fbpx

2Dit is `n tipiese somersdag in voorstedelike Johannesburg. Oomblikke gelede het die klokkie by die sekuriteitshek gelui en Marie maak die hek vir Betta, hul getroue huishulp oop. Marie kyk by haar venster uit en waai vir die vriendelike oom wat met sy gholfkarretjie rondrits. Die veiligheidskompleks waarin hulle woon bied aan haar die geleentheid om later rustig te gaan stap en die somersoggend te geniet. Sy kyk op haar horlosie en herinner haarself daaraan dat sy later vir die DA moet gaan stem.  Sy wil immers nie hê dat die ANC die wyk in vandag se tussenverkiesing wen nie.

Voor sy gaan stap skakel sy eers die televisie aan en skud haar kop vir die onsinnige betogings wat tans op kykNET se program, Dagbreek bespreek word. Dan beweeg die program se bespreking na die onrus op universiteitskampusse. “Barbaars,” mompel sy sag genoeg dat Betta haar nie hoor nie. Nie dat Betta ooit op Pukke of Tuks studeer het nie. Sy dink nostalgies terug aan die “goeie ou dae” op universiteitskampusse. Die kêrels wat buite die koshuis se kamervensters sêr, Oom PW wat sy vinger vir die terroriste swaai en die dienspligontduikers in die tronk. Oppad stembus toe sien sy vanoggend se Beeld by die voordeur lê. Sy blaai vinnig deur en trek haar gesig soos iemand wat suurlemoen geproe het vir Adriaan Basson se jongste redaksionele kommentaar. Sy sit die koerant op die tafeltjie by die voordeur en herinner haarself dat sy later vanoggend die intekening moet hernu.

Die stembus is nog stil. Dit is basies net sy en enkele van haar bure daar. Hulle gesels oor die weer en die nuwe bestuur by die klubhuis waar die spyskaart nou ook sushi insluit. Marie spog oor haar kinders se jongste rapport. Cornel Primary is `n uitstekende skool en berei hulle goed voor. “Julle moet hoor hoe mooi praat hulle Engels,” sê Marie met `n vonkel in haar oog.

Ongeveer 900 kilometer van daar af in die landelike Oos-Kaap sit `n Xhosa-hoofman met sy kop in sy hande. Hy is moedeloos en die probleme hou nie op nie. Hy kyk op en sy oë val op die klein skooltjie in die middel van die gemeenskap. Die kinders speel sorgeloos buite. Hulle lag en gesels. Hy dink aan vanoggend se gesprek met die skoolhoof.

“Die kinders sukkel van graad vyf af om by te hou met die leerplan. Hulle is nie gemaklik met Engels nie,” het die skoolhoof verduidelik.

“Maar leer hulle dan in hulle moedertaal, Xhosa,” het die hoofman die probleem afgemaak.

“Ons mag nie,” het die skoolhoof geantwoord. “Die Departement verplig ons om hulle van graad vyf af in Engels te onderrig.”

Die uitdrukking op die hoofman se gesig was een van totale ongeloof. “Maar ons kinders het die minimum blootstelling aan Engels.”

Vanoggend se gesprek het die hoofman moedeloos. Hoe kan jy kinders as die toekoms van die land beskryf as jy hulle van `n basiese reg op opvoeding ontneem? Hoe kan elf tale in die grondwet erken word maar net een in die skole toegelaat word? Dan kyk die hoofman weer na die papier in sy hande. Dit kom van die plaaslike stadsraad af. Vir baie jare het die hoofman en sy raad erwe aan jong paartjies na hulle troudag toegeken. Die stukkie grond was groot genoeg om `n hut op te rig, `n paar beeste aan te hou en groente te plant. Dit is `n eeue-oue tradisie. Die munisipaliteit het hom egter in kennis gestel dat hy en sy ouderlinge nie meer grond kan toeken soos hulle goed dink nie. Die egpaar moet na die naaste munisipale kantore reis en daar die nodige aansoekvorms invul. Daarna sal hulle op `n waglys geplaas word vir `n HOP-huis.

Die hoofman kan nie verstaan waarom hulle, as gemeenskap, nie hulself kan regeer nie. Waarom moet `n munisipale regering vir hulle besluit hoe eiendom toegeken word? Waarom moet `n Departement van Onderwys besluit in watter taal hulle kinders onderrig word? Die hoofman skud sy kop en tel eerder sy koerant op. Sy gunsteling rubriekskrywer, Johnny Masilela, se artikel vang sy oog. ‘An expedition into Orania.’