fbpx

Aerial_view_1_Orania_02-2015Orania se sosio-ekonomiese sensus, wat verlede jaar gedoen en vanjaar bekend gestel is, lewer nou antwoorde deur middel van data op talle vrae wat in die verlede net oor bespiegel is. Die hele verslag is te lywig om in net een artikel te bespreek, dus sal dit volgens sekere temas gedoen word.

Demografie: Orania se demografie lyk oor die algemeen gesond. In derde wêreld samelewings (wat geld vir die meeste dorpe van Suid-Afrika, ook in Orania se omgewing) het ons die  klassieke piramiede, met baie kinders en min ou mense. Dit dui op onvolhoubare bevolkingsgroei en talle kinders wat later geen toekomsperspektief en werksgeleenthede het nie, maar van die staat afhanklik is. In Westerse samelewings lyk die bevolkingsgrafiek soos ‘n sampioen: min kinders en jongmense en relatief veel mense in die groep bo 50, en opvallend baie (in verhouding) bo 85. Ook die toestand is nie gesond nie, want dit beteken dat daar te min kinders en jongmens eis wat later as werkendes vir die afgetredenes kan sorg.

In Orania is daar heelwat kinders en jongmense en redelik min mense bo 85. Dit is opvallend dat hier baie meer manlike babas as vroulike babas gebore word. In die groep van jong werkendes, 20 tot 30, is die verhouding van mans tot vroue intussen redelik gebalanseerd. In die groep 20-25 is daar weer minder, wat wys op diegene wat na skool vir verdere opleiding Orania verlaat. Heelwat keer deesdae gelukkig weer terug. Die oprigting van ‘n tegniese skool vir na-skoolse opleiding sal baie help om meer jongmense in Orania te hou en selfs nuwes hierna toe te trek. Dit is belangrik vir die vorming van gesinne, wat tipies tussen 20 en 30 geskied. In die groep tussen 35 en 45 is daar relatief min mense, veral min mans, omdat dit in daardie ouderdomsgroepe is waar mense gevestig in hulle werk is, goeie geld maak maar nog nie genoeg bymekaargemaak het om ‘n nuwe begin te maak en ’n eie besigheid te begin nie en wat dus moeilik skuif. Dit is ‘n uitdaging om die groep mense deur goeie inkomste-moontlikhede Orania toe te lok. Daar is ook heelwat mense in die groep tussen 50 en 70. Dit is mense wat gewoonlik oor kapitaal beskik uit beleggings of aftreegeld en wat ‘n belangrike rol speel in besigheid.

Die bevolkingsgroei gaan onverpoosd voort. Voor 2006 is geen bevolkingstellings gedoen nie, maar as ‘n mens terugwerkend kyk na wanneer die huidige inwoners ingetrek het, dui dit daarop dat behalwe vir die eerste 5 jaar daar (1991 tot 1996) min groei was voor 2010. Die gemiddelde groei die laaste paar jare is omtrent 9% per jaar, maar daar was ook tye van stagnasie, veral van 2008 tot 2009, waarna ‘n taamlike styging gebeur het wat Orania in ‘n ander rat gesit het en wat steeds voortduur. Opspraakwekkende groei, wat uitwoners dikwels verwag, is egter tans nie moontlik nie omdat Orania se behuising, werksgeleenthede en infrastruktuur en ook die proses van toelating en integrasie in die gemeenskap massa-immigrasie moeilik hanteerbaar maak. Dit is egter opvallend dat talle inwoners (49%) redelik onlangs intrekkers is, sedert 2010. Slegs 10% is van die inwoners is “pioniers” van die eerste 5 jaar van 1991 tot 1996.

 

Huishoudsamestelling: Ondervinding wys dat tradisionele gesinne (man, vrou en eie kinders, partymaal met ‘n grootouer by) die mees stabile groep vir ‘n samelewing is omdat hier vir mekaar gesorg en iets opgebou word en die aandryf om weer te trek die geringste is. Dit is ook belangrik vir die grootmaak van kinders met ‘n goeie waardestelsel. Ook egpare (meesal afgetredenes wie se kinders al uit die huis is) is ‘n stabile element vir ‘n samelewing. In Orania is 40% van die huishoudings kerngesinne, 3 % is uitgebreide gesinne en 10% is egpare. Enkelouer met kind en gesin met “bywoners” is relatief min, 5% elk. Opvallend is egter die groot hoeveelheid enkellopendes, naamlik 34%. Sonder om enkellopendes te wil slegpraat (en die outeur was vir baie lank ’n enkelloper) is hulle ‘n minder stabile element vir die samelewing omdat hulle geneig is om onbetrokke te wees en om maklik weer pad te gee omdat hulle nie in dieselfde mate gebonde is as gesinne nie. Die hoë voorkoms van enkellopers, veral mans, is nog steeds ‘n teken van Orania se pionierskarakter. Elim Jeugsentrum is spesifiek geskep om enkellopende mans te akkommodeer wat ‘n belangrike rol in die werkmag speel en Nerina-woonstelle vir enkellopende vroue (of vroue met kinders) is geskep om aan die behoefte te voorsien. Enkellopendes kan relatief maklik Orania toe kom juis omdat min hulle vashou waar hulle vandaan kom. Om hulle (ook op ‘n persoonlike vlak deur huweliksluiting en betrokkenheid in die gemeenskap) aan Orania te bind is belangrik vir die groei van die gemeenskap, in getalle en in diepte.

Kerkverband: Anders as wat die oppervlakkige persepsie is, het Orania nie ‘n “staatskerk” nie. Trouens, daar is ‘n wye verskeidenheid denominasies. Die APK is wel by verre die grootste kerk met 22% van die inwoners as lidmate. Ander gereformeerde kerke, soos die NG Kerk met 14% en die Gereformeerde Kerk met 7% is ook prominent. Die Maranatha-kerk, ‘n charismatiese groep met hulle eie kerkgebou met 14% is saam met die NG Kerk die tweede grootste kerkverband. Opvallend is egter, vir ‘n uitgesproke christelike plek soos Orania, dat 15% aan geen kerk behoort nie. Die 15% is egter ook mense wat verkies om hulle godsdiens privaat uit te leef. Verder moet onthou word dat Orania nog steeds ‘n aansienlike element van mense het wat net kortstondig hier is, hoofsaaklik vir werk, en wat in geen opsig gebonde is nie.

Identiteit: Inwoners is ook gevra as wat hulle hulleself beskou. Dit is opvallend dat die meerderheid (52%) hulle as Oraniërs beskou. Dit dui aan dat mense ‘n eie identiteit ontwikkel en hulle losgemaak het van Suid-Afrika. 23% beskou hulle as Afrikaners, wat ook goed is, aangesien Orania homself as Afrikaner-groeipunt bemark. 21% sien hulle as Suid-Afrikaners. Dit is nie duidelik watter identiteit dit veronderstel nie, want dit kan beteken dat die mense hulle met die huidige staat Suid-Afrika vereenselwig (wat onwaarskynlik is), of dat hulle die term in die ou sin gebruik as verwysende na blankes in Suid-Afrika en dat daar ‘n soort nostalgie vir die ou Suid-Afrika ‘n rol speel.  Daar is natuurlik ook diegene wat onlangs Orania toe gekom het, veral vir werk, wat nog nie werklik “gearriveer” het nie. Die term Boer word slegs deur 2% gebruik om hulleself te beskryf en 1% beskou hulle as alles van die genoemde terme.

As ‘n mens die syfers vergelyk met die hoofrede om Orania toe te kom, is dit ook insiggewend. Vir  die meerderheid (35%) was Afrikaner-selfbeskikking die hoofrede (en dit is die bestaansrede vir Orania), terwyl meer persoonlike redes soos om ‘n nuwe begin te maak (25%), veiligheid (16%), werk (9%), aftrede (8%) en opvoeding (4%) vir die res ‘n rol gespeel het.