Friedrich Nietzsche het gesê: “Alle dinge is onderhewig aan interpretasie; die interpretasie wat op enige gegewe tyd aanvaar word, is die funksie van mag en nie ‘waarheid’ nie.”
As Christene wat in die bestaan van ʼn objektiewe waarheid glo, is daar ʼn legio redes waarom ons nie van Nietzsche se observasie mag hou nie, maar dit beteken egter nie dat sy observasie verkeerd is nie. Die feit dat iets – enigiets – op ʼn sekere manier BEHOORT te manifesteer, is nie ʼn versekering dat dit wel so sal manifesteer nie.
Inteendeel, nêrens is sy observasie so aktueel soos by regspolitieke kwessies nie. Soms is daar ʼn groot verskil tussen wat met wetgewing beoog word en wat die werklike gevolge daarvan mag wees – dink byvoorbeeld aan soveel opheffingsprogramme wat eerder mense in ʼn staat van afhanklikheid dompel as wat dit hulle ophef.
Wanneer Orania dan aan die hand van hierdie realiteit wil organiseer en ons toekomsplanne beraam, is dit belangrik om die volgende drie lesse van die geskiedenis te verreken.
Les 1: Mag is die ondersteuning wat jy kan mobiliseer en nie die ondersteuning wat jy kan tel nie.
Dit het die ANC by uitstek vir ons geleer. In haar boek, People’s War: New Light on the Struggle for South Africa, sit Anthea Jeffery deeglik uiteen hoe die ANC met sy gewapende stryd nie net die regering geteiken het nie, maar veral ook politieke opponente soos die IVP. Selfs nadat die ANC in die vroeë 1990’s ontban is en in die aanloop tot die 1994-verkiesing, is die “People’s War” teen politieke opponente juis verskerp om hulle houvas oor die swartdiskoers te verstewig.
Ook toe die onderhandelings by CODESA ʼn dooiepunt bereik het, was dit COSATU met sy “shop stewards” wat sy lede gemobiliseer het tot die massastaking van 3 – 4 Augustus 1993, wat die regering gedwing het om terug te gaan tafel toe en sekere toegewings te maak.
Terwyl die ANC mettertyd ʼn organiese mobiliseringsmag ontwikkel het, het die staat die setel van Afrikaners se mobiliseringsmag geword. Dit opsigself verklaar die Afrikaner se hopelose posisie ná 1994. Dit is daarom nie eintlik die Afrikaner se getalle wat hom ná 1994 magteloos gelaat het nie, maar eerder sy onvermoë om enige ondersteuning vir sy saak effektiewelik en doelgerig te mobiliseer. Aangesien die Afrikaner hoofsaaklik rondom staatsfunksies gemobiliseer was, het die regeringsverandering ʼn totale magsverlies beteken. Die ontbinding van die kommando’s dien as voorbeeld hiervan, want sonder die staat wat mobilisering inisieer, kon feitlik geen Afrikaner-instelling hierdie netwerk mobiliseer en as private sekuriteitsmaatskappy organiseer nie.
Uiteraard sal Afrikaners se ideologiese onderbou en Christelike karakter die aard van ons mobilisasie bepaal en sal dit daarom in wese verskil van die ANC se bloedvergieting en teenproduktiewe aksies.
Wanneer ons die Orania-gedagte dan wil versterk, is die vraag daarom nie soseer hoeveel ondersteuners ons het nie, maar eerder hoe ons ons bestaande ondersteuners kan mobiliseer. Is ons ondersteuners betalende lede van die Orania Beweging? Maak hulle bydraes tot die Groeifonds en Helpsaamfonds? Is hulle betrokke by projekte op Orania en is hulle aktief besig om Orania onder hulle vriende en familie te promoveer?
Les 2: Die strewe na meer seggenskap en groter selfstandigheid is daarom ʼn magsvraagstuk en nie ʼn politieke vraagstuk nie.
Aanvaar ons dat mag die vermoë is om te mobiliseer, strook dit noodwendig dat jou vermoë om te mobiliseer direk verband hou met jou vermoë om jou planne suksesvol tot uitvoering te bring en ook dat jou mobiliseringsmag die skaal van jou planne bepaal.
Toe Orania se nuwe strategie, wat behels om die dorp eerstens tot stad te ontwikkel, aangekondig is, het dit kritiek van ons lojale ondersteuners uitgelok wat wou beweer dat die groter idee daardeur versaak sou word. Die punt is egter dat wanneer ons in terme van mag dink, niks ons verhoed om groot te droom nie, maar dat ons altyd seker moet maak dat ons planne altyd aan uitvoerbaarheid gemeet moet word.
Vanuit die mags- en uitvoerbaarheidsparadigma benader, is dit gevolglik net logies dat die totstandbringing van ʼn Afrikanerstad enige groter aspirasies sal voorafgaan – juis omdat die Tweede Afrikaner, anders as die Eerste Afrikaner, ʼn hoofsaaklik verstedelikte volk is.
Die vraag of ʼn federale bestel in Suid-Afrika tot stand gebring kan word – daar waar die huidige staat graag wil sentraliseer – is daarom nie soseer ʼn vraag oor hoeveel stemme ʼn federaalgesinde party op homself kan verenig nie, maar eerder hoe gemeenskappe in praktyk gemobiliseer en federalisties georden kan word.
Netso ook met die droom van ʼn soewereine Afrikanerland – die haalbaarheid hiervan is afhanklik van die mobilisasie van die ondersteuners binne ʼn uitvoerbare raamwerk. Gegewe dat die grootste gros ondersteuners hiervan nie eers konsensus kan bereik oor waar só ʼn staat moet wees nie, kom mobilisering binne ʼn uitvoerbare en werkbare plan nie eers ter sprake nie.
Wanneer Orania dan sy regmatige plek binne die Afrikaner se toekomsdiskoers wil inneem en ʼn leidende rol wil speel in die herdefiniëring van die Suid-Afrikaanse staat, sal dit vir ons nodig wees om ons mobiliseringsmag uit te brei, sodat dit die nodige substansie aan ons aspirasies sal gee.
“If I were you, I would’ve created the reality first and then confront government with the facts.” – Adj. Pres. Thabo Mbeki aan die Volkstaatraad
Les 3: Erkenning van jou met magsverkrygde status is ʼn politieke vraag en nie ʼn regsvraag nie.
Die afgelope twee dekades is talle studies gedoen en tesisse geskryf oor die reg op selfbeskikking en sesessie. Terwyl die regsvraag rondom selfbeskikking hoogs teoreties kan wees en die kwessie van Afrikanerselfbeskikking in regsterme ʼn goeie been het om op te staan, is dit nie waar ons uitdaging lê nie, want sien, geen plaaslike of internasionale hof kan vir ons gee wat ons wil hê nie. Ons sal moet mobiliseer en die realiteit self skep.
Met die suksesvolle daarstelling van ʼn werklikheid is daar egter nóg ʼn hekkie om te oorkom en dit is erkenning en die politiek van erkenning. Die erkenning van status is slegs iets wat deur ander state en regerings verleen of weerhou word en dit impliseer die gereedheid om diplomatieke verhoudinge op te neem. Die VN is nóg ʼn staat, nóg ʼn regering en beskik daarom nie oor die mag om bepalings in hierdie verband te maak nie – as ʼn organisasie van onafhanklike state kan dit wel ʼn nuwe staat as lidland aanvaar of die geloofsbriewe van ʼn nuwe regering aanvaar, maar dit sal nie gebeur sonder erkenning van bestaande lidlande van die VN nie.
Sou ons ons beywer vir internasionale erkenning van ons reeds verkrygde status, sal dit vir ons daarom nodig wees om plaaslike en internasionale bondgenote te hê.
Dit beteken noodwendig dat ons vriendelike politieke betrekkinge met ander kultuurgemeenskappe in Afrika moet handhaaf, terwyl ons ook ons bande met ander gemeenskappe in Europa en elders versterk. Dit is juis binne hierdie konteks waarom ons skakeling met die Xhosa-gemeenskap van Mnyameni en die Suid-Tirolers vir ons so belangrik is. Dit lê ʼn goeie fondasie vir die verdere uitbreiding van ons netwerke na ander gemeenskappe in die res van Afrika en die wêreld, terwyl ons ook op hoogte moet bly van die jongste geopolitieke verwikkelinge.
Die politiek van erkenning dikteer daarom dat ons nie die Afrikaner se diskoers met roekelose, aweregse en strategies lui argumente sal bevuil nie. Orania se bestaande skakeling dien as bewys dat daar genoeg potensiële bondgenote is wat aanklank by ons saak vind en graag vriendelike betrekkinge met ons wil handhaaf, maar dan moet ons nie vir hulle ʼn verleentheid wees of ʼn meulsteen om hulle nek word wanneer hulle weer met ander gemeenskappe skakel nie.
ʼn Poging wat polities goed geposisioneer is, maar op swakkerige (tog regverdigbare) regsgronde gebaseer is, se moontlikheid tot erkenning is daarom heelwat groter as die poging wat op goeie regsgronde gebaseer is, maar polities vir meeste mense ʼn verleentheid is.
Kommunikasie met ons potensiële ondersteuners en na buite
Dit bring ons terug by Nietzsche en die rol van mag teenoor die rol van waarheid. Oraniërs is per definisie dromers en wanneer ons droom, droom ons groot en ons drome gee vorm aan ons planne. Maar wat ons ook besef, is dat ons aksies substansie aan ons planne gee, terwyl mag weer substansie aan aksies gee.
Sou ons dan met ons potensiële ondersteuners kommunikeer, besef ons dat hoewel die gewone persoon nie so noukeurig na mag kyk as wat hierdie artikel probeer doen nie, het Jan Alleman ʼn baie goeie aanvoeling daarvoor. Daarom sal die mededeling van ʼn grandiose droom van ʼn soewereine Afrikanerland meestal met twyfel ontvang word, juis omdat die droom so ver van huidige realiteit verwyder is en daar nie tekens van effektiewe magsvertoon is wat hierdie kloof kan oorbrug nie.
Orania se benadering is daarom om te werk met wat ons het en om nooit groter beloftes of aansprake te maak as wat ons weet ons sal kan lewer of effektiewelik voor kan beding nie.
Oraniërs, inwoners en uitwoners, se uitdaging is daarom om te mobiliseer en Orania se magsbasis uit te brei om te verseker dat ons nie ons drome sal versaak nie en om te verhoed dat ons vryheidstryd stagneer.
Baie goeie artikel Gawie.
Die vraag is dus: Hoe mobiliseer ons, ons mense beter?
Tweede vraag: Hoe bemark ons, ons saak beter, ook onder ons eie mense?
Afrikaners is lui om te lees en net 4 uit 100 Suid Afrikaners lees graag. Daarom sal jou baie goeie artikel nie baie afrikaners bereik nie.
Groete: Francois
Dankie Francois,
Dis twee baie goeie vrae.
Ons beplan om ons ondersteuners aanvanklik te mobiliseer rondom projekte op Orania deur die gebruik van “werksgroepe” en later aan die hand van takstrukture wat ons ook as hefbome wil inspan vir bemarking en bewusmaking in die plaaslike Afrikanergemeenskap waar dit ookal mag wees.
Is jy in?
Groete
Gawie
Hallo Gawie
Hoe gaan hierdie takstrukture werk? En wanneer ongeveer sal dit begin gebeur?
Baie Dankie
Groete
Baie goeie strategie en kan as uiters effektiewe vermenigvuldiger van skaars hulpbronne dien indien die strategie goed beplan en bestuur word.
Buiten vir hul finasiële bydrae word die kollektiewe kennis ervaring van Orania ondersteuners, wat ‘n groot potensiële hulpbron is tans, heeltemal onderbenut.
Daar is twee keuses vir enige lid van ‘n gemarginaliseerde volk of groep om weerstand te bied: of fisies (betogings, protesaksies ens)of intellektueel (deur te lees en skryf). Die 96% wat nie wil lees nie moet dus die rol van Cosatu en sy massa-aksies vervul. Om net om ‘n braaivleisvuur teenoor jou familie en vriende te kla beteken min tot niks.
Defnitief.
Ek wil amper sê dat n ou “mal” moet wees om nie in te wees nie.
Ek is siek en sat vir die RSA se 3de rangse gemors. As ek dink dat ek, dalk eerder my kinders ‘n toekoms kan hê waar hulle onbeperk kan groei, kreatief (Godgegewe gawes kan gebruik)en vry kan wees, dan kry ek hoendervleis. Om die beste te wees wat jy kan wees en om daarvoor te kan lewe. Julle hou altyd die voorbeeld van Singapoer voor, en dit is moontlik!
Hoekom nie n Afrikanerfees hou op n langnaweek in Orania om die mense te wys wat hulle mis nie? Afrikaners hou van kuier en kamp. Ek glo so n fees kan baie duisende mense lok. Ook n groot inspuiting vir die plaaslike ekonomie wees. Plus dit bied n platvorm om baie konsepte in Afrikaners se koppe te plant (aangesien hulle so sleg is met lees).
Sal binne die volgende paar dae aansluit by julle.
Groete: Francois
Ons het elke jaar ‘n lekker Karnaval en ook ‘n propvol Desemberkalender.
Ek ondersoek tans die moontlikheid vir die reël van vervoer na Orania vir van ons ondersteuners om die Karnaval by te woon.
Groete
Daar is nog te veel afrikaners wat onder die indruk verkeer dat Orania en selfbeskikking onwerkbaar is en dit lees jy gereeld op sosiale media. Die Afrikaner is hopeloos te naief en ek wonder baie keer wat moet nog gebeur voordat hulle sal wakker skrik en begin omgee vir hulle toekoms.
Baie belangrik om nywerhede op Oranie te vestig sodat mense soontoe kan verhuis, hier sit duisende Afrikaner werkloses en die enigste plek waar hy dalk geholpe kan raak is buite Orania.
Dankie Gawie, goeie artikel. Ek dink projekte is ‘n goeie idee. Ek meen egter dat daar mooi besin moet word hoe om dit te implementeer, sodat mense met goeie idees nie ontmoedig word nie. ‘n Goeie platform moet geskep word wat dit fasiliteer.
Goeie Idee Christo. Dis soos die nuwe ruimtemaatskappye in Amerika (SpaceX ens) noudat Nasa niemeer alles kan doen / wil doen nie. Plaas prysgeld neer en die beste idee wen. As ek mag vra: Wat sal / of wat is huidiglik Orania se top 5 grootste uitdagings waarvoor ‘n oplossing gevind moet word?
Ek kan aan die volgende dink:
Beste/meer idees om buitelandse valuta te kan verdien.
Idees om ‘n Uniwersiteit te finansier; ‘n Uni lok studente, net so goed soos pensionarisse; hulle bring sakgeld en getalle. Meer koshuise beteken nuwe ontwikkeling en hulle kan ook help met die landbou.
‘n Platform sal ‘n goeie idee wees.
Planne is goed en altyd welkom.
Die uitdaging – soos ek in die artikel probeer toon het – is die mobilisering van mag om ons planne tot uitvoer te bring.
Hoe sterker en meer mobiliseerbaar ons magsbasis, hoe meer omvangryk kan ons planne wees. Dalk moet ons eers fokus op kleiner makliker uitvoerbare projekte voordat ons die grotes pak.
Die risiko is dat mens vinnig met sakke vol planne sit en mense wat vir mekaar kyk om dit uit te voer.
Groete
Gawie
Ek hoor wat jy daar sê Gawie.
Kommentaar soos gepos by ‘n Artikel oor Santam se nuwe BEE transaksie op News24.
BEE, 20 Jaar na demokrasie, en vir nog 200 jaar ek is seker.
” March 17th, 2012 10:27
LONDON TIMES – QUOTE OF THE WEEK?
By haymaker
Interesting point of view Affirmative Action: “South Africa is the only country in the world where affirmative action is in the favour of the majority who has complete political control. The fact that the political majority requires affirmative action to protect them against a 9% minority group is testament to a complete failure on their part to build their own wealth making structures, such that their only solution is to take it from others.”
En vandag sien ons dit in die minimale ekonomiese groeikoers, stygende werkloosheid, misdaad en belasting, opvoeding in ‘n gemors ens.
“Finally, a word recently coined to describe South Africa’s current political situation.
Ineptocracy (in-ep-toc’-ra-cy)
– a system of government where the least capable to lead are elected by the least capable of producing, and where the members of society least likely to sustain themselves or succeed, are rewarded with goods and services paid for by the confiscated wealth of a diminishing number of producers.”
En Afrikaners is maar 60% van 9%, dus 5% van die Bevolking.
Kom ons kyk gou weer na die geskiedenis van SANLAM:
http://www.afrikanergeskiedenis.co.za/santam-en-sanlam-kom-tot-stand/
Om Orania vinnig te laat groei, is my gevoel dat dit nie in die oprigting van besighede en of fabrieke moet wees nie. Dit is ‘n hoë risiko onderneming op sy beste.
Die belangrikste plan wat gevolg moet word, is om die populasie so groot moontlik te kry. Baie mense veroorsaak dan dat daar aan hulle behoeftes voorsien moet word. Dit is dan wanneer meer winkels en ander geriewe noodsaaklik begin word.
Nou goed. Wat is die maklikste manier om mense permanent op ‘n dorp te kry as daar nie werk vir hulle is nie. Wat moet nou eerste gebeur, want dit is ‘n eier hoender probleem. My voorstel is as volg.
Veronderstel Orania bigin met ‘n universiteit, of ‘n Landbou skool of enige ander tipe opleidings fasiliteit. Ek het gelees dat daar een of ander opleidings geriewe beplan word daar op Orania.
Hoe meer studente daarheen gelok kan word, hoe vinniger gaan die plek groei. Studente het baie goed nodig.
Daar moet onderwysers aangestel word. Daar moet behuising wees. Mediese geriewe ens ens.
Orania se prioriteit moet wees om die Nuwe Stellenboch van die Volk te wees.
‘n Ordentlikke landbou skool sal ook goed werk. Die ou landbou skole is in hulle peetjie in.
Een van Orania se mees suksesvolste ondernemings tot dusvêr, was hulle uitstekende skole.
Gaan nou net groot.
Goeie voorstel, Universiteit dorpe (of dorpe of areas wat ‘n kennis fokus het) is geneig om ekonomies meer suksesvol te wees as dorpe met industrie.