by Orania Beweging | Sep 2, 2015 | Nuus |
ʼn Vurige debat heers in die Verenigde State van Amerika oor sogenaamde ‘nuwe rassisme’. Dit volg nadat ʼn swartman verlede Vrydag helder oor dag ʼn wit polisielid in Texas koelbloedig doodgeskiet het. Net ʼn paar dae vroeër het ʼn swartman in Virginia twee joernaliste, saam met wie hy vroeër gewerk het, tydens ʼn regstreekse televisieuitsending doodgeskiet. Waarom die verwysing na die twee skieters en hul slagoffers se rasse? In beide gevalle het bewyse na die insidente vorendag gekom wat daarop wys dat die aanvalle rasgemotiveerd was.
Die probleem in Amerika is dat die gesprek oor rassisme nog altyd uitsluitlik oor wit op swart rassisme gehandel het. Toe ʼn jong witman vroeër vanjaar vanuit rassistiese oortuigings by ʼn swart kerk ingestap en talle kerkgangers doodgeskiet het, is ʼn gesprek oor wit rassisme gevoer. President Barack Obama het ʼn spesiale toespraak in die Withuis oor hierdie probleem gelewer. Televisiekanale, koerante en verhoë by universiteite is vir weke deur die debat oor wit rassisme gedomineer. Na verlede week se twee insidente wat tot die dood van drie onskuldige wit persone gelei het, het Obama weer gereageer. Hierdie keer het hy egter geensins na rassisme verwys nie, maar het hy eerder verkies om Amerika se beperkte regulasies oor die beheer van vuurwapens die skuld te gee. Dit het tot woede gelei. Kommentators het begin vra: Waarom kan wit rassisme by die naam genoem en veroordeel word, maar swart rassisme is ʼn kwessie wat nie eens geopper mag word nie?
Die laaste keer wat ʼn wit verkose lid van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers ʼn rassistiese uitspraak gemaak het, het sy kollegas hom geforseer om te bedank. Toe ʼn swart lid van die Huis van Verteenwoordigers, Gwen Moore, egter verlede week ernstige rassistiese uitsprake teen die goewerneur van haar staat Wisconsin, Scott Walker, maak het nie ʼn enkele lid van haar party ʼn poging aangewend om haar hieroor aan te spreek nie.
Baie wit Amerikaners voel die afgelope tyd dat die debat oor rassisme totaal eensydig is. Meer as een peiling wys dat beide wit en swart Amerikaners voel dat rasseverhoudinge in die VSA agteruitgaan. Terwyl swart Amerikaners voel dat rassisme ʼn byna eksklusiewe wit probleem is, voel blanke Amerikaners dat rassisme ʼn meer universele probleem is wat alle rasse en kultuurgroepe raak.
Rassisme in Amerika word toenemend gedryf deur probleme met integrasie en die onvervulde verwagtinge van die swart minderheid. Swartmense voel agtergelaat en reageer negatief teenoor enige wit gesag insluitende die polisie, onderwysers en politici. Baie blanke Amerikaners voel dat geforseerde integrasie en programme om minderhede te ondersteun tot hul nadeel is. Amerika is besig om teen ʼn snelle tempo meer divers te raak en dit lei tot ʼn soeke na identiteit. Wanneer ʼn swart of wit persoon egter voel dat sy identiteit deur die stelsel ondermyn word, lei dit toenemend tot vreemde en selfs gevaarlike reaksie.
Daar bestaan parallelle tussen wat in die VSA gebeur en ons eie ervarings hier. Swart rassisme is ook toenemend ʼn werklikheid in Suid-Afrika. Die afgelope week se insidente in Stellenbosch en uitsprake deur politici is bewys daarvan. Om dit te ontken en nie daaroor te praat nie sal die probleem eerder groter as kleiner maak. Die oplossing hiervoor lê juis in ruimte vir alle kultuurgroepe eerder as geforseerde integrasie.
by Orania Beweging | Aug 29, 2015 | Nuus |
Wat werk betref is meer as die helfte ekonomies aktief (59%). 63 % van mans en 42% van vroue het ‘n vaste werk en 8% van mans en 4% van vroue ‘n tydelike werk. Van die ekonomies nie-aktiewe deel is sowat 20% pensioenarisse, 11 % huisvroue en 6% skoolgaande kinders. Die res (4%) is ongeskik om te werk (minder as 1%), kry ‘n toelaag (2%) of soek werk (1%). Hierdie syfers lyk baie beter as in ander vergelykbare dorpe met omtrent ‘n derde van die bevolking werkloos of afhanklik van toelae.
Inkomste en salarisse in Orania is betreklik laag in vergelyking met stede en dit is waarskynlik die hoofrede hoekom so baie Afrikaners wat graag hier sou wou wees nie die stap om te trek neem nie. Die gemiddelde huishoudelike inkomste is om en by R6400. Dit is toe te skryf daaraan dat hier geen groot maatskappye of staatsinstellings is wat hoë lone betaal nie. Weereens moet Orania ook met sy omgewing vergelyk word. Die gemiddelde inkomste is hoër as in dorpe in die omgewing, selfs as dot met ‘n redelik welvarende dorp soos Vanderkloof (met ‘n aansienlike Afrikaner-bevolking) vergelyk word.
As ons kyk na die griewe wat inwoners het, vak dit op dat veral die gebrek aan mediese dienste, beskikbaarheid van behuising en lae lone uitstaan. Misdaad, gebrek aan vermaak en werkloosheid daarteenoor is amper weglaatbare griewe, terwyl ons kan aanvaar dat dit in ander dorpe waarskynlik die hoof griewe is. Die genoemde griewe is egter alles dinge wat aangespreek kan word en ook aangespreek word. Sedert die sensusopname (einde 2014) het die mediese situasie aansienlik verbeter met die inrigting van die Oramed-sentrum met ‘n voltydse algemene dokter en ‘n oogkundige. ‘n Tandarts gaan blykbaar ook in die afsienbare toekoms hier vestig. Wat behuising betref vorder die Soetdoring woonstelle vir gesinne fluks en sal volgende maand die eerste persone daar intrek. 8 nuwe gesinswoonstelle wat om en by 25 mense kan vestig sal binnekort bydrae om die behuisingsdruk te verlig. Ook die uitsit van goedkoop, gedienste erwe in Kleingeluk vir selfbou het gehelp om meer mense in ordentlike behuising te vestig. Dit is moontlik gemaak deur die Steen vir Steen projek van die Helpsaamfonds (en alle bydraers word hiermee hartlik bedank). Wat lae lone betref sal dit ook verbeter soos wat opleidingsvlakke verbeter. Die tegniese skool behoort in volgende jaar in bedryf te kom en die probleem aan te spreek.
Volgens die sensus het Orania 127 besighede, wat merkwaardig is vir ‘n dorp met slegs 1100 inwoners. Vroeër is besighede dikwels van die huis af bedryf en was oor die hele dorp versprei, met die nuwe regulasies van die Dorpsraad word besighede in hoofsaaklik twee areas gekonsentreer, in Orania-Wes teen die provinsiale pad, en in die nywerheidsgebied/S-blok op die randjie. Dit is ook opvallend hoe divers die besighede is, hier is in feitlik elke kategorie ‘n besigheid. Die meeste besighede is in die kategorie handel (17%), daarna volg gelykop landbou en toerisme (10% elk).Let wel, die hoeveelheid besighede per kategorie sê egter niks oor die aantal werknemers of die omset nie. Dit word ook bevestig deur die feit dat meer as die helfte (57%) van besighede eenmansake is, met beslote korporasies (20%) die tweede meeste. Besigheid moet egter volhoubaar wees, en die reël van die duim is dat ‘n besigheid na 3 jaar gewoonlik sal oorleef en groei. Slegs 6% van besighede is minder as ‘n jaar oud, 37% bestaan tussen 1 en 4 jaar, 24% is tussen 5 en 9 jaar oud en 33% 10 jaar of ouer. Dit wys ook dat die verskynsel van die beginjare, waar talle besighede opgegaan en weer gesterf het, nie meer so prominent is en daar groter vastigheid is. Dalk is dit ook omdat besigheidstigting weens meer regulasies, en ‘n skaarste aan geskikte persele nie meer so maklik is nie. Dit word ook bevestig deur data wat wys dat meeste besighede aansienlike kapitaal, met immers 63% met ‘n kapitale uitleg van meer as R100 000 (en 10% met 5 miljoen en meer).
Enige plek wat besighede wil trek en wil behou moet kyk na sy voor- en nadele en daaraan werk om dit te verbeter. Vir besighede is die voordele om besigheid in Orania te doen die nabyheid aan kliënte, geskikte persele, lae misdaad en plaaslike toeganklikheid. Ook goeie infrastruktuur en dienslewering deur ‘n effektiewe dorpsraad speel ‘n rol. Arbeid is egter van die nadelige faktore, sowel die beskikbaarheid en kwaliteit van arbeid wat nie na wense is. Ook die afstande na die verskaffers toe en die geografiese afgeleënheid en min kliënte wat deurbeweeg (in vergelyking met stede) is nadelig. Aan laasgenoemde kan ons min doen, behalwe deur in die toekoms meer dienste en produksie wat spesifiek op besighede in Orania gerig is, hier te vestig sodat minder na die sentrums gery moet word. Reeds verkry amper die helfte van besighede hulle voorraad binne in Orania en is ook amper die helfte van kleinte van binne Orania. Om lokalisme te laat werk moet dit egter nog meer word. As Orania groei tot ‘n klein stad, sal dit meer en meer die sentrum van die omgewing word (wat tans nog Hopetown is) en ook heelwat kliënte trek wat tans nog nie Orania toe kom vir besigheid nie. Die arbeidsituasie sal baie verbeter met die inbedryf neem van die opleidingsentrum. Bemoedigend is verder dat meeste besighede groei eerder as om te krimp, sowel wat omset, produksie, arbeid, markaandeel en ruimte betref. Verder is besigheidsvertroue in Orania sterk, met 38% wat uitstekende vertroue het en 45% wat goeie vertroue in Orania se besigheidsomgewing het.
Wat die werknemers per kategorie betref werk meeste mense in konstruksie (veral mans), toerisme en gasvryheid (meesal vroue), handel (meesal vroue), landbou (meesal mans), dorpsraad en gemeenskapsdienste (meesal vroue), onderwys en telekommunikasie (meesal vroue). Dit is opvallend hoe die arbeidsprofiel in Orania oor die jare verander het. In die begin was “manlike” bedrywe soos landbou, konstruksie, vervaardiging en herstelwerke besonder prominent en daar was min werksgeleenthede vir vroue. Intussen het toerisme, handel, telekommunikasie en administrasie en onderwys as groeibedrywe bygekom en werk is veral vir vroue geskep. Dit word ook weerspieël deur ‘n behuisingsprojek spesifiek vir vroue (Nerina-woonstelle) en ‘n dagsorgsentrum. By die “manlike” bedrywe het die landboubedryf wat vir lank die grootste werk- en inkomsteverskaffer was sy plafon bereik weens toenemende meganisering en gebruikmaking van kontrakteurs (uit Orania), terwyl vervaardiging en tegniese dienste matig groei en konstruksie van krag tot krag gaan.
Die persepsie dat werk in Orania sentraal staan (soos versinnebeeld deur die embleem van die “Klein Reus”) word ook bevestig deur die feit dat meer as die helfte (57%) van werkendes meer as die standaard 8 ure per dag werk.

by Orania Beweging | Aug 27, 2015 | Nuus |
Ons sien tans ‘n domino-effek wat weereens die nadele van ‘n totaal met mekaar verweefde globale ekonomie wys. Al vir dekades rig omtrent elke land sy ekonomiese strategie op Sjina uit en probeer om by die land se geweldige ekonomiese groei baat te vind deur sy produkte na Sjina uit te voer en goedkoop produkte uit Sjina in te voer. Sjina se ekonomiese model werk tans so: die land produseer feitlik alles, veral swakker gehalte massa-produkte soos huishoudelike goed en klere, maar selfs motors. Daarvoor is rustowwe nodig waarvan Sjina self te min het en Sjina voer ook kos in want die land kan nie self sy groot bevolking wat toenemend verstedelik, voed nie. Daarby het Derdewêreld en hulpbron-gebaseerde ekonomieë gebaat soos Rusland (olie), Suid-Amerika (voedsel, minerale) en Afrika (minerale). In ruil voer Sjina alles uit wat die land produseer en maak die plaaslike nywerhede dood.
Suid-Afrika is ‘n tipiese voorbeeld: steenkool en ystererts en ander minerale word onverwerk na Sjina uitgevoer en verwerkte verbruikersgoedere word ingevoer. Suid-Afrika, eens ‘n nywerheidsland met ‘n breë produksiebasis, het gedaal tot ‘n Derde Wêreld uitvoerder van onverwerkte hulpbronne. Die ironie van die saak is dat Suid-Afrika onder ‘n ANC-regering eintlik in dieselfde koloniale afhanklikheid teenoor Sjina verval soos vroeër teenoor Brittanje en dat dit die “rassistiese” NP was wat Suid-Afrika ekonomies bevry het.
Omdat Sjina vir lank so baie hulpbronne ingevoer het en die Suid-Afrikaanse mynbedryf so goed gevaar het dat die agteruitgang van die vervaardiging daardeur oorskadu is. Nou, waar Sjina se ekonomie stadiger groei en sy aandelemarkte tuimel, word minder hulpbronne ingevoer. Om die ekonomie weer te “kickstart” het Sjina sy geldeenheid Yuan gedevalueer wat beteken dat die land se uitvoerprodukte nog goedkoper raak, maar dat minder betaal word vir invoere. Dit tref Suid-Afrika dubbeld hard. Ook ontwikkelde en opkomende lande wie se ekonomie sterk aan Sjina s ’n gekoppel is, soos Singapoer, Indonesië, Indië, Turkye en Suid-Korea het slae gekry. Al state wat nie so erg geraak word deur ‘n Sjina wat stoom verloor is gevorderde nywerheidslande, wat hoë gehalte produkte produseer waarmee Sjina nie kan meeding nie, soos spesialis tegnologie en gevorderde masjinerie, by name lande soos die VSA, Duitsland en Japan.
Die uitwerking van lae rentekoerse en die aandele-borrel tref die wêreldmarkte ook nou: die wêreldekonomie toon al vir geruime tyd tekens van agteruitgang, maar die politici en internasionale instellings soos die IMF en die Amerikaanse Fed asook die Europese Reserwebank wou die ekonomiese siklus van opgang en val en heropstanding verander in een van permanente groei deur rentekoerse tot feitlik nul te verlaag om investering aan te moedig. Pleks daarvan is te dikwels verbruik aangemoedig (wat ons ook in Suid-Afrika by uitstek in die eerste dekade na 2000 gesien het) en mense ontmoedig om te spaar. Die reserwebanke het geld beskikbaar gestel op skuld en mense het eerder as om hulle geld te bank waar hulle feitlik geen rente verdien nie, aandele gekoop. Die aandelebeurse wêreldwyd het geweldig gegroei, maar nie omdat die maatskappye so goed gedoen het nie, maar omdat te veel geld na die aandelemarkte gevloei het en ‘n kunsmatige groei geskep is sonder die nodige substansie.
Die enigste ligpunt is tans die lae olieprys, wat natuurlik ook deur Sjina se verminderde vraag, asook stabile produksie van die olielande veroorsaak word. Dit baat veral Derdewêreldlande en behoort vervoer, wat alle pryse beïnvloed, goedkoper te maak. In die geval van Suid-Afrika word die effek egter deur die swak Rand grootliks ongedaan gemaak. ‘n Swak Rand was vroeër goed vir uitvoere, maar aangesien Suid-Afrika sy uitvoerbasis so vernou het dat feitlik niks meer uitgevoer word behalwe hulpbronne en alles ingevoer word, is dit slegte nuus en maak invoere net duurder en beteken minder inkomste uit uitvoere. Toerisme kan wel by ‘n lae Rand baat maar selfs toerisme het die laaste tyd agteruitgegaan en die waardeskepping van toerisme is redelik laag en ‘n tipiese kwesbare Derde Wêreld bedryf.
Wat egter ook in gedagte gehou moet word, is dat regstellings in die vryemark normaal is. 2008 het ‘n regstelling plaasgevind weens ‘n borrel in eiendomme in die VSA wat uitgekring het na die wêreldekonomie toe. Enige mens en enige land wat skuld het, is besonder kwesbaar vir hierdie soort skommelinge. Vir ons in Orania moet die les wees om minder afhanklik van invoere te wees en om meer self te produseer, pleks om onverwerkte landbouprodukte uit te voer en verder alles in te voer. Dit was in elk geval onrealisties om te dink dat Sjina drie dekades aanmekaar groei van meer as 8% toon. Sjina begin nou ‘n vlak te bereik waar groei net nog matig is, omdat die meeste mense nou middelklasvlak bereik het en geen opspraakwekkende groei meer kan plaasvind nie. Die “inhaaleffek” wanneer ‘n Derdewêreldland verander in ‘n oorgangsland of selfs Eerstewêreldland, beteken sterk ekonomiese groei, maar as die vlak bereik is, volg gewoonlik stagnasie. Ook Japan het ’n soortgelyke scenario beleef sowat 30 jaar vroeër. Japan in die 1970’s en 1980’s was dit wat Sjina nou is. In die 1990’s was Japan se groei verby omdat die land die vlak van ‘n Eerstewêreldland bereik het. Ook die hoë skuldvlakke het Japan se groei gebriek, soos wat dit Sjina nou briek. Ook lande soos die VSA en Duitsland groei selde meer as 2% per jaar. Dit was ‘n fout om jou ekonomie ‘n satelliet van slegs een land te maak. In tye van die ekonomiese agteruitgang van moondhede soos die VSA, Rusland en die EU was Sjina die lig wat die motte aangetrek het. As Sjina nou sukkel, bly geen toevlug meer oor nie. Lande moet dalk weer besin oor hulle eie sterkpunte en minder afhanklik van uitvoer wees.
by Orania Beweging | Aug 25, 2015 | Nuus |
ʼn Nuwe finansiële krisis het die afgelope paar dae ontwikkel met aandelemarkte regoor die wêreld wat lelik pakslae kry. Sowat vyfduisend miljard dollar se waarde is reeds sedert 11 Augustus op wêreldmarkte verloor. China het op 11 Augustus sy geldeenheid, die yuan, gedevalueer, wat tot ʼn paniek op wêreldmarkte gelei het.
Terwyl aandelemarkte op byna elke kontinent verliese toon, verloor die geldeenhede van ontwikkelende lande ook spoed. Die Suid-Afrikaanse Rand het gisteroggend op sy swakste vlak ooit teen die vernaamste geldeenhede verhandel. Dit is nie net die Rand wat agteruitboer teen die Dollar, Euro en Pond nie, maar ook die Turkse Lira, die Russiese Roebel en geldeenhede in Suid-Amerika en Oos-Europa. Die Rand is egter een van die geldeenhede wat die afgelope paar dae die grootste verliese getoon het omdat buitelandse beleggers geld uit Suid-Afrika begin onttrek het.
Die oorsaak vir die huidige paniek strek verder as net die devaluering van die Chinese geldeenheid. Amerika se Federale Reserwebank oorweeg dit tans om rentekoerse te verhoog, ʼn skuif wat deur baie kenners as voortydig beskou word omdat die Amerikaanse ekonomie nog baie broos is na die onlangse bankkrisis. Griekeland se probleme en daarmee saam groot onsekerheid oor die toekoms van die ekonomieë van Spanje, Italië en Portugal, dra ook by tot die probleem.
Die hoofoorsaak vir die huidige krisis is egter die groot onsekerheid wat tans oor China se groeivermoë heers. Dit is reeds duidelik dat die Chinese ekonomie besig is om al hoe stadiger te groei. Vooruitskattings dui op groei van tussen 6 en 7 persent. Pessimiste sê egter dat dit so laag as 2 persent kan wees.
Die Chinese ekonomie het ernstige strukturele probleme. Dit is veral van die uitvoer van goedkoop gebruiksprodukte en ʼn sterk plaaslike konstruksiebedryf afhanklik. Terwyl die res van die wêreld se aptyt vir Chinese produkte taan, is die land se konstruksiebedryf besig om spoed te verloor. Sowat 15 persent van China se bruto binnelandse produk word deur die bou van residensiële eiendom opgemaak. Daar is tans ʼn skerp afname in Chinese wat huise koop. Die probleem is egter nog groter as dit. Baie munisipaliteite in China verdien tot tweederdes van hul inkomste uit fooie wat vir grond waarop residensiële ontwikkeling plaasvind, betaal word. Minder Chinese wat die middelklas betree, beteken minder residensiële ontwikkelings en dus minder geld vir basiese dienslewering.
Waarom is dit vir ons belangrik? Suid-Afrika het ʼn besonderse oop ekonomie en ons aandelemark en geldeenheid word sterk beïnvloed deur eksterne faktore. ʼn Wesenlike deel van ons aandelebeurs word deur oorsese beleggers besit. Suid-Afrikaanse maatskappye het ook groot beleggings in die buiteland. Suid-Afrika is baie afhanklik van invoere. ʼn Swak Rand maak ingevoerde goedere duur. Wanneer daar dus in die res van die wêreld ʼn krisis ontstaan, het dit ʼn direkte invloed op ons. Individue, gesinne en gemeenskappe sal hulself beter hierteen moet verskans en modelle van lokalisme en gemeenskapsgedrewe ekonomiese aktiwiteit moet weer op die agenda geplaas word. Orania kan ‘n voorloper hiermee wees omdat ons met ons eie bank, ons eie ruilmiddel en talle ander stappe reeds lokalisme begin beoefen het.
by Orania Beweging | Aug 21, 2015 | Nuus |
In die konteks van Orania word gereeld van kultuur gepraat en die noodsaak om Afrikaner-kultuur te beskerm en die waarde van kultuur oor die algemeen beklemtoon. Wat is kultuur en spesifiek Afrikaner-kultuur?
‘n Switserse joernalis het in sy onlangse artikel in die Neue Zuericher Zeitung effens neerhalend verwys daarna dat op die vraag wat Afrikaner-kultuur uitmaak die persoon wat hom geantwoord het gou uit voorbeelde uit geraak het en dit by ‘n paar begrippe soos liedjies, taal, protestantisme, koeksisters en braaivleis gebly het. Dit is natuurlik onbillik, want as hy as Switser 30 sekondes het om die Switserse kultuur te beskryf, dan sal waarskynlik ook begrippe soos “kaas, alphorn, dialek, tradisionele kleredrag, groot houthuise” by hom opkom.
Kultuur is nie iets wat beskryf en in vorms gegiet kan word nie, dit is eerder iets soos ‘n aanvoeling van behoort of nie-behoort. As byvoorbeeld ‘n Fransman in Franschhoek daardie gevoel van “tuisgekom” kry oor name soos La Motte en ‘n Hugenotemuseum, en nie dieselfde voel in byvoorbeeld die Transvaalse Hoëveld, waar niks aan Frankryk herinner nie, of as ‘n Duitser in Swakopmund aangegryp word oor die Duitse name en argitektuur vêr van die huis af, beteken dit dat daar ‘n aanvoeling van die eie kultuur is. Jy kan ‘n voorstedelike veiligheidskompleks in Johannesburg fleur de lis noem en sal nog steeds nie ‘n gevoel van eie kultuur by ‘n Fransman waker maak nie, as dit nie saamgaan met die hele pakket wat kultuur uitmaak nie.
Wat die kultuur van ‘n volk is, kan in duisende bestanddele opgebreek word, soos hoe jy groet, hoe jy aantrek, wat en wanneer jy eet, sekere sêgoed, voorkeure, musieksmaak, tydverdryf ensovoorts.
“Jy het nie ‘n staat of eie instansies nodig vir al die duisende klein dinge wat kultuur uitmaak nie”, word dikwels gesê. Wel, dit is ’n drogredenasie, want ‘n kultuur ontstaan altyd binne ‘n kollektiewe verband en word daarbinne uitgeleef. Enigiets anders is individuele voorkeure, smake of grille en omdat meeste Westerlinge deesdae totaal ontstam is, verstaan hulle ook nie die konsep van kultuur nie. Enige individuele Afrikaner kan in Londen of Johannesburg braaivleis hou, koeksisters en melktert eet, rugby kyk, na Afrikaanse musiek luister ensovoorts, maar dit is eerder simptome na ‘n hunkering om ‘n Afrikaner tussen jou eie mense te wees, as uitlewing van kultuur. Jy kan ook nie kultuur oordra net individueel nie. Menige Afrikaners wat geëmigreer het of wat in geglobaliseerde stede in Suid-Afrika woon kan daarvan getuig. Hulle behou hulle identiteit en leef dit selfs in die buiteland meer bewustelik uit as by die huis, maar hulle kinders wat in ‘n nie-Afrikaanse leefwêreld opgroei neem nie die kutuur van hulle ouers, wat in isolasie uitgeleef word, aan nie.
Kultuur is deel van ‘n mens se “ryk en vol bestaan” (met erkenning aan Carel Boshoff) en is veel meer as al die honderde uitdrukkings van kultuur. Kultuur is soos ‘n mosaik. As jy al die duisende deeltjies van ‘n mosaik uitmekaarhaal, dan het jy net onbenullige gebreekte stukkies glas of teel. Voeg hulle sinvol saam en jy kry ‘n mooi geheelprentjie. Hoe meer elemente tot jou kultuur bydrae, hoe kleurryker en mooier word jou mosaik. Globalisering maak kultuur eenvormig en vaal, soos ‘n mosaik wat uit stukkies van net een kleur bestaan. Daarom is dit so belangrik dat ons onsself moet onderskei in ons kultuur en nie na-apers van ander volke en ‘n “wêreldkultuur” raak nie.
Wat is dan kenmerkend van Afrikaner-kultuur? Alles wat uniek is en wat ons onderskei van ander volke, soos ons eie taal, musiek, literatuur en flieks in ons taal; skeppende kuns met sy Afrikaner-stempel; ons Protestantse godsdiensbeoefening; volkspele, Voortrekkerdrag, gemmerbier en koeksisters; alledaagse goed soos om iemand “oom” en “tannie” te noem, almal met die hand te groet, te kuier met ‘n koppie koffie in die kombuis; museums en monumente; Geloftedag en ander volksdae, maar ook Saterdag rugby kyk en braaivleis. Ek kan so aangaan, maar dit kan alles saamgevat word in die een sin: kultuur is dit wat van jou mens maak in jou volksverband, en wat jou daardie warm gevoel van om te behoort gee.

by Orania Beweging | Aug 20, 2015 | Nuus |
Friedrich Nietzsche het gesê: “Alle dinge is onderhewig aan interpretasie; die interpretasie wat op enige gegewe tyd aanvaar word, is die funksie van mag en nie ‘waarheid’ nie.”
As Christene wat in die bestaan van ʼn objektiewe waarheid glo, is daar ʼn legio redes waarom ons nie van Nietzsche se observasie mag hou nie, maar dit beteken egter nie dat sy observasie verkeerd is nie. Die feit dat iets – enigiets – op ʼn sekere manier BEHOORT te manifesteer, is nie ʼn versekering dat dit wel so sal manifesteer nie.
Inteendeel, nêrens is sy observasie so aktueel soos by regspolitieke kwessies nie. Soms is daar ʼn groot verskil tussen wat met wetgewing beoog word en wat die werklike gevolge daarvan mag wees – dink byvoorbeeld aan soveel opheffingsprogramme wat eerder mense in ʼn staat van afhanklikheid dompel as wat dit hulle ophef.
Wanneer Orania dan aan die hand van hierdie realiteit wil organiseer en ons toekomsplanne beraam, is dit belangrik om die volgende drie lesse van die geskiedenis te verreken.
Les 1: Mag is die ondersteuning wat jy kan mobiliseer en nie die ondersteuning wat jy kan tel nie.
Dit het die ANC by uitstek vir ons geleer. In haar boek, People’s War: New Light on the Struggle for South Africa, sit Anthea Jeffery deeglik uiteen hoe die ANC met sy gewapende stryd nie net die regering geteiken het nie, maar veral ook politieke opponente soos die IVP. Selfs nadat die ANC in die vroeë 1990’s ontban is en in die aanloop tot die 1994-verkiesing, is die “People’s War” teen politieke opponente juis verskerp om hulle houvas oor die swartdiskoers te verstewig.
Ook toe die onderhandelings by CODESA ʼn dooiepunt bereik het, was dit COSATU met sy “shop stewards” wat sy lede gemobiliseer het tot die massastaking van 3 – 4 Augustus 1993, wat die regering gedwing het om terug te gaan tafel toe en sekere toegewings te maak.
Terwyl die ANC mettertyd ʼn organiese mobiliseringsmag ontwikkel het, het die staat die setel van Afrikaners se mobiliseringsmag geword. Dit opsigself verklaar die Afrikaner se hopelose posisie ná 1994. Dit is daarom nie eintlik die Afrikaner se getalle wat hom ná 1994 magteloos gelaat het nie, maar eerder sy onvermoë om enige ondersteuning vir sy saak effektiewelik en doelgerig te mobiliseer. Aangesien die Afrikaner hoofsaaklik rondom staatsfunksies gemobiliseer was, het die regeringsverandering ʼn totale magsverlies beteken. Die ontbinding van die kommando’s dien as voorbeeld hiervan, want sonder die staat wat mobilisering inisieer, kon feitlik geen Afrikaner-instelling hierdie netwerk mobiliseer en as private sekuriteitsmaatskappy organiseer nie.
Uiteraard sal Afrikaners se ideologiese onderbou en Christelike karakter die aard van ons mobilisasie bepaal en sal dit daarom in wese verskil van die ANC se bloedvergieting en teenproduktiewe aksies.
Wanneer ons die Orania-gedagte dan wil versterk, is die vraag daarom nie soseer hoeveel ondersteuners ons het nie, maar eerder hoe ons ons bestaande ondersteuners kan mobiliseer. Is ons ondersteuners betalende lede van die Orania Beweging? Maak hulle bydraes tot die Groeifonds en Helpsaamfonds? Is hulle betrokke by projekte op Orania en is hulle aktief besig om Orania onder hulle vriende en familie te promoveer?
Les 2: Die strewe na meer seggenskap en groter selfstandigheid is daarom ʼn magsvraagstuk en nie ʼn politieke vraagstuk nie.
Aanvaar ons dat mag die vermoë is om te mobiliseer, strook dit noodwendig dat jou vermoë om te mobiliseer direk verband hou met jou vermoë om jou planne suksesvol tot uitvoering te bring en ook dat jou mobiliseringsmag die skaal van jou planne bepaal.
Toe Orania se nuwe strategie, wat behels om die dorp eerstens tot stad te ontwikkel, aangekondig is, het dit kritiek van ons lojale ondersteuners uitgelok wat wou beweer dat die groter idee daardeur versaak sou word. Die punt is egter dat wanneer ons in terme van mag dink, niks ons verhoed om groot te droom nie, maar dat ons altyd seker moet maak dat ons planne altyd aan uitvoerbaarheid gemeet moet word.
Vanuit die mags- en uitvoerbaarheidsparadigma benader, is dit gevolglik net logies dat die totstandbringing van ʼn Afrikanerstad enige groter aspirasies sal voorafgaan – juis omdat die Tweede Afrikaner, anders as die Eerste Afrikaner, ʼn hoofsaaklik verstedelikte volk is.
Die vraag of ʼn federale bestel in Suid-Afrika tot stand gebring kan word – daar waar die huidige staat graag wil sentraliseer – is daarom nie soseer ʼn vraag oor hoeveel stemme ʼn federaalgesinde party op homself kan verenig nie, maar eerder hoe gemeenskappe in praktyk gemobiliseer en federalisties georden kan word.
Netso ook met die droom van ʼn soewereine Afrikanerland – die haalbaarheid hiervan is afhanklik van die mobilisasie van die ondersteuners binne ʼn uitvoerbare raamwerk. Gegewe dat die grootste gros ondersteuners hiervan nie eers konsensus kan bereik oor waar só ʼn staat moet wees nie, kom mobilisering binne ʼn uitvoerbare en werkbare plan nie eers ter sprake nie.
Wanneer Orania dan sy regmatige plek binne die Afrikaner se toekomsdiskoers wil inneem en ʼn leidende rol wil speel in die herdefiniëring van die Suid-Afrikaanse staat, sal dit vir ons nodig wees om ons mobiliseringsmag uit te brei, sodat dit die nodige substansie aan ons aspirasies sal gee.
“If I were you, I would’ve created the reality first and then confront government with the facts.” – Adj. Pres. Thabo Mbeki aan die Volkstaatraad
Les 3: Erkenning van jou met magsverkrygde status is ʼn politieke vraag en nie ʼn regsvraag nie.
Die afgelope twee dekades is talle studies gedoen en tesisse geskryf oor die reg op selfbeskikking en sesessie. Terwyl die regsvraag rondom selfbeskikking hoogs teoreties kan wees en die kwessie van Afrikanerselfbeskikking in regsterme ʼn goeie been het om op te staan, is dit nie waar ons uitdaging lê nie, want sien, geen plaaslike of internasionale hof kan vir ons gee wat ons wil hê nie. Ons sal moet mobiliseer en die realiteit self skep.
Met die suksesvolle daarstelling van ʼn werklikheid is daar egter nóg ʼn hekkie om te oorkom en dit is erkenning en die politiek van erkenning. Die erkenning van status is slegs iets wat deur ander state en regerings verleen of weerhou word en dit impliseer die gereedheid om diplomatieke verhoudinge op te neem. Die VN is nóg ʼn staat, nóg ʼn regering en beskik daarom nie oor die mag om bepalings in hierdie verband te maak nie – as ʼn organisasie van onafhanklike state kan dit wel ʼn nuwe staat as lidland aanvaar of die geloofsbriewe van ʼn nuwe regering aanvaar, maar dit sal nie gebeur sonder erkenning van bestaande lidlande van die VN nie.
Sou ons ons beywer vir internasionale erkenning van ons reeds verkrygde status, sal dit vir ons daarom nodig wees om plaaslike en internasionale bondgenote te hê.
Dit beteken noodwendig dat ons vriendelike politieke betrekkinge met ander kultuurgemeenskappe in Afrika moet handhaaf, terwyl ons ook ons bande met ander gemeenskappe in Europa en elders versterk. Dit is juis binne hierdie konteks waarom ons skakeling met die Xhosa-gemeenskap van Mnyameni en die Suid-Tirolers vir ons so belangrik is. Dit lê ʼn goeie fondasie vir die verdere uitbreiding van ons netwerke na ander gemeenskappe in die res van Afrika en die wêreld, terwyl ons ook op hoogte moet bly van die jongste geopolitieke verwikkelinge.
Die politiek van erkenning dikteer daarom dat ons nie die Afrikaner se diskoers met roekelose, aweregse en strategies lui argumente sal bevuil nie. Orania se bestaande skakeling dien as bewys dat daar genoeg potensiële bondgenote is wat aanklank by ons saak vind en graag vriendelike betrekkinge met ons wil handhaaf, maar dan moet ons nie vir hulle ʼn verleentheid wees of ʼn meulsteen om hulle nek word wanneer hulle weer met ander gemeenskappe skakel nie.
ʼn Poging wat polities goed geposisioneer is, maar op swakkerige (tog regverdigbare) regsgronde gebaseer is, se moontlikheid tot erkenning is daarom heelwat groter as die poging wat op goeie regsgronde gebaseer is, maar polities vir meeste mense ʼn verleentheid is.
Kommunikasie met ons potensiële ondersteuners en na buite
Dit bring ons terug by Nietzsche en die rol van mag teenoor die rol van waarheid. Oraniërs is per definisie dromers en wanneer ons droom, droom ons groot en ons drome gee vorm aan ons planne. Maar wat ons ook besef, is dat ons aksies substansie aan ons planne gee, terwyl mag weer substansie aan aksies gee.
Sou ons dan met ons potensiële ondersteuners kommunikeer, besef ons dat hoewel die gewone persoon nie so noukeurig na mag kyk as wat hierdie artikel probeer doen nie, het Jan Alleman ʼn baie goeie aanvoeling daarvoor. Daarom sal die mededeling van ʼn grandiose droom van ʼn soewereine Afrikanerland meestal met twyfel ontvang word, juis omdat die droom so ver van huidige realiteit verwyder is en daar nie tekens van effektiewe magsvertoon is wat hierdie kloof kan oorbrug nie.
Orania se benadering is daarom om te werk met wat ons het en om nooit groter beloftes of aansprake te maak as wat ons weet ons sal kan lewer of effektiewelik voor kan beding nie.
Oraniërs, inwoners en uitwoners, se uitdaging is daarom om te mobiliseer en Orania se magsbasis uit te brei om te verseker dat ons nie ons drome sal versaak nie en om te verhoed dat ons vryheidstryd stagneer.
Nuutste Opmerkings