fbpx

say-no-to-heroDie terme gelykheid en anti-diskriminasie word deesdae algemeen gebruik. In beginsel sal die meeste van ons saamstem dat sekere vorme van diskriminasie in die openbare lewe uitgewis moet word en dat gelyke geleenthede ʼn goeie ding is. Waar vryheidsdenkende mense egter van regeringsburokrate verskil is oor hoe ʼn omgewing wat gelyke geleenthede voorstaan geskep kan word.

Die realiteit is dat die groot internasionale stryd teen ongelykheid en gepaardgaande anti-diskirminasiewetgewing, sterk ideologies gedrewe is en eintlik nuwe vorme van diskriminasie kan skep. Die inding in talle Westerse lande is deesdae sogenaamde anti-diskriminasiewetgewing wat eintlik uitloop op ʼn stel, soms vreemde, reëls oor hoe die gemeenskap moet funksioneer ten einde minder diskriminerend te wees.

In Suid-Afrika het ons hierdie werklikheid reeds sterk beleef met die land se talle wette wat daarop gemik is om swartmense ekonomies vorentoe te stoot. Die meeste sodanige wette wat die afgelope paar jaar deur die ANC deurgevoer is, het min te make met die werklike bemagtiging van die armste mense in Suid-Afrika, maar is wel daarop gefokus om sekere groepe mense afhanklik van die regering te maak.

Die groter probleem is egter hoe hierdie wette invididue se persoonlike regte aantas. Indien ek uit my eie vermoë ‘n onderneming begin sou ‘n mens dink dat ek self sal kan besluit wie ek as werknemers aanstel, aan wie ek dienste subkontrakteer en hoe ek my winste aanwend. Deesdae maak gelykheidswette dit egter nie so maklik nie.

Terwyl hierdie wette in Suid-Afrika sterk ekonomies gefokus is en dus poog om mense wat ekonomies suksesvol is se sukses te laat herverdeel met die uiteindelike doel van gelykheid sien ons in Amerika en Europa hoe anti-diskriminasiewetgewing veral op kulturele gebied gedy.

Verlede week het daar stil-stil ʼn baie belangrike verkiesing in Houston, die vierde grootste stad in die VSA, plaasgevind. ʼn Nuwe burgemeester en nuwe raadslede is verkies, maar dit is nie die belangrikste ding waaroor gestem is nie. Ook op die stembrief was ʼn referendum oor die stad se anti-diskriminasiewetgewing. Die afgelope paar jaar het Houston polities heelwat na links beweeg soos wat middelklas en ryker, meestal wit inwoners, na die buitewyke getrek het en swart mense en persone uit Mexiko die stad ingestroom het. Die burgemeester wie se termyn sopas verstryk het, Annise Parker, is as een van die mees linkse burgemeesters in Amerika beskryf.

Sy het verlede jaar opslae gemaak toe sy dagvaardings laat uitreik het om predikante in Houston te verplig om preke, e-posse en ander kommunikasie aan haar kantoor te oorhandig omdat dit volgens haar diskriminerend van aard was. Kort daarna het sy sogenaamde anti-diskriminasie wetgewing laat deurvoer. Dit is deur Christenorganisasies na die Texas Hoërhof geneem en die hof het beslis dat die wetgewing geskrap moet word of dat kiesers daaroor moes stem. Die wetgewing sou die lewe vir Christene moeilik maak omdat dit veral op regte vir nie-Christene en mense wat nie heteroseksueel is nie, fokus. Die wetgewing is in ʼn skokuitslag verlede week deur 62% van kiesers in Houston verwerp. Heelwat swartmense en Mexikane het waarskynlik teen die wetgewing gestem omdat hulle besef het dat dit ook teen hul eie waardes sou indruis.

Hierdie uitslag is ʼn groot deurbraak vir Christene in die VSA. Dit is ook ʼn groot deurbraak vir enigiemand wat glo dat een persoon se regte begin waar ʼn ander persoon s’n ophou. Oordrewe regte vir een persoon kan weer op die regte van ʼn ander persoon indruis. Suid-Afrikaanse geloofs- en ander groepe kan gerus uit die verkiesing verlede week in Houston leer dat dit moontlik is om die golf van ideologiese gelykheidswetgewing te stuit indien ʼn mens kan bewys dat die wetgewing nie werklik oor gelykheid gaan nie, maar wel oor die radikale transformasie van ons samelewing.