Verwoerd-gedenklesing: HF Verwoerd en Swart Onderwys: `n Slagveld van ideologieë (Deel 2)

iverwoe001p1

iverwoe001p1

Gevallestudie 3:  Die Universiteit van Fort Hare (1973-2000)

Situasie: Die Universiteitskollege van Fort Hare word in ‘n volwaardige moderne universiteit omskep met grootskaalse uitbreiding van infrastruktuur en opleidingsgeriewe. Rewolusionêre selle word meer aktief met optredes van protes, vernietiging, intimidasie en aksies wat tot die besering en dood van studente gelei het.

In Augustus 1973 het ek diens aanvaar as lektor by die Universiteit van Fort Hare in Alice in die Department Afrikanistiek van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Ek sou verantwoordelik wees vir die afdeling Argeologie en moes ook Antropologie doseer.

Fort Hare is in 1847 opgerig om voortdurende konflik aan die Oosgrens te stabiliseer. Dit is ironies dat ek skaars by die universiteit aangeland het toe daar hewige studente-onrus uitgebreek het. My ontmoeting met die rektor, professor De Wet, waartydens ek sou verneem dat ek my huis op Fort Beaufort moes verkoop om na  Alice te verhuis waar al Fort Hare se personeel woonagtig was, is gekanselleer. Dit het toe nooit plaasgevind nie. Ek vermoed die rektor se sekretaresse het vergeet en ek het in Fort Beaufort bly woon. Die gebeurtenis was simbolies van die onseker werksomstandighede wat vir ‘n groot deel van die 26 jaar wat ek by Fort Hare was, geheers het.

‘n Verdere voorbeeld van die ideologiese kragte wat werksaam was,  is ‘n waarskuwing wat ‘n aantal van die universiteit se personeel, met my ingesluit, ontvang het nadat ons by ‘n HNP-tak op Fort Beaufort aangesluit het in 1977. Ons moes kies tussen partylidmaatskap en ons werk. Die rektor het dit persoonlik en afsonderlik aan elkeen van ons in sy kantoor meegedeel. Uiteindelik is almal, behalwe ek, na poste elders. Ek het gedink my doppie was geklink maar het besluit om te wag en kyk wat gebeur. Ek het aangebly vir nog 23 jaar.

Dit was aangenaam om met die studente te werk en die geleentheid was daar om veldwerk te doen. Daar is van dosente verwag om, behalwe klas te gee, navorsing te doen en te publiseer. Die Departement se begroting was ruim met al die toerusting  wat benodig was, tesame met ‘n voertuig.

Daarbenewens kon die navorsingsresultate vir verkryging van  verdere kwalifikasies gebruik word. Ek het bevoorreg gevoel. Die Departementshoof was prof. Eddie de Jager, ‘n bekende Antropoloog en kenner van Afrikakuns. Op sy inisiatief is die afdeling Argeologie ingestel, asook ‘n museum vir Afrikakuns opgerig. Weens veranderde werksomstandighede na 1994 het hy ‘n senuwee-ineenstorting gehad en het nooit weer na Fort Hare teruggekeer nie. Hy was ‘n sensitiewe, kunssinnige persoon met baie inisiatief en het veral met nagraadse studente moeite gedoen.

Die Fort Hare van 1973 se kampus het bestaan uit drie hoofgeboue waar lesingkamers, dosente se kantore en die biblioteek en teekamer was. Die administrasiegebou was aangrensend. Die ingeslote area was as “Freedom Square” bekend. Daar was ook koshuise, ‘n saal en storekompleks. Die staat het toe begin met groot besteding aan uitbreiding op die kampus. Nuwe fakulteitgeboue met moderne lesingsale, ‘n nuwe biblioteek, nuwe koshuise, ‘n groot sportkompleks, ‘n groot saal vir gradeplegtighede en ander byeenkomste is opgerig. Daar was ‘n landskapontwerp vir die hele kampus. Dit was ‘n universiteit om op trots te wees. Rhodes-studente wat voor die kampushekke kom betoog het teen die Wet op Afsonderlike Universiteitsonderwys, was seker jaloers op die kampus wat mooier as Rhodes s’n was.

Met die opgradering van die kampus is baie historiese oorblyfsels daarby ingeskakel. Daar was ook ‘n groot prehistoriese steentydperkafsetting en ‘n 1000 jaar oue geraamte van ‘n swart vrou is in die uitgrawings gevind. Vir my Argeologiestudente was dit ‘n ideale opset om praktiese werk te doen, soos vereis vir hulle kursusse. Tydens ‘n vergadering op die kampus is daar een van die groot vroeë steentydperkhandpikke wat op die opgrawingsterrein gelê het, deur die saal se venster gegooi. Een teorie van navorsers vir hulle gebruik was dat die pikke deur prehistoriese mense wel as projektiele gebruik is.

In 1973 was Fort Hare onder die toesig van Unisa t.o.v. leerplanne en eksamens. Vraestelle is in Afrikaans en Engels opgestel. Alhoewel meeste studente Afrikaans tot ‘n mate magtig was, was dit geensins voldoende vir gevorderde akademiese studies nie. Engels was die taal van hulle keuse, alhoewel hulle veel beter in Xhosa presteer het.

In Antropologie 1 was normaalweg 20% van die studente se Engels glad nie voldoende om die werk te bemeester nie. Studente wat aan Engelse privaatskole studeer het, het gewoonlik goed presteer en was verbaal beter. Die lesings met gevorderde studente in kulturele Antropologie was interessant want hulle was nou bewus van die gerigte akkulturasieprosesse waaraan hulle onderworpe was. Hulle kon by ‘n Westerse onderwysstelsel aanpas en presteer sonder verlies van identiteit.

‘n Honneursstudent het my vertel dat sy pa, ‘n predikant in ‘n Christelike Kerk, soggens diens hou vir sy gemeente maar smiddae familierituele uitvoer vir die voorvaders. Dit gebeur dikwels by Xhosa-christene dat hulle kulturele aspekte van hulle eie en die ander kultuur selekteer volgens die geleentheid. ‘n Ander student het besonder sleg in ‘n toets gevaar. Hy het nie eens sy naam geskryf op die antwoordstel nie. Omdat daar min studente was, kon ek maklik uitvind wie dit was. Toe ek hom daaroor inroep, was sy verskoning dat ‘n bose gees van hom besit geneem het. Die gees het die toets geskryf. Hy het gevra dat hy toegelaat word om self die toets te skryf. Ek het hom toe ‘n hertoets laat doen, waarin hy redelik gevaar het.

Ter wille van vakke se standaard moes finalejaarstudente se vraestelle en antwoorde, asook die van nagraadse studente aan eksterne eksaminatore voorgelê word. Ten spyte van kritiek teen Fort Hare as ‘n afsonderlike universiteit het Engelstalige universiteite tog, wanneer nodig, hulp verleen in gevalle waar ‘n student  ‘n studieonderwerp  gekies het in ‘n rigting waarin by die Engelse universiteit ‘n spesialis was. In sy Honneurs het ‘n student besonder belanggestel in die ystertydperk. Prof. Revil Mason van Wits, ‘n ystertydperkspesialis, het die student op een van sy projekte gebruik waaroor hy dan sy vereiste artikel geskryf het. Die Departement het sy koste betaal. ‘n Vrouestudent wat belanggestel het in fauna-identifikasie, kon ek vir ‘n maand na die Transvaal Museum stuur om deskundige opleiding te ondergaan. Studente het my tydens vakansies gehelp met my opgrawingsprojekte terwyl nagraadse studente onder toesig opgrawings moes doen. Van die studente se werk is gepubliseer en het ‘n bydrae tot die argeologiese kennis van die gebied gelewer. ‘n Besondere bydrae was ‘n student se bevinding dat ‘n swart stam reeds 700 n.C. naby die huidige Oos-Londen gewoon het.

Nadat die Ciskei in 1981 onafhanklik geword het, het die RSA-regering Fort Hare se fondse in ‘n afsonderlike fonds geplaas. Dit is waarskynlik dat die besteding aan swart studente per student nie veel minder was as die van wit studente nie.  Alhoewel Fort Hare vir Xhosa-sprekende studente gereserveer was, het ek wit uitruilstudente uit Holland en ook wit personeel van Fort Hare in my klasse gehad. Studente uit ander Afrikalande het ook ingeskryf. Die beleid was dat, waar moontlik, swart akademici, indien hulle gekwalifiseer was, in poste aangestel word. Akademiese poste het egter administratiewe verpligtinge meegebring en daarin is dikwels tekortgeskiet. By die spoedige afhandeling van Honneurs- artikels en MA-verhandelings was studente soms moedeloos as daar na ‘n jaar se verloop nog nie terugvoer gegee is nie.

Terwyl daar druk op personeel geplaas is om hulle self verder akademies te bekwaam en navorsing te doen en te publiseer, is hulle toegelaat om konsultasiewerk vir buitekliënte te doen. Personeel van die Departement Regte het hofsake hanteer en die Departementshoof het as die rektor se raadgewer opgetree in regsake. ‘n Indiëradvokaat in die departement het personeellede met arbeidsgeskille teen die universiteitsowerheid gehelp. Die Fakulteit Landbou se personeel was besonder bedrywig met opheffing en advies aan die omliggende gemeenskappe.

Studente het teen dosente opgetree om verskeie redes, onder andere vir swak eksamenuitslae. In sulke gevalle is ‘n optog na die dosent se kantoor gehou met toi-toi en gesang. In een geval was ‘n sangoma vooraan. Die dosent moes die kampus summier verlaat. Sy loopbaan is kortgeknip omdat die universiteitsowerheid nie sy veiligheid kon waarborg nie. So eenvoudig soos dit. Die dosent het dan sonder werk,  maar met betaling, by die huis gesit vir ‘n lang tydperk totdat daar ‘n reëling met die universiteit getref kon word. Sulke gevalle was veral na 1976 meer algemeen toe die rewolusie begin spoed kry het. “Liberation before education” was die slagspreuk van die swart Bevrydingsbeweging van Steve Biko.

Daar was rewolusionêre selle aktief op die kampus. Daar is plaaslik opleiding gedoen en studente is gewerf vir opleiding in Afrikalande, selfs Rusland, waarna hulle as insurgente teruggekeer het. ‘n Student van my het as ‘n offisier in MK teruggekeer en is in die SANW opgeneem. Hy is met ‘n wit vrou getroud.

Na die Ciskei se onafhanklikheid in 1981 was Charles Sebe, broer van Lennox Sebe, hoof van die CDF en was verantwoordelik om protesaksies te hanteer met die ondersteuning van die SAP. Studente-onrus met gepaardgaande geweld en vernietiging het ‘n patroon gevorm. Die redes was uiteenlopend. Tydens een optog het studente hulle kos teen die mure van die administratiewe geboue gegooi. Dan weer was ontevredenheid met eksamentoelating of toelating tot die universiteit ‘n rede. Intimidasie het ‘n groot rol gespeel. Wit uitruilstudente uit Holland het saam probeer toi-toi maar het die ritme gekort. Die meeste studente sou verkies om met hulle studies aan te gaan want tot ‘n maand het soms verlore gegaan en boonop was studente eers huis toe gestuur om af te koel. Dan het hulle weer teruggekom vir hertoelating. Terwyl ek een keer so ‘n dansende, singende groep dopgehou het, het ek een van my studente raakgesien. Hy het dit agtergekom en vir my geknipoog. Die tragedie is dat familielede dikwels al hulle geld gegee het om studente Fort Hare toe te stuur. Daar was groot vreugde wanneer ‘n student suksesvol was.

‘n Vrouestudent in Argeologie het besluit om die oproep om te staak te verontagsaam. Sy het vir ‘n hele maand my klas alleen bygewoon, wat ek volgens opdrag moes gee. Toe die protesaksie verby is het sy opgehou om te kom. Ek het navraag oor haar gedoen en gehoor sy is in haar slaapkamer verwurg. Spyt kom te laat. Ek moes nie vir haar klas gegee het vir haar eie veiligheid nie. Vandag onthou ek haar as ‘n gesette, vriendelike, pligsgetroue persoon.

Na die onafhanklikheid van Ciskei in 1981 het Charles Sebe, broer  van Lennox Sebe, eerste minister van die Ciskei, beheer oor die  CDF gekry en moes hy protesaksies by Fort Hare hanteer. Tydens ‘n gradeplegtigheid was ‘n protesaksie van studente aan die gang met baie getoi-toi, terwyl die akademiese optog voor die saal gevorm het. Charles Sebe se manne het beskerming verleen en by die akademici gestaan. Binne die saal het die gradeplegtigheid goed verloop en ouers en familie en vriende het jillende die gelukkige studente toegejuig. Die sang en geraas het harder geword. Skielik was daar geweerskote en die geluid van hardlopende voete. ‘n Student was gewond. My nabyliggende argeologiese stoor het ‘n koeëlgat in die muur gehad.

Nadat die Sebe-bewind beëindig is op 2 Maart 1990, deur ‘n staatsgreep van Oupa Gozo, het daar grootskaalse vernielings van industrieë plaasgevind. Belangrike veranderings vir Fort Hare het gevolg wat werksonsekerheid weer na vore gebring het. Die beheerstruktuur bestaande uit prof. Don Lambrecht (rektor), prof. Dermont Moore (viserektor) en dr Anthrobus (registrateur) is na Bisho, die Ciskei se hoofsetel, ontbied en summier uit die Ciskei gesit. Hulle het vir ‘n tyd hulle werksaamhede vanaf Fort Beaufort probeer doen maar is uiteindelik met finansiële vergoeding uit Fort Hare se diens.

Ek het na die toespraak van FW de Klerk in Februarie 1990 oor my motorradio geluister op die kampus. Die vryheid van politieke gevangenes en ontbanning van verbode organisasies was vir my ‘n onregverdige beloning vir die anargie, verwoesting en dood wat ons moes aanskou.

Die beheer oor CDF-troepe was onder verdenking. Tydens ‘n buitengewone gewelddadige betoging, gepaardgaande met die verbranding van voertuie, het die personeel vroegtydig die gebied verlaat. Die volgende oggend het die toneel in die pad voor Fort Hare herinner aan ‘n oorlogstoneel met uitgebrande wrakke en bande. By die sien daarvan het ek gevoel asof ek griep onder lede het. Die CDF het van die pad af in die terrein ingevuur met gewere en ‘n student is gedood.

‘n Jaar later was daar ‘n hofondersoek na die insident. Ek is as getuie geroep omdat ek die plek gevind het vanwaar met ‘n R4 geskiet is en het die patroondoppies as bewys opgetel. Ook het ek die trajek gevolg van die koeëls en ‘n gat deur een van die kantoorvensters regoor die skietposisie gevind. Die hof het verdaag en die toneel besoek. In die kantoor, met die koeëlgat in die venster, is die projektiel in ‘n stukkende boek in die boekrak gevind. Die dosent het nooit daar skoongemaak nie. Nogtans het werksaamhede steeds voortgegaan. Ek het steeds klasgegee, soos al die ander, navorsing het aangegaan, maar studente het hulle prakties plaaslik gedoen om onrusgebiede te vermy.

Geen dosent het egter meer snags op die kampus gewerk nie. Ystertralies en diefwering het nou verskyn. Ek het ‘n uitgang aan die agterkant van Fort Hare se omheining geïdentifiseer en het ‘n groot boutknipper saamgery indien ek vinnig moes padgee. Een wit personeellid, Stoffel Erasmus, ‘n rekenaarkundige, is om die lewe gebring. Niemand is sover ek weet gearresteer nie. Een van my senior studente is in die gesig geskiet deur ‘n veiligheidswag en was vir lank afwesig.

Daar het insidente van harde geweld begin voorkom. In ‘n dagboek het ek geskryf:

“24 April 1994,  Crako  Fort Hare,

Tyumibrug, 3x aanvallers, 2x handgranate, R4 en AK47.”

Die aanval was naby die slaapvertrek van ‘n Fort Hare-dosent en sy vrou. Ek het hulle die daaropvolgende oggend besoek. Die gesin en twee klein kinders was besig om in die spens in te trek vir ‘n slaapkamer. Enkele dae later het nog vier handgranate op Fort Hare ontplof.

Op 23 Maart 1994, omstreeks 16:00, het ek agtergekom dat Fort Hare se hekwagte weg is. Daar was ‘n gevoel van onveiligheid en dat daar geen beheer is nie. Aan die anderkant van die Tyumirivier het ‘n groot groep swartes gestaan. Op pad na Fort Beaufort was daar ook groepe mense in die veld bymekaar.

Ongeveer middernag het ek en ‘n inligtingsoffisier die Ciskei ingegaan. Daar was geen CDF-personeel of polisie in sig nie. Fort Hare se hekke het oopgestaan. Daar was geen beheer nie.

In ‘n dagboek het ek geskryf:

“24 Maart 1994 0100

Kmdt Comley

Sers-majoor Schutte

Lt De Wet

GP 7 tak HK

Berei voor vir ops in Ciskei

Beweeg 1200”

 

Afloop en slot

Dit was die einde van die Verwoerdera. Die nag is al die CDF-basisse deur die SAW oorgeneem. Ciskei was weer deel van die RSA. Die stryd om beheer van Fort Hare is nie op die kampus verloor nie maar op ‘n hoër vlak, in die politiek.

Die voorgaande gevallestudies toon dat daar deurgaans ‘n positiewe groei in swart onderwys was ten spyte van rewolusionêre optredes. Dit kan toegeskryf word aan die stewige grondslag wat deur dr.HF Verwoerd se onderwysfilosofie daargestel is. Daar was altyd beheer, of beheer kon gou herstel word. Die verandering in beheer na 1994 het demoraliserend ingewerk op alle vlakke van die onderwys. Talle hofsake is gevoer weens onregverdige arbeidspraktyke. Befondsing van projekte, infrastruktuur en ander opvoedkundige behoeftes is drasties verminder. ‘n Groot aantal onderwysers en dosente het die beroep verlaat vir ander beroepe, of is aangemoedig deur gunstige pakkette.

Ongeag die veranderinge het daar dikwels ‘n vertrouens-verhouding tussen leerling en onderwyser, asook student en dosent, ontwikkel wat oor jare gehandhaaf is. Dit was ‘n akkulturasieproses wat na beide kante gewerk het. Huidige onrusbarende tendense in Suid-Afrika se onderwysstelsel gaan kritici van dr. Verwoerd opnuut laat kyk na sy onderwyssisteem vir oplossings.

Die vlugtelingkrisis en sy implikasies

‘n Boek wat reeds in die 1973 deur die Fransman Jean de Raspail geskryf is, “Le Camp des Saints” (in Afrikaans vertaal as “Omsingel die Laer van die Heiliges” en deur die Oranjewerkers in 1990 uitgegee) het destyds die huidige situasie, waar miljoene arm vlugtelinge uit die derde wêreld op Europa toesak, skrikwekkend akkuraat voorspel. Die verskil is wel dat destyds Indiërs as die groot stroom vlugtelinge aangesien is, en dit nou veral Arabiere en in ‘n mindere mate swart mense van Afrika is wat op Europa toesak. Die reaksie van Europa is egter treffend voorspel: die elite in politiek en media basuin verwelkomingsboodskappe uit en beskou die vreedsame inval as verryking, terwyl die gewone mense dit vir soetkoek opvreet alhoewel hulle instinkte hulle laat aanvoel dat groot moeilikheid kom. Diegene wat waarsku teen die inval word in die vêrregse hoe gestel en deur hulle eie volksgenote beveg en stilgemaak, eers deur die mag van die media, later selfs deur militêre mag.

Vir kulturele marxiste en haters van die eie (oikofobie) bied die vlugtelinggolf die kans om uiteindelik die utopiese nie-rassige, nie-godsdienstige, multi- of nie-kulturele droomwêreld te verwesenlik, wat hulle as jong hippies in Indië gesoek het. Min besef egter dat die toenemende invloed van Moslems in Europa juis die teendeel meebring, naamlik ‘n sterk godsdienstige, aggressiewe, repressiewe en patriargale samelewing, juis die nagmerrie vir links-liberales.

Die boek skets ook die huidige tweeslagtigheid van die vlugtelinge treffend: elke vlugteling is ‘n mens wat jy as individu uit jou hart uit jammer kry en hom of haar nie kan verkwalik dat hulle van ellende wil ontsnap en ‘n beter lewe in Europa soek. As massa word hulle egter ‘n angswekkende, apokaliptiese monster en vernietig alles wat in hulle pad staan sonder dat enige iemand daardeur gehelp word.

Die hedendaagse media is lief daarvoor om aangrypende verhale van gesinne of individue en al die ontberings te vertel wat hulle moet deurgaan om dalk uiteindelik in Duitsland, Swede of Frankryk ten minste in ‘n vlugtelingkamp ‘n lewe te hê wat meeste Westerlinge as straf sou beskou. Maar as ‘n mens dan kyk na video’s van woedende vlugtelinge, veral jong mans, wat aggressief die grensheinings bestorm, dieselfde mense wat ‘n dag gelede moeg en uitgeteer oor groot afstande en in die son gestap het, dan besef ‘n mens ook die gevaar wat van ‘n massa uitgaan. Sowel die linkse, eensydige fokus op die individuele noodlot asook die regse beskouing van die mense slegs as ‘n massa vreemdelinge skiet te kort.

Die Weste sit met ‘n dilemma. Met sy eie morele hoërgrond van ‘n klem op menseregte en die reg op asiel vir politieke vervolgdes kan die Weste nie nou terugval op ‘n beleid van suiwer eie belang en skouers ophaal vir wat met die vlugtelinge gebeur nie. Hongarye doen in ’n mate dit deur sy grense vir migrante te sluit (alhoewel steeds derduisende vlugtelinge in Hongarye in vlugtelingkampe is) en word daarvoor deur die EU-leierskap en die media uitgeskel. Hongarye se leier Victor Orban maak egter geen geheim van sy ongemaklikheid met die massiewe invloei van veral Moslems nie en tref ‘n onderskeid tussen Christen-vlugtelinge (wat in elk geval die mees vervolgde groep is) wat wel geakkommodeer en selfs geassimileer kan word en Moslems, wat Europa se kultuur en waardes uitdaag. Om egter onderskeid tussen mense te tref is vir die EU-leierskap en die media die ergste sonde denkbaar. Duitsland doen die teendeel, naamlik om almal met ope arms te verwelkom. Die land ervaar nou reeds die grense van sy kapasiteit om almal te akkommodeer. Dit is die een ding om van die verhoog af “Willkommenskultur” (‘n kultuur van verwelkoming van vreemdes) te preek, ‘n ander een om dit in praktyk te laat werk. Sonder die groot getalle vrywilligers wat hulle harte en beursies en selfs hulle huise vir vlugtelinge oopmaak sou die Duitse regering lankal moes toegee dat hulle meer afgebyt het as wat hulle kan verteer.

Van die eens hoogdrawende ideale van die verenigde Europa waar alle besluite gesamentlik geneem en uitgevoer word, is skielik min oor. Die gekoesterde ideaal van oop grense binne die Schengen gebied (die grootste deel van die EU) is deur die instel van grenskontroles, wat deur die vlugtelingsbewegings nodig geword het, ‘n kishou toegedien. In die vlugtelingspolitiek tree skielik elke land in eie belang op, wat heeltemal verstaanbaar is. Vir klein, vreedsame en homogene Oos-Europese lande wat ekonomies sukkel is derduisende kultuurvreemde mense, boonop Moslems, ‘n nagmerriesenario. Vir Duitsland is dit blykbaar iets wat hulle verwelkom, alhoewel ook nie almal in die bevolking die amptelike siening deel nie. Terwyl die een land sy grense sluit, stel die ander een dit oop. Van die Dublin-ooreenkoms, wat bepaal dat die EU wat vlugtelinge en asielsoekers betref gesamentlik optree en asielsoekers in die eerste land wat deel van die EU is geregistreer word, is niks meer oor nie.

Dit word skielik duidelik dat die lomp superstaat Europese Unie nie die probleme waarmee Europa gekonfronteer word, kan hanteer nie, maar dat die state op hulle eie dit wel kan doen. Reeds met die Griekse krisis het dit duidelik geword. Die EU het niks gedoen om die vlugtelinggolf te keer of in geordende bane te lei nie en toe moes state, teen kritiek en verdoeming van die EU-leiers, self optree om hulle te beskerm, soos Hongarye wat sy grense sluit en omhein en aanvallers afweer en ander state wat die voorbeeld in mindere mate navolg deur weer grensbeheer toe te pas.

Wat beteken dit alles vir ons? Die konserwatiewe uitgangspunt, wat ook die volkstaatgedagte onderlê, word nou bevestig, naamlik dat goeie grense goeie bure maak, dat klein, etnies homogene state of gemeenskappe beter funksioneer as lomp, multi-kulturele eenhede, dat die Christelike godsdiens die basis van ‘n goeie beskawing is (en dit is nie toevallig dat feitlik alle Moslemlande gewelddadig en agterlik is nie) en dat volke self besluite oor hulle lot moet neem en dit nie aan ‘n nie-verkose super-staatlike instelling kan oordra nie (soos die EU-kommissie).

Stadigaan begin Europa se leiers en volke besef wat behoudende organisasies en persone in Suid-Afrika en elders al lankal verkondig het maar wat nie geglo is nie: dat die onbeheersde instroming van mense wat nie geassimileer kan of wil word nie en wat tot oorheersing deur vreemdelinge lei, nie kulturele verryking nie maar verval en konflik beteken.

 

 

 

 Vlugtelinge

Verwoerd-gedenklesing: HF Verwoerd en Swart Onderwys: `n Slagveld van ideologieë (Deel 1)

iverwoe001p1

iverwoe001p1

INLEIDING

Vyftig jaar het verloop sedert die ontydige dood van dr HF Verwoerd. Daar is tekens dat meer gebalanseerde beskouings besig is om in te tree oor sy bydrae tydens sy ampstermyn as Minister van Naturellesake en later as Eerste Minister van Suid-Afrika. Nogtans word sy vestiging van gesegregeerde onderwyssisteme op grond van ras en etniese verskille steeds verdoem. ’n Uitspraak van dr. Verwoerd in 1953 met die formulering van die Wet op Bantoe-onderwys, wat die resultaat was van die Eiselenkommissieverslag 1952, word steeds op die internet en in skoolhandboeke gebruik: “There is no place for the Bantu in the European Community above the level of certain forms of labour. What is the use of teaching the Bantu child mathematics when he/she cannot use it in practice?” Die hardnekkige volharding met hierdie aanhaling is onbegryplik omdat daar soveel voorbeelde is van swart studente van Afrikalande en Suid-Afrika wat onder hierdie wet studeer het en op talle terreine leiersfigure geword het. Dit is ook bloot moedswillig om te beweer dat swart skole ‘n belangrike vak soos Wiskunde uit die leerplanne sou laat.

Sedert 1953 was daar egter ’n omvangryke dinamiese sisteem vir swart onderwys geskep gebaseer op die Departement van Bantoe-onderwys (1958) en sy opvolger die Departement van Onderwys en Opleiding (1980). Die doel was om kwaliteit onderwys aan swart kinders te gee binne eie gemeenskappe en met eie behoeftes. Onderwys sou in samehang met ‘n holistiese gemeenskapsont-wikkelingsproses plaasvind. Gemeenskappe sou verantwoordelikheid aanvaar vir onderwys. Hierteenoor was opgestel ’n verskeidenheid magte, binnelands en buitelands, wat onderwyssegregasie op grond van etniese en rasseverskille verwerp het. Verset daarteen is aangemoedig en aktief ondersteun deur die mobilisering van skoliere en  studente. Interne intriges en politiekery by onderwysinstellings het die owerhede se taak nog verder bemoeilik. Na 1976 het die sluimerende rewolusionêre magte met geweld losgebreek, met groot ontwrigting en vernietiging. Uiteindelik kon verset in swart onderwys ‘n belangrike bydrae lewer tot die rewolusionêre magsoorname in die RSA.

Sentraal aan die uitvoering van die NP-regering se swart onderwysbeleid was daar duisende wit onderwysers en amptenare. Vasgevang in ‘n spervuur van regerings- handelinge en rewolusionêre aksies het onderwysers, kollege- en universiteit-dosente voortgegaan om diens te lewer, dikwels onder moeilike en selfs gevaarlike omstandighede. Statistiek vir die tydperk 1954-1994 weerspieël betekenisvolle tendense. Die menslike drama onderliggend aan die syfers is egter baie kompleks met verskillende storielyne.

Hier is my storie wat natuurlik subjektief is maar nie van mindere waarde nie. Soos studente gepoog het om verwestering en westerse formele onderwys te versoen met ‘n sterk bewustheid van ‘n eie etniese identiteit moes ek self ‘n balans vind tussen ‘n gevoel van afgryse met die vernietiging van eiendom en menselewens wat ek moes aanskou en ‘n gevoel van waardering vir die uitnemende prestasies van sommige studente en die meerderheid studente wat maar net wou studeer te midde van ‘n ontluikende rewolusie. In wese was hierdie rewolusie ‘n sielkundige oorlog wat ten doel gehad het om die geestelike weerbaarheid van diegene wat die Verwoerdiaanse onderwyssisteem moes bevorder, te vernietig. In hierdie lesing  word 3 swart onderwysinrigtings, waar ek  oor verloop van 33 jaar betrokke was, as gevallestudies gebruik om aan te toon hoe die sielkundige aanslag toegeneem het tot in 1994  maar, ten spyte van skade en ontwrigting, nie suksesvol was nie tot en met verandering van die staatsbestel.

 

Gevallestudie 1: Hoërskool Hebron en Onderwysopleidingskollege (1966-1967)

Situasie: Vestiging van ‘n holisties-westerse onderwysstelsel vir swart kinders vind plaas sonder effektiewe teenstand.

In 1965 het ek aansoek gedoen vir ’n pos in die Departement Bantoe-onderwys. Na ’n onderhoud met amptenare van die Departement is ek ‘n assistentpos in Wiskunde en Wetenskap aan die Hoërskool Hebron, ‘n swart skool naby Pretoria-Noord aangebied. Onder andere moes ek ‘n vraag beantwoord oor my siening van die regering se swart onderwysbeleid. Ek kon dit bevredigend doen want ek het gesê dat ek daarmee saamstem. Dit was die regte antwoord. Die regering, met dr. Verwoerd as eerste minister, was stewig in die saal. Swart onderwys het in relatiewe vrede gegroei tot byna 2 miljoen skoolgaande kinders. Net 4% het egter matriek geslaag. Omvattende uitbreidings op alle vlakke was op hande. As beroep was onderwys ‘n goeie keuse. Die aanvangsdatum van my diens was 24 Januarie 1966. Ek onthou dit goed want my dogter Zani is vroegoggend in ons huis in Melville, Johannesburg, gebore. Ek moes die vroedvrou (’n verpleegster) bystaan en het eers 10:00 se kant by die skool opgedaag.

My eerste indrukke was van geboue in ’n bosveldomgewing met twee rye klaskamers vir die hoërskool, met ‘n saal en klaskamers vir onderwysopleiding. Die terrein was netjies want leerlinge werk smiddae aan tuindiens. ‘n Byna onnatuurlike stilte het geheers, met leerlinge wat lê en slaap het op hulle arms. Hulle het gewag vir boeke wat eers ‘n week of wat later gekom het.

Hierdie was Tswana-gebied. Die hoof het Tswana vlot gepraat. Die meeste van die swart personeel en skoliere was Afrikaans goed magtig. Skoliere het Engels verkies. Skoliere wat groot Engelse woorde gebruik het en goed taalvaardig was, is toegejuig. Klasse is in Afrikaans of Engels aangebied. ‘n Meningspeiling is een oggend onder leerlinge gehou of hulle Engels in die hoër -of laergraad wou volg. Met beide opsies was universiteitsvrystelling moontlik. Die moeiliker hoërgraad is verkies.

Die senior assistent vir Wiskunde het ’n B.Sc. Honneurs gehad en het vir die matrieks klasgegee. Ek was verantwoordelik vir die laer Wiskundeklasse en het ook Wetenskap gegee. Standerd 8-eksamens was ekstern. Die klasse het ±30 skoliere elk gehad. Verduideliking in Afrikaans of Engels het langer geneem as by wit kinders in hulle moedertaal.

Die klasroetine was gesamentlike opening met godsdiens soggens, pouses, toetse, eksamens, buitemuurse en sportaktiwiteite. Die atletiekbyeenkomste was soos wat ek gewoond was in wit onderwys. Die dissipline was goed en lyfstraf is toegepas vir oortredings. ’n Stelsel van klaskapteins het met dissipline gehelp, iets wat die klaskapteins soms hardhandig toegepas het. ’n Meisie in my klas het ‘n toegeswelde blouoog gehad. Die ander kinders vertel my toe dat die klaskaptein dit gedoen het want sy wou nie sy opdrag uitvoer nie.

By ons aankoms het die skoolhoof onmiddellik aangebied dat ek sy huis op die terrein kon kry want hy wou in Pretoria-Noord gaan bly. Dit sou my help want ek het elke dag van Johannesburg af Hebron toe gery. Dit was my eerste gewaarwording van onderliggende magte in die skynbaar vreedsame gemeenskap. ’n Personeellid deel my later mee dat ‘n Poqo-sel op die skool beplan het om die hoof om die lewe te bring. Die plan het egter bekend geword toe ‘n poging om telefoondrade te knip misluk het. Die skuldiges is tydens ‘n oggendopening gearresteer. Poqo is in die vroeë 1960’s deur die PAC gevorm en was die voorganger van APLA.

Om te help met verduidelikings in die lesse het ek ’n kursus by Unisa in Tswana geneem. Leerlinge het my gehelp met die uitspraak en met die skryf van opstelle. Daar was ook reeds pogings van die Departement Bantoe-Onderwys om woordelyste op te stel vir Wiskunde en Wetenskap. Daar was leerlinge wat die  wiskunde vinnig gesnap het. Een meisie wat besonder goed presteer het in Wiskunde, is ongelukkig deur ‘n voertuig doodgery. ‘n Leerling met die naam van Paulus het besonder swak gedoen in Wiskunde en kon dit net nie verstaan nie. ’n Oorsese maatskappy het Paulus as tegnikus gewerf vir opleiding as horlosiemaker. Hy het aangesluit, is in Switserland opgelei en het besonder goed gevaar.

Hebron is vir my ‘n voorbeeld van die sukses wat  bantoe-onderwys tot op daardie stadium bereik het. Ideologiese ontkenning hiervan het tot rampspoed gelei. Terugskouend was my toetrede tot swart onderwys by Hebron ‘n aanpassing by ‘n vreemde en  interessante wêreld.  Hierdeur het ek meer begrip en waardering gekry vir die gerigte akkulturasieproses waaraan die studente onderworpe was. Moedertaalonderrig was tot st. 6. ‘n Mens kon die verwildering op die kinders se gesigte sien toe hulle by ’n radikale nuwe leefwêreld moes aanpas met hulle toetrede tot die hoërskool. Die sprong was groot en so ook die uitsaksyfer. Moontlik is die aanpassingsproses versag omdat die leerlinge grotendeels ’n homogene groep was.

 

Gevallestudie 2: Hoërskool Healdtown en Onderwyskollege (1968-1973)

Situasie: Die stewige basis van swart onderwys in die ontwikkeling van gemeenskappe werp vrugte af. Leerlinggetalle groei en grootskaalse verbetering van infrastruktuur word begin. Verbanne poltieke organisasies begin met gestruktureerde weerstand.

In die begin van 1968 het ek ‘n pos by Hoërskool Lovedale gekry maar is twee maande later na Healdtown gestuur omdat daar nie ‘n Wiskunde-onderwyser was nie. Dit was my werksomgewing vir die volgende vyf  jaar. Beide Lovedale en Healdtown het reeds in 1947 groot onluste onder die studente beleef. Hierdie tradisie sou vir die volgende paar jaar met ‘n verhoogde tempo voortgesit word. Oudstudente het aktiviste soos Nelson Mandela, Robert Sobukwe en Raymond Mahlaba ingesluit. In 1969 het die OAE sy Lusakamanifes bekendgestel waarna die paramilitêre vleuels van die verbanne poltieke organisasies gestig is. Swart onderwys het ‘n fokuspunt geword.

Healdtown is geleë in die ou Oosgrensgebied waar histories die Rarabe Xhosa- stam gebly het wat in agt grensoorloë betrokke was. Na 1858 is daar egter by Healdtown deur die Kaapse regering ’n aantal Fingo-nedersettings gevestig. Die stigting van ’n sendingstasie en ambagskool was deel van Sir George Grey, Kaapse Goewerneur se beleid om vrede op die Oosgrens te bewerkstellig. Die woonkwartier, waarin ek en my gesin moes bly, was op die skoolterrein omdat al die huise deur personeel beset was. Die hoeksteen van die kompleks is deur Sir George Grey gelê. Die regering het die skoolgebou van die Metodiste Kerk oorgeneem maar die kerk was nog steeds vir die koshuise verantwoordelik, asook die sendingstasie se tuine.

Op die dag van my aankoms by Healdtown om aan te meld, was daar ‘n groot atletiekdag op die rugbyveld, waar ek ook die personeel ontmoet het. Ek het ‘n goeie indruk van die dag se organisasie gekry met die leerlinge in netjiese skooldrag. Rugby is ‘n belangrike sport in die Ciskei en daar is gereeld wedstryde op die veld gespeel.

Healdtown was bekend as een van die prestigeskole in die land. Mnr. Kaboet Rousseau was skoolhoof. Die aantal skoliere in 1968 was 761 in die sekondêre afdeling. Die wit en swart personeel het afsonderlike personeelkamers gebruik. Die wit personeel was oorwegend Afrikaanssprekend en het in huurhuise op Healdtown gewoon maar ook in nabygeleë Fort Beaufort. Sommige van die swart personeel het by van die Fingo-gemeenskappe in die omgewing gewoon. ‘n Groot seunskoshuis was op die skoolterrein en die meisieskoshuis verder weg.

Onderrig moes afwisselend plaasvind in Afrikaans en Engels. Ek het net Engels vir onderrig gebruik want die Xhosa-leerlinge se taalvaardigheid was beswaarlik voldoende in Engels en nog swakker in Afrikaans. Om lesse beter te verduidelik het ek begin om basiese Xhosa by Fort Hare se taallaboratorium te leer. Daar is soveel woorde afgelei uit Engels en Afrikaans, dat ‘n gebruikstaal moontlik was. Die onderwyser verantwoordelik vir Wetenskap tot matriek was onder my toesig. Sy laboratorium was goed  toegerus en sy matriekuitslae redelik. Die matriekeksamen is afgelê in die Nasionale Senior Sertifikaat en die skool se gemiddelde slaagsyfer was ongeveer 60%. In Wiskunde was die slaagsyfer swakker maar van die leerlinge het individueel goed gedoen.

Longise Nongxa het tussen 1800 kandidate in 1972 die hoogste punte in albei vraestelle in Wiskunde in die Nasionale Senior Sertifikaateksamen behaal. Afgesien van ‘n stukkie papier met sy eksamennommer en punte daarop van die Departement is daar nêrens melding van sy prestasie gemaak nie. Hy was ‘n begaafde persoon wat later uitstekend met sy studies aan Fort Hare gevaar het in ‘n tyd toe protesaksies en klasontwrigting studenteprestasies begin benadeel het. Hy het sy studie aan Oxford voortgesit tot op doktorsvlak. Terug in die RSA het hy verskeie akademiese poste beklee, onder andere was hy rektor van Wits. ’n Ander leerling van dieselfde klas, prof. Tom, ’n medikus, het rektor van Fort Hare geword en het selfs ’n besoek aan Orania gebring.

Daar is ‘n begin gemaak met die verskaffing van gratis handboeke. Die boeke moes weer teruggegee word vir die volgende jaar se skoliere. Dit was ‘n opvoedingsproses om die boeke in ‘n goeie toestand terug te kry, iets wat reeds van laerskooldae af aangeleer moes gewees het. Volgens beleid moes swart personeel opgelei word om metteryd die wit personeel se verpligtinge oor te neem. In die praktyk was die uitvoering nie so maklik nie, veral waar dit finansies betref. Ek het my verpligting om die atletiekbaan voor te berei vir die jaarlikse byeenkoms oorhandig maar moes dit ’n dag voor die byeenkoms inderhaas gaan doen.

Xhosa-seuns word tradisioneel tydens ’n reeks simboliese rituele as mans geïnisieer op die ouderdom van 16 jaar. Dit is ‘n baie belangrike etniese merker. Vir ’n projek in Volkekunde het ek besluit om navorsing oor inisiasie onder die Fingo te doen en het as gevallestudie van my senior  leerlinge gebruik. Dit behels onder andere besnydenis met ‘n assegaai waartydens die seun uitroep: “Ek is ’n man!”  Die bewende kaal lywe van die inisiante het vir my die krag van kultuur en identiteit werklikheid gemaak. Jaarliks lei die inisiasierituele tot ‘n groot aantal sterftes en verminkings. Onder my kontrolegroep was deur nie een sterfte nie. Ek het egter vermoed dat die pa’s aan sommige seuns medisinale stroke gee om saam met tradisionele gifblare as verbande te gebruik.

Na 1969, met die bekendstelling van die Lusaka Manifes deur die OAE, is paramilitêre vleuels gestig van verbanne swart politieke organisasies. Swart onderwys was een van die fokuspunte. Die skoliere van Healdtown kon hieraan nie ontkom nie. Sporadiese onrus en beskadiging van eiendom het voorgekom. Skynbare legitieme redes is dikwels voorgehou, veral koshuisaangeleenthede.

Die patroon was gewoonlik dieselfde. ’n Groep ontevredenes kom saam, vergader nog ander by hulle deur intimidasie, gaan na die meisieskoshuis en kom terug waarna klippe gegooi word. In een geval het ek toesig gehou in ’n klas waarin dogters met aandstudie besig was toe ons in die verte dreunsang hoor. Ek het nog probeer agterkom wat aangaan toe die dogters opspring en kaste voor die vensters en deure stoot. ’n Groot groep seuns het naby in die skaduwee van die bome gestaan met drie personeellede ±30 meter verder weg en het die Boere sleggesê. ’n Groot klip is uit die groep met ’n boog gegooi. Dit het enkele meter van die personeel af geland, gerol en by een se voet gaan lê. Daar was ’n stilte en die leerlinge het weer begin sing en terugbeweeg. In ‘n ander geval is ‘n personeellid se nuwe motor deur klipgooiers beskadig terwyl hy wegjaag. Die skool het die herstelkoste betaal. In gevalle van ernstige onrus het ek my gesin Fort Beaufort toe geneem en later teruggekeer om die skade te aanskou.

Met die laaste matriekafskeidfunksie wat ek bygewoon het in 1972, is daar groot moeite gedoen om die saal voor te berei vir die matrikulante en hoogwaardigheidsbekleërs. Almal was daar wat genooi is op die bestemde tyd, behalwe die matrieks wat die verrigtinge geboikot het. Ons het nie geweet waaroor nie. Dit was ‘n groot verleentheid. Dit is vandag duidelik dat hierdie handelinge mobilisering was vir ernstiger optredes na 1976. Een vleuel van die kompleks is toe afgebrand en die instelling was disfunksioneel tot dit later weer opgeknap is.

Ek het Healdtown besoek na die brandskade. Die huis waar ons gebly het, is deur vandale gestroop van deure en vensters. Dit was aardig om die uitgebrande klaskamers, waar ek skoolgehou het, te sien. Die skoolbanke se ysterrame het op die grond onder die uitgebrande vloer gelê, nog steeds in rye. Die swartbord met die laaste onderwyser se handskrif was nog teen die muur. Deur die venster van my herinneringe sien ek die leerlinge en die personeel opgestel voor die gebou staan vir elke dag se openingseremonie.

Healdtown, soos baie swart onderwysinstellings in die tyd, het koverte rewolusionêre selle gehad wat vir die vernietiging van eiendom verantwoordelik was. Hierdeur is die onderwys van talle leerlinge ontwrig en moontlik nie weer hervat nie.

Uitgestelde oorwinning vir die Ottomane

the_battle_viennaTwee belangrike gebeure uit die geskiedenis van Europa is die afgelope paar dae stil-stil herdenk. Die een is die einde van die beleg van Malta op 11 September 1565 en die ander die Slag van Wene op 12 September 1683 wat ook die beleg van dié stad deur die Ottomane beëindig het.

Vir eeue lank het Christen-Europa ‘n stryd gevoer teen die aanslag van die Ottomaanse Moslemwêreld. Die Kruistogte gelei deur die Katolieke Kerk het reeds in die elfde eeu die stryd teen die aanslae van Ottomaanse invalle in die Westelike Mediterreense streek en in Anatolië, vandag se Turkye, gevoer.

Vir eeue daarna sou Christelike Europa die een stryd na die ander voer om te verhoed dat die vasteland onder Ottomaanse beheer kom. Die einde van die Groot Beleg van Malta in 1565 was ‘n belangrike mylpaal in die stryd teen Moslemoorheersing in Europa. Die Ottomaanse aanslag is daardeur in die suide gestuit. Sowat 6000 Christensoldate uit Malta, Italië, Spanje, Frankryk, Duitsland, Griekeland en Engeland het vir vier maande ‘n aanslag deur 48 000 Ottomaanse soldate weerstaan. Nadat 130 000 kanonkoeëls afgevuur is en tussen 30 000 en 35 000 Turke gesneuwel het, is die Ottomane op 11 September 1565 verdryf.

Kort daarna het die Ottomane egter hul stryd vir die Moslemoorname van Europa voortgesit. Gedurende die sewentiende eeu is groot dele van Oos-Europa deur die Ottomane oorgeneem. Na die val van Hongarye het die Ottomaanse magte tot in vandag se Oostenryk beweeg. Die outonome stad Wene is in 1683 onder beleg geplaas. Dit het Christen-Europa genoop om soos nog nooit vantevore saam te kom om die Ottomane uit te dryf nie. Magte van die Heilige Romeinse Ryk het vir die eerste keer saam met magte uit Pole en Litoue saamgewerk om die Ottomane te verdryf. Gedurende die slag van Wene op 11 en 12 September 1683 is 30 000 Europese Christene deur die Ottomane om die lewe gebring. Die gekombineerde magte uit die weste, noorde en suide van Europa was egter so sterk dat die Ottomane op 12 September 1683 verslaan en verdryf is. Hongarye is kort daarna herower.

Sou die Ottomane die Slag van Wene wen sou Sentraal-Europa onder Moslem beheer gekom het en sou Wes-Europa waarskynlik ook kort daarna geval het. Die teenoorgestelde het egter gebeur en vir meer as drie eeue kon Europa sonder veel aanslae voortgaan om die vesting van ‘n Westerse, Christelike beskawing te wees.

Vandag is Europa egter weer onder beleg. Hierdie keer is dit egter nie bloeddorstige Ottomaanse magte wat met geweld Europa uit die suide en ooste binnedring nie, maar wel onwettige immigrante en vlugtelinge wat opsoek na ‘n beter lewe oor Europa begin spoel. Met ‘n reeds verswakte Christendom in Europa lyk dit toenemend dat die Christene se sukses op 11 September 1565 in Malta en op 12 September 1683 in Wene, ongedaan gemaak kan word. Teen die huidige immigrasiekoers sal Europa binne die volgende dekades ‘n Moslemvasteland word. Min Ottomane sou in 1683 verwag het dat sukses uiteindelik in die 21-ste eeu sou kom.

Moedertaalonderrig groot verloorder by Maties, Elsenburg

elsenburg-protestDie drama wat tans by die Universiteit van Stellenbosch heers lei nie net tot die ontwrigting van klasse en die aanranding van studente nie. Open Stellenbosch se veldtog om erkenning vir nie-Afrikaanse studente se taalregte te kry kan, indien hulle suksesvol is, `n groter agterstand vir hulle ondersteuners tot gevolg hê. Neem as voorbeeld die kompromie by die landboukampus Elsenburg – die Universiteitsbestuur en die EFF het ooreengekom dat twee afsonderlike groepe klasse in onderskeidelik Afrikaans en Engels onderrig sal word. Alhoewel enkele van die betogende studente op Elsenburg en Stellenbosch dalk gemakliker is om in Engels onderrig te word as in Afrikaans is hulle moedertaal dikwels eerder Xhosa.

`n Verslag wat jare gelede reeds deur die Verenigde Nasies opgestel is stipuleer die belangrikheid van onderrig in `n persoon se moedertaal. So het die dogter van hoofman Siphiwo Mdledle van die Mnyameni-gemeenskap in die Oos-Kaap al aan Oraniërs verduidelik dat die onderrig by hulle plaaslike skooltjie slegs tot in Graad vier in Xhosa mag plaasvind. Daarna moet die kinders in Engels onderrig word. Dink hier aan `n Oos-Kaapse gemeenskap wat deur berge omring is.  Daar is nie groot winkelsentrums, rolprentteaters of ander Hollywood-invloede wat sommige Suid-Afrikaners se aksente na die van `n wafferse yank laat klink nie. Dit is `n tradisionele, plattelandse gemeenskap waar selfs televisie `n skaarsheid is. `n Gemeenskap waar pa, ma, boetie, sussie, maatjie en pastoor almal Xhosa praat. Om daardie kinders te dwing om in Engels onderrig te word is, om die minste te sê, onbillik.

Dieselfde geld vir `n boerseun uit Malmesbury waar almal waarmee hy te doen kry, sy familie, vriende, die plaaswerkers, slegs Afrikaans praat. Dus is `n Engelstalige beleid ten koste van inheemse tale soos Xhosa of Afrikaans nie `n kompromie nie maar eerder `n tragiese verskynsel wat almal behalwe die Engelse studente tot nadeel strek. Dit terwyl daar reeds `n University of Cape Town om die draai is. Die huidge veldtogte by Maties en Elsenburg laat mens dus eerder dink aan die English Only-beleid van Britste Imperialiste wat na die Anglo-Boereoorlog geheers het as `n veldtog deur diegene wat beweer dat hulle die ware vaandeldraers van Afrika is.

Beteken dit egter dat kinders van Mnyameni of selfs plattelandse Afrikaanse gemeenskappe moet nie ander tale magtig wees nie? Geensins. Dit is belangrik om gemaklik in ander tale te kan kommunikeer – ook in Engels. Dit is egter makliker om `n tweede, derde, of meer tale aan te leer sodra jy gemaklik is met jou eie taal. Daar rus `n groot verantwoordelikheid op die gebruikers van Afrikatale om dié tale te bevorder , ook as akademiese tale, en nie die knie voor Engels te buig nie.

Verlies aan tusseninstellings lei tot nuwe populisme

2445349021Leef ons in ‘n era van nuwe populisme? Dit is die vraag wat talle politieke kommentators die afgelope tyd hulself afvra. In die Verenigde State van Amerika sien ons hoe die gewildheid van Donald Trump steeds toeneem. Hy loop vêr voor in die stryd om die Republikeinse Party se kandidaat vir volgende jaar se presidentsverkiesing te word. Die afgelope paar dae sien ons egter ook dat hy begin voorloop teen die Demokrate se kandidaat Hillary Clinton. Selfs 25% van swart Amerikaners steun hom in ‘n onlangse peiling. Republikeine is bekend daarvoor dat hulle nie eers 10% van die swart stem in Amerika kan kry nie. Donald Trump verteenwoordig die toenemende verwerping van gevestigde politieke belange en stelsels. Hy verwoord die diepe frustrasie van gewone landsburgers wat sien hoe ‘n elite van politici in Washington D.C. saam met regters wat lewenslange aanstellings in die howe geniet, die land in ‘n rigting neem waarmee hulle nie tevrede is nie.

Aan die anderkant van die Atlantiese Oseaan, begin dieselfde gebeur. Later hierdie week sal ons hoor wie die nuwe leier van die Arbeidersparty in Brittanje is. Jeremy Corbyn, ‘n ekstreem-linkse sosialis gaan na alle waarskynlik die party se nuwe leier word. Corbyn se gewildheid staan net soos dié van Trump in die teken van ‘n verwerping van die gevestigde politieke orde. Corbyn se boodskap is net soos dié van Trump verpak in ‘n pakket van populisme en maklike, duidelike stappe waarvan die gewone mense hou.

In die VSA, Engeland, maar ook talle ander lande waar populistiese individue en politieke partye veld wen staan die ou gevestigde poitieke magte met afgryse en kyk hoe hulle hul greep verloor. Historici  skryf hierdie tendens toenemend toe aan die verlies van tusseninstellings. Die afgelope paar dekades het ons gesien hoe die krag van veral kerke en vakbonde in Westerse lande in duie begin stort het. Gewone mens is vir lank deur hierdie instellings verteenwoordig. Vandag staan burgers weerloos in ‘n kat en muis-verhouding met hul regerings. Aangesien gewone mense voel dat hulle nie meer ‘n invloed op die politieke stelsel kan uitoefen nie omdat alle politici en politieke partye eintlik maar dieselfde taal praat en dieselfde belange verteenwoordig, gryp mense nou populistiese persone wat die huidige orde uitdaag aan.

Die Amerikaanse skrywer, Pat Buchanan, skryf verlede week dat globalisering se impak nou eers werklik gevoel word. Meer as een derde van poste in die Amerikaanse vervaardigingsbedryf het die afgelope 10 jaar verlore gegaan. Amerika is vandag totaal afhanklik van ingevoerde gebruiksgoedere wat tot enorme handelstekorte lei. Intussen is ‘n nuwe korporatiewe en finansiële elite gevorm wat ‘n sterk houvas op die politieke stelsel gekry het. Groot kerke in Westerse lande beskik nie meer oor die vermoë om politieke besluite te beïnvloed nie. In die privaatsektor in die VSA het vakbondlidmaatskap van 33 persent in die 1960’s tot minder as 7 persent vandag gedaal.

Terwyl die populisme en die koms van Trump, Corbyn en andere ‘n tydelike sweempie hoop vir Amerikaners en Britte bied, moet Afrikaners ons tusseninstellings soos kerke, burgerregte-organisasies en vakbonde koester.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel