ʼn Kort vakansie in Julie 2015 het ons in ʼn deel van Suid-Afrika gebring wat ons nog nooit vantevore besoek het nie en wat nog nie op ons lys van plekke om te besoek was nie. Vriende van ons het egter soontoe getrek en omdat ons belowe het om hulle te besoek, moes ons ons belofte nakom.
Na ʼn eindelose lang pad verby vee- en saaiplase is ons hartlik deur ons vriende met ʼn selfgebroude koringbier en lekker Brezeln verwelkom. So skop die besoek mos op ʼn hoë noot af! Ongelukkig het ons te veel aan die gesels geraak en die tyd was te min om nog dieselfde dag die dorp te besigtig. Maar die volgende dag het die toergids, ons rondgewys. Elke besoeker kry ʼn gratis toer deur die dorp en ʼn DVD met inligting as ʼn geskenk. Ander plekke in Suid-Afrika kan gerus ʼn les daarvan leer! Die dorp met sy sowat duisend inwoners is omring deur vrugbare landbougrond, danksy die Oranjerivier wat vir voldoende water sorg. Behalwe vir mielies en lusern val die reuse pekanneutplantasies op. Die neute word so vêr soos Sjina uitgevoer. Die Oranjerivier voorsien die dorp ook met rouwater en (gesuiwerde) drinkwater, laasgenoemde nogal van uitstekende gehalte. Elke huishouding het twee wateraansluitings, een vir rouwater en een vir varswater. Sodoende word nie die kosbare drinkwater gemors vir tuinbesproeiing of om motors mee te was nie. Slim, nè? Geniaal is ook ander omgewingsprojekte, wat ons tot dusvêr in GEEN ander plek in Suid-Afrika gesien het nie: rommelskeiding, selfs by openbare asblikke orals in die dorp, sonkrag-geysers in elke huis, fietse wat te huur is met fietsloodse op verskeie punte in die dorp, sodat ʼn mens sonder probleme en omgewingsvriendelik die dorp en sy huise uit herwinbare materiaal, soos hierdie pragtige strooibaalhuis (foto), of ʼn pas voltooide straat uit vraghouerhuise (foto), wat nogal aan ʼn dorp uit ʼn Westernfliek laat dink, kan verken.
Verder is daar nog ʼn skool vir kinders van laer- tot hoërskoolvlak en ʼn koshuis vir kinders uit die omgewing, ʼn openbare swembad, ʼn biblioteek en ʼn klein plaaslike radiostasie wat vyf ure elke dag uitsaai.
ʼn Polisiestasie soek jy daarteenoor tevergeefs. Regtig waar! Dit was selfs vir ons, wat in Mosselbaai veilig en sonder hoë heinings en tralies leef, ʼn aanpassing. Die deur van ons vriende se woonstel waar ons gebly het, het voor ʼn skuifdeur en agter ʼn klein agterdeur, al twee het nie eers slotte aan nie. Toe ons vir die sleutel vra het hulle ons uitgelag:
”Hier word die deure nie gesluit nie!” “Hoe nou?”. Dit is werklik so, elke keer wanneer jy die huis verlaat word geen deur, venster of motor gesluit nie. Kinders van enige ouderdom speel op straat, hier is min heinings, en indien wel, dan slegs om die erfgrens te markeer. Tydens ons besigtigingstoer het ons ook by die klein museum ʼn draai gemaak en daar omtrent ʼn halfuur vertoef. Terwyl het die deur van die bussie wat op straat geparkeer was wawyd oopgestaan, sonder enige bewaking, met ons kamerasak duidelik sigbaar op die sitplek. So iets is ondenkbaar, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Duitsland. Wat het gebeur? Absoluut niks. Toe ons weer terug gekom het na die bussie, het die sak nog steeds onaangeraak op sy plek gestaan.
Ook ander sosiale projekte moet genoem word, omdat iets soortgelyks seker nêrens in Suid-Afrika te vinde is nie: in die dorp is ʼn behuisingsprojek vir enkellopende vroue, en een vir enkellopende mans. Behalwe vir goedkoop verblyf word ook vir ʼn werksgeleentheid binne die gemeenskap gesorg, en as iemand sy of haar voete gevind het, is daar genoeg geleentheid vir opgradering na groter en nog steeds bekostigbare huurhuise of selfs die koop van ʼn eie huis. Niemand wat bereid is om sy deel tot die gemeenskap by te dra word agtergelaat nie.
Vir vakansiegangers is daar ʼn groot 4 ster vakansieoord met gesondheidspa, direk teen die Oranjerivier geleë en met mooi houtchalets. Die oord se eie restourant het nie net lekker etes teen billike pryse nie, maar ook ʼn fantastiese uitsig op die Oranjerivier, met die provinsie Vrystaat aan die ander oewer (foto van uitsig op rivier).
Om nog ʼn keer terug te kom na die omgewingsbeskerming: pleks om die spa deur omgewings-onvriendelike, energie-intensiewe lugreëlings te laat verkoel, is die buitekantse muur met spoelklippe opgevul waardeur water loop. Aan die spoelklip-muur is verskuifbare glasruite wat, as hulle oop is, die lug deur die spoelklippe laat waai wat dan die gebou se temperatuur deur natuurlike waterverkoeling reguleer. Dit werk nie net uitstekend nie, maar lyk sommer goed ook!
Orals is daar sulke verrassings en mooi en nuwe dinge om te ontdek, soos byvoorbeeld hierdie kreatiewe versiering van ʼn houtheining (foto van versierde houtheining).
Ongelukkig was ons tyd beperk en ons het seker nie alles gesien nie. Behalwe dit was ons op ʼn naweek daar en het nie eers al die talle klein winkeltjies besoek wat in die dorp te vinde is nie. Maar dit moet en sal ons by ʼn volgende geleentheid doen.
…Klink dit nie wonderlik nie? Het ons julle nuuskierig gemaak? Sou dit nie ʼn goeie alternatief wees vir al die reeds afgesaagde plekke in Suid-Afrika wat in elke reisgids voorgestel word nie?
Maar, verdomp, waar was ons dan nou? O ja, ons het dit nog nie eers genoem nie!
Ons was in ORANIA (foto van betonletters Orania voor Stokkiesdraai Winkelsentrum)
Ons het dit doelbewus nie in die begin weggegee nie, omdat almal dadelik hulle oë omdop as Orania se naam net genoem word. Ook ons het ongelukkig nie heeltemal sonder vooroordele na Orania gereis nie en ons was, soos ʼn mens seker uit die artikel kan aflei, positief verras. Orania bied baie meer as “verkrampte, outydse, rassistiese Afrikaner wat net tussen hulleself wil bly en terugverlang na die verlede”- ongelukkig ʼn algemene siening.
ELKE besoeker is welkom in Orania. ELKEEN kan daar kom en gaan of inkopies doen; daar is geen toegangsbeheer by die ingang van die dorp nie. Aangesien die dorp Orania op private grond staan, kan nie enige-iemand daar eiendom koop of daar woon nie. ʼn verkose komitee uit inwoners besluit oor die aansoeke van potensiële nuwe Oraniërs… eintlik maar soos met ʼn huurhuis, waar elke eienaar besluit watter huurder hulle wil hê, en watter een nie. ʼn Mens kan jou Orania ook voorstel soos ʼn soort vereniging wat sekere belange dien, ʼn sekere stel reëls voorskryf, en wie se voornemende lede daardie voorwaardes moet aan voldoen: by ʼn seilbootvereniging sou die aansoek van ʼn jagter wat bang is vir water en geen belangstelling in die seilsport het nie ook onvanpas wees. Party mense hou van die “verenigingslewe”, ander nie.
Ons kan ʼn uitstappie na Orania absoluut aanbeveel, VOOR jy ʼn opinie vorm wat nie reg aan Orania laat geskied nie. Om iets self te beleef is altyd beter as om wydverspreide vooroordele na te volg. En gaan gerus op ʼn begeleide toer – die gids vertel nie net interessante grepe uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis en uit die ontstaan van Orania nie, maar hy beantwoord ook geduldig AL julle vrae!
En die goeie, selfgebroude bier is beskikbaar by die Bavaria Brouery van Sepp en Rita Eckmeier!
(Hierdie artikel is geskryf deur Meike en Martin Prenzel, Duitse immigrante wat al tien jaar lank in Mosselbaai woon en daar die Avenues Gastehuis bedryf. Dit het oorspronklik verskyn op www.suedafrikaurlaub.net, ʼn webblad vir Duitse besoekers aan Suid-Afrika. Die oorspronklike, Duitse weergawe met fotos kan verkry word by):
http://www.forum.suedafrikaurlaub.net/threads/914-beitrag?p=3117#post3117
Hallo Sebastiaan
Mag ek na James vra om ons deur Orania te neem? Ons besoek Orania eersdaags en ‘n begeleide toer met agtergrond en dies meer sal wonderlik wees. Meike en Martin beveel hom aan. Sal dit by die Inligtingskantoor wees?
Dankie
Groete
Hallo Morne,
jy kan net hier by die inligtingskantoor aanmeld en dan kan ons kyk of James beskikbaar is. Hy doen eintlik net per geleentheid toere, ek is die eintlike toergids, maar dit maak nie saak nie, ons kan hom reel.
Nee dis reg Sebastiaan, neem ons asseblief dan deur Orania. Ons aankoms is Sondag die 27ste September. Hopelik vroeg genoeg.
Blykbaar is die hele oord by die rivier uitgeboek vir ‘n Reunie die naweek.
Anders kan jy ons deur die dorp neem die Maandag. Ek oefen dan ook sommer my duits saam met jou 🙂
Weereens baie dankie vir die inligting
Groete
Tog ironies dat mens soms begin vergeet van die wonderlike, kommervrye leefstyl in Orania nadat jy n paar jaar hier gevestig is. Toe ek die brief lees besef ek weer die voorregte van matelose vryheid en veiligheid. Ons was twee weke saam op die kinders se sportgeleenthede en kon ons bejaarde tante van amper sewentig alleen by die huis laat wat oor geen sleutel beskik nie. Ons gereedskap, toerusting en motors (ongesluit) staan buite rond en so kry mens dit weer na twee weke, onaangeraak.
Dan die kinders wat laataand met perde, fietse of te voet saam met maats die strate en paaie kan invaar en as hulle nie teen ons slaaptyd terug is nie ons met gerustheid aan die slaap raak in die wete dat hulle hulle geniet en veilig is.
Wat n voorreg! Geen geld kan dit koop nie.
Dit is inderdaad ‘n voorreg om so te kan lewe. Ek loop met ‘n bos sleutels rond en stres elkekeer wanneer ek die huis verlaat. Voel ek vry? ,inteendeel. Met my komende besoek aan Orania sal ek nog steeds alles wil sluit en seker maak my motor is veilig geparkeer. Ek kan nie anders 🙁
Dit is wonderlik om die positiewe insette te lees van besoekers, maar dit bekommer my dat ons vertel hoe veilig dit is en wat ons normaalweg nie doen wat ander buite Orania doen nie. Hierdie is ‘n oop webblad en kan deur enige persoon gelees word en kan dit idees aanwakker. Kom ons hou by die veiligheid en brei nie verder daarop uit nie. Besoekers kan kom sien en ervaar hoe ons leef. Dit is slegs ‘n voorstel en nie ‘n tik op die vingers nie.
Hello almal
Ek is van plan om te verhuis na orania. Dit is natuurlik n hele nuwe ondervinding vir my en goed onbekend. Ek is tans in die kaap en wil myself vestig in die wonderlike plek. Dit klink idillies. Ek het baie goeie vriende van my wat daar woon wat my vertel het van die plek. Nou wil ek uitvind. Is daar enige reels en regulasies of veresites om soontoe te trek? Ek weet dit mag dalk nou soos n dom vraag klink maar wees asb geduldig met my? Soos ek se dis n hele ander perspektief as dit wat ek ken. Ek is maar van die klein dorpie hermanus.
Mnr Roux, ek het vir u ‘n epos met inligting gestuur. Voel vry om my te kontak by sebastiaan@orania.co.za
Groete
S Biehl