fbpx

Luis DurnwalderDr Luis Durnwalder, voormalige goewerneur van die outonome provinsie Suid-Tirool in Italië, het op 10 Oktober in Pretoria voor ‘n gehoor van meer as 2700 mense by die Solidariteit Beweging Toekomsberaad opgetree.

Die belangrikste boodskap wat dr Durnwalder oorgedra het, is dat verskillende kultuurgroepe in diverse lande en streke langs mekaar mag funksioneer sonder dat enige groep hul taal of kultuur hoef op te gee. Die idee dat sommige minderhede hul regte op eie onderwys, taalruimtes en instellings moet opgee sodat daar in ander groepe se behoeftes voldoen kan word, is nie aanvaarbaar nie. Volgens dr Durnwalder is dit diktators soos Mussolini en Hitler wat minderhede en ook hulle in Suid-Tirool wou verwoes. Die vraag kan gevra word oor of figure soos die Suid-Afrikaanse minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, nie maar net diktators is wat Afrikaners se taal en kulturele regte wil verwoes nie.

Die argument dat Afrikaners nie oor Afrikanersake kan of moet praat nie omdat Suid-Afrika se probleme groter is of omdat Afrikaners vir lank bevoordeel is en dus steeds in ‘n sterker posisie as baie van ons landsgenote is, is ook weerlê.

In Suid-Tirool kon drie volkere met drie verskillende tale en drie totaal verskillende kulture daarin slaag om saam een van die suksesvolste streke in Europa te skep. Dit was egter nie altyd so nie. Daar was ‘n tyd toe die streek baie armer as vandag was. Die Tirolers wat meestal boere en ambagslui. Die duisende Italianers wat deur Mussolini na Suid-Tirool verskuif is in die hoop dat die Tirolers so die minderheid in hul eie provinsie kon word, was ook meestal arm mense uit die suide van Italië. Vandag is almal in Suid-Tirool ekonomies bemagtig. Die streek het ‘n werkloosheidkoers van minder as 3% en die gemiddelde inkomste in Suid-Tirool is bykans 30% hoër as in die res van Italië.

Hoe het hulle dit reggekry. Die een opsie wat hulle kon volg en wat die fascistiese regering van Mussolini met rampspoedige gevolge probeer volg het, sou wees om almal in Suid-Tirool in een volk en dus een taal en kultuur te assimilieer.

Nadat die provinsie ‘n groot mate van outonomiteit verkry het, het hulle eerder die roete gevolg om ruimte vir elkeen van die streek se bevolkingsgroepe te skep. So is daar skole, ouetehuise, museums, kultuursentrums en verskeie ander openbare instellings en ruimtes vir elke kultuurgroep geskep. Geen Duitssprekende Tiroolse kind hoef na ‘n Italiaanse skool te gaan omdat die meerderheid van kinders in sy woonbuurt dalk Italiaans is nie. Indien daar genoeg Duitse kinders is, mag daar ‘n Duitse skool wees. Vandag leef almal in Suid-Tirool in vrede saam en werk almal saam om die streek sterke te maak.

Suid-Afrika volg egter reeds vir meer as twintig jaar die teenoorgestelde roete. Minderhede se regte en ruimtes word ontneem omdat daar nie vir die meerderheid voldoende instellings en ruimtes bestaan nie. Daar is toenemende wantroue tussen Suid-Afrikaners van verskillende kultuuragtergronde en samewerking om van Suid-Afrika ‘n beter plek te maak, raak ook minder. Afrikaners sal dus op hul eie moet voortgaan om hul eie ruimtes en instellings te skep. Ons moet dit egter nie teen enigiemand doen, maar op so ‘n manier dat ander gemeenskappe en kultuurgroepe daarby aansluiting kan vind. Terwyl dinge in Suid-Afrika versleg raak selfbeskikking meer en meer relevant en die Orania-model van groeiende selfstandigheid moet voortgesit word totdat ons ‘n groot mate van outonomiteit kan verkry.