fbpx

Ons sien tans ‘n domino-effek wat weereens die nadele van ‘n totaal met mekaar verweefde globale ekonomie wys. Al vir dekades rig omtrent elke land sy ekonomiese strategie op Sjina uit en probeer om by die land se geweldige ekonomiese groei baat te vind deur sy produkte na Sjina uit te voer en goedkoop produkte uit Sjina in te voer. Sjina se ekonomiese model werk tans so: die land produseer feitlik alles, veral swakker gehalte massa-produkte soos huishoudelike goed en klere, maar selfs motors. Daarvoor is rustowwe nodig waarvan Sjina self te min het en Sjina voer ook kos in want die land kan nie self sy groot bevolking wat toenemend verstedelik, voed nie. Daarby het Derdewêreld en hulpbron-gebaseerde ekonomieë gebaat soos Rusland (olie), Suid-Amerika (voedsel, minerale) en Afrika (minerale). In ruil voer Sjina alles uit wat die land produseer en maak die plaaslike nywerhede dood.

Suid-Afrika is ‘n tipiese voorbeeld: steenkool en ystererts en ander minerale word onverwerk na Sjina uitgevoer en verwerkte verbruikersgoedere word ingevoer. Suid-Afrika, eens ‘n nywerheidsland met ‘n breë produksiebasis, het gedaal tot ‘n Derde Wêreld uitvoerder van onverwerkte hulpbronne. Die ironie van die saak is dat Suid-Afrika onder ‘n ANC-regering eintlik in dieselfde koloniale afhanklikheid teenoor Sjina verval soos vroeër teenoor Brittanje en dat dit die “rassistiese” NP was wat Suid-Afrika ekonomies bevry het.

Omdat Sjina vir lank so baie hulpbronne ingevoer het en die Suid-Afrikaanse mynbedryf so goed gevaar het dat die agteruitgang van die vervaardiging daardeur oorskadu is. Nou, waar Sjina se ekonomie stadiger groei en sy aandelemarkte tuimel, word minder hulpbronne ingevoer. Om die ekonomie weer te “kickstart” het Sjina sy geldeenheid Yuan gedevalueer wat beteken dat die land se uitvoerprodukte nog goedkoper raak, maar dat minder betaal word vir invoere. Dit tref Suid-Afrika dubbeld hard. Ook ontwikkelde en opkomende lande wie se ekonomie sterk aan Sjina s ’n gekoppel is, soos Singapoer, Indonesië, Indië, Turkye en Suid-Korea het slae gekry. Al state wat nie so erg geraak word deur ‘n Sjina wat stoom verloor is gevorderde nywerheidslande, wat hoë gehalte produkte produseer waarmee Sjina nie kan meeding nie, soos spesialis tegnologie en gevorderde masjinerie, by name lande soos die VSA, Duitsland en Japan.

Die uitwerking van lae rentekoerse en die aandele-borrel tref die wêreldmarkte ook nou: die wêreldekonomie toon al vir geruime tyd tekens van agteruitgang, maar die politici en internasionale instellings soos die IMF en die Amerikaanse Fed asook die Europese Reserwebank wou die ekonomiese siklus van opgang en val en heropstanding verander in een van permanente groei deur rentekoerse tot feitlik nul te verlaag om investering aan te moedig. Pleks daarvan is te dikwels verbruik aangemoedig (wat ons ook in Suid-Afrika by uitstek in die eerste dekade na 2000 gesien het) en mense ontmoedig om te spaar. Die reserwebanke het geld beskikbaar gestel op skuld en mense het eerder as om hulle geld te bank waar hulle feitlik geen rente verdien nie, aandele gekoop. Die aandelebeurse wêreldwyd het geweldig gegroei, maar nie omdat die maatskappye so goed gedoen het nie, maar omdat te veel geld na die aandelemarkte gevloei het en ‘n kunsmatige groei geskep is sonder die nodige substansie.

Die enigste ligpunt is tans die lae olieprys, wat natuurlik ook deur Sjina se verminderde vraag, asook stabile produksie van die olielande veroorsaak word. Dit baat veral Derdewêreldlande en behoort vervoer, wat alle pryse beïnvloed, goedkoper te maak. In die geval van Suid-Afrika word die effek egter deur die swak Rand grootliks ongedaan gemaak. ‘n Swak Rand was vroeër goed vir uitvoere, maar aangesien Suid-Afrika sy uitvoerbasis so vernou het dat feitlik niks meer uitgevoer word behalwe hulpbronne en alles ingevoer word, is dit slegte nuus en maak invoere net duurder en beteken minder inkomste uit uitvoere. Toerisme kan wel by ‘n lae Rand baat maar selfs toerisme het die laaste tyd agteruitgegaan en die waardeskepping van toerisme is redelik laag en ‘n tipiese kwesbare Derde Wêreld bedryf.

Wat egter ook in gedagte gehou moet word, is dat regstellings in die vryemark normaal is. 2008 het ‘n regstelling plaasgevind weens ‘n borrel in eiendomme in die VSA wat uitgekring het na die wêreldekonomie toe. Enige mens en enige land wat skuld het, is besonder kwesbaar vir hierdie soort skommelinge. Vir ons in Orania moet die les wees om minder afhanklik van invoere te wees en om meer self te produseer, pleks om onverwerkte landbouprodukte uit te voer en verder alles in te voer. Dit was in elk geval onrealisties om te dink dat Sjina drie dekades aanmekaar groei van meer as 8% toon. Sjina begin nou ‘n vlak te bereik waar groei net nog matig is, omdat die meeste mense nou middelklasvlak bereik het en geen opspraakwekkende groei meer kan plaasvind nie. Die “inhaaleffek” wanneer ‘n Derdewêreldland verander in ‘n oorgangsland of selfs Eerstewêreldland, beteken sterk ekonomiese groei, maar as die vlak bereik is, volg gewoonlik stagnasie. Ook Japan het ’n soortgelyke scenario beleef sowat 30 jaar vroeër. Japan in die 1970’s en 1980’s was dit wat Sjina nou is. In die 1990’s was Japan se groei verby omdat die land die vlak van ‘n Eerstewêreldland bereik het. Ook die hoë skuldvlakke het Japan se groei gebriek, soos wat dit Sjina nou briek. Ook lande soos die VSA en Duitsland groei selde meer as 2% per jaar. Dit was ‘n fout om jou ekonomie ‘n satelliet van slegs een land te maak. In tye van die ekonomiese agteruitgang van moondhede soos die VSA, Rusland en die EU was Sjina die lig wat die motte aangetrek het. As Sjina nou sukkel, bly geen toevlug meer oor nie. Lande moet dalk weer besin oor hulle eie sterkpunte en minder afhanklik van uitvoer wees.thumb(6)