ʼn Nuwe finansiële krisis het die afgelope paar dae ontwikkel met aandelemarkte regoor die wêreld wat lelik pakslae kry. Sowat vyfduisend miljard dollar se waarde is reeds sedert 11 Augustus op wêreldmarkte verloor. China het op 11 Augustus sy geldeenheid, die yuan, gedevalueer, wat tot ʼn paniek op wêreldmarkte gelei het.
Terwyl aandelemarkte op byna elke kontinent verliese toon, verloor die geldeenhede van ontwikkelende lande ook spoed. Die Suid-Afrikaanse Rand het gisteroggend op sy swakste vlak ooit teen die vernaamste geldeenhede verhandel. Dit is nie net die Rand wat agteruitboer teen die Dollar, Euro en Pond nie, maar ook die Turkse Lira, die Russiese Roebel en geldeenhede in Suid-Amerika en Oos-Europa. Die Rand is egter een van die geldeenhede wat die afgelope paar dae die grootste verliese getoon het omdat buitelandse beleggers geld uit Suid-Afrika begin onttrek het.
Die oorsaak vir die huidige paniek strek verder as net die devaluering van die Chinese geldeenheid. Amerika se Federale Reserwebank oorweeg dit tans om rentekoerse te verhoog, ʼn skuif wat deur baie kenners as voortydig beskou word omdat die Amerikaanse ekonomie nog baie broos is na die onlangse bankkrisis. Griekeland se probleme en daarmee saam groot onsekerheid oor die toekoms van die ekonomieë van Spanje, Italië en Portugal, dra ook by tot die probleem.
Die hoofoorsaak vir die huidige krisis is egter die groot onsekerheid wat tans oor China se groeivermoë heers. Dit is reeds duidelik dat die Chinese ekonomie besig is om al hoe stadiger te groei. Vooruitskattings dui op groei van tussen 6 en 7 persent. Pessimiste sê egter dat dit so laag as 2 persent kan wees.
Die Chinese ekonomie het ernstige strukturele probleme. Dit is veral van die uitvoer van goedkoop gebruiksprodukte en ʼn sterk plaaslike konstruksiebedryf afhanklik. Terwyl die res van die wêreld se aptyt vir Chinese produkte taan, is die land se konstruksiebedryf besig om spoed te verloor. Sowat 15 persent van China se bruto binnelandse produk word deur die bou van residensiële eiendom opgemaak. Daar is tans ʼn skerp afname in Chinese wat huise koop. Die probleem is egter nog groter as dit. Baie munisipaliteite in China verdien tot tweederdes van hul inkomste uit fooie wat vir grond waarop residensiële ontwikkeling plaasvind, betaal word. Minder Chinese wat die middelklas betree, beteken minder residensiële ontwikkelings en dus minder geld vir basiese dienslewering.
Waarom is dit vir ons belangrik? Suid-Afrika het ʼn besonderse oop ekonomie en ons aandelemark en geldeenheid word sterk beïnvloed deur eksterne faktore. ʼn Wesenlike deel van ons aandelebeurs word deur oorsese beleggers besit. Suid-Afrikaanse maatskappye het ook groot beleggings in die buiteland. Suid-Afrika is baie afhanklik van invoere. ʼn Swak Rand maak ingevoerde goedere duur. Wanneer daar dus in die res van die wêreld ʼn krisis ontstaan, het dit ʼn direkte invloed op ons. Individue, gesinne en gemeenskappe sal hulself beter hierteen moet verskans en modelle van lokalisme en gemeenskapsgedrewe ekonomiese aktiwiteit moet weer op die agenda geplaas word. Orania kan ‘n voorloper hiermee wees omdat ons met ons eie bank, ons eie ruilmiddel en talle ander stappe reeds lokalisme begin beoefen het.
Ek is dit heeltemal eens. Hoe meer ons, ons lokale produkte ondersteun, hoe minder is mense afhanklik van die buite wêreld se markte.
Een van die belangrikste maniere wat ons dit kan vermag is om meer produkte plaaslik te produseer. Daar is ‘n paar grondstowwe wat ons baie van het plaaslik.
1. Son
2. Water
3. Grond
Produkte wat ons kan produseer met die grondstowwe is:
a. Energie met son of water
b. Voedsel
Deur te konsentreer op die soort produkte kan ons ons lokalisme verder verhoog.
Waarom moet ons energie van ESKOM kry?
Waarom moet ons ons groente van Bloemfontein kry?
Ja, goeie vraag. Is daar een van die instansies wat werk aan ‘n plan vir groter ekonomiese selfstandigheid? Ek wil nog byvoeg by die genoemde faktore die plaaslike geldeenheid Ora, wat nog glad nie sy volle potensiaal bereik het nie.
Die ora is goed en wel vir klein transaksies op hierdie stadium. As julle die ora egter will laat groei moet dit digitaal gaan soos bitcoin. Iemand kan dan vir n groot bestelling soos 10 beeste ens betaal direk op sy foon teen baie min risiko en amper geen fooie. Dit sal n groot voordeel inhou vir handelaars en sal die ora in sirkulasie veelvoudig. Die koste om ora’s uit te ruik sal ook baie minder wees. Die vermoë om enige bedrag geld oor te plaas na enige persoon direk na sy selfoon of rekenaar sonder dat n bank betrokke is het intrinsieke waarde en sal die ora laat groei buite orania se grense.
Jean. Ek stem 100% met jou saam!