Orania-waaroor gaan dit nou eintlik?

Vir ons wat in Orania woon mag dit wat ons doen alledaags voorkom en ons dink nie eens meer daaraan nie. Almal gaan werk of skool toe, doen inkopies, woon vergaderings by, gaan huis toe, maak kos, ontspan en gaan slaap, soos op enige ander plek ook. Maar ons bou gelyktydig aan ‘n plek vir Afrikaners wat vry wil wees.

Vryheid kan gedefinieer word as die vermoë om jou eie besluite uit te voer. Vryheid strek veel vêrder as dit wat vir talle mense die beweegrede is om Orania toe te wil kom: werk, veiligheid, goeie skole, skoon natuur, rustigheid, om tussen jou eie mense te wees en jou eie taal en kultuur te bebesig. Dit is alles elemente van vryheid, maar dit kan jy op ander plekke ook kry.

 

Hier gaan dit in elk geval nie oor dit wat jy uit Orania kan kry nie, maar wat jy kan bydra om dit ‘n werkbare plek vir Afrikaner-vryheid te maak. Dit sal natuurlik ook vir jou as individu bevoordeel, maar dit gaan veral oor die volksaksie wat dit moontlik maak en wat van die geheel en die idee wat dit onderlê meer maak as slegs die totaalbedrag van individuele lewenskeuses.

 

Wat is dit dan wat ons doen en wat beteken vryheid in praktyk? Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

 

Daar is ten eerste die christelike geloof, waarsonder Afrikanerskap ondenkbaar is. Al is daar sekulêre Afrikaners en al is hulle daarom nie minder Afrikaners nie, is geloof van die begin af deel van die Afrikaner se wese en was God se hand nog altyd teenwoordig by die vorming en voortbestaan van die enigste inheemse blanke volk in Afrika wat teen moeilike omstandighede en teenstanders moes veg en dit nog doen. Jou christenskap kan natuurlik ook buite Orania uitgeleef word, maar daar is ‘’n verskil om ‘n christen in die private te wees, of om in ‘n christelike gemeenskap te lewe. As Orania en die volkstaat nie christelik gefundeer is nie, hoef ons nie eers verder daaraan te bou nie.

 

Die ander hoeksteen van Orania is eie arbeid. Dit is nie net ‘n middel tot ‘n doel nie, naamlik meerderheidsbesetting nie, maar ‘n doel op sigself, waarsonder Orania gedoem is. Dit was reg dat die stigters van die begin af so onbuigbaar, tot irritasie van talle voornemende intrekkers en besoekers, op eie arbeid gestaan het. Dit behoort eintlik vanselfsprekend te wees, maar talle Afrikaners verstaan dit nie: jy kan nie politieke mag, finansiële mag en arbeidsmag van mekaar skei nie. Iemand wat vir jou werk sal nie onbepaald op ‘n ander plek wil woon en elke dag lang ure pendel nie. En iemand wat vir jou werk, soek ook politieke regte daar waar hy woon en werk. Die proses kan vir lang tye vertraag word deur middel van nie-toekenning van burgerskap, maar op langtermyn is dit onvolhoubaar. Samelewings waar ras en ekonomiese klas geskei is, is gewoonlik plofbaar en gewelddadig. Die feit dat die ou Suid-Afrika en enige koloniale bestel geval het, bewys dit. Homogene samelewings waar volksgenote enige werk doen en waar die verskille gering is, is die mees stabile lande (wat veral in Europa te vinde is).

 

Afrikaans is ook onlosmaaklik deel van die Orania-ideaal. Ons taal word orals bedreig en geen Afrikaanse kunstefeeste, musiek en boeke kon die verlies aan Afrikaanse skole, universiteite en instellings keer nie. Kleiner tale moet iets soos ’n enjinkamer hê waar sy sprekers gekonsentreer is en waar alles in die taal gedoen word. Die kunsmatige skeiding van Engels (of ander wêreldtale) vir die openbare sfeer en die inheemse taal vir die private sfeer werk ook net vir ‘n ruk. Honderde tale het al uitgesterf en daarmee saam ‘n hele leefwêreld omdat hulle geen waarde in die openbaar meer het nie. In die hele wêreld is Orania die enigste gemeenskap waar Afrikaans op alle vlakke uitsluitlik gebruik word. Die langtermyn oorlewing van Afrikaans hang af daarvan dat ons Afrikaanssprekende instellings vir navorsing, opvoeding en kultuur op Orania vestig.

 

Die eie kultuur kan ook net in groepsverband uitgeleef word. Mense pas aan hulle omgewing aan en min mense wil graag deel van ‘n minderheid wees en emigrantegemeenskappe bestaan dikwels net vir ‘n generasie of twee. Vir Afrikanerkultuur om te oorleef moet daar ruimte wees, iets wat in die Engels en swart oorheersde en onverdraagsame Suid-Afrika toenemend moeilik raak. Kultuur en erfenis moet ook oorgedra word, deur middel van onderwys en deur die familie en die omgewing.Orania-Bew-Logo-spiral

As ryke tot ʼn val kom

greece-athens-erechtheionstatuesDie Britse digter Lord Byron het in 1812 geskryf: “Onsterflik, hoewel nie meer nie! Hoewel gevalle, steeds groot!” Hierdie digterlike opmerking van hom het verwys na die val van groot ryke en in besonder Klassieke Griekeland. Op die hoogtepunt van die krag en mag van ʼn groot ryk sal niemand dink dat hy sterflik is nie, netso beteken die val van ʼn groot ryk nie dat sy mense en hul instellings nie steeds groot is nie.

Seker elke tydperk in die wêreld se bestaan het die val van groot ryke beleef. Ons beleef dit ook weer vandag. Die wyse waarop die VSA en Europa, die twee groot dominante magte van die twintigste eeu, tans agteruitboer is tekenend hiervan.

Josiah Ober, ʼn gerespekteerde Amerikaanse historikus en kenner van Antieke Griekeland beskryf die ontwikkelingsfases van groot ryke deeglik in sy boek “The rise and fall of classical Greece.” Die eerste fase is die ontwikkeling van die bevolking en die intrede van spesialisasie. Dan word die volk uit tirannie gelei tot in ʼn vorm van demokrasie. Daarop volg die groot era waar ʼn ryk sy vorm aanneem en hy ʼn magtige rol in die wêreld begin speel. Grootskaalse groei volg en daaruit spruit wanorde en uiteindelik die val van politieke heersers.

Ober se bespreking van hierdie fases van ontwikkeling is sterk geskoei op sy kennis van Antieke Griekeland, maar kan ook op meer onlangse ervarings toegepas word. Ons kan Ober se fases van ontwikkeling ook identifiseer in die wyse waarop Westerse lande na die Tweede Wêreldoorlog ontwikkel het.

Amerika se groei tot wêreldmag is moontlik gemaak deur interne spesialisasie en sterk ekonomiese ontwikkeling. In Europa het Duitsland weer ʼn mag geword nadat hy uit die as opgestaan en ekonomies ontwikkel het. Vandag word beide hierdie lande gekenmerk aan ʼn visieloosheid. Die verval van identiteit in beide gevalle dra hiertoe by.

Globalisering het natuurlik ʼn nuwe dimensie tot die uitdagings van moderne ryke gevoeg. Die mobiliteit van die moderne mense en die interafhanklikheid van state het meegedring dat homogeniteit toenemend tot die Derde Wêreld beperk word. Die uitdagings wat immigrasie aan lande in die Westerse wêreld skep is tans duidelik sigbaar en is so wesenlik dat dit waarskynlik tot die val van talle moderne Westerse demokrasieë sal lei.

Die huidige verwerping van politieke leierskap in talle Westerse lande, die afvalligheid van voorheen goeie, getroue burgers en die wanorde weens ʼn tekort aan visie is reeds sigbaar. Europa se huidige stryd met immigrasie en die gevolglike probleme van terrorisme is tekenend van die vroeë fase van wanorde. Ons kan nie anders as om te verwag dat ʼn politieke vervalling een of ander tyd in talle Europese lande sal volg nie. Die burgery sal nie maar net getrou bly stilbly terwyl swak politieke leierskap hul toekoms bedreig nie.

Josiah Ober sê egter ook dat daar uit die verval van ryke nuwe kreatiwiteit en geleenthede ontstaan. Verskeie stadstate het juis uit die val van die Griekse Ryk tot stand gekom. Die verval van vandag se moderne ryke bied geleenthede vir volkere om hulself opnuut te organiseer. Dit bied hoop vir die behoud van die Westerse beskawing.

Blik an Buite. Belangrike internasionale gebeure die laaste tyd.

Spanje/Marokko: 40 jaar van Wes-Sahara konflik/besetting. 40 jaar gelede, op 6 November 1975, het die “Groen Mars” plaasgevind, waarmee een van die laaste kolonies in Afrika, die Spaanse Sahara (Rio de Oro) tot ‘n val gekom het. Die Spaanse Sahara is was sedert 1884 in Spanje se besit. 350 000 Marokkane het, in opdrag van koning Hassan, in groen geklee (groen is die kleur van Islam) en net met Marokkaanse vlae en Korane “bewapen”, die grens na Rio de Oro oorgesteek en daarmee Marokko se aanspraak op die gebied deur middel van ‘n demografiese magsvertoon onderskraag. Sowat 25 000 troepe het egter ook meegemaak en die “vreedsame besetting” was net ‘n front. Die Spaanse grenstroepe het geen weerstand gebied nie om ‘n bloedvergieting te verhoed, alhoewel hulle militêr sterker was as die Marokkaanse weermag. Die Wes-Sahara se bevrydingsbeweging, Polisario, het wel met die Marokkane slaags geraak. Hierdie episode van die dekolonisering het egter plaasgevind in die wêreldpolitieke klimaat van die tyd.

Spanje was een van die laaste Europese lande, saam met sy buurland Portugal, wat aan kolonies vasgehou het. Al twee lande was diktatorskappe en dus nie in dieselfde mate sensitief oor internasionale opinie of druk vanaf die eie bevolking. Brittanje, België en Frankryk het reeds voor of in 1960 van hulle kolonies ontslae geraak. Francisco Franco het Spanje met harde hand regeer. Nogtans het reeds versigtige dekolonisasie in ander gevalle (die piepklein Ekwatoriaal-Guineë het 1968 onafhanklik geword en Sidi Ifni is 1969 aan Marokko oorhandig) plaasgevind. Ten tye van die Groen Mars het Franco op sterwe gelê en het onsekerheid oor die toekoms van die land se interne politiek geheers. Spanje was dus nie in staat om duur koloniale oorloë te veg nie. Reeds in Oktober het Spanje agter die skerms met die Polisario-front, wat vir onafhanklikheid geveg het, ooreengekom om die gebied in die nabye toekoms aan hulle te oorhandig.

Marokko het in 1953 onafhanklik geword van Frankryk en het 2 dekades later, met koning Hassan II aan bewind, interne woelinge gehad. Nasionale prestige deur middel van vergroting van die grondgebied was dus ‘n aanloklike opsie. Die gety was sterk vir dekolonisasie en Spanje was geïsoleerd. Marokko het ‘’n historiese aanspraak op Rio de Oro geldig gemaak wat op ‘n stadium deel van die Islamitiese ryk in Noord-Afrika was en die bevolking was as Arabiere ook stamverwant. Die internasionale Geregshof het ook in Oktober 1975 uitspraak gelewer op versoek van Marokko oor die gebied en het net ‘n swak en wankelrige  aanspraak van Marokko vasgestel en die selfbeskikking van die inheemse bevolking as belangriker beskou, wat ‘n terugslag vir Marokko was. Met die Groen Mars wou Marokko kort voor die VN sitting oor die Wes-Sahara ‘n magsvertoon lewer om sy aanspraak te bevestig. Mauretanië, wat in die suide en ooste aan Rio de Oro grens, het ook aanspraak op die gebied gehad.

Die uitkoms: Spanje het toegegee aan die druk van Marokko en ander lande, o.a. Frankryk, Brittanje en die VSA en het met die ooreenkoms van Madrid op 14 November 1975 ingestem om die gebied Rio de Oro te ontruim en te deel tussen Marokko en Mauretanië. Verteenwoordigers van die inheemse bevolking was nie genooi nie, maar ‘n klousule van die verdrag het melding gemaak dat hulle wense in ag geneem moet word. Polisario het feitlik onmiddellik oorlog teen die besetters verklaar. Die swak Mauretanië kon verslaan word, maar die gebied wat hulle aan Polisario afgestaan het, het Marokko onmiddellik beset. Die OAE en die VN is ten gunste van selfbeskikking van die gebied maar die dispuut is tot vandag toe onopgelos omdat geen konsensus oor die hoe en wat (en veral wie mag stem) van ‘n referendum bestaan. Marokko staan polities in ‘n mate geïsoleerd en sy buurland Algerië vat Polisario se kant en huisves duisende vlugtelinge in die grensdorp Tindouf, waar die Polisario sy regering in ballingskap het. Marokko het egter demografies en geografies feite geskep deur talle Marokkane in die uiters yl bevolkte gebied te vestig en deur in die ooste van Wes-Sahara ‘n geweldige sandwal op te rig wat insuipeling deur die Polisario moeilik maak.

Daar is sekere parallele tussen Wes-Sahara en Suidwes-Afrika: al twee is yl bevolkte woestyn- en semi-woestyngebiede wat deur magtige buurlande beset is en as verlengstuk van die staat bestuur is, terwyl ‘n plaaslike bevrydingsbeweging teen die teenwoordigheid van die lande geveg het (of veg) en die VN en OAE die beweging se kant vat. Al twee is of was van die laaste onopgeloste territoriale dekolonisasie-vraagstukke in Afrika.

Asië:

Sjina: einde van een-kind beleid. Op die kongres van die kommunistiese party van Sjina is so pas aangekondig dat die een-kind beleid geskraap word en pare van nou af twee kinders (maar nie meer nie) mag hê.

Die een-kind beleid is in 1979 ingestel. Die doel was destyds om ‘n bevolkingsontploffing te keer. Sjina is die land met grootste bevolking op aarde (1.3 miljard) en was nog altyd oorbevolk. 1979 was die bevolking amper 1 miljard en dit het gestyg tot 1.3 miljard, maar sedertdien, danksy die een-kind beleid, gestagneer. Die kommunistiese party het destyds, nie sonder rede, gevrees dat onbeheerde bevolkingsgroei die ekonomiese vooruitgang en die verbetering van mense se lewensomstandighede tot niet sou maak. Die land het eenvoudig nie genoeg hulpbronne vir nog meer mense nie. Daar is bereken dat deur die een-kind beleid 400 miljoen minder Sjinese gebore is. Dit sou inderdaad ‘n nagmerriesenario wees om by die 1.3 miljard Sjinese nog 400 miljoen te voeg. Die kommunistiese party argumenteer dat die beleid ook die ekonomiese wonderwerk in Sjina moontlik gemaak het: dit het vroue vrygestel om te werk pleks om by die huis te wees en het gesinne in staat gestel om meer te spaar. Anders gestel het dit Sjina gedwonge verwesters en gemoderniseer en radikaal met die ou Sjinese tradisie van die uitgebreide familie en die patriargale strukture gebreek. Vir die wêreld was dit ook ‘n bedekte seën: die huidige ekonomiese voorspoed het groot besoedeling en vernietiging van hulpbronne tot gevolg en met nog 400 miljoen mense meer sou dit ondraaglik wees. Die een-kind beleid is op tipiese kommunistiese, sentralistiese manier toegepas: pare met meer as een kind is beboet en benadeel, permitte vir uitsonderings moes aangevra word.

Die nadele van die een-kind beleid is egter ook groot: dit is oneties om vir mense voor te skryf hoe hulle moet leef en die een-kind beleid het gelei tot miljoene aborsies en selfs doodmaak van pasgebore babas. Verder het dit tot ‘n groeiende geslagswanbalans gelei: as jy net een kind kan hê, dan moet dit verkieslik ‘n seuntjie wees in Sjina en daarom is talle vroulike fetusse geaborteer. Vir jou sosiale ontwikkeling is dit ook nadelig om as enkelkind op te groei weens gebrek aan sosialisering en ‘n geneigdheid tot selfgesentreerdheid. Na die talle Sjinese enkelkinders word ook verwys as die klein keisers, omdat hulle bederf word en alles kry wat hulle wil hê. Al ‘n paar jaar gelede is die een-kind beleid geleidelik versag: op die platteland is dit minder streng toegepas en pare waar albei self enkelkinders was, is toegelaat om meer as een kind te hê. Wat die regering egter nou oortuig het om die beleid te laat vaar is die demografiese tydbom in die ander rigting: te min kinders beteken dat daar in die toekoms te min werkendes is wat die toenemende ouer bevolking kan dra. Dit is iets wat die Weste reeds lank ondervind. Of die skrapping van die beleid egter die gewenste uitwerking het, is te betwyfel: in ander gemoderniseerde samelewings kon die bevolkingsgroei, as dit eers onder vervangingskoers was, nie meer omgekeer word nie. As een kind die norm is, is dit twyfelagtig dat twee kinders skielik die nuwe normaal sal word. Die onlangse verslappings het reeds min pare beweeg om aansoek te doen vir ‘n tweede kind. Vir die mense is dit egter wel goeie nuus want dit gee hulle meer vryheid in ‘n belangrike saak soos voortplanting.

 

GreenMarch

Deurbraak teen anti-diskriminasiewetgewing in die VSA

say-no-to-heroDie terme gelykheid en anti-diskriminasie word deesdae algemeen gebruik. In beginsel sal die meeste van ons saamstem dat sekere vorme van diskriminasie in die openbare lewe uitgewis moet word en dat gelyke geleenthede ʼn goeie ding is. Waar vryheidsdenkende mense egter van regeringsburokrate verskil is oor hoe ʼn omgewing wat gelyke geleenthede voorstaan geskep kan word.

Die realiteit is dat die groot internasionale stryd teen ongelykheid en gepaardgaande anti-diskirminasiewetgewing, sterk ideologies gedrewe is en eintlik nuwe vorme van diskriminasie kan skep. Die inding in talle Westerse lande is deesdae sogenaamde anti-diskriminasiewetgewing wat eintlik uitloop op ʼn stel, soms vreemde, reëls oor hoe die gemeenskap moet funksioneer ten einde minder diskriminerend te wees.

In Suid-Afrika het ons hierdie werklikheid reeds sterk beleef met die land se talle wette wat daarop gemik is om swartmense ekonomies vorentoe te stoot. Die meeste sodanige wette wat die afgelope paar jaar deur die ANC deurgevoer is, het min te make met die werklike bemagtiging van die armste mense in Suid-Afrika, maar is wel daarop gefokus om sekere groepe mense afhanklik van die regering te maak.

Die groter probleem is egter hoe hierdie wette invididue se persoonlike regte aantas. Indien ek uit my eie vermoë ‘n onderneming begin sou ‘n mens dink dat ek self sal kan besluit wie ek as werknemers aanstel, aan wie ek dienste subkontrakteer en hoe ek my winste aanwend. Deesdae maak gelykheidswette dit egter nie so maklik nie.

Terwyl hierdie wette in Suid-Afrika sterk ekonomies gefokus is en dus poog om mense wat ekonomies suksesvol is se sukses te laat herverdeel met die uiteindelike doel van gelykheid sien ons in Amerika en Europa hoe anti-diskriminasiewetgewing veral op kulturele gebied gedy.

Verlede week het daar stil-stil ʼn baie belangrike verkiesing in Houston, die vierde grootste stad in die VSA, plaasgevind. ʼn Nuwe burgemeester en nuwe raadslede is verkies, maar dit is nie die belangrikste ding waaroor gestem is nie. Ook op die stembrief was ʼn referendum oor die stad se anti-diskriminasiewetgewing. Die afgelope paar jaar het Houston polities heelwat na links beweeg soos wat middelklas en ryker, meestal wit inwoners, na die buitewyke getrek het en swart mense en persone uit Mexiko die stad ingestroom het. Die burgemeester wie se termyn sopas verstryk het, Annise Parker, is as een van die mees linkse burgemeesters in Amerika beskryf.

Sy het verlede jaar opslae gemaak toe sy dagvaardings laat uitreik het om predikante in Houston te verplig om preke, e-posse en ander kommunikasie aan haar kantoor te oorhandig omdat dit volgens haar diskriminerend van aard was. Kort daarna het sy sogenaamde anti-diskriminasie wetgewing laat deurvoer. Dit is deur Christenorganisasies na die Texas Hoërhof geneem en die hof het beslis dat die wetgewing geskrap moet word of dat kiesers daaroor moes stem. Die wetgewing sou die lewe vir Christene moeilik maak omdat dit veral op regte vir nie-Christene en mense wat nie heteroseksueel is nie, fokus. Die wetgewing is in ʼn skokuitslag verlede week deur 62% van kiesers in Houston verwerp. Heelwat swartmense en Mexikane het waarskynlik teen die wetgewing gestem omdat hulle besef het dat dit ook teen hul eie waardes sou indruis.

Hierdie uitslag is ʼn groot deurbraak vir Christene in die VSA. Dit is ook ʼn groot deurbraak vir enigiemand wat glo dat een persoon se regte begin waar ʼn ander persoon s’n ophou. Oordrewe regte vir een persoon kan weer op die regte van ʼn ander persoon indruis. Suid-Afrikaanse geloofs- en ander groepe kan gerus uit die verkiesing verlede week in Houston leer dat dit moontlik is om die golf van ideologiese gelykheidswetgewing te stuit indien ʼn mens kan bewys dat die wetgewing nie werklik oor gelykheid gaan nie, maar wel oor die radikale transformasie van ons samelewing.

Verkiesingsuitslag in Turkye dalk slegte nuus vir Weste

ErdoganDie vader van die moderne Turkse staat, Mustafa Kemal Ataturk draai seker vandag in sy graf om. Die afgelope Sondag se verkiesingsuitslag in Turkye kan ʼn nuwe era vir die land inlei – een waarmee dié volksvader nie tevrede sou wees nie.

Nadat die Ottomaanse Ryk aan die verloorkant in die Eerste Wêreldoorlog was, het Ataturk ʼn groot rol gespeel in die Turkse oorlog vir onafhanklikheid. Die moderne, sekulêre staat Turkye het onder Ataturk se aanvoerwerk in 1923 tot stand gekom. Ataturk het as eerste president van Turkye die land omvorm in ʼn moderne en demokratiese staat wat die ou Islamitiese inslag vir ʼn meer sekulêre regering verruil het. Turkye is kultureel en ekonomies getransformeer en tye van goeie ekonomiese groei, ontwikkeling en verwestering het gevolg.

Turkye is ʼn stigterslid van die Verenigde Nasies en is ook sedert 1952 lid van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie wat hom ʼn sterk militêre bondgenoot van die Weste maak. Hoewel die land gereeld oor die afgelope 90 jaar onstabiele tye beleef het, is die demokrasie in Turkye voortdurend versterk en was daar altyd ʼn pro-Westerse en sterk sekulêre tradisie in Turkye. Die land het ook ʼn sterk grondwetlike bedeling in stand gehou. Turkye is vandag een van die twintig grootste ekonomieë in die wêreld.

Waarom kan dit alles verander? Sedert 2002 regeer die Geregtigheid en Ontwikkelingsparty ook bekend as die AKP Turkye. Dié party wat in 2001 uit ʼn meer konserwatiewe, Islamitiese denkskool onstaan het, het Sondag daarin geslaag om 315 van die 550 setels in ʼn parlementêre verkiesing te wen. Dit volg nadat die party in ʼn vorige parlementsverkiesing in Junie vanjaar nie ʼn meerderheid kon kry of daarin kon slaag om ʼn koalisie met ʼn kleiner party te vorm nie. Recep Tayyip Erdoğan was van 2003 tot 2014 leier van die party en eerste minister van Turkye. Sedert verlede jaar is hy president van Turkye en probeer hy om die land se grondwet te verander ten einde die presidentskap van die huidige seremoniële status tot ʼn soort offergesag van regering te wysig.

Sondag se verkiesing is voorafgegaan deur grootskaalse intimidasie van die privaatmedia en kommentators en instellings wat uitsprake teen Erdoğan in die openbaar gemaak het. Televisiekanale en koerante is deur die polisie bestorm en jongmense wat Erdoğan kamstig beledig het, is summier in die tronk gestop. Die AKP-regering is ook die afgelope tyd van talle voorvalle van korrupsie en selfverryking beskuldig. Erdoğan het selfs ʼn enorme presidensiële paleis vir homself buite die hoofstad Ankara laat bou. Die voortdurende Islamisering van Turkye is egter wat meeste Westersgesinde Turke die meeste pla.

Erdoğan se aanvalle op die Koerdiese minderheid in die suid-ooste van Turkye en sy geheimsinnige betrokkenheid in die konflik in Sirië maak ook Westerse lande bekommerd.

Sy oorwinning in Sondag se verkiesing skep ʼn moeilike situasie vir Amerika en Europa. Hulle wil Turkye as bondgenoot behou, maar wil nie sien dat Turkye in ʼn Islamitiese diktatorskap verval nie. Turkye is darem nog ver daarvandaan, maar Sondag se verkiesingsuitslag mag dalk net die eerste stap in daardie rigting wees.

Toespraak deur voorsitter van vriende in Suid-Tirool

IMG_6754(Die volgende kort toespraak is in Afrikaans gelewer deur dr Gino Bentivoglio, voorsitter van die Südtiroler Freundeskreis der Afrikaaner, tydens sy onlangse besoek aan Orania. Die Orania Beweging het ‘n dinee vir die sewe besoekers uit Suid-Tirool gehou en die toespraak is tydens die dinee gelewer. Dr Bentivoglio is links op die foto saam met Jaco Kleynhans en Carel Boshoff.)

Dames en here, liewe vriende

Eerstens, laat my namens ons groep dankie sê vir Orania, dankie vir die uitnodiging. Ons is baie dankbaar om hier te wees. Vir die meeste van ons is dit die eerste keer in Suid-Afrika en ek kan julle vertel nadat ons nou ‘n paar plekke in Suid-Afrika gesien het, is almal baie bly dat daar ‘n plek soos hierdie is.

Dit is meer as 5 jaar gelede dat die eerste kontak tussen Suid-Tirool en Suid-Afrika plaasgevind het. Dit was aanvanklik ‘n versigtige benadering want Orania het baie negatiewe ervarings met besoekers uit die buiteland. Aan ons kant was daar die vraag waarom iemand besluit het om na ʼn semiwoestyn te skuif en daar ‘n dorp te stig. As iemand Europese mediapublikasies lees, hoor hy dat daar net verbete rassiste leef wat apartheid weer wil invoer. Maar as Suid-Tirolers lees ons daai artikels uit ‘n effens ander perspektief omdat ons weet dat joernaliste uit ‘n verskeidenheid van redes geen begrip van die spesifieke situasie van taal- en kulturele minderhede het nie. So het die grootste Duitse weekblad Der Spiegel eenkeer geskryf oor Suid-Tirool as die apartheidvesting in die Alpe want ons het aparte skole vir elke taalgroep in ons land en het proporsionele verteenwoordiging in die poste in die openbare administrasie. Maar sulke fasiliteite is noodsaaklik as ‘n mens die kulturele identiteit en die taal wil bewaar.

Voor die wet is elke burger gelyk. Dit maak nie saak watter taal ‘n mens praat nie. Hierdie individuele regte laat elke burger toe tot onderwys, deelname aan die openbare lewe, ‘n regverdige verhoor en so aan. Maar dit laat die vraag ontstaan hoe regverdig ‘n verhoor vir iemand van ‘n minderheid kan wees indien die verhoor nie in sy moedertaal uitgevoer word nie. Soos ons voormalige president Silvius Magnago gesê het: Die grootste onreg is wanneer verskillendes gelyk behandel word. Dit is hoekom minderhede bykomend tot hierdie individuele regte ook groepsregte moet kry sodat hulle hul taal en kultuur kan bewaar  en uitoefen in ‘n land met ‘n vreemde meerderheid. Hierdie erkenning as ‘n minderheid met gepaardgaande toegewing van groepsregte het ons in Suid-Tirool vandag vrede en voorspoed en selfregering gebring.

Hierdie selfregering of outonomie is nie aan ons gegee nie maar is oor meer as 50 jaar verwerp. Dit was slegs moontlik omdat ons gesê het ons neem ons lot in ons eie hande.

Maar wat ons situasie anders maak as julle situasie, is die feit dat ons in Suid-Tirool in ‘n geslote nedersettinggebied leef, terwyl die Afrikaners versprei is oor die hele land. Maar as ek kyk na wat gebeur het in hierdie laaste 5 jaar, dan het ek geen twyfel nie dat aan die einde van julle pad daar selfbeskikking vir die Afrikaners sal wees.

Orania het ‘n indrukwekkende rekord van groei. Elke jaar groei die infrastruktuur, skole en dienste. Die inwonertal styg elke jaar vinniger. En dit is baie belangrik want die Afrikaners moet ‘n plek hê wat aan hulle behoort en waarop hulle kan fokus.

In Pretoria het ons die planne van Solidariteit Beweging gesien om niefunksionerende staatstrukture te vervang met gemeenskaplike Afrikanerstrukture. Saam met die sosiale strategie van die SB en die territoriale strategie van Orania dink ons dat die balans van mag in die guns van die Afrikaners sal beweeg. Feite moet geskep word totdat die Suid-Afrikaanse regering die onderhandelinge oor selfbeskikking nie meer kan ontken nie.

Dames en here, ek weet nie hoe lank dit sal neem nie, maar na wat ek gesien het, is ek daarvan oortuig dat julle uiteindelik nie meer in staat sal wees om net te sê ek is ʼn Afrikaner nie, maar dat julle, sal kan sê: Ek is Afrikaner in my land, Afrikaner-land.

Dankie vir julle aandag.

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel