Wat werk betref is meer as die helfte ekonomies aktief (59%). 63 % van mans en 42% van vroue het ‘n vaste werk en 8% van mans en 4% van vroue ‘n tydelike werk. Van die ekonomies nie-aktiewe deel is sowat 20% pensioenarisse, 11 % huisvroue en 6% skoolgaande kinders. Die res (4%) is ongeskik om te werk (minder as 1%), kry ‘n toelaag (2%) of soek werk (1%). Hierdie syfers lyk baie beter as in ander vergelykbare dorpe met omtrent ‘n derde van die bevolking werkloos of afhanklik van toelae.
Inkomste en salarisse in Orania is betreklik laag in vergelyking met stede en dit is waarskynlik die hoofrede hoekom so baie Afrikaners wat graag hier sou wou wees nie die stap om te trek neem nie. Die gemiddelde huishoudelike inkomste is om en by R6400. Dit is toe te skryf daaraan dat hier geen groot maatskappye of staatsinstellings is wat hoë lone betaal nie. Weereens moet Orania ook met sy omgewing vergelyk word. Die gemiddelde inkomste is hoër as in dorpe in die omgewing, selfs as dot met ‘n redelik welvarende dorp soos Vanderkloof (met ‘n aansienlike Afrikaner-bevolking) vergelyk word.
As ons kyk na die griewe wat inwoners het, vak dit op dat veral die gebrek aan mediese dienste, beskikbaarheid van behuising en lae lone uitstaan. Misdaad, gebrek aan vermaak en werkloosheid daarteenoor is amper weglaatbare griewe, terwyl ons kan aanvaar dat dit in ander dorpe waarskynlik die hoof griewe is. Die genoemde griewe is egter alles dinge wat aangespreek kan word en ook aangespreek word. Sedert die sensusopname (einde 2014) het die mediese situasie aansienlik verbeter met die inrigting van die Oramed-sentrum met ‘n voltydse algemene dokter en ‘n oogkundige. ‘n Tandarts gaan blykbaar ook in die afsienbare toekoms hier vestig. Wat behuising betref vorder die Soetdoring woonstelle vir gesinne fluks en sal volgende maand die eerste persone daar intrek. 8 nuwe gesinswoonstelle wat om en by 25 mense kan vestig sal binnekort bydrae om die behuisingsdruk te verlig. Ook die uitsit van goedkoop, gedienste erwe in Kleingeluk vir selfbou het gehelp om meer mense in ordentlike behuising te vestig. Dit is moontlik gemaak deur die Steen vir Steen projek van die Helpsaamfonds (en alle bydraers word hiermee hartlik bedank). Wat lae lone betref sal dit ook verbeter soos wat opleidingsvlakke verbeter. Die tegniese skool behoort in volgende jaar in bedryf te kom en die probleem aan te spreek.
Volgens die sensus het Orania 127 besighede, wat merkwaardig is vir ‘n dorp met slegs 1100 inwoners. Vroeër is besighede dikwels van die huis af bedryf en was oor die hele dorp versprei, met die nuwe regulasies van die Dorpsraad word besighede in hoofsaaklik twee areas gekonsentreer, in Orania-Wes teen die provinsiale pad, en in die nywerheidsgebied/S-blok op die randjie. Dit is ook opvallend hoe divers die besighede is, hier is in feitlik elke kategorie ‘n besigheid. Die meeste besighede is in die kategorie handel (17%), daarna volg gelykop landbou en toerisme (10% elk).Let wel, die hoeveelheid besighede per kategorie sê egter niks oor die aantal werknemers of die omset nie. Dit word ook bevestig deur die feit dat meer as die helfte (57%) van besighede eenmansake is, met beslote korporasies (20%) die tweede meeste. Besigheid moet egter volhoubaar wees, en die reël van die duim is dat ‘n besigheid na 3 jaar gewoonlik sal oorleef en groei. Slegs 6% van besighede is minder as ‘n jaar oud, 37% bestaan tussen 1 en 4 jaar, 24% is tussen 5 en 9 jaar oud en 33% 10 jaar of ouer. Dit wys ook dat die verskynsel van die beginjare, waar talle besighede opgegaan en weer gesterf het, nie meer so prominent is en daar groter vastigheid is. Dalk is dit ook omdat besigheidstigting weens meer regulasies, en ‘n skaarste aan geskikte persele nie meer so maklik is nie. Dit word ook bevestig deur data wat wys dat meeste besighede aansienlike kapitaal, met immers 63% met ‘n kapitale uitleg van meer as R100 000 (en 10% met 5 miljoen en meer).
Enige plek wat besighede wil trek en wil behou moet kyk na sy voor- en nadele en daaraan werk om dit te verbeter. Vir besighede is die voordele om besigheid in Orania te doen die nabyheid aan kliënte, geskikte persele, lae misdaad en plaaslike toeganklikheid. Ook goeie infrastruktuur en dienslewering deur ‘n effektiewe dorpsraad speel ‘n rol. Arbeid is egter van die nadelige faktore, sowel die beskikbaarheid en kwaliteit van arbeid wat nie na wense is. Ook die afstande na die verskaffers toe en die geografiese afgeleënheid en min kliënte wat deurbeweeg (in vergelyking met stede) is nadelig. Aan laasgenoemde kan ons min doen, behalwe deur in die toekoms meer dienste en produksie wat spesifiek op besighede in Orania gerig is, hier te vestig sodat minder na die sentrums gery moet word. Reeds verkry amper die helfte van besighede hulle voorraad binne in Orania en is ook amper die helfte van kleinte van binne Orania. Om lokalisme te laat werk moet dit egter nog meer word. As Orania groei tot ‘n klein stad, sal dit meer en meer die sentrum van die omgewing word (wat tans nog Hopetown is) en ook heelwat kliënte trek wat tans nog nie Orania toe kom vir besigheid nie. Die arbeidsituasie sal baie verbeter met die inbedryf neem van die opleidingsentrum. Bemoedigend is verder dat meeste besighede groei eerder as om te krimp, sowel wat omset, produksie, arbeid, markaandeel en ruimte betref. Verder is besigheidsvertroue in Orania sterk, met 38% wat uitstekende vertroue het en 45% wat goeie vertroue in Orania se besigheidsomgewing het.
Wat die werknemers per kategorie betref werk meeste mense in konstruksie (veral mans), toerisme en gasvryheid (meesal vroue), handel (meesal vroue), landbou (meesal mans), dorpsraad en gemeenskapsdienste (meesal vroue), onderwys en telekommunikasie (meesal vroue). Dit is opvallend hoe die arbeidsprofiel in Orania oor die jare verander het. In die begin was “manlike” bedrywe soos landbou, konstruksie, vervaardiging en herstelwerke besonder prominent en daar was min werksgeleenthede vir vroue. Intussen het toerisme, handel, telekommunikasie en administrasie en onderwys as groeibedrywe bygekom en werk is veral vir vroue geskep. Dit word ook weerspieël deur ‘n behuisingsprojek spesifiek vir vroue (Nerina-woonstelle) en ‘n dagsorgsentrum. By die “manlike” bedrywe het die landboubedryf wat vir lank die grootste werk- en inkomsteverskaffer was sy plafon bereik weens toenemende meganisering en gebruikmaking van kontrakteurs (uit Orania), terwyl vervaardiging en tegniese dienste matig groei en konstruksie van krag tot krag gaan.
Die persepsie dat werk in Orania sentraal staan (soos versinnebeeld deur die embleem van die “Klein Reus”) word ook bevestig deur die feit dat meer as die helfte (57%) van werkendes meer as die standaard 8 ure per dag werk.
Goed dat jy die hoofpunte uitlig. Mens mis soms sekere dinge as jy net die verskag lees, agv massas data daarin vervat
Ek is baie opgewonde oor die vooruitstrewendheid van Orania.
Ek kyk reeds vir n’ geruime tyd na watter soord besigheid ek kan vestig in Orania om volhoubare werk te skep.
Ek is van plan om in November te kom kuier en te kyk na behuisings opsies en besigheids grond.
Groete aan almal.
Beste Gert,
dankie vir jou positiewe gesindheid. Besoek ons gerus, ons sal jou graag op ‘n gratis begeleide toer neem wat vir jou reeds ‘n aanduiding sal gee hoe en waar jy ‘n geleentheid vir jouself kan skep.
Orania is nou gereed om die grootste “Skool” in die land te word.
Kyk net wat gebeur met ons Afrikaanse skole in die res van die land. Buitendien was daar net ‘n paar landbou skole in die ou daë gewees. Meeste van hulle is tot niet, en die res is besig om uitmekaar te val. Die studente by daardie skole het en moes van oor die hele land daarheen “verhuis” om dit te kon bywoon.
Dit sal ‘n reuse finasiële inspuiting vir Orania beteken.
Arnold.Ek stem saam met jou dink net n universiteit soos Pukke .Ons kinders word van oral af soontoe gestuur. Ons betaal duisende rande vir privaatskole vir ons kinders,want jou kind bly jou belangrikste belegging.
As daar koshuise ens gebou word, saam met dit moet eetplekke,vermaak,motorhawe ens alles gevestig word om in studente se behoeftes te voorsien,saam met al die dinge word meer werk geskep.
Waarom n Akedemie in Pretoria bou wat maar net weer aangeval gaan word omdat dit kamtig rassisties is kyk bv nou in Elsenburg.
Ons kinders kan dan sonder dreigmente die beste opleiding in Oranie kry.