fbpx

In aansluiting by my vorige stuk oor links en regs behandel ek die vraagstuk oor grense, omdat dit ‘n kernvraagstuk is in linkse en regse denke.

Die woord grens of grense is vir linkses ‘n vloekwoord. Dit het die klank van uitsluiting, diskriminasie, beperking, skeiding, apartheid. In linkse toesprake, liedjies, artikels en films is dikwels die oorkom of afbreek van grense die oorheersende tema. Die betonmuur wat Israel van die Palestynse nedersettings skei is ‘n gewilde onderwerp vir emosionele foto’s en artikels in meesal linkse publikasies. In die verlede was die grense tussen wit en welvarende en swart en arm woonbuurte ‘n permanente bron van ontsteltenis in linkse kringe wêreldwyd.

Die Europese Unie, wat deur ‘n links-liberale elite beheer word, se uiteindelike ongeskrewe doel is om die nasionale grense tussen sy lidlande oorbodig te maak en lande so kultureel en ekonomies uiteenlopend soos Griekeland en Nederland in een superstaat saam te vat. Dit is reeds gedeeltelik gedoen deur die totstandkoming van die Schengen-sone, waarbinne nasionale grense feitlik betekenisloos geword het en almal vrylik kan beweeg, nie net as toeris nie, maar ook vir werks- en nedersettingsdoeleindes.

Sekere grense het te reg ‘n slegte assosiasie en verdeel mense wat bymekaar hoort. Die bekendste voorbeeld was die ystergordyn tussen Oos- en Wes-Europa, spesifiek tussen Oos- en Wes-Duitsland. Die omtrek van die Berlynse muur was een van die mees emosionele gebeure in die 20ste eeu. Dit het, interessant genoeg, veral vryheidsgesindes, van liberaal tot konserwatief, aangegryp, terwyl dit vir die meeste linkses eerder iets was om oor te treur. Dit het immers die oorwinning van Westerse kapitalisme oor sosialisme gesimboliseer. Die grens tussen Noord-en Suid-Korea is nog ‘n simbool van onderdrukking wat tereg as ‘n aaklike oorblyfsel van die koue oorlog beskou word. Meer nog, die grens skei nie volke nie, maar verdeel dieselfde volk in ‘n vrye en demokratiese, en ‘n onvrye en kommunistiese deel. In Afrika is talle grense uiters lukraak en volg geen etniese, historiese of geografiese logika nie.

Ten spyte van die feilbaarheid van grense is hulle bestaan vir seker beter as geen grense nie. Trouens, die idee dat daar ’n wêreld sonder grense kan bestaan is eintlik net ‘n pypdroom van daggarokende hippies. Sedert die skepping van die mens is daar groepe wat later in volke ontwikkel het en wat hulle van mekaar afgegrens het, lank voor die ontstaan van die moderne nasiestaat met sy geformaliseerde grensbeheer.

Grense word dikwels verantwoordelik gemaak vir die ontstaan van oorlog. Inderwaarheid is ‘n grens ‘n manier om oorloë te probeer inperk. Volke wat geen of slegs vae grense gehad het, soos die stamsamelewings van Afrika of die Indiane in Noord-Amerika, was daarom nie meer vreedsaam nie, trouens, eerder die teendeel is waar. Goed bevestigde grense was in die geskiedenis juis die voorwaarde vir ontwikkeling, wat volg op vrede en veiligheid. Ons kan dink aan die Sjinese Muur wat die gevorderde Sjinese beskawing teen die invalle van die barbaarse Mongole beskerm het, of die limes, die Romeinse grens teen die Germane, wat die Pax Romana onderlê het.

Grense moet ook nie gesien word as ondeurdringbaar soos die ystergordyn of die grens tussen die twee Korea’s nie. Grense was altyd ook ‘n punt van kontak en handel, maar op ’n geordende manier en met die moontlikheid om in tye van gevaar die grense te sluit. Die “donker Middeleeue” wat direk op die val van die Romeinse beskawing gevolg het, was juis so chaoties en donker omdat geen grense meer bestaan het nie en niks die swakker volke teen die sterker en meer brutale volke beskerm het nie. Dit kan geargumenteer word dat, soos wat grense na die Vrede van Wesfale van 1648 meer geformaliseer geraak het, konflikte geleidelik minder geword het, of van korter duur was. Intussen het ons selfs ‘n punt bereik waar oorloë oor grense heen die uitsondering is en vinnig deur instansies soos die VN aangespreek kan word, terwyl burgeroorloë binne state veel meer lewens eis en moeilik opgelos kan word. Die tans aanwesige vlugtelingkrisis in Europa is juis so buite beheer omdat die EU grense effektiewelik afgeskaf het. Die gesegde “goeie grense skep goeie bure” geld vandag meer as ooit.grens