Universiteitswese steier onder Suid-Afrikaanse meerderheidskultuur

‘n Groot aantal van Suid-Afrika se mees prominente universiteite is onder beleg van belangegroepe wat bereid is om die algemene belang van studente en dosente ter syde te stel en selfs te benadeel ten gunste van die bevordering van hul spesifieke doelwitte.

Maroelamedia berig dat Wits, Rhodes en die Universiteit van Kaapstad al vir 2 dae lank alle klasse opgeskort het, terwyl die Universiteit van Pretoria alle akademiese aktiwiteite en ondersteunende dienste gedurende Woensdag gaan opskort. By Stellenbosch is die administratiewe gebou deur betogers beset en by die Universiteit van die Vrystaat moes die onlustepolisie betogers verwyder wat die hoofingang versper het. By die Noordwes Universiteit in Potchefstroom (of is dit nou Tlokwe?) moes dapper studente hul liggaamlike veiligheid op die spel plaas om te verhoed dat Totius se standbeeld omgegooi word. By die Universiteit van Johannesburg word betoog en behels die eise ook die afstel van veiligheidstelsels en die instelling van busse.

Dit volg na omstrede protesbewegings by die Universiteite van Kaapstad (Rhodesmustfall), Stellenbosch (OpenStellenbosch) en Noordwes (ReformPUK) groot mate van sukses behaal het met die bevordering van hul politieke doelwitte deur ontwrigtende optrede.

Brandende kampusse wat ontwrig en vernietig word deur skreeuende massas wat geen respek vir akademiese ontwikkeling openbaar nie is ‘n ou verskynsel in die land. Gewoonlik speel hierdie gebeure egter op plekke soos die ou Universiteit van die Noorde, Vista, Medunsa of ander voormalige tuislanduniversiteit af. Vandag is dit Suid-Afrika se mees gerekende universiteite wat besig is om onder barbaarse druk te swig.

Hierdie vernietigende optrede is grootliks die gevolg van die ANC se strategie om tydens sy struggle ‘n kultuur van ‘liberation before education’ te vestig onder die swart meerderheid van Suid-Afrika. Vandag is hierdie meerderheidskultuur omvorm tot ‘demand anything before education’. Die grondhervormingsbeleid van die ANC was reeds die eerste aanduiding dat dit hulle doel is om Suid-Afrika na die beeld van die voormalige tuislande te transformeer, eerder as om die hele Suid-Afrika na die beeld van die liberale, vryemark demokrasie te vorm soos wat soveel liberale meningsvormers die afgelope 25 jaar geglo het (en sommige steeds glo). Dit blyk ook nou dat dit bykans onvermydelik is dat hoëronderwys na die standaard van die voormalige tuislande getransformeer gaan word (wat reeds grootliks die geval is met hoër tegniese opleiding). Die Afrikaanse koerante beaam hierdie gevolgtrekking waar hul redaksionele kommentaar skryf: “Kampusdrama is Eskom op ‘n ander verhoog”.

Een van die figure wat sentraal staan in die poging om die vure te probeer blus is professor Adam Habib wat as visekanselier van Wits self deur die protesterende studente vir ‘n kort tyd gyselaar gehou is. Volgens Maroelamedia het Habib die studente opgeroep tot onderhandeling indien hulle nie met die voorgestelde inflasie-gekoppelde verhoging van studiegelde tevrede is nie en dat dit “verskriklik” sal wees indien lesings verder ontwrig gaan word en studente nie hul eksamens kan aflê nie.

Vir my val die ironie nogal op. Prof. Adam Habib was in sy vorige pos  adjunk-visekanselier van navorsing, innovasie en vooruitgang aan die Universiteit van Johannesburg waar hy instrumenteel was in die transformasie van daardie universiteit se voormalige RAU kampus (Randse Afrikaanse Universiteit wat grootliks deur private bydraes van Afrikanerouers tot stand gebring is) tot meestal Engelse instelling wat die meerderheid van die land verteenwoordig.

In ‘n artikel in Beeld in Maart 2011, kasty Habib wit Afrikaanse sprekers (let op die ontkenning van die Afrikaner as herkenbare etniese groep wat as sodanig op kulturele- en groepsregte aanspraak kan maak) daarvoor dat hulle besig is om hul kinders na ander universiteite te skuif “omdat hul ’n beskouing het dat instellings met ’n meerderheid Afrikaanssprekende en wit studente ’n makliker omgewing is om by aan te pas.” Verder loof hy die “sommige Afrikaanssprekende en wit gemeenskappe” wat dit belangrik ag om deel van ‘n kosmopolitiese instelling te wees. Habib stel: “Boonop, deur na ’n integrerende instelling te kom en deur aan die gewone kampusaktiwiteite deel te neem – studie, navorsing, sport, kultuur en sosiale interaksie – bou hierdie studente implisiet ’n nuwe Suid-Afrikaanse identiteit, een wat verder strek as wit of swart, ryk of arm, nasionaal en internasionaal.
Hierdie studente bou ’n identiteit wat Suid-Afrikaans, dog globaal is, gemeenskapsgerig, dog ondernemend, sensitief vir die kwessies van spesifieke gemeenskappe, maar wat reageer op dié van ander gemeenskappe, en wat gelykberegtiging en regverdigheid nastreef.”

Die wanorde wat nou dreig om die universiteit wat professor Habib tans bestuur (Wits) te oorspoel dui egter die ware aard van die meerderheidskultuur aan: vernielsugtig, toe-eienend, arrogant, minagtend en roekeloos. Hierdie meerderheidskultuur is nie ‘n akkomoderende kultuur nie; dit is ‘n jaloerse kultuur wat andersdenkendheid vervolg. Dit is ‘n kultuur wat mense wat poog om werk toe te gaan uit bewegende treine na hul dood gooi, wat studente en dosente aanrand wat poog om kennis te bemeester en wat soos met OpenStellenbosch en ReformPUK geen ruimte het om die land se 8 miljoen Afrikaanssprekendes te akkomodeer in selfs ‘n enkele universiteit wat kennis in hul taal toeganklik maak nie.

Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, meen dat die leiers van die oproeriges aanvaar moet word omdat hulle, soos Solidariteit met sy ‘Plan B’, aan hulle ondersteurs hoop bied. Pelser skryf ook dat “die reg om hoegenaamd te swot – en baie studente is die eerstes in hul families – troef die reg om in Afrikaans te swot, so pynlik as wat die toegewing ook mag voel.” Dit blyk egter dat studente wat nie in Afrikaans swot nie, glad nie swot nie en nie skroom om ander wat wil studeer te ontwrig nie. Dit is ook verregaande om in die naam van ‘toeganklikheid’ opvoedingsgeleenthede weg te neem van polities-ontmagtigde minderhede en dit vir diegene te gee wat die politieke septer swaai en alleenseggenskap voer oor ‘n staatsbegroting van R900 miljard (meer as ‘n kwart van die land se hele ekonomie).

Solidariteit se Plan B sluit in om ‘n Afrikaanse universiteit op die been te bring. Afrikaners wat hul kinders eendag met kwalifikasies wil sien sal goed doen deur hierdie inisiatief te ondersteun. En nee, Solidariteit se optrede is nie vergelykbaar met die optrede van die oproeriges nie, want die doel heilig nie die middele nie. Elke daad wat vandag uitgevoer word hou gevolge vir die toekoms in. Diegene wat vandag bakstene deur voertuigvensters gooi gaan universiteite afbreek tot instellings wat geen kwaliteit kan lewer nie, terwyl diegene wat bakstene gebruik om te bou vir hul kinders ‘n beter toekoms gaan skep.

Namate Orania groei en sy bande met ons vriende in die buiteland versterk, word dit die natuurlike setel van Afrikanergerigte opvoeding. Soos wat die res van Suid-Afrika al meer transformer om soos die voormalige tuislande te word, kan Orania  ‘n sleutelrol speel vir die bemiddeling van internasionale akkreditasie vir Afrikaanse kursusse en die skep van geleenthede vir mense wat in Afrikaans wil studeer.

Links en regs

Orania word dikwels as “regs” of konserwatief beskryf. Hou die aantyging water? Is “regs” sleg en wat presies is regs? Daar is soveel vloekwoorde en kamma-persepsies wat aan regs gekoppel word dat dit moeilik is om hier duidelikheid in die deurmekaarspul van politieke korrektheid en verkragting van begrippe te kry. Ek praat hier spesifiek van links en regs en nie byvoorbeeld van liberaal, sosialisties of konserwatief nie, omdat dit alles net sekere dele van die links- of regsspektrum dek. Uit die aard van die saak is daar grys areas, en natuurlik ook sienings wat elemente van sowel links asook regs het, soos liberalisme in sy oorspronklike betekenis. Nogtans is ‘n breë indeling nodig om te weet watter paradigma gebruik word en hoe dit op feitlik alles van toepassing is.

links-regsKom ons begin by die begin, naamlik by die basiese mensbeskouing wat links en regs onderlê. Vir linkses is die mens in beginsel goed en word deur sy omgewing, oftewel die samelewing sleg gemaak of verlei om slegte dinge te doen. Die skuld vir die mens se optrede lê dus buite hom- of haarself en daarom moet nie die mens verander nie, maar die samelewing en omgewing. Dit moet gedoen word deur middel van wette en “social engineering”. Verkeerde optrede het volgens linkses eintlik altyd te doen met ongelykheid of diskriminasie. Jy steel nie omdat jy skelm of boos is nie, maar omdat jy arm of benadeel is sonder jou toedoen. Daarom is die linkses se oogmerk om gelykheid af te dwing want dit sal alle rede vir verkeerde gedrag hokslaan. Die wat uitstaan, moet afgebring en die wat onder is moet opgelig word deur byvoorbeeld belasting, wette en reëls oor die regte gedrag. Die linkses glo ook nie aan ‘n verhouding tussen mens en God nie, omdat volgens hulle die mens maar net toevallig ontstaan het.

Verder beskou die linkses alle mense as gelyk en beskou dus ook verdelings soos volke, godsdiensgroepe, lande, selfs geslag as kunsmatige konstrukte om mense te verdeel. Die linkse ideaal is die broederskap en susterskap van die hele mensdom. Grense moet verwyder word, want grense lei tot oorlog en weerhou mense daarvan om mekaar te omhels en te besef dat ons almal eenders is. Hierdie mensbeskouing was aanvanklik beperk tot die kommunisme, maar het intussen deur allerhande popkulturele politieke kitsch tot in die hoofstroom ingedring as die aanvaarbare mensbeskouing.

Die regse of konserwatiewe uitgangspunt is fundamenteel verskillend. Daarvolgens is die mens nie inherent goed nie, maar volg sy eie belang, en daarom moet die mens deur normes en waardes, veral in groepsverband en wat deur die tradisie onderlê is, beweeg word om dit te doen wat reg en goed is. Die samelewing en sy normes en waardes wat oor ‘n lang tyd gevorm is, is daarom ook nie iets wat sleg is en radikaal verander moet word nie, maar iets wat gerespekteer moet word om ‘’n geordende naasbestaan te verseker. ‘n Belangrike onderskeid met die linkse denke is daarby dat die mens deur God geskape is en ‘n verhouding tussen God en mens bestaan wat ook die mens se optrede bepaal.

Verder glo konserwatiewes ook nie aan gelykheid nie, omdat die blote feite rondom ons elke dag wys dat niks en niemand gelyk is nie (alhoewel gelykwaardig voor God). Mense verskil in vaardighede en intelligensie, geslag, voorkoms, assosiasie, oortuigings en wat optrede betref, om maar net ‘n paar dinge te noem. Anders as wat linkses glo, is die ongelykhede vir regses nie gesetel in ‘n onregverdige samelewing nie, maar is die samelewing veel eerder ‘n weerspieëling van die mense wat dit vorm, en van hulle normes en waardes en optrede. Om die rede is daar samelewings of stelsels wat funksioneer en ander nie. Eerder as om funksionerende en nie-funksionerende stelsels saam te gooi in die hoop dat hulle dan werk (en die ervaring wys dikwels die teendeel), moet dit wat funksioneer eerder beskerm word teen die vernietigende invloede van buite. Eerder as om die hele tyd met nuwe radikale veranderinge vorendag te kom om die samelewing op sy kop te keer en sodoende kamstige ongeregtighede te verwyder, soos wat die linkses dit wil doen, werk die konserwatiewes met die gegewens en die tradisie wat die hede bepaal en wil dit, indien wel, hoogstens baie stadig en versigtig verander.

Alhoewel die behoudende, regse beskouing al telkens in die gelyk gestel is deur die geskiedenis en die ondervinding en die linkse sosiale eksperimente veelvoudig misluk het (geen staat wat sosialisme tot staatsideologie verhef het, was nog ooit ‘n sukses nie en boonop nog skenders van menseregte, wat hulle kamstig wil beskerm), is dit verbasend hoe gewild linkse denke oor die algemeen is en hoe maklik dit veld wen.

Die rede is eintlik maklik: linkse denke is eintlik nie denke nie, maar gevoel en ons tyd word oorheers deur gevoel. Enige konserwatiewe behoort ‘n debat deur goeie redenasie te wen, maar selde word iets vandag deurtas en uitgeredeneer. Alles gaan oor die oomblik, die emosies, die goeie gevoel, om mense nie aanstoot te gee nie. Dit gaan nie oor die langtermyn gevolge of waardes en tradisies nie.

In tye waar beelde meer tel as die geskrewe woord en waar deur middel van facebook, twitter en ander sogenaamde sosiale media almal foto’s, video’s en kort stellings kan plaas en op alles kommentaar kan lewer, het elke Jan Rap en sy maat ‘n politieke kommentator en raadgewer geword. Die gehalte van die diskoers gaan noodwendig agteruit. Politici kompeteer met sangers, akteurs en ander popsterre en oortref mekaar met vêrgesogte eise.

Politiek was vroeër meesal nugtere realpolitiek. Die hoogste doelwit was om binne die raamwerk van die moontlike die beste uitkoms te kry. Die linkses soek egter altyd die utopia en die groot wêreldprojekte, soos gelykheid, wêreldvrede, die verwydering van grense en die opheffing van nasionale state. Die regses of konserwatiewes het nie iets soortgelyks nie en hulle denke is eerder op die doenbare en die oorsigtelike groep, soos jou gemeenskap, of dalk nog jou land of volk gerig. Hulle het ook geen wêreldwye kreet soos “gelykheid/geregtigheid/nie-diskriminasie”, ensovoorts, nie. Vandag gaan dit oor ‘n paar slagspreuke en aanvoeling hoe om massas te begeester. Driewoord sinne soos “Yes we can” (Obama) of “Wir schaffen das” (Merkel) is bedoel om mense te verenig, maar is so niksseggend soos advertensie-slagspreuke.

Laat wêreldstreke hul eie probleme oplos

1443528374putin-unDie Verenigde Nasies se Algemene Vergadering wat verlede week in New York in die VSA plaasgevind het, was ʼn toonbeeld van die verskuiwings in internasionale verhoudinge en magsposisies wat die afgelope tyd toenemend duidelik raak.

Vladimir Putin, het in sy toespraak ʼn duidelike saak gestel teen Westerse imperialisme. Sy argumente teen die Amerikaanse invalle in Afghanistan en Irak verdien toenemend steun. Die wyse waarop Amerika en Europa in Libië, Egipte en Sirië ingemeng het en steeds inmeng wys op die die Weste se onvermoë om steeds die morele hoëgrond in internasionale verhoudinge te handhaaf.

In Irak het meer as 3000 Amerikaanse soldate en meer as 100 000 burgerlikes met hul lewens geboet. Vandag beheer die terroristegroep, Die Islamitiese Staat, die grootste provinsie in Irak, Anbar, sowel as die tweede grootste stad in die land, Mosul. Intussen het die Irakse regering sy rug op die VSA begin draai in ruil vir nouer bande met die Amerikaanse aardsvyand, Iran.

In Afghanistan, sukkel die oorblywende 10 000 Amerikaanse soldate vandag om in samewerking met die Afghaanse weermag die opmars van die Taliban te stuit. Die Taliban, wat Afghanistan regeer het, voordat die Amerikaners hulle veertien jaar gelede uit die kussings gelig het, is besig om weer veld te wen en groot dele in die ooste en noorde van Afghanistan is weer volledig onder beheer van die Taliban.

Westerse lande se onvermoë om volhoubare oplossings vir die geskil in Sirië te skep het ʼn magsvakuum gelaat wat tans deur Vladimir Putin gevul word. Putin se argument dat die ondemokratiese regering van Bashar al-Assad ondersteun moet word ten einde te verhoed dat terroristegroepe in Sirië veld wen, dra tans meer morele gewig as die VSA en sommige Europese lande se argument dat Al-Assad onttroon moet word ten einde demokrasie na Sirië te neem. Die Weste se poging om ʼn diktator in Libië te onttroon en demokrasie daar in te stel het lelik in hul gesigte ontplof. Vandag betaal die burgers van Libië die prys van Westerse demokratiese imperialisme.

Leierskap wat innoverende voorstelle vir wêreldprobleme kan aanbied, is vandag in die meeste Westerse lande afwesig. Barack Obama se toespraak by die Verenigde Nasies was ʼn teken daarvan. Angela Merkel se hantering van die vlugtelingekrisis in Europa spreek ook daarvan.

Daarteenoor was die toesprake van Vladimir Putin en Benjamin Netanyahu die twee wat die sterkste verlede week uitgestaan het. In die sogenaamde vlugtelingkrisis, wat eintlik ook ʼn krisis van onwettige massa-immigrasie is, is dit Viktor Orban van Hongarye wat sterk leierskap toon, eerder as die leiers van Duitsland, Frankryk of enige ander Wes-Europese land.

George W. Bush van die VSA en Tony Blair van Brittanje het die sterk intervensionistiese Westerse beleid ingelei met hul oorloë in Afghanistan en Irak. Barack Obama, Angela Merkel en ander huidige Westerse leiers se ingesteldheid van visieloosheid en oordrewe pragmatisme is ook geen oplossing vir internasionale probleme.

Putin se voorstelle dat wêreldstreke hul eie probleme moet oplos, maak meer sin. Of die Amerikaners wat steeds imperialisties dink dit sal steun word egter betwyfel.

Vordering met selfbeskikking in Europa

KatalonieOnlangse peilings in Skotland wys dat ʼn meerderheid van Skotte nou onafhanklikheid steun. Verlede jaar in September het 45% van Skotte ten gunste van onafhanklikheid in ʼn referendum gestem. Intussen het steun vir Skotse onafhanklikheid bly toeneem en die verkiesingsoorwinning van die Konserwatiewe Party vroeër vanjaar in Brittanje het Skotte nog meer antagonisties teenoor Britse eenheid gemaak.

Die afgelope Sondag is ʼn belangrike tree na onafhanklikheid vir Katalonië, in die noordooste van Spanje gegee. Pro-onafhanklikheidspartye het ʼn meerderheid in streeksverkiesings behaal. ʼn Koalisie van partye en groepe van regoor die politieke spektrum wat almal onafhanklikheid steun het 62 van die 135 setels in die provinsiale parlement gewen. ʼn Meer radikale pro-onafhanklikheidsbeweging het ook 10 setels gewen. Saam sal die twee groepe nou meer as 50% van die setels in die provinsiale parlement beheer.

Katalane voer reeds sedert die middel van die negentiende eeu ʼn stryd om onafhanklikheid. In 1932 het die provinsie ʼn groot mate van outonomiteit gekry. Die afgelope paar jaar het die onafhanklikheidsbeweging in Katalonië egter nuwe energie gekry. Katalonië is ekonomies een van die meer suksesvolle streke in Spanje en die Katalane voel toenemend dat die Spaanse regering hulle misbruik om gate in armer dele van die land toe te stop. Die Katalane, hoewel baie keer links op verskeie politieke terreine, is ook meer gefokus op die behoud van hul eie taal, kultuur en tradisies.

Die uitslag van Sondag se verkiesing kan daartoe aanleiding gee dat Katalonië die eerste treë na onafhanklikheid begin gee. Die leier van die onafhanklikheidsbeweging Artur Mas het na gister se verkiesingsoorwinning gesê dat hulle in die verlede talle verkiesingsnederlae soos goeie demokrate moes aanvaar. Hulle vra nou vir die res van Spanje om hul verkiesingsoorwinning te aanvaar en te aanvaar dat ʼn meerderheid van Katalane onafhanklikheid steun. Planne word reeds gemaak om dié gebied teen 2017 van Spanje los te maak.

Skotland en Katalonië staan nie alleen in hul stryd om onafhanklikheid nie. Talle ander volkere en streke in Europa deel hierdie ideaal. Die Vlaminge se stryd om van België los te breek, die Suid-Tirolers se stryd om hulself van Italië los te maak en weer deel van Oostenryk te word en deesdae selfs die onafhanklikheidstryd van Venesië is welbekend.

Hoewel die reg om selfbeskikking toenemend internasionaal aanvaar word, is die pad na selfbeskikking meestal moeilik. Die sukses van volkere om selfbeskikking, of ten minste ʼn beperkte mate van outonomiteit, te verkry hang van vyf dinge af.

Die eerste is hul vermoë om ten spyte van interne diversiteit en politieke verskille te kan mobiliseer en op belangrike momente te kan saamstaan soos wat in Sondag se verkiesing in Katalonië gebeur het.

Tweedens is geografiese konsentrasie noodsaaklik. In Noord-Amerika en Suid-Amerika het talle inheemse volkere se stryd om selfbeskikking misluk omdat hulle nie suksesvol ʼn geografiese gebied kon domineer nie.

Die derde vereiste is te besef dat selfbeskikking ʼn proses en nie ʼn gebeurtenis is nie. Groeiende selfbeskikking skep resultate wat mense na groter selfbeskikking wil laat streef.

Vierdens is dit belangrik dat jou saak internasionaal aanvaarbaar is. Die laaste vereiste is goeie leierskap wat daarin kan slaag om mense se vrese oor verandering te besweer en die vuur van vryheid in hul aan te steek.

Afrikaners wat na selfbeskikking streef sal eers hierdie uitdagings te bowe moet kom voordat hulle eise kan begin stel.

ANC-beleidsdokument wil Weste verder vervreem

anc-flagDie regerende ANC sal volgende maand tydens sy beleidskonferensie ʼn besprekingsdokument oor buitelandse beleid oorweeg. Die inhoud van hierdie dokument het egter reeds tot omstredenheid gelei.

Opsommend word Amerika in die dokument as ʼn groot sondebok uitgemaak, terwyl die ANC China as die beste voorbeeld vir hoe dinge gedoen moet word voorhou. Die geloofwaardige nuustydskrif, The Economist, het onlangs skerp kritiek teen dié soort denke binne die ANC uitgespreek.

Die ANC gaan in sy dokument verder om te sê dat Amerika agter die skerms werk om demokratiesverkose regerings in die Midde-Ooste en Afrika te probeer onttroon. Ons weet goed dat Amerika en selfs Europa nie onskuldig is in die krisisse wat tans in die Midde-Ooste heers nie. Maar wanneer jy baie afhanklik is van handel met sterk lande soos Amerika, kan jy ʼn bietjie meer diskreet met jou denke omgaan. Die ANC se hardelyn-politiek volg egter deesdae eerder die rigting van konflik.

Suid-Afrika se regering staan toenemend in vyandigheid met Westerse lande, terwyl vriendskapsbande met China, Rusland, Iran, Brasilië en selfs Kuba gesmee word. Daar bestaan baie vrae oor die toekoms van die Chinese ekonomie en lande soos Australië wat baie afhanklik is van uitvoere na China begin reeds die gevolge van ʼn swakker Chinese ekonomie te voel. Rusland, Iran, Brasilië, Kuba en die ander muishondlande waarmee Suid-Afrika eerder wil assosieer het almal sukkelende ekonomieë. Dit bied min vooruitsigte vir Suid-Afrikaanse produsente om na hierdie lande uit te voer.

Die Suid-Afrikaanse regering baseer toenemend sy buitelandse beleid op ideologie in plaas van gesonde verstand. Suid-Afrika het die vermoë om, sou die regering die regte stappe neem, sy uitvoere van voedsel, motors en ander produkte na Westerse lande uit te brei. Die uitvoer van grondstowwe soos steenkool en ystererts is uiters wisselvallig en dit is duidelik dat die Chinese ekonomie eerder sy fokus van konstruksie na dienste wil verskuif. Daar is dus beperkte groeigeleenthede vir uitvoere na China.

Daar is twee belangrike redes waarom ons oor die ANC se buitelandse beleid bekommerd moet wees. Eerstens is Amerika en Europa onderskeidelik Suid-Afrika se grootste en derde grootste handelsvennote. Indien die ANC aanhou om Westerse lande te vervreem sal dit in die toekoms moeiliker raak om vrylik met hierdie lande handel te dryf.

Nog ʼn rede waarom ons bekommerd kan wees, gaan spesifiek oor die motiewe van lande soos China, Rusland en Brasilië. Dit wil toenemend voorkom asof hulle Afrikalande misbruik om oorskotprodukte te stort, terwyl hulle weinig bydra tot langtermyn stabiele uitvoergeleenthede vir produsente in Afrika.

Die bekendmaking van die ANC se buitelandse beleidsdokument is egter nie net sleg vir ons nie. Vir die Afrikaner beteken dit dat individue en instellings in Westerse lande meer realisties oor Suid-Afrika begin dink. Hulle besef dat die euforie van die 1990’s verby is. Dit skep ʼn geleentheid vir Afrikaners om hul saak in Westerse lande te gaan stel en hulle nie meer vas te loop in mense en instellings wat glo dat Suid-Afrika ʼn droomdemokrasie is, waar niks verkeerd kan loop nie.

’n Genootskap vir Eiendom en Vryheid

PFSVan 10 tot 15 September was ek bevoorreg om as verteenwoordiger van die Orania Beweging die jaarlikse konferensie van die Genootskap vir Eiendom en Vryheid (“Property and Freedom Society” – “PFS” in kort) te Bodrum, Turkye by te woon.

PFS kan beskryf word as ’n libertariese ekonomies-filosofiese instelling vanuit die Oostenrykse tradisie wat onbeskaamd die idees van privaat eiendom, kontrakteringsvryheid, vryheid van assosiasie – wat die vryheid om in jou persoonlike en besigheidslewe te disassosieer insluit – en onvoorwaardelike vrye handel voorstaan. PFS veroordeel imperialisme en militarisme (asook die aanhitsing daartoe) en verwerp positivisme, relativisme en die gelykheidsideologie (of dit nou uitkomsgebaseer of geleentheidsgebaseer is).

Ván die sprekers by hierdie jaar se konferensie en hul onderskeie onderwerpe, was:

Prof. Thomas DiLorenzo – The Curse of American Exceptionalism
Mnr. Rahim Taghezadegan – The Lebanon – A Switzerland of the Near East?
Mev. Deanna Forbush – America’s Violent Labor Unions
Mnr. Andrew Shuen – China, the US, the Renminbi, the $ and Hong Kong
Prof. Guido Huelsman – The Culture of Inflation
Prof. Frank van Dun – On the Philisophical Foundations of Libertarianism
Prof. David Dürr – Private Law Society: Answering some of the “difficult” questions
Prof. Hans-Hermann Hoppe – Democracy, De-civilization and Counterculture

Toegang tot hierdie intellektuele netwerk is ontsluit danksy die goeie werk van Aaron Kahland, Orania se ambassadeur in Duitsland. Dit is dan ook hier waar Carel Boshoff, saam met Jaco Kleynhans, sy voorlegging “The Afrikaner community as an experiment” in 2014 gemaak het.

Nodeloos om te sê dat meeste van die konferensiegangers daarom alreeds met my aankoms baie goed van Orania ingelig was. Dit het my vervolgens die geleentheid gebied om meer in detail te gesels oor die onderskeie instellings op Orania en wat ons vir die volgende vyf jaar beplan. Indringende vrae is gevra en die reaksie op my antwoorde was telkens oorweldigend positief. Veral die praktiese toepassing van ons idees het heelwat belangstelling gelok.

Ek sal selfs so ver gaan om te sê dat dit wat Orania doen ’n voorbeeld aan die res van die Westerse wêreld is oor wat ’n gefokusde en doelgedrewe Christelike kultuurgemeenskap kan vermag in ’n vyandige see van humanisme en politiese korrektheid.

Oor die duur van die konferensie is kontakte opgebou met mense van Singapoer, Costa Rica, die VSA, Hong Kong, Duitsland, België, Griekeland, die Oekraïene en nog vele ander lande met mense wat Orania se strewe verstaan en ondersteun. Die beste is ook van die geleentheid gemaak om met Proff. Van Dun en Dürr te gesels oor die verdere uitbou van Orania se interne geskilbeslegtingsprosedure – beide het hartlike uitnodigings gerig om verder oor hierdie en ander konsepte te gesels. Veral prof. Van Dun se perspektiewe op gemeenskap was baie insiggewend.

Dit bevestig net weer dat Orania se stryd nie in isolasie plaasvind nie en dat ons saak resoneer met vele mense van regoor die wêreld. Dit is dan ook ons taak om hierdie netwerke by te hou en op te volg, met die groot uitdaging om te verseker dat ons ons op só ’n manier van ons taak kwyt dat ons nooit ’n verleentheid vir potensiële internasionale bondgenote sal wees nie.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel