Verlede naweek het ʼn komediant met geen politieke ervaring die presidentsverkiesing in Guatemala gewen. Inwoners van dié Sentraal-Amerikaanse land was so moeg vir korrupte regerings van ou-orde politici dat die vars boodskap van die komediant, Jimmy Morales, tot hulle gespreek het.
Verlede week is ʼn bloedjong nuwe eerste minister in Kanada verkies. Justin Trudeau van die Liberale Party het vir Stephen Harper, reeds byna tien jaar lank eerste minister van Kanada, gemaklik verslaan. Die rede? Trudeau, ʼn linkse politikus het ʼn sterk veldtog teen die huidige politieke orde gevoer. Hy het ʼn vars nuwe aanslag gevolg en sy soort populistiese sosialisme het tot ʼn jong generasie Kanadese gespreek.
In Switserland en Denemarke het regse politieke partye wat sterk teen die huidige politieke orde gekant is, onlangs opgang gemaak. In Switserland het die populistiese Volksparty in ʼn nasionale verkiesing ou gevestigde partye vir die eerste plek uitgestof.
Tans loop soortgelyke populistiese politieke partye wat steun kry weens hul opposisie teen gevestigde politieke stelsels in talle Europese lande voor. Die Partij Voor de Vrijheid wat tans sy beste nog in peilings in Nederland vertoon, is maar een voorbeeld.
In die Verenigde State loop die skatryk sakeman Donald Trump nou reeds vir meer as 100 dae voor in die stryd om die Republikeinse Party se presidentskandidaat te word. Trump is gewild omdat hy ʼn sterk veldtog teen beroepspolitici voer. Kort op die hakke van Trump is die swart breinchirurg Ben Carson. Trump en Carson het beide nog nooit ʼn verkose politieke posisie beklee nie. Hulle kan dus tereg daarop aanspraak maak dat hulle nie politici is nie. Saamgetel beteken dit dat meer as 50% van Republikeine ʼn kandidaat wat teen die gevestigde politiek gekant is, verkies.
Is hier ʼn patroon te bespeur? Veral in Westerse lande is daar tans ʼn golf van ontevredenheid onder landsburgers. In die VSA dink minstens tweederdes van mense, volgens verskeie peilings, dat die land op die verkeerde spoor is en dat dinge eerder slegter as beter raak. Ook Kanada het soortgelyke gevoelens, ten spyte van ekonomiese voorspoed, tot die nederlaag van die Konserwatiewe Party gelei.
In Europa, sowel as Australië is mense negatief en soms selfs angstig oor hul land se toekoms. Mense soek verandering, maar nie net die ou soort van politieke verandering waaraan hulle gewoond geraak het nie. In baie Westerse lande het landsburgers daaraan gewoond geraak dat politieke partye verskillend praat, maar eintlik maar dieselfde soort dinge doen. ʼn Regeringsverandering in hierdie lande beteken dus dat maar min dinge werklik sal verander.
In Europa neem die frustrasie met ʼn onverkose regering in Brussel ook toe. Die huidige immigrasiekrisis toon duidelik hoe politici en tegnokrate in Brussel politieskorrekte besluite neem sonder dat hulle ʼn mandaat van burgers in die EU se lidlande het.
Daar is genoeg rede om te glo dat hierdie teenstand teen gevestigde politieke ordes sal toeneem en dat nuwe linkse en regse partye en persone wat hul land in ʼn totaal nuwe koers wil neem meer en meer steun gaan kry. Dit kan die Weste oor die volgende paar jaar in ʼn nuwe rigting stuur.
Nuutste Opmerkings