fbpx

Elsenburgʼn Vurige debat heers in die Verenigde State van Amerika oor sogenaamde ‘nuwe rassisme’. Dit volg nadat ʼn swartman verlede Vrydag helder oor dag ʼn wit polisielid in Texas koelbloedig doodgeskiet het. Net ʼn paar dae vroeër het ʼn swartman in Virginia twee joernaliste, saam met wie hy vroeër gewerk het, tydens ʼn regstreekse televisieuitsending doodgeskiet. Waarom die verwysing na die twee skieters en hul slagoffers se rasse? In beide gevalle het bewyse na die insidente vorendag gekom wat daarop wys dat die aanvalle rasgemotiveerd was.

Die probleem in Amerika is dat die gesprek oor rassisme nog altyd uitsluitlik oor wit op swart rassisme gehandel het. Toe ʼn jong witman vroeër vanjaar vanuit rassistiese oortuigings by ʼn swart kerk ingestap en talle kerkgangers doodgeskiet het, is ʼn gesprek oor wit rassisme gevoer. President Barack Obama het ʼn spesiale toespraak in die Withuis oor hierdie probleem gelewer. Televisiekanale, koerante en verhoë by universiteite is vir weke deur die debat oor wit rassisme gedomineer. Na verlede week se twee insidente wat tot die dood van drie onskuldige wit persone gelei het, het Obama weer gereageer. Hierdie keer het hy egter geensins na rassisme verwys nie, maar het hy eerder verkies om Amerika se beperkte regulasies oor die beheer van vuurwapens die skuld te gee. Dit het tot woede gelei. Kommentators het begin vra: Waarom kan wit rassisme by die naam genoem en veroordeel word, maar swart rassisme is ʼn kwessie wat nie eens geopper mag word nie?

Die laaste keer wat ʼn wit verkose lid van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers ʼn rassistiese uitspraak gemaak het, het sy kollegas hom geforseer om te bedank. Toe ʼn swart lid van die Huis van Verteenwoordigers, Gwen Moore, egter verlede week ernstige rassistiese uitsprake teen die goewerneur van haar staat Wisconsin, Scott Walker, maak het nie ʼn enkele lid van haar party ʼn poging aangewend om haar hieroor aan te spreek nie.

Baie wit Amerikaners voel die afgelope tyd dat die debat oor rassisme totaal eensydig is. Meer as een peiling wys dat beide wit en swart Amerikaners voel dat rasseverhoudinge in die VSA agteruitgaan. Terwyl swart Amerikaners voel dat rassisme ʼn byna eksklusiewe wit probleem is, voel blanke Amerikaners dat rassisme ʼn meer universele probleem is wat alle rasse en kultuurgroepe raak.

Rassisme in Amerika word toenemend gedryf deur probleme met integrasie en die onvervulde verwagtinge van die swart minderheid. Swartmense voel agtergelaat en reageer negatief teenoor enige wit gesag insluitende die polisie, onderwysers en politici. Baie blanke Amerikaners voel dat geforseerde integrasie en programme om minderhede te ondersteun tot hul nadeel is. Amerika is besig om teen ʼn snelle tempo meer divers te raak en dit lei tot ʼn soeke na identiteit. Wanneer ʼn swart of wit persoon egter voel dat sy identiteit deur die stelsel ondermyn word, lei dit toenemend tot vreemde en selfs gevaarlike reaksie.

Daar bestaan parallelle tussen wat in die VSA gebeur en ons eie ervarings hier. Swart rassisme is ook toenemend ʼn werklikheid in Suid-Afrika. Die afgelope week se insidente in Stellenbosch en uitsprake deur politici is bewys daarvan. Om dit te ontken en nie daaroor te praat nie sal die probleem eerder groter as kleiner maak. Die oplossing hiervoor lê juis in ruimte vir alle kultuurgroepe eerder as geforseerde integrasie.