Die meeste Afrikaners sal wanneer jy hulle vra waar die Afrikaner se verhaal begin waarskynlik na 6 April 1652 verwys. Die koms van Jan van Riebeeck en daarmee saam ‘n permanente Europese teenwoordigheid aan die suidpunt van Afrika is ‘n belangrike moment in ons geskiedenis, maar dit is nie waar ons verhaal begin het nie.
Ons verhaal het ook nie by die Vryburgers of Hendrik Biebouw begin nie. Wanneer Afrikaners hul geskiedenis bestudeer moet ons ook verder terugkyk na die tyd voor vestiging in Afrika. Ons verhaal as volk begin in Europa. Dit begin by die Hugenote wat uit Frankryk moes vlug. Dit begin by Duitse ambagsmanne en arbeiders wat vir die VOC gewerk het. Dit begin by Skotse en ander sendelinge wat die woord hier kom verkondig het.
Die belangrikste deel van ons Europese geskiedenis lê egter in die Nederlande, vandag se Nederland en Vlaandere in België. Skaars drie jaar voordat die Dromedaris, Reijger en Goedehoop-skepe vanaf die Texel-eiland na Tafelbaai vertrek het, het die einde van die Tagtigjarige Oorlog aangebreek. Dit is ons voorvaders wat intens by hierdie stryd om vryheid betrokke was. Die stryd van die Nederlande was ook die stryd van ons voorvaders.
Die einde van die Tagtigjarige Oorlog het ‘n tyd van groot sukses en voorspoed vir Nederland ingehou. Daardie era word vandag as die Goue Eeu onthou. Nederland het sterk handel gehad en die Verenigde Oost-Indische Compagnie was die grootste maatskappy in die wêreld. Na politieke vryheid het ekonomiese vryheid gevolg.
Afrikaners het tot stand gekom uit hierdie mense. Die jong wamaker uit Duitsland wat vir die VOC in die Kaap gaan werk het, het met die Hugenote-meisie getrou. Die jong Nederlandse boer is met die dogter van ‘n sendeling getroud. Hierdie mense het ‘n nuwe lewe in ‘n nuwe land kom maak, maar hulle het egter ook hul kultuur, geskiedenis en ervarings saamgebring. Die dinge wat die Hugenote gevorm het, het ook deel van die Afrikaner se wese geword. Netso ook die geskiedenis en ervarings van die Nederlanders, Duitsers en ander wat uiteindelik deel van die Afrikaner sou word.
Natuurlik is die Afrikaner ook gevorm deur gebeure hier aan die suidpunt van Afrika. Die Afrikaner was egter nie net vanaf sy ontstaan in Suid-Afrika nie, maar reeds van vroeër af ‘n samevloeisel van mense met ‘n sterk vryheidstrewe en ‘n diepe geloofsbesef.
Wanneer ons dus onsself, wie ons is en waarom ons die afgelope meer as 350 jaar sekere dinge op sekere maniere gedoen het, probeer verstaan moet ons nie ons Europese geskiedenis vergeet nie. Ons moet meer lees oor die Tagtigjarige oorlog en ons voorvaders se stryd teen die Spanjaarde. Ons moet lees oor die Edik van Nantes en die Hugenote se geloofstryd. Ons moet lees oor die jong Duitse ambagsman wat ‘n beter lewe gesoek het en die Skotse sendeling wat die woord wou gaan verkondig.
Die Afrikaner is ‘n Europese volk met ‘n Europese geskiedenis wat ons help vorm het. Laat ons dit ook ernstiger onthou en aan volgende geslagte oordra.
Afrikaners in Europa kyk altyd met ‘n gevoel van minderwaardigheid na die pragtige middeleeuse katedrale of kastele en vergelyk dit dan met die eerder beskeie argitektoniese erfenis van Suid-Afrika. Dit is egter glad nie nodig om so te voel nie, want die Afrikaners se voorsate het net so deel gehad aan die beskawing soos die huidige Europeërs se voorgeslagte.
‘n Besonder interessante artikel, baie dankie.
Wanneer ek in Europa is herken ek dit in my gebeente as my herkoms. Tog hunker ek terug huis toe en voel my eers tuis wannneer ek weer met my voete op Afrika-bodem staan.
‘n Sonderlike groep mense, ons voorsate wat so ‘n massiewe taak aangepak het om hier in die destydse onbekende en wilde wêreld te kom vestig, gesinne groot te maak, hul geloof uit te leef en ‘n nuwe beskawing te skep. As ons hulle nagedagtenis tog net kan laat voortleef met ons eie ywerigheid, uithouvermoë en geloof!
Dis interessant hoe verweef die Duitsers ook met die Afrikaner geword het. Ons was vyf kinders van Duitse predikant ouers wat almal afrikaans getroud is en wie se kinders in die afrikaanse kultuur groot geword het. Ons is trots eurokaners!