteland is. Sowat 19% woon egter intussen al in woonstelle en duplekse wat deel van ‘n woonstelblok is, ‘n stedelike verskynsel, wat in lyn is met die toenemende verdigting en die skepping van ‘n klein stad. Sowat 13% woon as “bywoners” agter in iemand se erf of in ‘n enkelkamer en sowat 3% in ‘n tent of woonwa. Laasgenoemde is ‘n toestand wat aangespreek word en iets wat sal verdwyn sodra meer bekostigbare woonstelle geskep word. Dit is tans volstoom aan die gang met voltooiing van die tweede fase van die Soetdoring woonstelle. Die voorkoms van Orania verander ook. Vroeër was feitlik alle huise voorafvervaardigde hardbordhuise, intussen is sowat 27% steenhuise en slegs 24% voorafvervaardigde huise. Houthuise is ook nog redelik prominent (14%). Die huise van skeepsvraghouers verteenwoordig sowat 5% van alle huise en 26% van huise val in die kategorie van ander materiaal, soos beton, strooi en sink.
Kenmerkend van Orania is ook die redelike klein oppervlakte van huise, die direkte gevolg van die beleid van eie arbeid, wat groot huise onprakties maak. ‘n Derde van die huise is tussen 100 m² en 200 m² groot, en 30% tussen 50 en 100 m² groot. 25% is kleiner as 50m² en slegs 12% van huise is groter as 200 m². Wat die besitsverhouding betref is dit feitlik gelykop verdeel tussen eienaars en huurders. Die aantal huurders in Orania is hoër as onder blankes in Suid-Afrika, omdat talle mense wat Orania toe kom jonk is en nog nie genoeg kapitaal het om ‘n huis te koop of selfs net ‘n deposito neer te sit nie. Dit hoef egter nie as nadelig gesien te word nie. In talle lande in Europa, wat ekonomies vooruitstrewend is, is dit die norm om huise te huur omdat huise te koop net te duur is, en jongmense nog mobiel is. Die verskaffing van bekostigbare huurbehuising bly een van die uitdagings van Orania. Volgens die sensus is dit ook die grootste behoefte vir inwoners. Wat wel positief is, is dat meeste eienaars hulle huise ten volle afbetaal het en dit nie aan die bank behoort nie. Dit maak ons redelik bestand teen ekonomiese krisisse en skielike rentekoersverhogings. Dit is omdat Orania Spaar en Krediet se leningvereistes streng is en mense wat dit nie kan bekostig nie, nie in ‘n huislening ingepraat word nie en dan met skuld sit en hulle huise verloor, soos wat dikwels in Suid-Afrika gebeur.
Wat dienste betref werk meeste huise in Orania nog steeds met elektrisiteit wat deur die Dorpsraad oftewel Eskom voorsien word (62%), alhoewel alternatiewes soos gas (22%) en sonkrag (16%) toeneem. Wat waterverwarming betref het danksy die vereiste om songeysers by nuwe huise te installeer die hoeveelheid alternatiewe waterverhitting sterk toegeneem. Slegs 43% van huishoudings het elektriese waterverwarming, terwyl 35% songeysers (met of sonder elektriese rugsteun) gebruik en 12% gebruik gaswaterverwarming. Die tendens is dat meer songeysers gebruik word en elektriese krag en gas waterverwarming weens die beperkinge van beurtkrag, gastekorte en hoë koste verminder word.
Weens die ligging teen die Oranjerivier en die relatief lae koste vir water word meeste huishoudings deur die Dorpsraad met gesuiwerde en ongesuiwerde rivierwater voorsien (95%) en slegs 5% gebruik boorgatwater of reënwater. Ook wat riolering betref is dinge op ‘n eerste wêreldse standaard. Feitlik alle toilette is spoeltoilette, by verre die meeste is gekoppel aan die sentrale rioolstelsel (en sowat 11% het hulle eie septiese tenk). Ook vullisverwydering geskied op hoë standaard, met skeiding op huishoudelike vlak en verwydering deur die dorpsraad. Slegs op hoewes het mense hulle eie vullishoop of verwyder dit self.
Wat telefoondienste betref het feitlik almal (97%) selfone, net 19% het ook ‘n landlyn en net 3 % het geen telefoondienste of gebruik ‘n openbare foon.
Eie arbeid is ‘n uitstaande kenmerk van Orania, en slegs 8% maak gebruik van (wit) huishulpe, wat weer werk verskaf.
Mediese dienste was vir lank ‘n kopseer in Orania. Dit het egter intussen baie verbeter met die vestiging van ‘n voltydse algemene dokter sedert die begin 2015 (wat nog nie in die sensus vermeld is nie), en ‘n oogkundige. ‘n Tandarts sal blykbaar ook in die nabye toekoms sy dienste op ‘n deeltydse basis aanbied. Basiese, gratis gesondheidsorg word by die Orania Kliniek in Kleingeluk verskaf.
by Orania Beweging | Aug 11, 2015 | Nuus |
Die meeste Afrikaners sal wanneer jy hulle vra waar die Afrikaner se verhaal begin waarskynlik na 6 April 1652 verwys. Die koms van Jan van Riebeeck en daarmee saam ‘n permanente Europese teenwoordigheid aan die suidpunt van Afrika is ‘n belangrike moment in ons geskiedenis, maar dit is nie waar ons verhaal begin het nie.
Ons verhaal het ook nie by die Vryburgers of Hendrik Biebouw begin nie. Wanneer Afrikaners hul geskiedenis bestudeer moet ons ook verder terugkyk na die tyd voor vestiging in Afrika. Ons verhaal as volk begin in Europa. Dit begin by die Hugenote wat uit Frankryk moes vlug. Dit begin by Duitse ambagsmanne en arbeiders wat vir die VOC gewerk het. Dit begin by Skotse en ander sendelinge wat die woord hier kom verkondig het.
Die belangrikste deel van ons Europese geskiedenis lê egter in die Nederlande, vandag se Nederland en Vlaandere in België. Skaars drie jaar voordat die Dromedaris, Reijger en Goedehoop-skepe vanaf die Texel-eiland na Tafelbaai vertrek het, het die einde van die Tagtigjarige Oorlog aangebreek. Dit is ons voorvaders wat intens by hierdie stryd om vryheid betrokke was. Die stryd van die Nederlande was ook die stryd van ons voorvaders.
Die einde van die Tagtigjarige Oorlog het ‘n tyd van groot sukses en voorspoed vir Nederland ingehou. Daardie era word vandag as die Goue Eeu onthou. Nederland het sterk handel gehad en die Verenigde Oost-Indische Compagnie was die grootste maatskappy in die wêreld. Na politieke vryheid het ekonomiese vryheid gevolg.
Afrikaners het tot stand gekom uit hierdie mense. Die jong wamaker uit Duitsland wat vir die VOC in die Kaap gaan werk het, het met die Hugenote-meisie getrou. Die jong Nederlandse boer is met die dogter van ‘n sendeling getroud. Hierdie mense het ‘n nuwe lewe in ‘n nuwe land kom maak, maar hulle het egter ook hul kultuur, geskiedenis en ervarings saamgebring. Die dinge wat die Hugenote gevorm het, het ook deel van die Afrikaner se wese geword. Netso ook die geskiedenis en ervarings van die Nederlanders, Duitsers en ander wat uiteindelik deel van die Afrikaner sou word.
Natuurlik is die Afrikaner ook gevorm deur gebeure hier aan die suidpunt van Afrika. Die Afrikaner was egter nie net vanaf sy ontstaan in Suid-Afrika nie, maar reeds van vroeër af ‘n samevloeisel van mense met ‘n sterk vryheidstrewe en ‘n diepe geloofsbesef.
Wanneer ons dus onsself, wie ons is en waarom ons die afgelope meer as 350 jaar sekere dinge op sekere maniere gedoen het, probeer verstaan moet ons nie ons Europese geskiedenis vergeet nie. Ons moet meer lees oor die Tagtigjarige oorlog en ons voorvaders se stryd teen die Spanjaarde. Ons moet lees oor die Edik van Nantes en die Hugenote se geloofstryd. Ons moet lees oor die jong Duitse ambagsman wat ‘n beter lewe gesoek het en die Skotse sendeling wat die woord wou gaan verkondig.
Die Afrikaner is ‘n Europese volk met ‘n Europese geskiedenis wat ons help vorm het. Laat ons dit ook ernstiger onthou en aan volgende geslagte oordra.
by Orania Beweging | Aug 4, 2015 | Nuus |
‘n Besoek aan Rome en die res van Italië is gewoonlik hoog op die prioriteitslys van die meeste reisigers. Die Antieke Romeinse ryk het ‘n groot kultuurskat agtergelaat. In daardie opsig is Italië vandag ‘n bevoorregte land. In stede soos Rome, Venesië en Milan is daar prag Katedrale en volop ander argitektoniese, kuns en kultuurskatte.
Miljoene toeriste reis jaarliks na Italië om die prag en praal van die ou Venesiese Ryk, die Colosseum in Rome of net die pragtige kuslyn met sy olyfbome en lieflike kusdorpies te beleef. Ten spyte daarvan dat Italië al hierdie dinge geërf het, sien ons vandag hoe infrastruktuur regdeur die land verkrummel.
Mense wat in die toerismebedryf in enige plek in die wêreld werk, weet hoe belangrik die Europese somervakansie is. Vanaf Junie tot Augustus gaan Europeërs op reis. Veral mense uit noordelike lande en streke soos Nederland, België, Duitsland en Skandinawië reis graag na Italië vir somer, son en ‘n blik op die roemryke Romeinse verlede. Vir Italië is hierdie toeriste besonder belangrik. Vakansiegangers uit die ryker noorde van Europa kan vrylik na Italië reis en bring baie geld vir die land se ekonomie in.
Die Italiaanse ekonomie het die afgelope paar dekades toenemend meer afhanklik van toerisme geraak. Italië is tans die vyfde gewildste land vir toeriste in die wêreld. Byna 50 miljoen mense gaan hou jaarliks in Italië vakansie.
Die terugvoer van toeriste aan Italië se groot stede is egter deesdae gemeng of selfs negatief. Rome verkeer reeds vir ‘n geruime tyd in een groot krisis. ‘n Studie van die Europese Kommissie in 2013 het gewys dat Rome uit die 28 Europese hoofstede die swakste vlakke van dienslewering het. Die stad se openbare dienste word algemeen as oneffektief beskryf.
Die afgelope twee maande beleef Rome die een krisis na die ander. Eers het ‘n brand ‘n deel van die internasionale lughawe vernietig. Die land het steeds geen duidelike plan oor hoe om die lughawe te herstel en lugvervoer weer op ‘n hoë vlak te kry nie. Die Fiumicino-lughawe staan reeds vir jare as een van die swakste groot lughawens in Europa bekend.
Verlede maand het Rome vir drie weke ‘n hittegolf beleef. Die stad se elektrisiteitsnetwerk het ernstige probleme begin toon. Op straat het vullisdromme oorgeloop en begin stink. Treindrywers staak gedurig en toeriste kla almal oor die swak instandhouding van openbare parke, geboue en paaie.
Die probleme in Italië is nie tot Rome beperk nie. Ook in Venesië gaan infrastruktuur agteruit. Ander dele van die land ervaar dieselfde. Die huidige olyfboomkrisis in die suide van Italië is soos die kersie op ‘n baie slegte koek. Waarskynlik meer as een miljoen olyfbome, baie selfs meer as 1000 jaar oud, word tans afgesaag en verbrand weens ‘n siekte wat soos ‘n veldbrand deur die olyfboorde van Italië versprei. Ook hier lyk dit asof Italië se regeerders nie oor die vermoë beskik om ‘n plan saam te stel om die probleem effektief op te los nie.
Waar het alles vir Italië verkeerd geloop? Die beste manier om Italië se probleme op te som is om te sê dat Italië ‘n duidelik geskiedenis, maar geen toekomsplan het nie. Waar jy in Italië reis sien jy die geskiedenis, maar niemand weet regtig waarheen die land oppad is nie. Geen land kan net op sy roemryke geskiedenis bly teer sonder om nuut te skep, te produseer en ‘n behoorlike toekomsvisie te ontwikkel nie. Soos wat ou geboue, kuns en mooi landelike tonele nie Italië alleen kan red nie, kan Suid-Afrika se Apartheidsgeskiedenis en selfs ons wonderlike landskap en diereryk ook nie ons red nie. ‘n Land sonder ‘n toekomsvisie en goeie leierskap is gedoem.
Die jongste toerismestatistiek toon dat Suid-Afrika in April ‘n daling van meer as 10% in toeriste beleef het. Sowat 35% minder Duitsers het die land ‘n in dieselfde maand verlede jaar besoek.
In Orania beleef ons sover elke maand hierdie jaar ‘n styging in besoekers. Ons het dalk nie ‘n groot wildtuin en mooi ou geboue nie, maar dinge in Orania word goed bestuur. Dit beteken nie dinge kan nie beter bestuur word nie. Hier is nog baie ruimte vir verbetering, maar die punt is eenvoudig: ‘n Plek met goeie, voortdurend verbeterende infrastruktuur, ‘n duidelike toekomsplan en goeie bestuur staan ‘n beter kans om suksesvol te wees. Dit is wat ons ook in Orania moet regkry indien ons hier ‘n Afrikanerstad wil bou waarvan die wêreld kennis sal neem.
by Orania Beweging | Aug 4, 2015 | Nuus |
ʼn Kort vakansie in Julie 2015 het ons in ʼn deel van Suid-Afrika gebring wat ons nog nooit vantevore besoek het nie en wat nog nie op ons lys van plekke om te besoek was nie. Vriende van ons het egter soontoe getrek en omdat ons belowe het om hulle te besoek, moes ons ons belofte nakom.
Na ʼn eindelose lang pad verby vee- en saaiplase is ons hartlik deur ons vriende met ʼn selfgebroude koringbier en lekker Brezeln verwelkom. So skop die besoek mos op ʼn hoë noot af! Ongelukkig het ons te veel aan die gesels geraak en die tyd was te min om nog dieselfde dag die dorp te besigtig. Maar die volgende dag het die toergids, ons rondgewys. Elke besoeker kry ʼn gratis toer deur die dorp en ʼn DVD met inligting as ʼn geskenk. Ander plekke in Suid-Afrika kan gerus ʼn les daarvan leer! Die dorp met sy sowat duisend inwoners is omring deur vrugbare landbougrond, danksy die Oranjerivier wat vir voldoende water sorg. Behalwe vir mielies en lusern val die reuse pekanneutplantasies op. Die neute word so vêr soos Sjina uitgevoer. Die Oranjerivier voorsien die dorp ook met rouwater en (gesuiwerde) drinkwater, laasgenoemde nogal van uitstekende gehalte. Elke huishouding het twee wateraansluitings, een vir rouwater en een vir varswater. Sodoende word nie die kosbare drinkwater gemors vir tuinbesproeiing of om motors mee te was nie. Slim, nè? Geniaal is ook ander omgewingsprojekte, wat ons tot dusvêr in GEEN ander plek in Suid-Afrika gesien het nie: rommelskeiding, selfs by openbare asblikke orals in die dorp, sonkrag-geysers in elke huis, fietse wat te huur is met fietsloodse op verskeie punte in die dorp, sodat ʼn mens sonder probleme en omgewingsvriendelik die dorp en sy huise uit herwinbare materiaal, soos hierdie pragtige strooibaalhuis (foto), of ʼn pas voltooide straat uit vraghouerhuise (foto), wat nogal aan ʼn dorp uit ʼn Westernfliek laat dink, kan verken.
Verder is daar nog ʼn skool vir kinders van laer- tot hoërskoolvlak en ʼn koshuis vir kinders uit die omgewing, ʼn openbare swembad, ʼn biblioteek en ʼn klein plaaslike radiostasie wat vyf ure elke dag uitsaai.
ʼn Polisiestasie soek jy daarteenoor tevergeefs. Regtig waar! Dit was selfs vir ons, wat in Mosselbaai veilig en sonder hoë heinings en tralies leef, ʼn aanpassing. Die deur van ons vriende se woonstel waar ons gebly het, het voor ʼn skuifdeur en agter ʼn klein agterdeur, al twee het nie eers slotte aan nie. Toe ons vir die sleutel vra het hulle ons uitgelag:
”Hier word die deure nie gesluit nie!” “Hoe nou?”. Dit is werklik so, elke keer wanneer jy die huis verlaat word geen deur, venster of motor gesluit nie. Kinders van enige ouderdom speel op straat, hier is min heinings, en indien wel, dan slegs om die erfgrens te markeer. Tydens ons besigtigingstoer het ons ook by die klein museum ʼn draai gemaak en daar omtrent ʼn halfuur vertoef. Terwyl het die deur van die bussie wat op straat geparkeer was wawyd oopgestaan, sonder enige bewaking, met ons kamerasak duidelik sigbaar op die sitplek. So iets is ondenkbaar, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Duitsland. Wat het gebeur? Absoluut niks. Toe ons weer terug gekom het na die bussie, het die sak nog steeds onaangeraak op sy plek gestaan.
Ook ander sosiale projekte moet genoem word, omdat iets soortgelyks seker nêrens in Suid-Afrika te vinde is nie: in die dorp is ʼn behuisingsprojek vir enkellopende vroue, en een vir enkellopende mans. Behalwe vir goedkoop verblyf word ook vir ʼn werksgeleentheid binne die gemeenskap gesorg, en as iemand sy of haar voete gevind het, is daar genoeg geleentheid vir opgradering na groter en nog steeds bekostigbare huurhuise of selfs die koop van ʼn eie huis. Niemand wat bereid is om sy deel tot die gemeenskap by te dra word agtergelaat nie.
Vir vakansiegangers is daar ʼn groot 4 ster vakansieoord met gesondheidspa, direk teen die Oranjerivier geleë en met mooi houtchalets. Die oord se eie restourant het nie net lekker etes teen billike pryse nie, maar ook ʼn fantastiese uitsig op die Oranjerivier, met die provinsie Vrystaat aan die ander oewer (foto van uitsig op rivier).
Om nog ʼn keer terug te kom na die omgewingsbeskerming: pleks om die spa deur omgewings-onvriendelike, energie-intensiewe lugreëlings te laat verkoel, is die buitekantse muur met spoelklippe opgevul waardeur water loop. Aan die spoelklip-muur is verskuifbare glasruite wat, as hulle oop is, die lug deur die spoelklippe laat waai wat dan die gebou se temperatuur deur natuurlike waterverkoeling reguleer. Dit werk nie net uitstekend nie, maar lyk sommer goed ook!
Orals is daar sulke verrassings en mooi en nuwe dinge om te ontdek, soos byvoorbeeld hierdie kreatiewe versiering van ʼn houtheining (foto van versierde houtheining).
Ongelukkig was ons tyd beperk en ons het seker nie alles gesien nie. Behalwe dit was ons op ʼn naweek daar en het nie eers al die talle klein winkeltjies besoek wat in die dorp te vinde is nie. Maar dit moet en sal ons by ʼn volgende geleentheid doen.
…Klink dit nie wonderlik nie? Het ons julle nuuskierig gemaak? Sou dit nie ʼn goeie alternatief wees vir al die reeds afgesaagde plekke in Suid-Afrika wat in elke reisgids voorgestel word nie?
Maar, verdomp, waar was ons dan nou? O ja, ons het dit nog nie eers genoem nie!
Ons was in ORANIA (foto van betonletters Orania voor Stokkiesdraai Winkelsentrum)
Ons het dit doelbewus nie in die begin weggegee nie, omdat almal dadelik hulle oë omdop as Orania se naam net genoem word. Ook ons het ongelukkig nie heeltemal sonder vooroordele na Orania gereis nie en ons was, soos ʼn mens seker uit die artikel kan aflei, positief verras. Orania bied baie meer as “verkrampte, outydse, rassistiese Afrikaner wat net tussen hulleself wil bly en terugverlang na die verlede”- ongelukkig ʼn algemene siening.
ELKE besoeker is welkom in Orania. ELKEEN kan daar kom en gaan of inkopies doen; daar is geen toegangsbeheer by die ingang van die dorp nie. Aangesien die dorp Orania op private grond staan, kan nie enige-iemand daar eiendom koop of daar woon nie. ʼn verkose komitee uit inwoners besluit oor die aansoeke van potensiële nuwe Oraniërs… eintlik maar soos met ʼn huurhuis, waar elke eienaar besluit watter huurder hulle wil hê, en watter een nie. ʼn Mens kan jou Orania ook voorstel soos ʼn soort vereniging wat sekere belange dien, ʼn sekere stel reëls voorskryf, en wie se voornemende lede daardie voorwaardes moet aan voldoen: by ʼn seilbootvereniging sou die aansoek van ʼn jagter wat bang is vir water en geen belangstelling in die seilsport het nie ook onvanpas wees. Party mense hou van die “verenigingslewe”, ander nie.
Ons kan ʼn uitstappie na Orania absoluut aanbeveel, VOOR jy ʼn opinie vorm wat nie reg aan Orania laat geskied nie. Om iets self te beleef is altyd beter as om wydverspreide vooroordele na te volg. En gaan gerus op ʼn begeleide toer – die gids vertel nie net interessante grepe uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis en uit die ontstaan van Orania nie, maar hy beantwoord ook geduldig AL julle vrae!
En die goeie, selfgebroude bier is beskikbaar by die Bavaria Brouery van Sepp en Rita Eckmeier!
(Hierdie artikel is geskryf deur Meike en Martin Prenzel, Duitse immigrante wat al tien jaar lank in Mosselbaai woon en daar die Avenues Gastehuis bedryf. Dit het oorspronklik verskyn op www.suedafrikaurlaub.net, ʼn webblad vir Duitse besoekers aan Suid-Afrika. Die oorspronklike, Duitse weergawe met fotos kan verkry word by):
http://www.forum.suedafrikaurlaub.net/threads/914-beitrag?p=3117#post3117
by Orania Beweging | Aug 4, 2015 | Nuus |
Orania se sosio-ekonomiese sensus, wat verlede jaar gedoen en vanjaar bekend gestel is, lewer nou antwoorde deur middel van data op talle vrae wat in die verlede net oor bespiegel is. Die hele verslag is te lywig om in net een artikel te bespreek, dus sal dit volgens sekere temas gedoen word.
Demografie: Orania se demografie lyk oor die algemeen gesond. In derde wêreld samelewings (wat geld vir die meeste dorpe van Suid-Afrika, ook in Orania se omgewing) het ons die klassieke piramiede, met baie kinders en min ou mense. Dit dui op onvolhoubare bevolkingsgroei en talle kinders wat later geen toekomsperspektief en werksgeleenthede het nie, maar van die staat afhanklik is. In Westerse samelewings lyk die bevolkingsgrafiek soos ‘n sampioen: min kinders en jongmense en relatief veel mense in die groep bo 50, en opvallend baie (in verhouding) bo 85. Ook die toestand is nie gesond nie, want dit beteken dat daar te min kinders en jongmens eis wat later as werkendes vir die afgetredenes kan sorg.
In Orania is daar heelwat kinders en jongmense en redelik min mense bo 85. Dit is opvallend dat hier baie meer manlike babas as vroulike babas gebore word. In die groep van jong werkendes, 20 tot 30, is die verhouding van mans tot vroue intussen redelik gebalanseerd. In die groep 20-25 is daar weer minder, wat wys op diegene wat na skool vir verdere opleiding Orania verlaat. Heelwat keer deesdae gelukkig weer terug. Die oprigting van ‘n tegniese skool vir na-skoolse opleiding sal baie help om meer jongmense in Orania te hou en selfs nuwes hierna toe te trek. Dit is belangrik vir die vorming van gesinne, wat tipies tussen 20 en 30 geskied. In die groep tussen 35 en 45 is daar relatief min mense, veral min mans, omdat dit in daardie ouderdomsgroepe is waar mense gevestig in hulle werk is, goeie geld maak maar nog nie genoeg bymekaargemaak het om ‘n nuwe begin te maak en ’n eie besigheid te begin nie en wat dus moeilik skuif. Dit is ‘n uitdaging om die groep mense deur goeie inkomste-moontlikhede Orania toe te lok. Daar is ook heelwat mense in die groep tussen 50 en 70. Dit is mense wat gewoonlik oor kapitaal beskik uit beleggings of aftreegeld en wat ‘n belangrike rol speel in besigheid.
Die bevolkingsgroei gaan onverpoosd voort. Voor 2006 is geen bevolkingstellings gedoen nie, maar as ‘n mens terugwerkend kyk na wanneer die huidige inwoners ingetrek het, dui dit daarop dat behalwe vir die eerste 5 jaar daar (1991 tot 1996) min groei was voor 2010. Die gemiddelde groei die laaste paar jare is omtrent 9% per jaar, maar daar was ook tye van stagnasie, veral van 2008 tot 2009, waarna ‘n taamlike styging gebeur het wat Orania in ‘n ander rat gesit het en wat steeds voortduur. Opspraakwekkende groei, wat uitwoners dikwels verwag, is egter tans nie moontlik nie omdat Orania se behuising, werksgeleenthede en infrastruktuur en ook die proses van toelating en integrasie in die gemeenskap massa-immigrasie moeilik hanteerbaar maak. Dit is egter opvallend dat talle inwoners (49%) redelik onlangs intrekkers is, sedert 2010. Slegs 10% is van die inwoners is “pioniers” van die eerste 5 jaar van 1991 tot 1996.
Huishoudsamestelling: Ondervinding wys dat tradisionele gesinne (man, vrou en eie kinders, partymaal met ‘n grootouer by) die mees stabile groep vir ‘n samelewing is omdat hier vir mekaar gesorg en iets opgebou word en die aandryf om weer te trek die geringste is. Dit is ook belangrik vir die grootmaak van kinders met ‘n goeie waardestelsel. Ook egpare (meesal afgetredenes wie se kinders al uit die huis is) is ‘n stabile element vir ‘n samelewing. In Orania is 40% van die huishoudings kerngesinne, 3 % is uitgebreide gesinne en 10% is egpare. Enkelouer met kind en gesin met “bywoners” is relatief min, 5% elk. Opvallend is egter die groot hoeveelheid enkellopendes, naamlik 34%. Sonder om enkellopendes te wil slegpraat (en die outeur was vir baie lank ’n enkelloper) is hulle ‘n minder stabile element vir die samelewing omdat hulle geneig is om onbetrokke te wees en om maklik weer pad te gee omdat hulle nie in dieselfde mate gebonde is as gesinne nie. Die hoë voorkoms van enkellopers, veral mans, is nog steeds ‘n teken van Orania se pionierskarakter. Elim Jeugsentrum is spesifiek geskep om enkellopende mans te akkommodeer wat ‘n belangrike rol in die werkmag speel en Nerina-woonstelle vir enkellopende vroue (of vroue met kinders) is geskep om aan die behoefte te voorsien. Enkellopendes kan relatief maklik Orania toe kom juis omdat min hulle vashou waar hulle vandaan kom. Om hulle (ook op ‘n persoonlike vlak deur huweliksluiting en betrokkenheid in die gemeenskap) aan Orania te bind is belangrik vir die groei van die gemeenskap, in getalle en in diepte.
Kerkverband: Anders as wat die oppervlakkige persepsie is, het Orania nie ‘n “staatskerk” nie. Trouens, daar is ‘n wye verskeidenheid denominasies. Die APK is wel by verre die grootste kerk met 22% van die inwoners as lidmate. Ander gereformeerde kerke, soos die NG Kerk met 14% en die Gereformeerde Kerk met 7% is ook prominent. Die Maranatha-kerk, ‘n charismatiese groep met hulle eie kerkgebou met 14% is saam met die NG Kerk die tweede grootste kerkverband. Opvallend is egter, vir ‘n uitgesproke christelike plek soos Orania, dat 15% aan geen kerk behoort nie. Die 15% is egter ook mense wat verkies om hulle godsdiens privaat uit te leef. Verder moet onthou word dat Orania nog steeds ‘n aansienlike element van mense het wat net kortstondig hier is, hoofsaaklik vir werk, en wat in geen opsig gebonde is nie.
Identiteit: Inwoners is ook gevra as wat hulle hulleself beskou. Dit is opvallend dat die meerderheid (52%) hulle as Oraniërs beskou. Dit dui aan dat mense ‘n eie identiteit ontwikkel en hulle losgemaak het van Suid-Afrika. 23% beskou hulle as Afrikaners, wat ook goed is, aangesien Orania homself as Afrikaner-groeipunt bemark. 21% sien hulle as Suid-Afrikaners. Dit is nie duidelik watter identiteit dit veronderstel nie, want dit kan beteken dat die mense hulle met die huidige staat Suid-Afrika vereenselwig (wat onwaarskynlik is), of dat hulle die term in die ou sin gebruik as verwysende na blankes in Suid-Afrika en dat daar ‘n soort nostalgie vir die ou Suid-Afrika ‘n rol speel. Daar is natuurlik ook diegene wat onlangs Orania toe gekom het, veral vir werk, wat nog nie werklik “gearriveer” het nie. Die term Boer word slegs deur 2% gebruik om hulleself te beskryf en 1% beskou hulle as alles van die genoemde terme.
As ‘n mens die syfers vergelyk met die hoofrede om Orania toe te kom, is dit ook insiggewend. Vir die meerderheid (35%) was Afrikaner-selfbeskikking die hoofrede (en dit is die bestaansrede vir Orania), terwyl meer persoonlike redes soos om ‘n nuwe begin te maak (25%), veiligheid (16%), werk (9%), aftrede (8%) en opvoeding (4%) vir die res ‘n rol gespeel het.
by Orania Beweging | Aug 3, 2015 | Nuus |

Bamburghkasteel, Northumberland
Dit was meer as tien jaar gelede wat ek die vliegtuig gevat en my verloofde, vriende en familie agtergelaat het om tydelik in die buiteland te gaan werk.
Opwindende tye!
Ek sal vir een jaar geld kon spaar om o.a. vir my troue te help betaal, terwyl ons die tweede jaar kon gebruik om verder te spaar en deur Europa te reis. Hierna sou ons met ponde na SA terugkeer en dit as wipplank kon gebruik om ons gesin op ʼn goeie trajek vir die toekoms te plaas.
Net twee jaar in Engeland – so het ek geglo.
Beide van ons was van Sub A (oftewel Graad 1) tot ons finale jaar op universiteit, slegs in Afrikaans onderrig. Ek is van Barkly-Wes in die Noord-Kaap en Marli van Pretoria. Tot op daardie stadium het ons slegs Engels ter self-verdediging gepraat. Om op besigheidsvlak in Engels te kommunikeer sou daarom ons grootste uitdaging wees, terwyl die multikulturele dinamika van ʼn wêreldstad soos Londen definitief vir ons een helse kultuurskok sou besorg – so is ons meegedeel.
Toe nie!
Daar aangeland het ons vinnig besef dat ons Engels as tweede taal goed genoeg was om ons saak in die raadsaal te stel. Ook was ons Afrikanertjies darem nie so ver terug op die brug dat ons nie onsself kon handhaaf en ook in die samelewing kon inskakel nie. Die standaard van ons formele onderrig, goeie opvoeding van ons ouers (maniere) en eenvoudig gesonde verstand was genoeg om situasies te lees, hoflik te reageer en netwerke te bou. Kulturele nuanses en ondertone is baie vinnig aangeleer.
Ons goeie werksetiek, bereidheid om nuwe dinge aan te leer en maklike aanpasbaarheid in die werksplek was ons “geheime wapens” en het verskeie deure vir ons bo-verwagting maklik oopgemaak. Dit was nie lank nie of die Londense lewe het ons behoorlik bekoor, met die gevolg dat die beplande twee jaar, eers drie, toe vier, toe vyf en later tien jaar geword het. Namate omstandighede in Suid-Afrika versleg het, was dit nie vreemd om in gesprekke met ander Afrikaners die vraag te hoor of daar enige sin in terugkeer na Suid-Afrika is nie.
Wat ons aanvanklik nie besef het nie, was dat Afrika ‘n baie jaloerse meisie is. Maak nie saak hoe sukses, eerste wêreldse standaarde of die globale wêreld jou bekoor nie, sy dwing haarself terug tot in jou hart en gedagtes. Met elke reis deur Europa is daar iets wat jou gedagtes terugneem na Afrika. Of dit nou die Mediterreense klimaat is wat jou aan Kaapstad herinner, of die plantegroei van die Spaanse platteland wat jou terugneem na die Klein Karoo, daar’s altyd iets. Ander kere is dit Devon se strande wat jou na Desember skoolvakansies saam met die gesin op Jeffreys Baai laat terugverlang.
Soos wat die Britse lewe jou norm en reise deur Europa meer algemeen word, word vakansies by familie in Suid-Afrika die eksotiese. Terwyl jy baie graag vertel van lieflike vakansiebestemmings in Duitsland, Switserland, Vlaandere, die VSA en Kanada, was dit net Suid-Afrika wat jy tranerig agterlaat het.
Stadigaan, ongemerk, maak tyd op die internet meer en meer plek vir Suid-Afrika google-soektogte. Jy begin weer SA nuus volg… die politiek is steeds ‘n gemors, eintlik soveel erger as toe jy daar weg is. Dan ook nog die misdaad. Jy’s bly jy is nie vasgevang in daardie gemors nie! MAAR teen alle logiese inklinasies bevind jy jouself eendag weer waar jy kyk na eiendomspryse in Kaap St. Francis en Plett, of ‘n plaas in die Kalahari… pryse in Suid-Afrika het duur geword… hoe oorleef die mense daar? Ek is bly ek sit hier.
Ek haat die Britse winter!
Die seisoen van jag moes plek maak vir sonlose, onplesierige weer. Die skoon, wit sneeu, wat jou eens opgewonde gemaak het, is nou net ‘n verkeersnagmerrie met ‘n vuil, morsige “slush” as gevolg. Hierdie weer, saam met die gebrek aan familie-ondersteuning en ook die nostalgiese verlange, is inmekaar geweef in wat amper as ʼn onheilige drie-eenheid van melancholie bestempel kan word.
‘n Week of wat na Portugal, Spanje of Sharm El Sheikh rondom Desember, bring ‘n welkome kort wegbreek met lag en sonskyn – vir ‘n oomblik vergeet mens van familie en Afrika. Die batterye is gelaai en mens het weer moed vir die vaal en grou stad met sy moltreine en uitdrukkinglose pendelaars.
As mens maar net die twee wêrelde op ‘n morele manier kan verenig. Ek en my mense as deel van die diverse veelheid van Afrika se mense, maar binne ‘n internasionaal aanvaarde raamwerk waar sukses aangemoedig word en nie met jaloesie bejeën word nie; waar my kind ook nie per definisie ‘n slagoffer van populistiese politiekery hoef te wees nie… Ek moet stop met my wensdenkery! Afrika is soos Afrika is.
‘n Vriend vertel my meer oor Orania – hy is baie positief daaroor. Ons gesels oor die praktyk van selfstandigheid, die teorie rondom Art. 235 van die Grondwet en internasionale regsbeginsels van selfbeskikking. Ek lees die “In Diepte” artikels op Orania se webblad en raak begeesterd met Orania se praktiese benadering tot ‘n gewoonlik uiters teoretiese kwessie. Ek toets die praktiese beginsels van Orania as doelgerigte kultuurgemeenskap, geskoei op selfstandigheid, baie versigtig onder van my kollegas by die werk – terugvoer wissel van effe onseker tot redelik positief. Nie een voel teen die bors gestuit nie, Orania is regverdigbaar en nie-Afrikaners is ontvanklik vir die idee! Ek sluit by die Orania Beweging aan.
In 2006 reik Orania uit na ondersteuners in die buiteland en ek bied aan om die reëlings vir hul besoek aan Brittanje te tref. Ons ontmoet vir Carel Boshoff en Frans de Klerk; ek en Marli hou waarvan ons hoor en met ons volgende besoek aan Suid-Afrika gaan kuier ons op Orania. Ons is oorbluf met hoeveel vermag is en hoe vasbeslote die inwoners is, maar is nie blind vir die vele uitdagings wat die dorp in die gesig staar nie. Aangesien Orania ‘n pioniersgemeenskap is sal ons nie binnekort daar kan gaan woon en werk nie. Ek neem gevolglik toe die besluit om addisioneel tot my regskwalifikasie, ook ‘n ambag op te neem; met ‘n groter verskeidenheid van vaardighede verbeter ek darem kanse om ‘n volhoubare besigheid in Orania op die been te bring. Kobus de Wet het hoeka laat weet, nadat hy terug Suid-Afrika toe is, dat mens in Suid-Afrika jou eie ding moet doen en nie werk moet soek nie. Diegene wat suksesvol is, is manne en vroue wat kreatief is en hulle eie besighede het.
Die geboorte van JP het ook ons lewe baie meer verander as wat ons ooit kon verwag. Skielik het ons in ander terme begin dink – oor die onderrig wat ons kind moet ontvang en hoe ons hom wil grootmaak. Die Britse staatskole is baie sekulêr en humanisties en ‘n steen des aanstoots vir menige Christen-Britte. Britse staatskole was dus nooit vir ons ‘n opsie nie, terwyl privaatskole ook buitensporig duur is. M.a.w. ons sou nie ons kinders dieselfde kwaliteit opvoeding in Brittanje kon bied as wat Afrikanerkinders vandag in CVO-skole ontvang nie. Alhoewel JP nie sou weet wat hy mis nie, kon ons net nie help om te dink dat ons hom van ‘n aansienlik beter kwaliteit buitelugbelaaide kinderlewe ontneem nie.
Daar is nou vir ons net een opsie – ons moet ons sake in orde kry om in September 2017 na Orania te verhuis. In Orania sal ons ‘n veilige omgewing kry om ons kind tussen ons mense en met ons Christen-waardes groot te maak.
In 2014 publiseer die Orania Beweging Frans de Klerk se boekie Orania: Van dorp tot stad – ‘n Nuwe Strategie. Dis opwindend! Stede het immers al ryke oorleef!
Die Afrikaner is hoofsaaklik ‘n verstedelikte volk met gespesialiseerde beroepe, maar ons hunker na die platteland. Sou Orania moderne Afrikaners wil akkommodeer en hulle verbeelding aangryp, om so deel van ‘n volhoubare oplossing te wees, sal ‘n “landelike stad” nodig wees. M.a.w. nie net ‘n stad wat gespesialiseerde beroepe aan Afrikaners kan bied nie, maar ‘n stad waarvan die burgers ook deel van ‘n gemeenskap sal wees. ‘n Gemeenskapslewe gebaseer op selfstandigheid eerder as afhanklikheid. So stad kan aan Afrikaners ‘n hoë orde kulturele heimat bied. ‘n Veilige heimat waar ons taal en kultuur gesond is en ons kinders hoë gehalte Christelik-gefundeerde opleiding in Afrikaans kan ontvang. Natuurlik sluit dit netwerke met Afrikaners elders in Afrika en regoor die wêreld in. Die Jode wys vir ons elke dag hoe Israel en die Joodse diaspora wedersyds bevoordeel word deur sterk netwerke en noue bande met mekaar.
Rondom Augustus 2014 kry ek ‘n wenk van ‘n vriend dat die Orania Beweging, in lyn met hulle nuwe strategie, ‘n Pretoria-kantoor op die been wil bring en dat daar ‘n vakante pos is. Ek en Marli dink lank daaroor en bespreek dit omvattend. Weens die misdaad wil ons nie eintlik in Pretoria woon nie. Na ons lewe in Londen hunker ons na Orania. Tog, ek sal die geleentheid kry om voltyds te werk aan ‘n saak waarvoor ek ‘n ontsaglike passie ontwikkel het en kan ek saam aan die droom bou, voordat ek die finale tree gee. Ons het ten gunste daarvan besluit, ek het vir die pos aansoek gedoen en was bevoorreg genoeg om dit te kry.
Ek en my gesin is daarom steeds op ons reis na Orania, maar hierdie reis is nie net na ‘n bestemming in die Karoo nie, dit is ook ‘n reis na môre, na ‘n volhoubare en selfstandige Afrikaanse toekoms.
Kom jy saam?
Nuutste Opmerkings