fbpx

verwoerdEk het pas weer die toespraak van dr Christiaan A Verwoerd gelees wat hy tydens die HF Verwoerdgedenklesing in 2014 gehou het. Dit het my genoop om ook ‘n stuiwer in die apartheids-armbeurs te gooi, naamlik oor die apartheidsmaatreëls.

Dr HF Verwoerd het geglo dat apartheidsmaatreëls gedien het om die ineengestrengelde mensegroepe in die land uitmekaar te woel sodat partisie (afsonderlike ontwikkeling) kon plaasvind en elke volk homself dan in sy eie land kan regeer, ook dat die apartheidsmaatreëls geleidelik afgeskaf sou word en dat daar dan ‘n Statebond van Suid-Afrikaanse state sou wees wat polities onafhanklik, maar ekonomies interafhanklik sou wees.

Was die apartheidsmaatreëls permanent of tydelik?
Dit blyk dat die apartheidsmaatreëls inderdaad tydelik van aard moes wees. Dr DF Malan het op 26 Januarie 1948 (dit is skaars vier maande voor die 1948-verkiesing van 26 Mei 1948) die volgende in die Volksraad gesê, wat ʼn belangrike hoeksteen van die apartheidsbeleid uitlig, naamlik die tydelikheid daarvan.  Malan sê:

“Ons kan by die oplossing of vermeende oplossing wat op een of ander tyd gevind is, bly staan, maar hierdie vraagstuk bly nie staan nie.  Hy is gedurig besig om meer ingewikkeld en moeiliker te word as tevore.  Daar is geen vraagstuk wat so hard roep vir ʼn oplossing as hierdie nie, en desnoods om ʼn goeie oplossing te vind, mag dit nodig wees om die standpunt te hersien wat jy tevore ingeneem het.  Hierdie vraagstuk  bly nie staan nie.  Hy is gedurig besig om te verander …“  (Hansard 1948: 423-424).

Volgens Verwoerd was die apartheidsmaatreëls tydelike maatreëls wat eendag, wanneer afsonderlike ontwikkeling geslaag het, afgeskaf sou wees, met ander woorde wanneer Suid-Afrika in volkstate gepartisioneer sou wees.

Mnr Hendrik Verwoerd het hierdie standpunt in ʼn brief aan my, gedateer 22 Junie 2013, verduidelik, naamlik dat sy pa “klein apartheid” gesien het as ʼn middel tot die doel om “groot apartheid” te verwesenlik, dit is die uiteindelike partisionering van Suid-Afrika.  Om te gou klein apartheid af te skaf, kan die einddoel in gevaar stel.

Dr Verwoerd het ook sy politieke standpunte aan die destydse Eerste Minister van Australië, sir Robert Menzies, verduidelik in ʼn brief, gedateer 24 Junie 1960, en skryf:

 “It must be understood that only after sufficient success has been achieved in the direction of separate development with full opportunities for all, each among the members of his own group, can relaxations take place in the White areas.  It is, therefore, not a matter of human dignity but of self-preservation with full readiness to waive distinctive treatment when the danger of losing out has disappeared” (1967:206).(Eie beklemtoning).

Verwoerd het ook tydens ʼn mediakonferensie wat hy toegespeek het nadat hy Suid-Afrika se aansoek om lidmaatskap van die Statebond in 1961 teruggetrek het, sy politieke plan kortliks saamgevat soos volg:

“I can see a development of a commonwealth of South Africa …  a commonwealth where blacks and whites can co-operate as separate and independent states …  In short, a policy of good neighbourliness based on two principles…  political independence and economic interdependence” (Pelzer, 1963: XLII en die Sunday Dispatch van 19 Maart 1961).

Die historikus Hermann Giliomee het ʼn artikel geskryf in Rapport van 24 Junie 2012 onder die opskrif Apartheid: Was dit dan net boos? Daarin sê Giliomee onder andere:

•    “Tussen 1950 en 1970 het die getal swart kinders op skool met drie keer vermenigvuldig.  Voorts was swart- en wit-leerplanne basies dieselfde”.
•    “Die land was suksesvol genoeg dat die nuustydskrif TIME Verwoerd in Augustus 1966 kon beskryf as ‘… one of the ablest white leaders Africa has ever produced’”.
•    “Die uitstaande liberale historikus CW de Kiewiet vergelyk Verwoerd in 1963 met Charles de Gaulle, ‘… the stern, headstrong but deeply imaginative leader of France’ ”.

In 1987 het professor André Thomashausen van Unisa  ʼn artikel gepubliseer met die titel: The Dismantling of Apartheid.  Daarin gee hy onder andere besonderhede van die Nasionale Party se “reform policies” en verwys na die “…gradual abolition of some 100 discriminatory laws”.  Hy gee besonderhede van die apartheidswette wat vanaf 1978 afgeskaf is.

Daar is ook die mins moontlike aandag deur die internasionale wêreld aan apartheidsvorme in die VSA en Australië gegee.  Net Suid-Afrika is uitgesonder as mense (Blankes) wat sonde teen die mendom pleeg.  My studie oor apartheidsvorme in die VSA, Australië en Suid-Afrika oor die afgelope 350 jaar, toon aan dat Europeërs Noord-Amerika oor tyd beset het en die inheemse Indiane uitgeroei en hul land afgeneem het. Aaklighede het oor tyd teenoor die Indiane plaasgevind.

Dieselfde het in Austalië gebeur sedert die Britte in 1788 daar ankergegooi het. Die inheemse mense, naamlik Aborigenies, Torres-eilanders en Tasmaniërs, is ook uitgeroei en hul land afgevat.

Vandag sit ons in ‘n eenheidstaat waarin die blankes binne 15 jaar slegs sowat 2 uit elke 100 Suid-Afrikaners gaan wees. Dit gaan reeds baie sleg met die Suid-Afrikaanse eenheidstaat. ʼn Mens kan ‘n lang lys voorbeelde opstel van korrupsie, moorde, misdaad, die verdrukking van Afrikaans as taal, rassisme, regstellende aksie, plaasmoorde en nog baie ander onreëlmatighede.

Hoe lyk ons toekoms?
ʼn Mens kan maar net wonder wat dr Verwoerd vir ons sou bereik het as hy nie vermoor is nie. Tans lê ons hoop grootliks in Solidariteit se nuwe planne.

Ons moet saamstaan en verseker dat dit slaag!

Dr Koos van der Merwe het verlede jaar na byna 37 jaar diens uit die Parlement getree en op sy oudag (76 jaar) sy doktorsgraad aan die Vrystaatse Universiteit behaal met ‘n proefskrif oor apartheidsvorme  in die VSA, Australië en Suid-Afrika oor die afgelope 350 jaar. Koos beywer hom nou om te help om Afrikaners op te hef en weer trots te wees en op te hou om skuldig te voel oor ons verlede. Hy het die Hendrik Biebouw Trust gestig waarop onder andere mnr Flip Buys dien. Die doel is om Afrikaners se ware geskiedenis op beeld vas te lê. Koos is voorsitter en die projek word ondersteun deur Solidariteit, die FAK en die Dagbreek Trust. Drie DVD’s is reeds afgehandel, naamlik Afrikaans Een en Afrikaans Twee en die ABO. Die apartheidsepisode is byna voltooi en word vroeg in Desember aan die Trust vir goedkeuring voorgelê. Dan volg daar nog sowat tien episodes.