In aansluiting aan die vorige uiteensetting oor die sosio-ekonomiese opname van Orania word dit voortgeset met die behandeling van behuising en dienste.
Die lewering van dienste is ‘n brandpunt in menige munisipaliteite en die vorige munisipale verkiesing, (en na verwagting ook die volgende een), het feitlik uitsluitlik daaroor gegaan. Alhoewel Orania gelukkig oor meer gaan as dienslewering, beteken al die ideale van vryheid en selfstandigheid niks sonder werkende dienste en tevrede inwoners nie.
Die meeste huise in Orania (66%) is huise op ‘n enkelerf, wat die gewone patroon vir die gevestigde dorpe in die platteland is. Sowat 19% woon egter intussen al in woonstelle en duplekse wat deel van ‘n woonstelblok is, ‘n stedelike verskynsel, wat in lyn is met die toenemende verdigting en die skepping van ‘n klein stad. Sowat 13% woon as “bywoners” agter in iemand se erf of in ‘n enkelkamer en sowat 3% in ‘n tent of woonwa. Laasgenoemde is ‘n toestand wat aangespreek word en iets wat sal verdwyn sodra meer bekostigbare woonstelle geskep word. Dit is tans volstoom aan die gang met voltooiing van die tweede fase van die Soetdoring woonstelle. Die voorkoms van Orania verander ook. Vroeër was feitlik alle huise voorafvervaardigde hardbordhuise, intussen is sowat 27% steenhuise en slegs 24% voorafvervaardigde huise. Houthuise is ook nog redelik prominent (14%). Die huise van skeepsvraghouers verteenwoordig sowat 5% van alle huise en 26% van huise val in die kategorie van ander materiaal, soos beton, strooi en sink.
Kenmerkend van Orania is ook die redelike klein oppervlakte van huise, die direkte gevolg van die beleid van eie arbeid, wat groot huise onprakties maak. ‘n Derde van die huise is tussen 100 m² en 200 m² groot, en 30% tussen 50 en 100 m² groot. 25% is kleiner as 50m² en slegs 12% van huise is groter as 200 m². Wat die besitsverhouding betref is dit feitlik gelykop verdeel tussen eienaars en huurders. Die aantal huurders in Orania is hoër as onder blankes in Suid-Afrika, omdat talle mense wat Orania toe kom jonk is en nog nie genoeg kapitaal het om ‘n huis te koop of selfs net ‘n deposito neer te sit nie. Dit hoef egter nie as nadelig gesien te word nie. In talle lande in Europa, wat ekonomies vooruitstrewend is, is dit die norm om huise te huur omdat huise te koop net te duur is, en jongmense nog mobiel is. Die verskaffing van bekostigbare huurbehuising bly een van die uitdagings van Orania. Volgens die sensus is dit ook die grootste behoefte vir inwoners. Wat wel positief is, is dat meeste eienaars hulle huise ten volle afbetaal het en dit nie aan die bank behoort nie. Dit maak ons redelik bestand teen ekonomiese krisisse en skielike rentekoersverhogings. Dit is omdat Orania Spaar en Krediet se leningvereistes streng is en mense wat dit nie kan bekostig nie, nie in ‘n huislening ingepraat word nie en dan met skuld sit en hulle huise verloor, soos wat dikwels in Suid-Afrika gebeur.
Wat dienste betref werk meeste huise in Orania nog steeds met elektrisiteit wat deur die Dorpsraad oftewel Eskom voorsien word (62%), alhoewel alternatiewes soos gas (22%) en sonkrag (16%) toeneem. Wat waterverwarming betref het danksy die vereiste om songeysers by nuwe huise te installeer die hoeveelheid alternatiewe waterverhitting sterk toegeneem. Slegs 43% van huishoudings het elektriese waterverwarming, terwyl 35% songeysers (met of sonder elektriese rugsteun) gebruik en 12% gebruik gaswaterverwarming. Die tendens is dat meer songeysers gebruik word en elektriese krag en gas waterverwarming weens die beperkinge van beurtkrag, gastekorte en hoë koste verminder word.
Weens die ligging teen die Oranjerivier en die relatief lae koste vir water word meeste huishoudings deur die Dorpsraad met gesuiwerde en ongesuiwerde rivierwater voorsien (95%) en slegs 5% gebruik boorgatwater of reënwater. Ook wat riolering betref is dinge op ‘n eerste wêreldse standaard. Feitlik alle toilette is spoeltoilette, by verre die meeste is gekoppel aan die sentrale rioolstelsel (en sowat 11% het hulle eie septiese tenk). Ook vullisverwydering geskied op hoë standaard, met skeiding op huishoudelike vlak en verwydering deur die dorpsraad. Slegs op hoewes het mense hulle eie vullishoop of verwyder dit self.
Wat telefoondienste betref het feitlik almal (97%) selfone, net 19% het ook ‘n landlyn en net 3 % het geen telefoondienste of gebruik ‘n openbare foon.
Eie arbeid is ‘n uitstaande kenmerk van Orania, en slegs 8% maak gebruik van (wit) huishulpe, wat weer werk verskaf.
Mediese dienste was vir lank ‘n kopseer in Orania. Dit het egter intussen baie verbeter met die vestiging van ‘n voltydse algemene dokter sedert die begin 2015 (wat nog nie in die sensus vermeld is nie), en ‘n oogkundige. ‘n Tandarts sal blykbaar ook in die nabye toekoms sy dienste op ‘n deeltydse basis aanbied. Basiese, gratis gesondheidsorg word by die Orania Kliniek in Kleingeluk verskaf.
Goed saamgevat. Sebastiaan is daar genoegsame ontwikkeling van nuwe erwe deur privaat inisiatief? Wat word gedoen om die landelike atmosfeer te behou, sodat Orania nie net soos die stede die natuur verwoes nie?
Oom Christo, daar is heelwat privaatinisiatief ook by die ontwikkeling van nuwe erwe betrokke. Ek gebruik die Robynlaanontwikkeling fase 1 (voltooi) en fase 2 (in voorbereiding) of die luukse landgoed-ontwikkeling agter die Gemeenskapsaal, en van die koppie-gedeelte (uitbreinding van huidige aftreeoord) as voorbeeld. Dalk kan Christo Conradie by Orania Dorpskantoor nog byvoeg.
Wat die landelike atmosfeer betref maak die Geintgreerde Ontwikkelingsplan voorsiening vir heelwat oop ruimtes en is tweeverdiepinghuise die uitsondering.
Oor die landelike atmosfeer is ek ernstig bekommerd. Daar is ‘n nuwe tendens en gevoel dat die dorpshoewes in Orania maar in behuising omgeskakel kan word.
In 2009 toe die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan Plan (GOP) uit gekom het was daar streng gehou by die konsep, van geen ontwikkeling van behuising op die dorpshoewes nie. Ongelukkig teenswoordig met die dryf om van Orania ‘n stad te maak is die rem ietwat gelig. ‘n Ander rede waarom die GOP nie meer leef nie is omdat meeste mense tans in die dorp was nie betrokke by die GOP was nie omdat hulle na 2009 in die Orania dorp ingetrek het. ‘n Derde rede is dat daar gesê word dat ‘n mens nie meer ‘n bestaan kan maak op die 4 hektaar hoewes nie.
Die bou van ‘n stad van 10000 mense hoef nie te beteken dat ons landelike atmosfeer hoef prys te gee nie. In ander dele van die wêreld word dit heel suksesvol beoefen.
Hier is skakel van ‘n dorp met 30000 inwoners, met ‘n groot landelike atmosfeer. Orals is daar groengebiede, speelparkies en klein hoewes in die omgewing. Waarskynlik is die hoewes nog kleiner as 4 hektaar.
https://www.google.co.za/maps/@51.813947,5.7578397,5505m/data=!3m1!1e3?hl=af
‘n Belangrike vraag wat die huidige inwoners hom/haar moet afvra, hoe moet Orania lyk oor 5 jaar, 10 jaar en oor 20 jaar?
Verkeerde besluite nou, sal verewig by Orania bly.
Nog twee skakels m.b.t. kleinskaalse landbou:
UN Report Says Small-Scale Organic Farming Only Way to Feed the World –
http://www.technologywater.com/post/69995394390/un-report-says-small-scale-organic-farming-only
How to feed 10,000 people from food grown on 3 acres in the city –
http://www.splendidtable.org/story/how-to-feed-10000-people-from-food-grown-on-3-acres-in-the-city
Baie goeie verslag. Positiewe dinge gebeur.
Eerstens wil ek daarop wys dat ontwikkeling van erwe deur privaat ontwikkelaars in hulle hande is en deur markkragte en risikovlakke bepaal word.Om op een risiko te wys, wat ook die groot verskil is tussen om op Orania te ontwikkel teenoor in die stad daar buite, is dat hier eenvoudig nie genoeg koopkrag is om n groot gedeelte van n ontwikkeling uit te verkoop (dmv voorafverkope) om n beduidende gedeelte van die aanvangskoste te delg nie. Dit kos miljoene rand net om tot inslaan van erfpenne te vorder en indien verkope dan traag is, dan is die kapitale uitleg op n finansieel rampspoedige pad. Daarom, by gebrek aan privaat waagontwikkelaars, is die Dorpsraad verplig om self kapitaal iewers te bekom ten einde die behoefte aan te spreek. Met die Karoosigerwe is dus hard probeer om juis daardie bottelnek oop te breek en is daar nou erwe in verskeie prysklasse beskikbaar. Tweedens is my oortuigde mening dat ons landelike atmosfeer regtig nie bedreig word nie. Natuurlik kan mens nie n stad bou sonder om enigiets prys te gee nie- iewers moet grond geneem en die natuur, onafwendbaar, versteur word. Die vraag is dan waar? Die groengebied (soos in die gees van die GOP beskryf) kan uiteraard nie aan geraak word nie, en anders as wat enkelinge dink, is dit ook nog nie aan geraak nie. Ontwikkeling in gebiede neffens die groengebied wek ook van hierdie mense weerstand en as mens dan ook nie op landbouhoewes mag ontwikkel nie, waar kan ons dan? En dit is nie so eenvoudig as om te se gaan ontwikkel daar op die harde, dorre kalkvlaktes nie, want hoeveel mense gaan daar wil bly? Dan is die koste nog nie eers bereken nie,- dit kan erfkoste, wat reeds, by gebrek aan subsidiering, baie hoog is, selfs verdubbel! Ek dink regtig ons moet begin ontspan en aanvaar dat om n paar duisend mense hier te vestig gaan beteken dat goeie, aanliggende en bekostigbaar-ontwikkelbare grond daarvoor opgeneem sal moet word.Dit help ook nie ons het die wereld se groen- en landbougebiede en geen mense nie. Bowendien is ons omring met duisende hektaar besproeiingsgrond sowel as kontinentale afmetings Karoovlaktes. Om die paar (onproduktiewe, en sal waarskynlik nog dekades onproduktief bly) hoewes later te vervang met ander aan VKN-kant, sal regtig nie moeilik wees nie. Ons eerste uitdaging, wat nou is, is om mense te vestig. En om te se dat die gees van die GOP dood is, is sommer goedkoop kwaadwilligheid,- ek is oop vir n gesprek in my kantoor daaroor. Daar is immers nog nie een vierkante milliemeter van afgewyk nie, en daar was nog nooit eers so n aansoek nie. Ons koester almal ons lieflike landskap en handhaaf verantwoordelike vooruitgang, ten spyte van enkele negatiewieteitsoekers.
Dankie vir die samevatting. Een vraag: hoe staan dit met internetverbinding? Is daar konneksie vir almal en wat is die snelheden?
Ons wil by Orania inwoon en daar mombly. Wat moet onsdoen om inwoning tebekom.
Beste Veronica, stuur ‘n epos aan my by inligting@orania.co.za, dan stuur ek die nodige inligting vir jou.
Groete
Sebastiaan