Vir ons wat in Orania woon mag dit wat ons doen alledaags voorkom en ons dink nie eens meer daaraan nie. Almal gaan werk of skool toe, doen inkopies, woon vergaderings by, gaan huis toe, maak kos, ontspan en gaan slaap, soos op enige ander plek ook. Maar ons bou gelyktydig aan ‘n plek vir Afrikaners wat vry wil wees.
Vryheid kan gedefinieer word as die vermoë om jou eie besluite uit te voer. Vryheid strek veel vêrder as dit wat vir talle mense die beweegrede is om Orania toe te wil kom: werk, veiligheid, goeie skole, skoon natuur, rustigheid, om tussen jou eie mense te wees en jou eie taal en kultuur te bebesig. Dit is alles elemente van vryheid, maar dit kan jy op ander plekke ook kry.
Hier gaan dit in elk geval nie oor dit wat jy uit Orania kan kry nie, maar wat jy kan bydra om dit ‘n werkbare plek vir Afrikaner-vryheid te maak. Dit sal natuurlik ook vir jou as individu bevoordeel, maar dit gaan veral oor die volksaksie wat dit moontlik maak en wat van die geheel en die idee wat dit onderlê meer maak as slegs die totaalbedrag van individuele lewenskeuses.
Wat is dit dan wat ons doen en wat beteken vryheid in praktyk? Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:
Daar is ten eerste die christelike geloof, waarsonder Afrikanerskap ondenkbaar is. Al is daar sekulêre Afrikaners en al is hulle daarom nie minder Afrikaners nie, is geloof van die begin af deel van die Afrikaner se wese en was God se hand nog altyd teenwoordig by die vorming en voortbestaan van die enigste inheemse blanke volk in Afrika wat teen moeilike omstandighede en teenstanders moes veg en dit nog doen. Jou christenskap kan natuurlik ook buite Orania uitgeleef word, maar daar is ‘’n verskil om ‘n christen in die private te wees, of om in ‘n christelike gemeenskap te lewe. As Orania en die volkstaat nie christelik gefundeer is nie, hoef ons nie eers verder daaraan te bou nie.
Die ander hoeksteen van Orania is eie arbeid. Dit is nie net ‘n middel tot ‘n doel nie, naamlik meerderheidsbesetting nie, maar ‘n doel op sigself, waarsonder Orania gedoem is. Dit was reg dat die stigters van die begin af so onbuigbaar, tot irritasie van talle voornemende intrekkers en besoekers, op eie arbeid gestaan het. Dit behoort eintlik vanselfsprekend te wees, maar talle Afrikaners verstaan dit nie: jy kan nie politieke mag, finansiële mag en arbeidsmag van mekaar skei nie. Iemand wat vir jou werk sal nie onbepaald op ‘n ander plek wil woon en elke dag lang ure pendel nie. En iemand wat vir jou werk, soek ook politieke regte daar waar hy woon en werk. Die proses kan vir lang tye vertraag word deur middel van nie-toekenning van burgerskap, maar op langtermyn is dit onvolhoubaar. Samelewings waar ras en ekonomiese klas geskei is, is gewoonlik plofbaar en gewelddadig. Die feit dat die ou Suid-Afrika en enige koloniale bestel geval het, bewys dit. Homogene samelewings waar volksgenote enige werk doen en waar die verskille gering is, is die mees stabile lande (wat veral in Europa te vinde is).
Afrikaans is ook onlosmaaklik deel van die Orania-ideaal. Ons taal word orals bedreig en geen Afrikaanse kunstefeeste, musiek en boeke kon die verlies aan Afrikaanse skole, universiteite en instellings keer nie. Kleiner tale moet iets soos ’n enjinkamer hê waar sy sprekers gekonsentreer is en waar alles in die taal gedoen word. Die kunsmatige skeiding van Engels (of ander wêreldtale) vir die openbare sfeer en die inheemse taal vir die private sfeer werk ook net vir ‘n ruk. Honderde tale het al uitgesterf en daarmee saam ‘n hele leefwêreld omdat hulle geen waarde in die openbaar meer het nie. In die hele wêreld is Orania die enigste gemeenskap waar Afrikaans op alle vlakke uitsluitlik gebruik word. Die langtermyn oorlewing van Afrikaans hang af daarvan dat ons Afrikaanssprekende instellings vir navorsing, opvoeding en kultuur op Orania vestig.
Die eie kultuur kan ook net in groepsverband uitgeleef word. Mense pas aan hulle omgewing aan en min mense wil graag deel van ‘n minderheid wees en emigrantegemeenskappe bestaan dikwels net vir ‘n generasie of twee. Vir Afrikanerkultuur om te oorleef moet daar ruimte wees, iets wat in die Engels en swart oorheersde en onverdraagsame Suid-Afrika toenemend moeilik raak. Kultuur en erfenis moet ook oorgedra word, deur middel van onderwys en deur die familie en die omgewing.
Hoe lekker is dit nie om te bou aan jou eie veilige toekoms tussen mense wat die selfde waardes, geloof en spesifiek… taal as jy het nie? Hoe vervullend moet dit nie wees, om te weet jy skep, met eie arbeid en idees, geleenthede vir ander, om dieselfde lewenskwaliteit eendag te kan beleef nie!
Beteken eie arbied ook eie Orania energie of gaan ons vir ewig van ANC Eskom afhanklik wees ?
Eie arbeid gaan inderdaad baie verder. Dit gaan oor selfstandigheid op elke vlak. Ongelukkig is daar nog ‘n groot gaping tussen die ideaal en die realiteit, maar ons werk in die regte rigting. Hoe sterker die Orania Beweging en Orania word, hoe meer kan ons doen.
Henk, ons is tans besig met die ontwikkeling van `n Energiebestuursplan. Ons doelwit is ongetwyfeld om onafhanklik te wees wat kragvoorsiening betref.
Baie goed uiteen gesit Sebastiaan. Jy noem o.a “Die hoeksteen van Orania is eie arbeid. Dit is nie net ‘n middel tot ‘n doel nie, naamlik meerderheidsbesetting nie, maar ‘n doel op sigself, waarsonder Orania gedoem is. … Dit behoort eintlik vanselfsprekend te wees, maar talle Afrikaners verstaan dit nie:”
Daar is heelwat soortgelyke dorpe soos Orania in Suid Afrika. Ons tref hulle aan veral in die Overberg en ander dele van die weskus. Ek verwys hier na Hawston, Suurbraak, Genadendal, Woepertal en Riemvasmaak en Steinkopf in die Noord Kaap.
Op meeste van hierdie dorpe is dwelms, dronkenskap, verkragtings, smokkelhandel, moord en roof die nie ongekend nie. Hawston het gedurende einde Oktober 2012 sy enigste polisiestasie (honde-eenheid) afgebrand. In hierdie dorpe werk ook geen blanke mense nie behalwe hulle eie bruin inwoners. Dalk stem dit nie met ons leefwyse ooreen nie, maar hierdie dorpe is kultuur-histories bruin dorpe. Die inwoners verstaan mekaar en meeste is tevrede met dit waaraan hulle gewoond is.
Is dit dalk moontlik dat die Orania Beweging na ander blanke persone wat eintlik deel moet vorm van ons kultuur kan uitreik en toere reël om Orania se vooruitgang te demonstreer. Ek verwys spesifiek na die oningeligte blanke volksgenote wat glo dat Orania ‘n politiek-gefundeerde dorp is waar die strate vol gate is, huise vervalle en die tuine onversorg gelaat word. Waar geen skole is nie en kinders met leë magies vuil gaan slaap. As Orania ‘n stad wil word moet “buitewoners” eerstehandse feitesendings meemaak om te sien dat blankes self met grawe en pikke kan werk. Self sement kan meng en bakstene lê. Dat blankes ook huise skoon kan maak soos in Europa. Dat die volk nie lui is om te werk nie en dat Oraniërs hulle nie met klasse-kwessies ophou nie.
Saans braai die petroljoggie en die bankbestuurder saam en smôrens op ‘n naweek vang die predikant en die man wat die vullis verwyder saam vis. Waar Boer en Afrikaner hande vat en hulle Christelike waardes uitleef soos in 1Tim. 5:8 geskryf staan. Waar mense vir mekaar omgee.
Bruin en swart mense is nie onvertroud met kultuurdorpe soortgelyk aan Orania nie omdat hulle hul eie ryke kultuurgemeenskappe het en tevrede is om daar hulle lewe te sluit. Hulle is heel in staat om hulle eie gelowe en uit te leef, belangrike besluite te neem en hulle eie ontwikkeling en ekonomiese groei te beplan.
Dit sal dus nie vir Orania nodig wees om aan ander volke voor te skrywe hoe ‘n modeldorp in die Nuwe Suid Afrika moet funksioeneer nie. Maar, Orania kan beslis vir ons eie mense daar buite in die breë Suid-Afrikaanse samelewing wys hoe ‘n sosio-ekonomiese en Christelike kutuurdorp funksioeneer en dat hulle gerus kan kom hand bysit om ‘n kultuurstad te bou uit ‘n kultuurdorp. En dit sonder die finansiële steun van die S A regering.
Dankie vir die interessante inligting, Clifford. Orania prober wel uitreik na ons mede-Afrikaners en verduidelik die konsep deur middel van inligtingsessies (onlangs in Noord- en Oos-Transvaal, binnekort in die Wes-Kaap)en deur skakelpersone buite Orania. Dit is net dat dit vir ons eie mense moeilik verstaanbaar is, omdat hulle nooit as etnies homogene gemeenskappe geleef het nie, anders as talle swart- en bruinmense.
Ek hoop die mense wat die inligtingsessies bygewoon het gaan besoek Orania. Ek dink nie jy kan Orania verstaan as jy nie eers daar was nie. En as jy eers daar was kan jy nie glo daar bestaan so plek in Suid Afrika nie. En eintlik is die veiligheid, vooruitgang en kultuurgebondenheid in Orania maar net normaal, maar in Suid Afrika het dit vir mense die abnormale geword. Die rede is omdat die abnormale in ons dorpe die normale geword, soos om agter tralies te bly. Ons het Orania nou al n paar keer beleef en kon na vier jaar nou uiteindelik begin om aan ons toekomsplanne daar gestalte te gee met die koop van ‘n erf, iets wat ons weer moed vir die toekoms in Suid Afrika gee. Baie mense soos onsself kan nie dadelik daarheen skuif nie, maar ek glo elke ondersteuner wat kan moet daar begin bele om te help bou, want jy bou so aan jou eie en jou kinders se toekoms in die land. Mag daar baie seen en vrug op al julle aksies wees om Orania onder mense se aandag te bring, ons doen dit verseker om die boodskap aan almal wat wil luister en ook die wat nie so graag wil luister nie uit te dra.