fbpx
Bamburghkasteel, Northumberland

Bamburghkasteel, Northumberland

Dit was meer as tien jaar gelede wat ek die vliegtuig gevat en my verloofde, vriende en familie agtergelaat het om tydelik in die buiteland te gaan werk.

Opwindende tye!

Ek sal vir een jaar geld kon spaar om o.a. vir my troue te help betaal, terwyl ons die tweede jaar kon gebruik om verder te spaar en deur Europa te reis. Hierna sou ons met ponde na SA terugkeer en dit as wipplank kon gebruik om ons gesin op ʼn goeie trajek vir die toekoms te plaas.

Net twee jaar in Engeland – so het ek geglo.

Beide van ons was van Sub A (oftewel Graad 1) tot ons finale jaar op universiteit, slegs in Afrikaans onderrig. Ek is van Barkly-Wes in die Noord-Kaap en Marli van Pretoria. Tot op daardie stadium het ons slegs Engels ter self-verdediging gepraat. Om op besigheidsvlak in Engels te kommunikeer sou daarom ons grootste uitdaging wees, terwyl die multikulturele dinamika van ʼn wêreldstad soos Londen definitief vir ons een helse kultuurskok sou besorg – so is ons meegedeel.

Toe nie!

Daar aangeland het ons vinnig besef dat ons Engels as tweede taal goed genoeg was om ons saak in die raadsaal te stel. Ook was ons Afrikanertjies darem nie so ver terug op die brug dat ons nie onsself kon handhaaf en ook in die samelewing kon inskakel nie. Die standaard van ons formele onderrig, goeie opvoeding van ons ouers (maniere) en eenvoudig gesonde verstand was genoeg om situasies te lees, hoflik te reageer en netwerke te bou. Kulturele nuanses en ondertone is baie vinnig aangeleer.

Ons goeie werksetiek, bereidheid om nuwe dinge aan te leer en maklike aanpasbaarheid in die werksplek was ons “geheime wapens” en het verskeie deure vir ons bo-verwagting maklik oopgemaak. Dit was nie lank nie of die Londense lewe het ons behoorlik bekoor, met die gevolg dat die beplande twee jaar, eers drie, toe vier, toe vyf en later tien jaar geword het. Namate omstandighede in Suid-Afrika versleg het, was dit nie vreemd om in gesprekke met ander Afrikaners die vraag te hoor of daar enige sin in terugkeer na Suid-Afrika is nie.

Wat ons aanvanklik nie besef het nie, was dat Afrika ‘n baie jaloerse meisie is. Maak nie saak hoe sukses, eerste wêreldse standaarde of die globale wêreld jou bekoor nie, sy dwing haarself terug tot in jou hart en gedagtes. Met elke reis deur Europa is daar iets wat jou gedagtes terugneem na Afrika. Of dit nou die Mediterreense klimaat is wat jou aan Kaapstad herinner, of die plantegroei van die Spaanse platteland wat jou terugneem na die Klein Karoo, daar’s altyd iets. Ander kere is dit Devon se strande wat jou na Desember skoolvakansies saam met die gesin op Jeffreys Baai laat terugverlang.

Soos wat die Britse lewe jou norm en reise deur Europa meer algemeen word, word vakansies by familie in Suid-Afrika die eksotiese. Terwyl jy baie graag vertel van lieflike vakansiebestemmings in Duitsland, Switserland, Vlaandere, die VSA en Kanada, was dit net Suid-Afrika wat jy tranerig agterlaat het.

Stadigaan, ongemerk, maak tyd op die internet meer en meer plek vir Suid-Afrika google-soektogte. Jy begin weer SA nuus volg… die politiek is steeds ‘n gemors, eintlik soveel erger as toe jy daar weg is. Dan ook nog die misdaad. Jy’s bly jy is nie vasgevang in daardie gemors nie! MAAR teen alle logiese inklinasies bevind jy jouself eendag weer waar jy kyk na eiendomspryse in Kaap St. Francis en Plett, of ‘n plaas in die Kalahari… pryse in Suid-Afrika het duur geword… hoe oorleef die mense daar? Ek is bly ek sit hier.

Ek haat die Britse winter!

Die seisoen van jag moes plek maak vir sonlose, onplesierige weer. Die skoon, wit sneeu, wat jou eens opgewonde gemaak het, is nou net ‘n verkeersnagmerrie met ‘n vuil, morsige “slush” as gevolg. Hierdie weer, saam met die gebrek aan familie-ondersteuning en ook die nostalgiese verlange, is inmekaar geweef in wat amper as ʼn onheilige drie-eenheid van melancholie bestempel kan word.

‘n Week of wat na Portugal, Spanje of Sharm El Sheikh rondom Desember, bring ‘n welkome kort wegbreek met lag en sonskyn – vir ‘n oomblik vergeet mens van familie en Afrika. Die batterye is gelaai en mens het weer moed vir die vaal en grou stad met sy moltreine en uitdrukkinglose pendelaars.

As mens maar net die twee wêrelde op ‘n morele manier kan verenig. Ek en my mense as deel van die diverse veelheid van Afrika se mense, maar binne ‘n internasionaal aanvaarde raamwerk waar sukses aangemoedig word en nie met jaloesie bejeën word nie; waar my kind ook nie per definisie ‘n slagoffer van populistiese politiekery hoef te wees nie… Ek moet stop met my wensdenkery! Afrika is soos Afrika is.

‘n Vriend vertel my meer oor Orania – hy is baie positief daaroor. Ons gesels oor die praktyk van selfstandigheid, die teorie rondom Art. 235 van die Grondwet en internasionale regsbeginsels van selfbeskikking. Ek lees die “In Diepte” artikels op Orania se webblad en raak begeesterd met Orania se praktiese benadering tot ‘n gewoonlik uiters teoretiese kwessie. Ek toets die praktiese beginsels van Orania as doelgerigte kultuurgemeenskap, geskoei op selfstandigheid, baie versigtig onder van my kollegas by die werk – terugvoer wissel van effe onseker tot redelik positief. Nie een voel teen die bors gestuit nie, Orania is regverdigbaar en nie-Afrikaners is ontvanklik vir die idee! Ek sluit by die Orania Beweging aan.

In 2006 reik Orania uit na ondersteuners in die buiteland en ek bied aan om die reëlings vir hul besoek aan Brittanje te tref. Ons ontmoet vir Carel Boshoff en Frans de Klerk; ek en Marli hou waarvan ons hoor en met ons volgende besoek aan Suid-Afrika gaan kuier ons op Orania. Ons is oorbluf met hoeveel vermag is en hoe vasbeslote die inwoners is, maar is nie blind vir die vele uitdagings wat die dorp in die gesig staar nie. Aangesien Orania ‘n pioniersgemeenskap is sal ons nie binnekort daar kan gaan woon en werk nie. Ek neem gevolglik toe die besluit om addisioneel tot my regskwalifikasie, ook ‘n ambag op te neem; met ‘n groter verskeidenheid van vaardighede verbeter ek darem kanse om ‘n volhoubare besigheid in Orania op die been te bring. Kobus de Wet het hoeka laat weet, nadat hy terug Suid-Afrika toe is, dat mens in Suid-Afrika jou eie ding moet doen en nie werk moet soek nie. Diegene wat suksesvol is, is manne en vroue wat kreatief is en hulle eie besighede het.

Die geboorte van JP het ook ons lewe baie meer verander as wat ons ooit kon verwag. Skielik het ons in ander terme begin dink – oor die onderrig wat ons kind moet ontvang en hoe ons hom wil grootmaak. Die Britse staatskole is baie sekulêr en humanisties en ‘n steen des aanstoots vir menige Christen-Britte. Britse staatskole was dus nooit vir ons ‘n opsie nie, terwyl privaatskole ook buitensporig duur is. M.a.w. ons sou nie ons kinders dieselfde kwaliteit opvoeding in Brittanje kon bied as wat Afrikanerkinders vandag in CVO-skole ontvang nie. Alhoewel JP nie sou weet wat hy mis nie, kon ons net nie help om te dink dat ons hom van ‘n aansienlik beter kwaliteit buitelugbelaaide kinderlewe ontneem nie.

Daar is nou vir ons net een opsie – ons moet ons sake in orde kry om in September 2017 na Orania te verhuis. In Orania sal ons ‘n veilige omgewing kry om ons kind tussen ons mense en met ons Christen-waardes groot te maak.

In 2014 publiseer die Orania Beweging Frans de Klerk se boekie Orania: Van dorp tot stad – ‘n Nuwe Strategie. Dis opwindend! Stede het immers al ryke oorleef!

Die Afrikaner is hoofsaaklik ‘n verstedelikte volk met gespesialiseerde beroepe, maar ons hunker na die platteland. Sou Orania moderne Afrikaners wil akkommodeer en hulle verbeelding aangryp, om so deel van ‘n volhoubare oplossing te wees, sal ‘n “landelike stad” nodig wees. M.a.w. nie net ‘n stad wat gespesialiseerde beroepe aan Afrikaners kan bied nie, maar ‘n stad waarvan die burgers ook deel van ‘n gemeenskap sal wees. ‘n Gemeenskapslewe gebaseer op selfstandigheid eerder as afhanklikheid. So stad kan aan Afrikaners ‘n hoë orde kulturele heimat bied. ‘n Veilige heimat waar ons taal en kultuur gesond is en ons kinders hoë gehalte Christelik-gefundeerde opleiding in Afrikaans kan ontvang. Natuurlik sluit dit netwerke met Afrikaners elders in Afrika en regoor die wêreld in. Die Jode wys vir ons elke dag hoe Israel en die Joodse diaspora wedersyds bevoordeel word deur sterk netwerke en noue bande met mekaar.

Rondom Augustus 2014 kry ek ‘n wenk van ‘n vriend dat die Orania Beweging, in lyn met hulle nuwe strategie, ‘n Pretoria-kantoor op die been wil bring en dat daar ‘n vakante pos is. Ek en Marli dink lank daaroor en bespreek dit omvattend. Weens die misdaad wil ons nie eintlik in Pretoria woon nie. Na ons lewe in Londen hunker ons na Orania. Tog, ek sal die geleentheid kry om voltyds te werk aan ‘n saak waarvoor ek ‘n ontsaglike passie ontwikkel het en kan ek saam aan die droom bou, voordat ek die finale tree gee. Ons het ten gunste daarvan besluit, ek het vir die pos aansoek gedoen en was bevoorreg genoeg om dit te kry.

Ek en my gesin is daarom steeds op ons reis na Orania, maar hierdie reis is nie net na ‘n bestemming in die Karoo nie, dit is ook ‘n reis na môre, na ‘n volhoubare en selfstandige Afrikaanse toekoms.

Kom jy saam?