Gevallestudie 3: Die Universiteit van Fort Hare (1973-2000)
Situasie: Die Universiteitskollege van Fort Hare word in ‘n volwaardige moderne universiteit omskep met grootskaalse uitbreiding van infrastruktuur en opleidingsgeriewe. Rewolusionêre selle word meer aktief met optredes van protes, vernietiging, intimidasie en aksies wat tot die besering en dood van studente gelei het.
In Augustus 1973 het ek diens aanvaar as lektor by die Universiteit van Fort Hare in Alice in die Department Afrikanistiek van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. Ek sou verantwoordelik wees vir die afdeling Argeologie en moes ook Antropologie doseer.
Fort Hare is in 1847 opgerig om voortdurende konflik aan die Oosgrens te stabiliseer. Dit is ironies dat ek skaars by die universiteit aangeland het toe daar hewige studente-onrus uitgebreek het. My ontmoeting met die rektor, professor De Wet, waartydens ek sou verneem dat ek my huis op Fort Beaufort moes verkoop om na Alice te verhuis waar al Fort Hare se personeel woonagtig was, is gekanselleer. Dit het toe nooit plaasgevind nie. Ek vermoed die rektor se sekretaresse het vergeet en ek het in Fort Beaufort bly woon. Die gebeurtenis was simbolies van die onseker werksomstandighede wat vir ‘n groot deel van die 26 jaar wat ek by Fort Hare was, geheers het.
‘n Verdere voorbeeld van die ideologiese kragte wat werksaam was, is ‘n waarskuwing wat ‘n aantal van die universiteit se personeel, met my ingesluit, ontvang het nadat ons by ‘n HNP-tak op Fort Beaufort aangesluit het in 1977. Ons moes kies tussen partylidmaatskap en ons werk. Die rektor het dit persoonlik en afsonderlik aan elkeen van ons in sy kantoor meegedeel. Uiteindelik is almal, behalwe ek, na poste elders. Ek het gedink my doppie was geklink maar het besluit om te wag en kyk wat gebeur. Ek het aangebly vir nog 23 jaar.
Dit was aangenaam om met die studente te werk en die geleentheid was daar om veldwerk te doen. Daar is van dosente verwag om, behalwe klas te gee, navorsing te doen en te publiseer. Die Departement se begroting was ruim met al die toerusting wat benodig was, tesame met ‘n voertuig.
Daarbenewens kon die navorsingsresultate vir verkryging van verdere kwalifikasies gebruik word. Ek het bevoorreg gevoel. Die Departementshoof was prof. Eddie de Jager, ‘n bekende Antropoloog en kenner van Afrikakuns. Op sy inisiatief is die afdeling Argeologie ingestel, asook ‘n museum vir Afrikakuns opgerig. Weens veranderde werksomstandighede na 1994 het hy ‘n senuwee-ineenstorting gehad en het nooit weer na Fort Hare teruggekeer nie. Hy was ‘n sensitiewe, kunssinnige persoon met baie inisiatief en het veral met nagraadse studente moeite gedoen.
Die Fort Hare van 1973 se kampus het bestaan uit drie hoofgeboue waar lesingkamers, dosente se kantore en die biblioteek en teekamer was. Die administrasiegebou was aangrensend. Die ingeslote area was as “Freedom Square” bekend. Daar was ook koshuise, ‘n saal en storekompleks. Die staat het toe begin met groot besteding aan uitbreiding op die kampus. Nuwe fakulteitgeboue met moderne lesingsale, ‘n nuwe biblioteek, nuwe koshuise, ‘n groot sportkompleks, ‘n groot saal vir gradeplegtighede en ander byeenkomste is opgerig. Daar was ‘n landskapontwerp vir die hele kampus. Dit was ‘n universiteit om op trots te wees. Rhodes-studente wat voor die kampushekke kom betoog het teen die Wet op Afsonderlike Universiteitsonderwys, was seker jaloers op die kampus wat mooier as Rhodes s’n was.
Met die opgradering van die kampus is baie historiese oorblyfsels daarby ingeskakel. Daar was ook ‘n groot prehistoriese steentydperkafsetting en ‘n 1000 jaar oue geraamte van ‘n swart vrou is in die uitgrawings gevind. Vir my Argeologiestudente was dit ‘n ideale opset om praktiese werk te doen, soos vereis vir hulle kursusse. Tydens ‘n vergadering op die kampus is daar een van die groot vroeë steentydperkhandpikke wat op die opgrawingsterrein gelê het, deur die saal se venster gegooi. Een teorie van navorsers vir hulle gebruik was dat die pikke deur prehistoriese mense wel as projektiele gebruik is.
In 1973 was Fort Hare onder die toesig van Unisa t.o.v. leerplanne en eksamens. Vraestelle is in Afrikaans en Engels opgestel. Alhoewel meeste studente Afrikaans tot ‘n mate magtig was, was dit geensins voldoende vir gevorderde akademiese studies nie. Engels was die taal van hulle keuse, alhoewel hulle veel beter in Xhosa presteer het.
In Antropologie 1 was normaalweg 20% van die studente se Engels glad nie voldoende om die werk te bemeester nie. Studente wat aan Engelse privaatskole studeer het, het gewoonlik goed presteer en was verbaal beter. Die lesings met gevorderde studente in kulturele Antropologie was interessant want hulle was nou bewus van die gerigte akkulturasieprosesse waaraan hulle onderworpe was. Hulle kon by ‘n Westerse onderwysstelsel aanpas en presteer sonder verlies van identiteit.
‘n Honneursstudent het my vertel dat sy pa, ‘n predikant in ‘n Christelike Kerk, soggens diens hou vir sy gemeente maar smiddae familierituele uitvoer vir die voorvaders. Dit gebeur dikwels by Xhosa-christene dat hulle kulturele aspekte van hulle eie en die ander kultuur selekteer volgens die geleentheid. ‘n Ander student het besonder sleg in ‘n toets gevaar. Hy het nie eens sy naam geskryf op die antwoordstel nie. Omdat daar min studente was, kon ek maklik uitvind wie dit was. Toe ek hom daaroor inroep, was sy verskoning dat ‘n bose gees van hom besit geneem het. Die gees het die toets geskryf. Hy het gevra dat hy toegelaat word om self die toets te skryf. Ek het hom toe ‘n hertoets laat doen, waarin hy redelik gevaar het.
Ter wille van vakke se standaard moes finalejaarstudente se vraestelle en antwoorde, asook die van nagraadse studente aan eksterne eksaminatore voorgelê word. Ten spyte van kritiek teen Fort Hare as ‘n afsonderlike universiteit het Engelstalige universiteite tog, wanneer nodig, hulp verleen in gevalle waar ‘n student ‘n studieonderwerp gekies het in ‘n rigting waarin by die Engelse universiteit ‘n spesialis was. In sy Honneurs het ‘n student besonder belanggestel in die ystertydperk. Prof. Revil Mason van Wits, ‘n ystertydperkspesialis, het die student op een van sy projekte gebruik waaroor hy dan sy vereiste artikel geskryf het. Die Departement het sy koste betaal. ‘n Vrouestudent wat belanggestel het in fauna-identifikasie, kon ek vir ‘n maand na die Transvaal Museum stuur om deskundige opleiding te ondergaan. Studente het my tydens vakansies gehelp met my opgrawingsprojekte terwyl nagraadse studente onder toesig opgrawings moes doen. Van die studente se werk is gepubliseer en het ‘n bydrae tot die argeologiese kennis van die gebied gelewer. ‘n Besondere bydrae was ‘n student se bevinding dat ‘n swart stam reeds 700 n.C. naby die huidige Oos-Londen gewoon het.
Nadat die Ciskei in 1981 onafhanklik geword het, het die RSA-regering Fort Hare se fondse in ‘n afsonderlike fonds geplaas. Dit is waarskynlik dat die besteding aan swart studente per student nie veel minder was as die van wit studente nie. Alhoewel Fort Hare vir Xhosa-sprekende studente gereserveer was, het ek wit uitruilstudente uit Holland en ook wit personeel van Fort Hare in my klasse gehad. Studente uit ander Afrikalande het ook ingeskryf. Die beleid was dat, waar moontlik, swart akademici, indien hulle gekwalifiseer was, in poste aangestel word. Akademiese poste het egter administratiewe verpligtinge meegebring en daarin is dikwels tekortgeskiet. By die spoedige afhandeling van Honneurs- artikels en MA-verhandelings was studente soms moedeloos as daar na ‘n jaar se verloop nog nie terugvoer gegee is nie.
Terwyl daar druk op personeel geplaas is om hulle self verder akademies te bekwaam en navorsing te doen en te publiseer, is hulle toegelaat om konsultasiewerk vir buitekliënte te doen. Personeel van die Departement Regte het hofsake hanteer en die Departementshoof het as die rektor se raadgewer opgetree in regsake. ‘n Indiëradvokaat in die departement het personeellede met arbeidsgeskille teen die universiteitsowerheid gehelp. Die Fakulteit Landbou se personeel was besonder bedrywig met opheffing en advies aan die omliggende gemeenskappe.
Studente het teen dosente opgetree om verskeie redes, onder andere vir swak eksamenuitslae. In sulke gevalle is ‘n optog na die dosent se kantoor gehou met toi-toi en gesang. In een geval was ‘n sangoma vooraan. Die dosent moes die kampus summier verlaat. Sy loopbaan is kortgeknip omdat die universiteitsowerheid nie sy veiligheid kon waarborg nie. So eenvoudig soos dit. Die dosent het dan sonder werk, maar met betaling, by die huis gesit vir ‘n lang tydperk totdat daar ‘n reëling met die universiteit getref kon word. Sulke gevalle was veral na 1976 meer algemeen toe die rewolusie begin spoed kry het. “Liberation before education” was die slagspreuk van die swart Bevrydingsbeweging van Steve Biko.
Daar was rewolusionêre selle aktief op die kampus. Daar is plaaslik opleiding gedoen en studente is gewerf vir opleiding in Afrikalande, selfs Rusland, waarna hulle as insurgente teruggekeer het. ‘n Student van my het as ‘n offisier in MK teruggekeer en is in die SANW opgeneem. Hy is met ‘n wit vrou getroud.
Na die Ciskei se onafhanklikheid in 1981 was Charles Sebe, broer van Lennox Sebe, hoof van die CDF en was verantwoordelik om protesaksies te hanteer met die ondersteuning van die SAP. Studente-onrus met gepaardgaande geweld en vernietiging het ‘n patroon gevorm. Die redes was uiteenlopend. Tydens een optog het studente hulle kos teen die mure van die administratiewe geboue gegooi. Dan weer was ontevredenheid met eksamentoelating of toelating tot die universiteit ‘n rede. Intimidasie het ‘n groot rol gespeel. Wit uitruilstudente uit Holland het saam probeer toi-toi maar het die ritme gekort. Die meeste studente sou verkies om met hulle studies aan te gaan want tot ‘n maand het soms verlore gegaan en boonop was studente eers huis toe gestuur om af te koel. Dan het hulle weer teruggekom vir hertoelating. Terwyl ek een keer so ‘n dansende, singende groep dopgehou het, het ek een van my studente raakgesien. Hy het dit agtergekom en vir my geknipoog. Die tragedie is dat familielede dikwels al hulle geld gegee het om studente Fort Hare toe te stuur. Daar was groot vreugde wanneer ‘n student suksesvol was.
‘n Vrouestudent in Argeologie het besluit om die oproep om te staak te verontagsaam. Sy het vir ‘n hele maand my klas alleen bygewoon, wat ek volgens opdrag moes gee. Toe die protesaksie verby is het sy opgehou om te kom. Ek het navraag oor haar gedoen en gehoor sy is in haar slaapkamer verwurg. Spyt kom te laat. Ek moes nie vir haar klas gegee het vir haar eie veiligheid nie. Vandag onthou ek haar as ‘n gesette, vriendelike, pligsgetroue persoon.
Na die onafhanklikheid van Ciskei in 1981 het Charles Sebe, broer van Lennox Sebe, eerste minister van die Ciskei, beheer oor die CDF gekry en moes hy protesaksies by Fort Hare hanteer. Tydens ‘n gradeplegtigheid was ‘n protesaksie van studente aan die gang met baie getoi-toi, terwyl die akademiese optog voor die saal gevorm het. Charles Sebe se manne het beskerming verleen en by die akademici gestaan. Binne die saal het die gradeplegtigheid goed verloop en ouers en familie en vriende het jillende die gelukkige studente toegejuig. Die sang en geraas het harder geword. Skielik was daar geweerskote en die geluid van hardlopende voete. ‘n Student was gewond. My nabyliggende argeologiese stoor het ‘n koeëlgat in die muur gehad.
Nadat die Sebe-bewind beëindig is op 2 Maart 1990, deur ‘n staatsgreep van Oupa Gozo, het daar grootskaalse vernielings van industrieë plaasgevind. Belangrike veranderings vir Fort Hare het gevolg wat werksonsekerheid weer na vore gebring het. Die beheerstruktuur bestaande uit prof. Don Lambrecht (rektor), prof. Dermont Moore (viserektor) en dr Anthrobus (registrateur) is na Bisho, die Ciskei se hoofsetel, ontbied en summier uit die Ciskei gesit. Hulle het vir ‘n tyd hulle werksaamhede vanaf Fort Beaufort probeer doen maar is uiteindelik met finansiële vergoeding uit Fort Hare se diens.
Ek het na die toespraak van FW de Klerk in Februarie 1990 oor my motorradio geluister op die kampus. Die vryheid van politieke gevangenes en ontbanning van verbode organisasies was vir my ‘n onregverdige beloning vir die anargie, verwoesting en dood wat ons moes aanskou.
Die beheer oor CDF-troepe was onder verdenking. Tydens ‘n buitengewone gewelddadige betoging, gepaardgaande met die verbranding van voertuie, het die personeel vroegtydig die gebied verlaat. Die volgende oggend het die toneel in die pad voor Fort Hare herinner aan ‘n oorlogstoneel met uitgebrande wrakke en bande. By die sien daarvan het ek gevoel asof ek griep onder lede het. Die CDF het van die pad af in die terrein ingevuur met gewere en ‘n student is gedood.
‘n Jaar later was daar ‘n hofondersoek na die insident. Ek is as getuie geroep omdat ek die plek gevind het vanwaar met ‘n R4 geskiet is en het die patroondoppies as bewys opgetel. Ook het ek die trajek gevolg van die koeëls en ‘n gat deur een van die kantoorvensters regoor die skietposisie gevind. Die hof het verdaag en die toneel besoek. In die kantoor, met die koeëlgat in die venster, is die projektiel in ‘n stukkende boek in die boekrak gevind. Die dosent het nooit daar skoongemaak nie. Nogtans het werksaamhede steeds voortgegaan. Ek het steeds klasgegee, soos al die ander, navorsing het aangegaan, maar studente het hulle prakties plaaslik gedoen om onrusgebiede te vermy.
Geen dosent het egter meer snags op die kampus gewerk nie. Ystertralies en diefwering het nou verskyn. Ek het ‘n uitgang aan die agterkant van Fort Hare se omheining geïdentifiseer en het ‘n groot boutknipper saamgery indien ek vinnig moes padgee. Een wit personeellid, Stoffel Erasmus, ‘n rekenaarkundige, is om die lewe gebring. Niemand is sover ek weet gearresteer nie. Een van my senior studente is in die gesig geskiet deur ‘n veiligheidswag en was vir lank afwesig.
Daar het insidente van harde geweld begin voorkom. In ‘n dagboek het ek geskryf:
“24 April 1994, Crako Fort Hare,
Tyumibrug, 3x aanvallers, 2x handgranate, R4 en AK47.”
Die aanval was naby die slaapvertrek van ‘n Fort Hare-dosent en sy vrou. Ek het hulle die daaropvolgende oggend besoek. Die gesin en twee klein kinders was besig om in die spens in te trek vir ‘n slaapkamer. Enkele dae later het nog vier handgranate op Fort Hare ontplof.
Op 23 Maart 1994, omstreeks 16:00, het ek agtergekom dat Fort Hare se hekwagte weg is. Daar was ‘n gevoel van onveiligheid en dat daar geen beheer is nie. Aan die anderkant van die Tyumirivier het ‘n groot groep swartes gestaan. Op pad na Fort Beaufort was daar ook groepe mense in die veld bymekaar.
Ongeveer middernag het ek en ‘n inligtingsoffisier die Ciskei ingegaan. Daar was geen CDF-personeel of polisie in sig nie. Fort Hare se hekke het oopgestaan. Daar was geen beheer nie.
In ‘n dagboek het ek geskryf:
“24 Maart 1994 0100
Kmdt Comley
Sers-majoor Schutte
Lt De Wet
GP 7 tak HK
Berei voor vir ops in Ciskei
Beweeg 1200”
Afloop en slot
Dit was die einde van die Verwoerdera. Die nag is al die CDF-basisse deur die SAW oorgeneem. Ciskei was weer deel van die RSA. Die stryd om beheer van Fort Hare is nie op die kampus verloor nie maar op ‘n hoër vlak, in die politiek.
Die voorgaande gevallestudies toon dat daar deurgaans ‘n positiewe groei in swart onderwys was ten spyte van rewolusionêre optredes. Dit kan toegeskryf word aan die stewige grondslag wat deur dr.HF Verwoerd se onderwysfilosofie daargestel is. Daar was altyd beheer, of beheer kon gou herstel word. Die verandering in beheer na 1994 het demoraliserend ingewerk op alle vlakke van die onderwys. Talle hofsake is gevoer weens onregverdige arbeidspraktyke. Befondsing van projekte, infrastruktuur en ander opvoedkundige behoeftes is drasties verminder. ‘n Groot aantal onderwysers en dosente het die beroep verlaat vir ander beroepe, of is aangemoedig deur gunstige pakkette.
Ongeag die veranderinge het daar dikwels ‘n vertrouens-verhouding tussen leerling en onderwyser, asook student en dosent, ontwikkel wat oor jare gehandhaaf is. Dit was ‘n akkulturasieproses wat na beide kante gewerk het. Huidige onrusbarende tendense in Suid-Afrika se onderwysstelsel gaan kritici van dr. Verwoerd opnuut laat kyk na sy onderwyssisteem vir oplossings.
Insiggewend
Ek is baie dankbaar vir die regstelling wat Dr Opperman (my skoonpa) in die SA geskiedenis kon bewerkstellig. Skawing aan die geskiedenis is sekerlik ook van die hoogste doelwitte van die Verwoerd gedenklesings.
Dr Verwoerd word altyd blameer vir ‘n uitlating oor swart onderwys. Ek verstaan nie hoekom hy enigiets kon se wat hom in ‘n swak lig stel jeens swart onderwys nie – aangesien sy dade altyd getuig het van agting wat hy het vir die swart man en sy toekoms, met onderwys ‘n noodwendige bousteen daarvan.
Ek hoop hier kom nou ‘n tweede boek om die saak finaal reg te stel!