INLEIDING
Vyftig jaar het verloop sedert die ontydige dood van dr HF Verwoerd. Daar is tekens dat meer gebalanseerde beskouings besig is om in te tree oor sy bydrae tydens sy ampstermyn as Minister van Naturellesake en later as Eerste Minister van Suid-Afrika. Nogtans word sy vestiging van gesegregeerde onderwyssisteme op grond van ras en etniese verskille steeds verdoem. ’n Uitspraak van dr. Verwoerd in 1953 met die formulering van die Wet op Bantoe-onderwys, wat die resultaat was van die Eiselenkommissieverslag 1952, word steeds op die internet en in skoolhandboeke gebruik: “There is no place for the Bantu in the European Community above the level of certain forms of labour. What is the use of teaching the Bantu child mathematics when he/she cannot use it in practice?” Die hardnekkige volharding met hierdie aanhaling is onbegryplik omdat daar soveel voorbeelde is van swart studente van Afrikalande en Suid-Afrika wat onder hierdie wet studeer het en op talle terreine leiersfigure geword het. Dit is ook bloot moedswillig om te beweer dat swart skole ‘n belangrike vak soos Wiskunde uit die leerplanne sou laat.
Sedert 1953 was daar egter ’n omvangryke dinamiese sisteem vir swart onderwys geskep gebaseer op die Departement van Bantoe-onderwys (1958) en sy opvolger die Departement van Onderwys en Opleiding (1980). Die doel was om kwaliteit onderwys aan swart kinders te gee binne eie gemeenskappe en met eie behoeftes. Onderwys sou in samehang met ‘n holistiese gemeenskapsont-wikkelingsproses plaasvind. Gemeenskappe sou verantwoordelikheid aanvaar vir onderwys. Hierteenoor was opgestel ’n verskeidenheid magte, binnelands en buitelands, wat onderwyssegregasie op grond van etniese en rasseverskille verwerp het. Verset daarteen is aangemoedig en aktief ondersteun deur die mobilisering van skoliere en studente. Interne intriges en politiekery by onderwysinstellings het die owerhede se taak nog verder bemoeilik. Na 1976 het die sluimerende rewolusionêre magte met geweld losgebreek, met groot ontwrigting en vernietiging. Uiteindelik kon verset in swart onderwys ‘n belangrike bydrae lewer tot die rewolusionêre magsoorname in die RSA.
Sentraal aan die uitvoering van die NP-regering se swart onderwysbeleid was daar duisende wit onderwysers en amptenare. Vasgevang in ‘n spervuur van regerings- handelinge en rewolusionêre aksies het onderwysers, kollege- en universiteit-dosente voortgegaan om diens te lewer, dikwels onder moeilike en selfs gevaarlike omstandighede. Statistiek vir die tydperk 1954-1994 weerspieël betekenisvolle tendense. Die menslike drama onderliggend aan die syfers is egter baie kompleks met verskillende storielyne.
Hier is my storie wat natuurlik subjektief is maar nie van mindere waarde nie. Soos studente gepoog het om verwestering en westerse formele onderwys te versoen met ‘n sterk bewustheid van ‘n eie etniese identiteit moes ek self ‘n balans vind tussen ‘n gevoel van afgryse met die vernietiging van eiendom en menselewens wat ek moes aanskou en ‘n gevoel van waardering vir die uitnemende prestasies van sommige studente en die meerderheid studente wat maar net wou studeer te midde van ‘n ontluikende rewolusie. In wese was hierdie rewolusie ‘n sielkundige oorlog wat ten doel gehad het om die geestelike weerbaarheid van diegene wat die Verwoerdiaanse onderwyssisteem moes bevorder, te vernietig. In hierdie lesing word 3 swart onderwysinrigtings, waar ek oor verloop van 33 jaar betrokke was, as gevallestudies gebruik om aan te toon hoe die sielkundige aanslag toegeneem het tot in 1994 maar, ten spyte van skade en ontwrigting, nie suksesvol was nie tot en met verandering van die staatsbestel.
Gevallestudie 1: Hoërskool Hebron en Onderwysopleidingskollege (1966-1967)
Situasie: Vestiging van ‘n holisties-westerse onderwysstelsel vir swart kinders vind plaas sonder effektiewe teenstand.
In 1965 het ek aansoek gedoen vir ’n pos in die Departement Bantoe-onderwys. Na ’n onderhoud met amptenare van die Departement is ek ‘n assistentpos in Wiskunde en Wetenskap aan die Hoërskool Hebron, ‘n swart skool naby Pretoria-Noord aangebied. Onder andere moes ek ‘n vraag beantwoord oor my siening van die regering se swart onderwysbeleid. Ek kon dit bevredigend doen want ek het gesê dat ek daarmee saamstem. Dit was die regte antwoord. Die regering, met dr. Verwoerd as eerste minister, was stewig in die saal. Swart onderwys het in relatiewe vrede gegroei tot byna 2 miljoen skoolgaande kinders. Net 4% het egter matriek geslaag. Omvattende uitbreidings op alle vlakke was op hande. As beroep was onderwys ‘n goeie keuse. Die aanvangsdatum van my diens was 24 Januarie 1966. Ek onthou dit goed want my dogter Zani is vroegoggend in ons huis in Melville, Johannesburg, gebore. Ek moes die vroedvrou (’n verpleegster) bystaan en het eers 10:00 se kant by die skool opgedaag.
My eerste indrukke was van geboue in ’n bosveldomgewing met twee rye klaskamers vir die hoërskool, met ‘n saal en klaskamers vir onderwysopleiding. Die terrein was netjies want leerlinge werk smiddae aan tuindiens. ‘n Byna onnatuurlike stilte het geheers, met leerlinge wat lê en slaap het op hulle arms. Hulle het gewag vir boeke wat eers ‘n week of wat later gekom het.
Hierdie was Tswana-gebied. Die hoof het Tswana vlot gepraat. Die meeste van die swart personeel en skoliere was Afrikaans goed magtig. Skoliere het Engels verkies. Skoliere wat groot Engelse woorde gebruik het en goed taalvaardig was, is toegejuig. Klasse is in Afrikaans of Engels aangebied. ‘n Meningspeiling is een oggend onder leerlinge gehou of hulle Engels in die hoër -of laergraad wou volg. Met beide opsies was universiteitsvrystelling moontlik. Die moeiliker hoërgraad is verkies.
Die senior assistent vir Wiskunde het ’n B.Sc. Honneurs gehad en het vir die matrieks klasgegee. Ek was verantwoordelik vir die laer Wiskundeklasse en het ook Wetenskap gegee. Standerd 8-eksamens was ekstern. Die klasse het ±30 skoliere elk gehad. Verduideliking in Afrikaans of Engels het langer geneem as by wit kinders in hulle moedertaal.
Die klasroetine was gesamentlike opening met godsdiens soggens, pouses, toetse, eksamens, buitemuurse en sportaktiwiteite. Die atletiekbyeenkomste was soos wat ek gewoond was in wit onderwys. Die dissipline was goed en lyfstraf is toegepas vir oortredings. ’n Stelsel van klaskapteins het met dissipline gehelp, iets wat die klaskapteins soms hardhandig toegepas het. ’n Meisie in my klas het ‘n toegeswelde blouoog gehad. Die ander kinders vertel my toe dat die klaskaptein dit gedoen het want sy wou nie sy opdrag uitvoer nie.
By ons aankoms het die skoolhoof onmiddellik aangebied dat ek sy huis op die terrein kon kry want hy wou in Pretoria-Noord gaan bly. Dit sou my help want ek het elke dag van Johannesburg af Hebron toe gery. Dit was my eerste gewaarwording van onderliggende magte in die skynbaar vreedsame gemeenskap. ’n Personeellid deel my later mee dat ‘n Poqo-sel op die skool beplan het om die hoof om die lewe te bring. Die plan het egter bekend geword toe ‘n poging om telefoondrade te knip misluk het. Die skuldiges is tydens ‘n oggendopening gearresteer. Poqo is in die vroeë 1960’s deur die PAC gevorm en was die voorganger van APLA.
Om te help met verduidelikings in die lesse het ek ’n kursus by Unisa in Tswana geneem. Leerlinge het my gehelp met die uitspraak en met die skryf van opstelle. Daar was ook reeds pogings van die Departement Bantoe-Onderwys om woordelyste op te stel vir Wiskunde en Wetenskap. Daar was leerlinge wat die wiskunde vinnig gesnap het. Een meisie wat besonder goed presteer het in Wiskunde, is ongelukkig deur ‘n voertuig doodgery. ‘n Leerling met die naam van Paulus het besonder swak gedoen in Wiskunde en kon dit net nie verstaan nie. ’n Oorsese maatskappy het Paulus as tegnikus gewerf vir opleiding as horlosiemaker. Hy het aangesluit, is in Switserland opgelei en het besonder goed gevaar.
Hebron is vir my ‘n voorbeeld van die sukses wat bantoe-onderwys tot op daardie stadium bereik het. Ideologiese ontkenning hiervan het tot rampspoed gelei. Terugskouend was my toetrede tot swart onderwys by Hebron ‘n aanpassing by ‘n vreemde en interessante wêreld. Hierdeur het ek meer begrip en waardering gekry vir die gerigte akkulturasieproses waaraan die studente onderworpe was. Moedertaalonderrig was tot st. 6. ‘n Mens kon die verwildering op die kinders se gesigte sien toe hulle by ’n radikale nuwe leefwêreld moes aanpas met hulle toetrede tot die hoërskool. Die sprong was groot en so ook die uitsaksyfer. Moontlik is die aanpassingsproses versag omdat die leerlinge grotendeels ’n homogene groep was.
Gevallestudie 2: Hoërskool Healdtown en Onderwyskollege (1968-1973)
Situasie: Die stewige basis van swart onderwys in die ontwikkeling van gemeenskappe werp vrugte af. Leerlinggetalle groei en grootskaalse verbetering van infrastruktuur word begin. Verbanne poltieke organisasies begin met gestruktureerde weerstand.
In die begin van 1968 het ek ‘n pos by Hoërskool Lovedale gekry maar is twee maande later na Healdtown gestuur omdat daar nie ‘n Wiskunde-onderwyser was nie. Dit was my werksomgewing vir die volgende vyf jaar. Beide Lovedale en Healdtown het reeds in 1947 groot onluste onder die studente beleef. Hierdie tradisie sou vir die volgende paar jaar met ‘n verhoogde tempo voortgesit word. Oudstudente het aktiviste soos Nelson Mandela, Robert Sobukwe en Raymond Mahlaba ingesluit. In 1969 het die OAE sy Lusakamanifes bekendgestel waarna die paramilitêre vleuels van die verbanne poltieke organisasies gestig is. Swart onderwys het ‘n fokuspunt geword.
Healdtown is geleë in die ou Oosgrensgebied waar histories die Rarabe Xhosa- stam gebly het wat in agt grensoorloë betrokke was. Na 1858 is daar egter by Healdtown deur die Kaapse regering ’n aantal Fingo-nedersettings gevestig. Die stigting van ’n sendingstasie en ambagskool was deel van Sir George Grey, Kaapse Goewerneur se beleid om vrede op die Oosgrens te bewerkstellig. Die woonkwartier, waarin ek en my gesin moes bly, was op die skoolterrein omdat al die huise deur personeel beset was. Die hoeksteen van die kompleks is deur Sir George Grey gelê. Die regering het die skoolgebou van die Metodiste Kerk oorgeneem maar die kerk was nog steeds vir die koshuise verantwoordelik, asook die sendingstasie se tuine.
Op die dag van my aankoms by Healdtown om aan te meld, was daar ‘n groot atletiekdag op die rugbyveld, waar ek ook die personeel ontmoet het. Ek het ‘n goeie indruk van die dag se organisasie gekry met die leerlinge in netjiese skooldrag. Rugby is ‘n belangrike sport in die Ciskei en daar is gereeld wedstryde op die veld gespeel.
Healdtown was bekend as een van die prestigeskole in die land. Mnr. Kaboet Rousseau was skoolhoof. Die aantal skoliere in 1968 was 761 in die sekondêre afdeling. Die wit en swart personeel het afsonderlike personeelkamers gebruik. Die wit personeel was oorwegend Afrikaanssprekend en het in huurhuise op Healdtown gewoon maar ook in nabygeleë Fort Beaufort. Sommige van die swart personeel het by van die Fingo-gemeenskappe in die omgewing gewoon. ‘n Groot seunskoshuis was op die skoolterrein en die meisieskoshuis verder weg.
Onderrig moes afwisselend plaasvind in Afrikaans en Engels. Ek het net Engels vir onderrig gebruik want die Xhosa-leerlinge se taalvaardigheid was beswaarlik voldoende in Engels en nog swakker in Afrikaans. Om lesse beter te verduidelik het ek begin om basiese Xhosa by Fort Hare se taallaboratorium te leer. Daar is soveel woorde afgelei uit Engels en Afrikaans, dat ‘n gebruikstaal moontlik was. Die onderwyser verantwoordelik vir Wetenskap tot matriek was onder my toesig. Sy laboratorium was goed toegerus en sy matriekuitslae redelik. Die matriekeksamen is afgelê in die Nasionale Senior Sertifikaat en die skool se gemiddelde slaagsyfer was ongeveer 60%. In Wiskunde was die slaagsyfer swakker maar van die leerlinge het individueel goed gedoen.
Longise Nongxa het tussen 1800 kandidate in 1972 die hoogste punte in albei vraestelle in Wiskunde in die Nasionale Senior Sertifikaateksamen behaal. Afgesien van ‘n stukkie papier met sy eksamennommer en punte daarop van die Departement is daar nêrens melding van sy prestasie gemaak nie. Hy was ‘n begaafde persoon wat later uitstekend met sy studies aan Fort Hare gevaar het in ‘n tyd toe protesaksies en klasontwrigting studenteprestasies begin benadeel het. Hy het sy studie aan Oxford voortgesit tot op doktorsvlak. Terug in die RSA het hy verskeie akademiese poste beklee, onder andere was hy rektor van Wits. ’n Ander leerling van dieselfde klas, prof. Tom, ’n medikus, het rektor van Fort Hare geword en het selfs ’n besoek aan Orania gebring.
Daar is ‘n begin gemaak met die verskaffing van gratis handboeke. Die boeke moes weer teruggegee word vir die volgende jaar se skoliere. Dit was ‘n opvoedingsproses om die boeke in ‘n goeie toestand terug te kry, iets wat reeds van laerskooldae af aangeleer moes gewees het. Volgens beleid moes swart personeel opgelei word om metteryd die wit personeel se verpligtinge oor te neem. In die praktyk was die uitvoering nie so maklik nie, veral waar dit finansies betref. Ek het my verpligting om die atletiekbaan voor te berei vir die jaarlikse byeenkoms oorhandig maar moes dit ’n dag voor die byeenkoms inderhaas gaan doen.
Xhosa-seuns word tradisioneel tydens ’n reeks simboliese rituele as mans geïnisieer op die ouderdom van 16 jaar. Dit is ‘n baie belangrike etniese merker. Vir ’n projek in Volkekunde het ek besluit om navorsing oor inisiasie onder die Fingo te doen en het as gevallestudie van my senior leerlinge gebruik. Dit behels onder andere besnydenis met ‘n assegaai waartydens die seun uitroep: “Ek is ’n man!” Die bewende kaal lywe van die inisiante het vir my die krag van kultuur en identiteit werklikheid gemaak. Jaarliks lei die inisiasierituele tot ‘n groot aantal sterftes en verminkings. Onder my kontrolegroep was deur nie een sterfte nie. Ek het egter vermoed dat die pa’s aan sommige seuns medisinale stroke gee om saam met tradisionele gifblare as verbande te gebruik.
Na 1969, met die bekendstelling van die Lusaka Manifes deur die OAE, is paramilitêre vleuels gestig van verbanne swart politieke organisasies. Swart onderwys was een van die fokuspunte. Die skoliere van Healdtown kon hieraan nie ontkom nie. Sporadiese onrus en beskadiging van eiendom het voorgekom. Skynbare legitieme redes is dikwels voorgehou, veral koshuisaangeleenthede.
Die patroon was gewoonlik dieselfde. ’n Groep ontevredenes kom saam, vergader nog ander by hulle deur intimidasie, gaan na die meisieskoshuis en kom terug waarna klippe gegooi word. In een geval het ek toesig gehou in ’n klas waarin dogters met aandstudie besig was toe ons in die verte dreunsang hoor. Ek het nog probeer agterkom wat aangaan toe die dogters opspring en kaste voor die vensters en deure stoot. ’n Groot groep seuns het naby in die skaduwee van die bome gestaan met drie personeellede ±30 meter verder weg en het die Boere sleggesê. ’n Groot klip is uit die groep met ’n boog gegooi. Dit het enkele meter van die personeel af geland, gerol en by een se voet gaan lê. Daar was ’n stilte en die leerlinge het weer begin sing en terugbeweeg. In ‘n ander geval is ‘n personeellid se nuwe motor deur klipgooiers beskadig terwyl hy wegjaag. Die skool het die herstelkoste betaal. In gevalle van ernstige onrus het ek my gesin Fort Beaufort toe geneem en later teruggekeer om die skade te aanskou.
Met die laaste matriekafskeidfunksie wat ek bygewoon het in 1972, is daar groot moeite gedoen om die saal voor te berei vir die matrikulante en hoogwaardigheidsbekleërs. Almal was daar wat genooi is op die bestemde tyd, behalwe die matrieks wat die verrigtinge geboikot het. Ons het nie geweet waaroor nie. Dit was ‘n groot verleentheid. Dit is vandag duidelik dat hierdie handelinge mobilisering was vir ernstiger optredes na 1976. Een vleuel van die kompleks is toe afgebrand en die instelling was disfunksioneel tot dit later weer opgeknap is.
Ek het Healdtown besoek na die brandskade. Die huis waar ons gebly het, is deur vandale gestroop van deure en vensters. Dit was aardig om die uitgebrande klaskamers, waar ek skoolgehou het, te sien. Die skoolbanke se ysterrame het op die grond onder die uitgebrande vloer gelê, nog steeds in rye. Die swartbord met die laaste onderwyser se handskrif was nog teen die muur. Deur die venster van my herinneringe sien ek die leerlinge en die personeel opgestel voor die gebou staan vir elke dag se openingseremonie.
Healdtown, soos baie swart onderwysinstellings in die tyd, het koverte rewolusionêre selle gehad wat vir die vernietiging van eiendom verantwoordelik was. Hierdeur is die onderwys van talle leerlinge ontwrig en moontlik nie weer hervat nie.