by Orania Beweging | Okt 30, 2015 | Nuus |
Ek het pas weer die toespraak van dr Christiaan A Verwoerd gelees wat hy tydens die HF Verwoerdgedenklesing in 2014 gehou het. Dit het my genoop om ook ‘n stuiwer in die apartheids-armbeurs te gooi, naamlik oor die apartheidsmaatreëls.
Dr HF Verwoerd het geglo dat apartheidsmaatreëls gedien het om die ineengestrengelde mensegroepe in die land uitmekaar te woel sodat partisie (afsonderlike ontwikkeling) kon plaasvind en elke volk homself dan in sy eie land kan regeer, ook dat die apartheidsmaatreëls geleidelik afgeskaf sou word en dat daar dan ‘n Statebond van Suid-Afrikaanse state sou wees wat polities onafhanklik, maar ekonomies interafhanklik sou wees.
Was die apartheidsmaatreëls permanent of tydelik?
Dit blyk dat die apartheidsmaatreëls inderdaad tydelik van aard moes wees. Dr DF Malan het op 26 Januarie 1948 (dit is skaars vier maande voor die 1948-verkiesing van 26 Mei 1948) die volgende in die Volksraad gesê, wat ʼn belangrike hoeksteen van die apartheidsbeleid uitlig, naamlik die tydelikheid daarvan. Malan sê:
“Ons kan by die oplossing of vermeende oplossing wat op een of ander tyd gevind is, bly staan, maar hierdie vraagstuk bly nie staan nie. Hy is gedurig besig om meer ingewikkeld en moeiliker te word as tevore. Daar is geen vraagstuk wat so hard roep vir ʼn oplossing as hierdie nie, en desnoods om ʼn goeie oplossing te vind, mag dit nodig wees om die standpunt te hersien wat jy tevore ingeneem het. Hierdie vraagstuk bly nie staan nie. Hy is gedurig besig om te verander …“ (Hansard 1948: 423-424).
Volgens Verwoerd was die apartheidsmaatreëls tydelike maatreëls wat eendag, wanneer afsonderlike ontwikkeling geslaag het, afgeskaf sou wees, met ander woorde wanneer Suid-Afrika in volkstate gepartisioneer sou wees.
Mnr Hendrik Verwoerd het hierdie standpunt in ʼn brief aan my, gedateer 22 Junie 2013, verduidelik, naamlik dat sy pa “klein apartheid” gesien het as ʼn middel tot die doel om “groot apartheid” te verwesenlik, dit is die uiteindelike partisionering van Suid-Afrika. Om te gou klein apartheid af te skaf, kan die einddoel in gevaar stel.
Dr Verwoerd het ook sy politieke standpunte aan die destydse Eerste Minister van Australië, sir Robert Menzies, verduidelik in ʼn brief, gedateer 24 Junie 1960, en skryf:
“It must be understood that only after sufficient success has been achieved in the direction of separate development with full opportunities for all, each among the members of his own group, can relaxations take place in the White areas. It is, therefore, not a matter of human dignity but of self-preservation with full readiness to waive distinctive treatment when the danger of losing out has disappeared” (1967:206).(Eie beklemtoning).
Verwoerd het ook tydens ʼn mediakonferensie wat hy toegespeek het nadat hy Suid-Afrika se aansoek om lidmaatskap van die Statebond in 1961 teruggetrek het, sy politieke plan kortliks saamgevat soos volg:
“I can see a development of a commonwealth of South Africa … a commonwealth where blacks and whites can co-operate as separate and independent states … In short, a policy of good neighbourliness based on two principles… political independence and economic interdependence” (Pelzer, 1963: XLII en die Sunday Dispatch van 19 Maart 1961).
Die historikus Hermann Giliomee het ʼn artikel geskryf in Rapport van 24 Junie 2012 onder die opskrif Apartheid: Was dit dan net boos? Daarin sê Giliomee onder andere:
• “Tussen 1950 en 1970 het die getal swart kinders op skool met drie keer vermenigvuldig. Voorts was swart- en wit-leerplanne basies dieselfde”.
• “Die land was suksesvol genoeg dat die nuustydskrif TIME Verwoerd in Augustus 1966 kon beskryf as ‘… one of the ablest white leaders Africa has ever produced’”.
• “Die uitstaande liberale historikus CW de Kiewiet vergelyk Verwoerd in 1963 met Charles de Gaulle, ‘… the stern, headstrong but deeply imaginative leader of France’ ”.
In 1987 het professor André Thomashausen van Unisa ʼn artikel gepubliseer met die titel: The Dismantling of Apartheid. Daarin gee hy onder andere besonderhede van die Nasionale Party se “reform policies” en verwys na die “…gradual abolition of some 100 discriminatory laws”. Hy gee besonderhede van die apartheidswette wat vanaf 1978 afgeskaf is.
Daar is ook die mins moontlike aandag deur die internasionale wêreld aan apartheidsvorme in die VSA en Australië gegee. Net Suid-Afrika is uitgesonder as mense (Blankes) wat sonde teen die mendom pleeg. My studie oor apartheidsvorme in die VSA, Australië en Suid-Afrika oor die afgelope 350 jaar, toon aan dat Europeërs Noord-Amerika oor tyd beset het en die inheemse Indiane uitgeroei en hul land afgeneem het. Aaklighede het oor tyd teenoor die Indiane plaasgevind.
Dieselfde het in Austalië gebeur sedert die Britte in 1788 daar ankergegooi het. Die inheemse mense, naamlik Aborigenies, Torres-eilanders en Tasmaniërs, is ook uitgeroei en hul land afgevat.
Vandag sit ons in ‘n eenheidstaat waarin die blankes binne 15 jaar slegs sowat 2 uit elke 100 Suid-Afrikaners gaan wees. Dit gaan reeds baie sleg met die Suid-Afrikaanse eenheidstaat. ʼn Mens kan ‘n lang lys voorbeelde opstel van korrupsie, moorde, misdaad, die verdrukking van Afrikaans as taal, rassisme, regstellende aksie, plaasmoorde en nog baie ander onreëlmatighede.
Hoe lyk ons toekoms?
ʼn Mens kan maar net wonder wat dr Verwoerd vir ons sou bereik het as hy nie vermoor is nie. Tans lê ons hoop grootliks in Solidariteit se nuwe planne.
Ons moet saamstaan en verseker dat dit slaag!
Dr Koos van der Merwe het verlede jaar na byna 37 jaar diens uit die Parlement getree en op sy oudag (76 jaar) sy doktorsgraad aan die Vrystaatse Universiteit behaal met ‘n proefskrif oor apartheidsvorme in die VSA, Australië en Suid-Afrika oor die afgelope 350 jaar. Koos beywer hom nou om te help om Afrikaners op te hef en weer trots te wees en op te hou om skuldig te voel oor ons verlede. Hy het die Hendrik Biebouw Trust gestig waarop onder andere mnr Flip Buys dien. Die doel is om Afrikaners se ware geskiedenis op beeld vas te lê. Koos is voorsitter en die projek word ondersteun deur Solidariteit, die FAK en die Dagbreek Trust. Drie DVD’s is reeds afgehandel, naamlik Afrikaans Een en Afrikaans Twee en die ABO. Die apartheidsepisode is byna voltooi en word vroeg in Desember aan die Trust vir goedkeuring voorgelê. Dan volg daar nog sowat tien episodes.
by Orania Beweging | Okt 30, 2015 | Nuus |
Verlede naweek het ʼn komediant met geen politieke ervaring die presidentsverkiesing in Guatemala gewen. Inwoners van dié Sentraal-Amerikaanse land was so moeg vir korrupte regerings van ou-orde politici dat die vars boodskap van die komediant, Jimmy Morales, tot hulle gespreek het.
Verlede week is ʼn bloedjong nuwe eerste minister in Kanada verkies. Justin Trudeau van die Liberale Party het vir Stephen Harper, reeds byna tien jaar lank eerste minister van Kanada, gemaklik verslaan. Die rede? Trudeau, ʼn linkse politikus het ʼn sterk veldtog teen die huidige politieke orde gevoer. Hy het ʼn vars nuwe aanslag gevolg en sy soort populistiese sosialisme het tot ʼn jong generasie Kanadese gespreek.
In Switserland en Denemarke het regse politieke partye wat sterk teen die huidige politieke orde gekant is, onlangs opgang gemaak. In Switserland het die populistiese Volksparty in ʼn nasionale verkiesing ou gevestigde partye vir die eerste plek uitgestof.
Tans loop soortgelyke populistiese politieke partye wat steun kry weens hul opposisie teen gevestigde politieke stelsels in talle Europese lande voor. Die Partij Voor de Vrijheid wat tans sy beste nog in peilings in Nederland vertoon, is maar een voorbeeld.
In die Verenigde State loop die skatryk sakeman Donald Trump nou reeds vir meer as 100 dae voor in die stryd om die Republikeinse Party se presidentskandidaat te word. Trump is gewild omdat hy ʼn sterk veldtog teen beroepspolitici voer. Kort op die hakke van Trump is die swart breinchirurg Ben Carson. Trump en Carson het beide nog nooit ʼn verkose politieke posisie beklee nie. Hulle kan dus tereg daarop aanspraak maak dat hulle nie politici is nie. Saamgetel beteken dit dat meer as 50% van Republikeine ʼn kandidaat wat teen die gevestigde politiek gekant is, verkies.
Is hier ʼn patroon te bespeur? Veral in Westerse lande is daar tans ʼn golf van ontevredenheid onder landsburgers. In die VSA dink minstens tweederdes van mense, volgens verskeie peilings, dat die land op die verkeerde spoor is en dat dinge eerder slegter as beter raak. Ook Kanada het soortgelyke gevoelens, ten spyte van ekonomiese voorspoed, tot die nederlaag van die Konserwatiewe Party gelei.
In Europa, sowel as Australië is mense negatief en soms selfs angstig oor hul land se toekoms. Mense soek verandering, maar nie net die ou soort van politieke verandering waaraan hulle gewoond geraak het nie. In baie Westerse lande het landsburgers daaraan gewoond geraak dat politieke partye verskillend praat, maar eintlik maar dieselfde soort dinge doen. ʼn Regeringsverandering in hierdie lande beteken dus dat maar min dinge werklik sal verander.
In Europa neem die frustrasie met ʼn onverkose regering in Brussel ook toe. Die huidige immigrasiekrisis toon duidelik hoe politici en tegnokrate in Brussel politieskorrekte besluite neem sonder dat hulle ʼn mandaat van burgers in die EU se lidlande het.
Daar is genoeg rede om te glo dat hierdie teenstand teen gevestigde politieke ordes sal toeneem en dat nuwe linkse en regse partye en persone wat hul land in ʼn totaal nuwe koers wil neem meer en meer steun gaan kry. Dit kan die Weste oor die volgende paar jaar in ʼn nuwe rigting stuur.
by Orania Beweging | Okt 28, 2015 | Nuus |
In aansluiting by my vorige stuk oor links en regs behandel ek die vraagstuk oor grense, omdat dit ‘n kernvraagstuk is in linkse en regse denke.
Die woord grens of grense is vir linkses ‘n vloekwoord. Dit het die klank van uitsluiting, diskriminasie, beperking, skeiding, apartheid. In linkse toesprake, liedjies, artikels en films is dikwels die oorkom of afbreek van grense die oorheersende tema. Die betonmuur wat Israel van die Palestynse nedersettings skei is ‘n gewilde onderwerp vir emosionele foto’s en artikels in meesal linkse publikasies. In die verlede was die grense tussen wit en welvarende en swart en arm woonbuurte ‘n permanente bron van ontsteltenis in linkse kringe wêreldwyd.
Die Europese Unie, wat deur ‘n links-liberale elite beheer word, se uiteindelike ongeskrewe doel is om die nasionale grense tussen sy lidlande oorbodig te maak en lande so kultureel en ekonomies uiteenlopend soos Griekeland en Nederland in een superstaat saam te vat. Dit is reeds gedeeltelik gedoen deur die totstandkoming van die Schengen-sone, waarbinne nasionale grense feitlik betekenisloos geword het en almal vrylik kan beweeg, nie net as toeris nie, maar ook vir werks- en nedersettingsdoeleindes.
Sekere grense het te reg ‘n slegte assosiasie en verdeel mense wat bymekaar hoort. Die bekendste voorbeeld was die ystergordyn tussen Oos- en Wes-Europa, spesifiek tussen Oos- en Wes-Duitsland. Die omtrek van die Berlynse muur was een van die mees emosionele gebeure in die 20ste eeu. Dit het, interessant genoeg, veral vryheidsgesindes, van liberaal tot konserwatief, aangegryp, terwyl dit vir die meeste linkses eerder iets was om oor te treur. Dit het immers die oorwinning van Westerse kapitalisme oor sosialisme gesimboliseer. Die grens tussen Noord-en Suid-Korea is nog ‘n simbool van onderdrukking wat tereg as ‘n aaklike oorblyfsel van die koue oorlog beskou word. Meer nog, die grens skei nie volke nie, maar verdeel dieselfde volk in ‘n vrye en demokratiese, en ‘n onvrye en kommunistiese deel. In Afrika is talle grense uiters lukraak en volg geen etniese, historiese of geografiese logika nie.
Ten spyte van die feilbaarheid van grense is hulle bestaan vir seker beter as geen grense nie. Trouens, die idee dat daar ’n wêreld sonder grense kan bestaan is eintlik net ‘n pypdroom van daggarokende hippies. Sedert die skepping van die mens is daar groepe wat later in volke ontwikkel het en wat hulle van mekaar afgegrens het, lank voor die ontstaan van die moderne nasiestaat met sy geformaliseerde grensbeheer.
Grense word dikwels verantwoordelik gemaak vir die ontstaan van oorlog. Inderwaarheid is ‘n grens ‘n manier om oorloë te probeer inperk. Volke wat geen of slegs vae grense gehad het, soos die stamsamelewings van Afrika of die Indiane in Noord-Amerika, was daarom nie meer vreedsaam nie, trouens, eerder die teendeel is waar. Goed bevestigde grense was in die geskiedenis juis die voorwaarde vir ontwikkeling, wat volg op vrede en veiligheid. Ons kan dink aan die Sjinese Muur wat die gevorderde Sjinese beskawing teen die invalle van die barbaarse Mongole beskerm het, of die limes, die Romeinse grens teen die Germane, wat die Pax Romana onderlê het.
Grense moet ook nie gesien word as ondeurdringbaar soos die ystergordyn of die grens tussen die twee Korea’s nie. Grense was altyd ook ‘n punt van kontak en handel, maar op ’n geordende manier en met die moontlikheid om in tye van gevaar die grense te sluit. Die “donker Middeleeue” wat direk op die val van die Romeinse beskawing gevolg het, was juis so chaoties en donker omdat geen grense meer bestaan het nie en niks die swakker volke teen die sterker en meer brutale volke beskerm het nie. Dit kan geargumenteer word dat, soos wat grense na die Vrede van Wesfale van 1648 meer geformaliseer geraak het, konflikte geleidelik minder geword het, of van korter duur was. Intussen het ons selfs ‘n punt bereik waar oorloë oor grense heen die uitsondering is en vinnig deur instansies soos die VN aangespreek kan word, terwyl burgeroorloë binne state veel meer lewens eis en moeilik opgelos kan word. Die tans aanwesige vlugtelingkrisis in Europa is juis so buite beheer omdat die EU grense effektiewelik afgeskaf het. Die gesegde “goeie grense skep goeie bure” geld vandag meer as ooit.
by Orania Beweging | Okt 22, 2015 | Nuus |
Nadat die NG Kerk onlangs ʼn wesenlike besluit oor huwelike tussen persone van dieselfde geslag geneem het, is die Afrikaanse media weer gedomineer deur artikels, briewe en redaksionele kommentare oor die rol van die kerk in ʼn moderne Westerse samelewing. Die huidige debat onder Afrikaners oor die toekoms van die Afrikaanse kerk en die voortbestaan van ons Christelike geloof fokus hoofsaaklik op ʼn afspeel van twee moontlike opsies. Die een is ʼn suiwer konserwatiewe benadering van behoud, terwyl die ander ʼn suiwer liberale benadering van aanpassing is om aan die mens se moderne behoeftes te voldoen.
Die NG Kerk se besluit staan nie in isolasie nie. Dit is deel van ʼn internasionale liberalisering waarvolgens Bybelse geloofsoortuigings toenemend tot die private beperk word en kerke desperate pogings aanwend om by mense se behoeftes aan te pas ten einde relevant te bly.
Die VSA, dié land met die grootste Christelike bevolking in die wêreld, het vroeër vanjaar gesien hoe Christenskap tot die private ruimte beperk word met verskeie hofuitsprake teen Christelike beginsels. Voor die VSA het hierdie proses in bykans elke Wes-Europese land plaasgevind. In Suid-Afrika sien ons dieselfde aanslag teen Christenskap.
Die gerespekteerde Amerikaanse konserwatiewe skrywer, Rod Dreher, skryf onlangs in Time-tydskrif dat Amerikaners nou in ʼn kultureel post-Christelike land leef. Dreher identifiseer die moderne kultuur van individualisme as die kern van die probleem in Amerika. Die verval van die tradisionele huwelik is slegs een gevolg van die totale verval van die gemeenskap as die draer van tradisionele waardes. Gesinne wat saamkom en ʼn sterk gemeenskap met gedeelde waardes vorm, bestaan byna nie meer in Westerse lande nie.
Dreher stel ʼn sogenaamde Benedictus-opsie vir Christene voor. Die filosoof, Alasdair MacIntyre het in 1982 in sy boek, After Virtue, vandag se kulturele verval met die kulturele verval van Antieke Rome vergelyk. Benedictus van Nursia, ʼn jong Christen het uit Rome getrek om in afsondering in ʼn woud oor die verknorsing van sy volk te gaan bid. ʼn Gemeenskap van tradisionele Christene het om hom ontstaan en regdeur die vroeë Middeleeue het sogenaamde Benediekse gemeenskappe tot standgekom wat die Roomse beskawing en Christelike waardes lewendig gehou het.
Andrew Walker, ʼn gerespekteerde Christelike skrywer in Amerika stel ʼn ander opsie, die Kuyper-opsie voor. Abraham Kuyper, Nederlandse dominee en politikus uit die laat negentiende eeu, het ʼn meer Neocalvinistiese benadering tot ʼn veranderende wêreld voorgestaan. In hierdie idioom moet Christene nie die veranderinge in die wêreld as ʼn bedreiging beskou nie, maar eerder dit as ʼn gegewe aanvaar en binne hierdie realiteit ruimtes skep om steeds ʼn suiwer geloofslewe te lei.
Walker vra vir ʼn benadering waar Christene teen die wêreld, maar ook vir die wêreld is. Christene moet dus tot ʼn mate onttrek en hergroepeer, maar daar moet ook ʼn voorvoetbenadering wees om steeds die boodskap van tradisionele waardes in die wêreld uit te dra. Die daarstel van sterk Christelike gemeenskappe soos wat nog in die Bybelgordel in Nederland en sommige Oos-Europese lande teenwoordig is, is nodig, maar Christene moet ook voortgaan om in post-Christelike ruimtes mense aan die langtermyn oplossing wat Christelike waardes vir die wêreld inhou, te herinner. Orania kan hier ʼn unieke rol speel as ʼn Christelike ruimte wat na binne en buite fokus.
by Orania Beweging | Okt 22, 2015 | Nuus |
Dr Luis Durnwalder, voormalige goewerneur van die outonome provinsie Suid-Tirool in Italië, het op 10 Oktober in Pretoria voor ‘n gehoor van meer as 2700 mense by die Solidariteit Beweging Toekomsberaad opgetree.
Die belangrikste boodskap wat dr Durnwalder oorgedra het, is dat verskillende kultuurgroepe in diverse lande en streke langs mekaar mag funksioneer sonder dat enige groep hul taal of kultuur hoef op te gee. Die idee dat sommige minderhede hul regte op eie onderwys, taalruimtes en instellings moet opgee sodat daar in ander groepe se behoeftes voldoen kan word, is nie aanvaarbaar nie. Volgens dr Durnwalder is dit diktators soos Mussolini en Hitler wat minderhede en ook hulle in Suid-Tirool wou verwoes. Die vraag kan gevra word oor of figure soos die Suid-Afrikaanse minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, nie maar net diktators is wat Afrikaners se taal en kulturele regte wil verwoes nie.
Die argument dat Afrikaners nie oor Afrikanersake kan of moet praat nie omdat Suid-Afrika se probleme groter is of omdat Afrikaners vir lank bevoordeel is en dus steeds in ‘n sterker posisie as baie van ons landsgenote is, is ook weerlê.
In Suid-Tirool kon drie volkere met drie verskillende tale en drie totaal verskillende kulture daarin slaag om saam een van die suksesvolste streke in Europa te skep. Dit was egter nie altyd so nie. Daar was ‘n tyd toe die streek baie armer as vandag was. Die Tirolers wat meestal boere en ambagslui. Die duisende Italianers wat deur Mussolini na Suid-Tirool verskuif is in die hoop dat die Tirolers so die minderheid in hul eie provinsie kon word, was ook meestal arm mense uit die suide van Italië. Vandag is almal in Suid-Tirool ekonomies bemagtig. Die streek het ‘n werkloosheidkoers van minder as 3% en die gemiddelde inkomste in Suid-Tirool is bykans 30% hoër as in die res van Italië.
Hoe het hulle dit reggekry. Die een opsie wat hulle kon volg en wat die fascistiese regering van Mussolini met rampspoedige gevolge probeer volg het, sou wees om almal in Suid-Tirool in een volk en dus een taal en kultuur te assimilieer.
Nadat die provinsie ‘n groot mate van outonomiteit verkry het, het hulle eerder die roete gevolg om ruimte vir elkeen van die streek se bevolkingsgroepe te skep. So is daar skole, ouetehuise, museums, kultuursentrums en verskeie ander openbare instellings en ruimtes vir elke kultuurgroep geskep. Geen Duitssprekende Tiroolse kind hoef na ‘n Italiaanse skool te gaan omdat die meerderheid van kinders in sy woonbuurt dalk Italiaans is nie. Indien daar genoeg Duitse kinders is, mag daar ‘n Duitse skool wees. Vandag leef almal in Suid-Tirool in vrede saam en werk almal saam om die streek sterke te maak.
Suid-Afrika volg egter reeds vir meer as twintig jaar die teenoorgestelde roete. Minderhede se regte en ruimtes word ontneem omdat daar nie vir die meerderheid voldoende instellings en ruimtes bestaan nie. Daar is toenemende wantroue tussen Suid-Afrikaners van verskillende kultuuragtergronde en samewerking om van Suid-Afrika ‘n beter plek te maak, raak ook minder. Afrikaners sal dus op hul eie moet voortgaan om hul eie ruimtes en instellings te skep. Ons moet dit egter nie teen enigiemand doen, maar op so ‘n manier dat ander gemeenskappe en kultuurgroepe daarby aansluiting kan vind. Terwyl dinge in Suid-Afrika versleg raak selfbeskikking meer en meer relevant en die Orania-model van groeiende selfstandigheid moet voortgesit word totdat ons ‘n groot mate van outonomiteit kan verkry.
by Orania Beweging | Okt 21, 2015 | Nuus |
Dit is `n tipiese somersdag in voorstedelike Johannesburg. Oomblikke gelede het die klokkie by die sekuriteitshek gelui en Marie maak die hek vir Betta, hul getroue huishulp oop. Marie kyk by haar venster uit en waai vir die vriendelike oom wat met sy gholfkarretjie rondrits. Die veiligheidskompleks waarin hulle woon bied aan haar die geleentheid om later rustig te gaan stap en die somersoggend te geniet. Sy kyk op haar horlosie en herinner haarself daaraan dat sy later vir die DA moet gaan stem. Sy wil immers nie hê dat die ANC die wyk in vandag se tussenverkiesing wen nie.
Voor sy gaan stap skakel sy eers die televisie aan en skud haar kop vir die onsinnige betogings wat tans op kykNET se program, Dagbreek bespreek word. Dan beweeg die program se bespreking na die onrus op universiteitskampusse. “Barbaars,” mompel sy sag genoeg dat Betta haar nie hoor nie. Nie dat Betta ooit op Pukke of Tuks studeer het nie. Sy dink nostalgies terug aan die “goeie ou dae” op universiteitskampusse. Die kêrels wat buite die koshuis se kamervensters sêr, Oom PW wat sy vinger vir die terroriste swaai en die dienspligontduikers in die tronk. Oppad stembus toe sien sy vanoggend se Beeld by die voordeur lê. Sy blaai vinnig deur en trek haar gesig soos iemand wat suurlemoen geproe het vir Adriaan Basson se jongste redaksionele kommentaar. Sy sit die koerant op die tafeltjie by die voordeur en herinner haarself dat sy later vanoggend die intekening moet hernu.
Die stembus is nog stil. Dit is basies net sy en enkele van haar bure daar. Hulle gesels oor die weer en die nuwe bestuur by die klubhuis waar die spyskaart nou ook sushi insluit. Marie spog oor haar kinders se jongste rapport. Cornel Primary is `n uitstekende skool en berei hulle goed voor. “Julle moet hoor hoe mooi praat hulle Engels,” sê Marie met `n vonkel in haar oog.
Ongeveer 900 kilometer van daar af in die landelike Oos-Kaap sit `n Xhosa-hoofman met sy kop in sy hande. Hy is moedeloos en die probleme hou nie op nie. Hy kyk op en sy oë val op die klein skooltjie in die middel van die gemeenskap. Die kinders speel sorgeloos buite. Hulle lag en gesels. Hy dink aan vanoggend se gesprek met die skoolhoof.
“Die kinders sukkel van graad vyf af om by te hou met die leerplan. Hulle is nie gemaklik met Engels nie,” het die skoolhoof verduidelik.
“Maar leer hulle dan in hulle moedertaal, Xhosa,” het die hoofman die probleem afgemaak.
“Ons mag nie,” het die skoolhoof geantwoord. “Die Departement verplig ons om hulle van graad vyf af in Engels te onderrig.”
Die uitdrukking op die hoofman se gesig was een van totale ongeloof. “Maar ons kinders het die minimum blootstelling aan Engels.”
Vanoggend se gesprek het die hoofman moedeloos. Hoe kan jy kinders as die toekoms van die land beskryf as jy hulle van `n basiese reg op opvoeding ontneem? Hoe kan elf tale in die grondwet erken word maar net een in die skole toegelaat word? Dan kyk die hoofman weer na die papier in sy hande. Dit kom van die plaaslike stadsraad af. Vir baie jare het die hoofman en sy raad erwe aan jong paartjies na hulle troudag toegeken. Die stukkie grond was groot genoeg om `n hut op te rig, `n paar beeste aan te hou en groente te plant. Dit is `n eeue-oue tradisie. Die munisipaliteit het hom egter in kennis gestel dat hy en sy ouderlinge nie meer grond kan toeken soos hulle goed dink nie. Die egpaar moet na die naaste munisipale kantore reis en daar die nodige aansoekvorms invul. Daarna sal hulle op `n waglys geplaas word vir `n HOP-huis.
Die hoofman kan nie verstaan waarom hulle, as gemeenskap, nie hulself kan regeer nie. Waarom moet `n munisipale regering vir hulle besluit hoe eiendom toegeken word? Waarom moet `n Departement van Onderwys besluit in watter taal hulle kinders onderrig word? Die hoofman skud sy kop en tel eerder sy koerant op. Sy gunsteling rubriekskrywer, Johnny Masilela, se artikel vang sy oog. ‘An expedition into Orania.’
Nuutste Opmerkings