fbpx

‘n Boek wat reeds in die 1973 deur die Fransman Jean de Raspail geskryf is, “Le Camp des Saints” (in Afrikaans vertaal as “Omsingel die Laer van die Heiliges” en deur die Oranjewerkers in 1990 uitgegee) het destyds die huidige situasie, waar miljoene arm vlugtelinge uit die derde wêreld op Europa toesak, skrikwekkend akkuraat voorspel. Die verskil is wel dat destyds Indiërs as die groot stroom vlugtelinge aangesien is, en dit nou veral Arabiere en in ‘n mindere mate swart mense van Afrika is wat op Europa toesak. Die reaksie van Europa is egter treffend voorspel: die elite in politiek en media basuin verwelkomingsboodskappe uit en beskou die vreedsame inval as verryking, terwyl die gewone mense dit vir soetkoek opvreet alhoewel hulle instinkte hulle laat aanvoel dat groot moeilikheid kom. Diegene wat waarsku teen die inval word in die vêrregse hoe gestel en deur hulle eie volksgenote beveg en stilgemaak, eers deur die mag van die media, later selfs deur militêre mag.

Vir kulturele marxiste en haters van die eie (oikofobie) bied die vlugtelinggolf die kans om uiteindelik die utopiese nie-rassige, nie-godsdienstige, multi- of nie-kulturele droomwêreld te verwesenlik, wat hulle as jong hippies in Indië gesoek het. Min besef egter dat die toenemende invloed van Moslems in Europa juis die teendeel meebring, naamlik ‘n sterk godsdienstige, aggressiewe, repressiewe en patriargale samelewing, juis die nagmerrie vir links-liberales.

Die boek skets ook die huidige tweeslagtigheid van die vlugtelinge treffend: elke vlugteling is ‘n mens wat jy as individu uit jou hart uit jammer kry en hom of haar nie kan verkwalik dat hulle van ellende wil ontsnap en ‘n beter lewe in Europa soek. As massa word hulle egter ‘n angswekkende, apokaliptiese monster en vernietig alles wat in hulle pad staan sonder dat enige iemand daardeur gehelp word.

Die hedendaagse media is lief daarvoor om aangrypende verhale van gesinne of individue en al die ontberings te vertel wat hulle moet deurgaan om dalk uiteindelik in Duitsland, Swede of Frankryk ten minste in ‘n vlugtelingkamp ‘n lewe te hê wat meeste Westerlinge as straf sou beskou. Maar as ‘n mens dan kyk na video’s van woedende vlugtelinge, veral jong mans, wat aggressief die grensheinings bestorm, dieselfde mense wat ‘n dag gelede moeg en uitgeteer oor groot afstande en in die son gestap het, dan besef ‘n mens ook die gevaar wat van ‘n massa uitgaan. Sowel die linkse, eensydige fokus op die individuele noodlot asook die regse beskouing van die mense slegs as ‘n massa vreemdelinge skiet te kort.

Die Weste sit met ‘n dilemma. Met sy eie morele hoërgrond van ‘n klem op menseregte en die reg op asiel vir politieke vervolgdes kan die Weste nie nou terugval op ‘n beleid van suiwer eie belang en skouers ophaal vir wat met die vlugtelinge gebeur nie. Hongarye doen in ’n mate dit deur sy grense vir migrante te sluit (alhoewel steeds derduisende vlugtelinge in Hongarye in vlugtelingkampe is) en word daarvoor deur die EU-leierskap en die media uitgeskel. Hongarye se leier Victor Orban maak egter geen geheim van sy ongemaklikheid met die massiewe invloei van veral Moslems nie en tref ‘n onderskeid tussen Christen-vlugtelinge (wat in elk geval die mees vervolgde groep is) wat wel geakkommodeer en selfs geassimileer kan word en Moslems, wat Europa se kultuur en waardes uitdaag. Om egter onderskeid tussen mense te tref is vir die EU-leierskap en die media die ergste sonde denkbaar. Duitsland doen die teendeel, naamlik om almal met ope arms te verwelkom. Die land ervaar nou reeds die grense van sy kapasiteit om almal te akkommodeer. Dit is die een ding om van die verhoog af “Willkommenskultur” (‘n kultuur van verwelkoming van vreemdes) te preek, ‘n ander een om dit in praktyk te laat werk. Sonder die groot getalle vrywilligers wat hulle harte en beursies en selfs hulle huise vir vlugtelinge oopmaak sou die Duitse regering lankal moes toegee dat hulle meer afgebyt het as wat hulle kan verteer.

Van die eens hoogdrawende ideale van die verenigde Europa waar alle besluite gesamentlik geneem en uitgevoer word, is skielik min oor. Die gekoesterde ideaal van oop grense binne die Schengen gebied (die grootste deel van die EU) is deur die instel van grenskontroles, wat deur die vlugtelingsbewegings nodig geword het, ‘n kishou toegedien. In die vlugtelingspolitiek tree skielik elke land in eie belang op, wat heeltemal verstaanbaar is. Vir klein, vreedsame en homogene Oos-Europese lande wat ekonomies sukkel is derduisende kultuurvreemde mense, boonop Moslems, ‘n nagmerriesenario. Vir Duitsland is dit blykbaar iets wat hulle verwelkom, alhoewel ook nie almal in die bevolking die amptelike siening deel nie. Terwyl die een land sy grense sluit, stel die ander een dit oop. Van die Dublin-ooreenkoms, wat bepaal dat die EU wat vlugtelinge en asielsoekers betref gesamentlik optree en asielsoekers in die eerste land wat deel van die EU is geregistreer word, is niks meer oor nie.

Dit word skielik duidelik dat die lomp superstaat Europese Unie nie die probleme waarmee Europa gekonfronteer word, kan hanteer nie, maar dat die state op hulle eie dit wel kan doen. Reeds met die Griekse krisis het dit duidelik geword. Die EU het niks gedoen om die vlugtelinggolf te keer of in geordende bane te lei nie en toe moes state, teen kritiek en verdoeming van die EU-leiers, self optree om hulle te beskerm, soos Hongarye wat sy grense sluit en omhein en aanvallers afweer en ander state wat die voorbeeld in mindere mate navolg deur weer grensbeheer toe te pas.

Wat beteken dit alles vir ons? Die konserwatiewe uitgangspunt, wat ook die volkstaatgedagte onderlê, word nou bevestig, naamlik dat goeie grense goeie bure maak, dat klein, etnies homogene state of gemeenskappe beter funksioneer as lomp, multi-kulturele eenhede, dat die Christelike godsdiens die basis van ‘n goeie beskawing is (en dit is nie toevallig dat feitlik alle Moslemlande gewelddadig en agterlik is nie) en dat volke self besluite oor hulle lot moet neem en dit nie aan ‘n nie-verkose super-staatlike instelling kan oordra nie (soos die EU-kommissie).

Stadigaan begin Europa se leiers en volke besef wat behoudende organisasies en persone in Suid-Afrika en elders al lankal verkondig het maar wat nie geglo is nie: dat die onbeheersde instroming van mense wat nie geassimileer kan of wil word nie en wat tot oorheersing deur vreemdelinge lei, nie kulturele verryking nie maar verval en konflik beteken.

 

 

 

 Vlugtelinge