2445349021Leef ons in ‘n era van nuwe populisme? Dit is die vraag wat talle politieke kommentators die afgelope tyd hulself afvra. In die Verenigde State van Amerika sien ons hoe die gewildheid van Donald Trump steeds toeneem. Hy loop vêr voor in die stryd om die Republikeinse Party se kandidaat vir volgende jaar se presidentsverkiesing te word. Die afgelope paar dae sien ons egter ook dat hy begin voorloop teen die Demokrate se kandidaat Hillary Clinton. Selfs 25% van swart Amerikaners steun hom in ‘n onlangse peiling. Republikeine is bekend daarvoor dat hulle nie eers 10% van die swart stem in Amerika kan kry nie. Donald Trump verteenwoordig die toenemende verwerping van gevestigde politieke belange en stelsels. Hy verwoord die diepe frustrasie van gewone landsburgers wat sien hoe ‘n elite van politici in Washington D.C. saam met regters wat lewenslange aanstellings in die howe geniet, die land in ‘n rigting neem waarmee hulle nie tevrede is nie.

Aan die anderkant van die Atlantiese Oseaan, begin dieselfde gebeur. Later hierdie week sal ons hoor wie die nuwe leier van die Arbeidersparty in Brittanje is. Jeremy Corbyn, ‘n ekstreem-linkse sosialis gaan na alle waarskynlik die party se nuwe leier word. Corbyn se gewildheid staan net soos dié van Trump in die teken van ‘n verwerping van die gevestigde politieke orde. Corbyn se boodskap is net soos dié van Trump verpak in ‘n pakket van populisme en maklike, duidelike stappe waarvan die gewone mense hou.

In die VSA, Engeland, maar ook talle ander lande waar populistiese individue en politieke partye veld wen staan die ou gevestigde poitieke magte met afgryse en kyk hoe hulle hul greep verloor. Historici  skryf hierdie tendens toenemend toe aan die verlies van tusseninstellings. Die afgelope paar dekades het ons gesien hoe die krag van veral kerke en vakbonde in Westerse lande in duie begin stort het. Gewone mens is vir lank deur hierdie instellings verteenwoordig. Vandag staan burgers weerloos in ‘n kat en muis-verhouding met hul regerings. Aangesien gewone mense voel dat hulle nie meer ‘n invloed op die politieke stelsel kan uitoefen nie omdat alle politici en politieke partye eintlik maar dieselfde taal praat en dieselfde belange verteenwoordig, gryp mense nou populistiese persone wat die huidige orde uitdaag aan.

Die Amerikaanse skrywer, Pat Buchanan, skryf verlede week dat globalisering se impak nou eers werklik gevoel word. Meer as een derde van poste in die Amerikaanse vervaardigingsbedryf het die afgelope 10 jaar verlore gegaan. Amerika is vandag totaal afhanklik van ingevoerde gebruiksgoedere wat tot enorme handelstekorte lei. Intussen is ‘n nuwe korporatiewe en finansiële elite gevorm wat ‘n sterk houvas op die politieke stelsel gekry het. Groot kerke in Westerse lande beskik nie meer oor die vermoë om politieke besluite te beïnvloed nie. In die privaatsektor in die VSA het vakbondlidmaatskap van 33 persent in die 1960’s tot minder as 7 persent vandag gedaal.

Terwyl die populisme en die koms van Trump, Corbyn en andere ‘n tydelike sweempie hoop vir Amerikaners en Britte bied, moet Afrikaners ons tusseninstellings soos kerke, burgerregte-organisasies en vakbonde koester.

Blog Single

Verlies aan tusseninstellings lei tot nuwe populisme

by | Sep 8, 2015 | Nuus | 0 comments

0 Comments

Submit a Comment

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

12 + 2 =