Vir ons wat in Orania woon mag dit wat ons doen alledaags voorkom en ons dink nie eens meer daaraan nie. Almal gaan werk of skool toe, doen inkopies, woon vergaderings by, gaan huis toe, maak kos, ontspan en gaan slaap, soos op enige ander plek ook. Maar ons bou gelyktydig aan ‘n plek vir Afrikaners wat vry wil wees.

Vryheid kan gedefinieer word as die vermoë om jou eie besluite uit te voer. Vryheid strek veel vêrder as dit wat vir talle mense die beweegrede is om Orania toe te wil kom: werk, veiligheid, goeie skole, skoon natuur, rustigheid, om tussen jou eie mense te wees en jou eie taal en kultuur te bebesig. Dit is alles elemente van vryheid, maar dit kan jy op ander plekke ook kry.

 

Hier gaan dit in elk geval nie oor dit wat jy uit Orania kan kry nie, maar wat jy kan bydra om dit ‘n werkbare plek vir Afrikaner-vryheid te maak. Dit sal natuurlik ook vir jou as individu bevoordeel, maar dit gaan veral oor die volksaksie wat dit moontlik maak en wat van die geheel en die idee wat dit onderlê meer maak as slegs die totaalbedrag van individuele lewenskeuses.

 

Wat is dit dan wat ons doen en wat beteken vryheid in praktyk? Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

 

Daar is ten eerste die christelike geloof, waarsonder Afrikanerskap ondenkbaar is. Al is daar sekulêre Afrikaners en al is hulle daarom nie minder Afrikaners nie, is geloof van die begin af deel van die Afrikaner se wese en was God se hand nog altyd teenwoordig by die vorming en voortbestaan van die enigste inheemse blanke volk in Afrika wat teen moeilike omstandighede en teenstanders moes veg en dit nog doen. Jou christenskap kan natuurlik ook buite Orania uitgeleef word, maar daar is ‘’n verskil om ‘n christen in die private te wees, of om in ‘n christelike gemeenskap te lewe. As Orania en die volkstaat nie christelik gefundeer is nie, hoef ons nie eers verder daaraan te bou nie.

 

Die ander hoeksteen van Orania is eie arbeid. Dit is nie net ‘n middel tot ‘n doel nie, naamlik meerderheidsbesetting nie, maar ‘n doel op sigself, waarsonder Orania gedoem is. Dit was reg dat die stigters van die begin af so onbuigbaar, tot irritasie van talle voornemende intrekkers en besoekers, op eie arbeid gestaan het. Dit behoort eintlik vanselfsprekend te wees, maar talle Afrikaners verstaan dit nie: jy kan nie politieke mag, finansiële mag en arbeidsmag van mekaar skei nie. Iemand wat vir jou werk sal nie onbepaald op ‘n ander plek wil woon en elke dag lang ure pendel nie. En iemand wat vir jou werk, soek ook politieke regte daar waar hy woon en werk. Die proses kan vir lang tye vertraag word deur middel van nie-toekenning van burgerskap, maar op langtermyn is dit onvolhoubaar. Samelewings waar ras en ekonomiese klas geskei is, is gewoonlik plofbaar en gewelddadig. Die feit dat die ou Suid-Afrika en enige koloniale bestel geval het, bewys dit. Homogene samelewings waar volksgenote enige werk doen en waar die verskille gering is, is die mees stabile lande (wat veral in Europa te vinde is).

 

Afrikaans is ook onlosmaaklik deel van die Orania-ideaal. Ons taal word orals bedreig en geen Afrikaanse kunstefeeste, musiek en boeke kon die verlies aan Afrikaanse skole, universiteite en instellings keer nie. Kleiner tale moet iets soos ’n enjinkamer hê waar sy sprekers gekonsentreer is en waar alles in die taal gedoen word. Die kunsmatige skeiding van Engels (of ander wêreldtale) vir die openbare sfeer en die inheemse taal vir die private sfeer werk ook net vir ‘n ruk. Honderde tale het al uitgesterf en daarmee saam ‘n hele leefwêreld omdat hulle geen waarde in die openbaar meer het nie. In die hele wêreld is Orania die enigste gemeenskap waar Afrikaans op alle vlakke uitsluitlik gebruik word. Die langtermyn oorlewing van Afrikaans hang af daarvan dat ons Afrikaanssprekende instellings vir navorsing, opvoeding en kultuur op Orania vestig.

 

Die eie kultuur kan ook net in groepsverband uitgeleef word. Mense pas aan hulle omgewing aan en min mense wil graag deel van ‘n minderheid wees en emigrantegemeenskappe bestaan dikwels net vir ‘n generasie of twee. Vir Afrikanerkultuur om te oorleef moet daar ruimte wees, iets wat in die Engels en swart oorheersde en onverdraagsame Suid-Afrika toenemend moeilik raak. Kultuur en erfenis moet ook oorgedra word, deur middel van onderwys en deur die familie en die omgewing.Orania-Bew-Logo-spiral

0
    0
    Jou Mandjie
    Jou mandjie is leegKeer terug na Winkel