Die Britse digter Lord Byron het in 1812 geskryf: “Onsterflik, hoewel nie meer nie! Hoewel gevalle, steeds groot!” Hierdie digterlike opmerking van hom het verwys na die val van groot ryke en in besonder Klassieke Griekeland. Op die hoogtepunt van die krag en mag van ʼn groot ryk sal niemand dink dat hy sterflik is nie, netso beteken die val van ʼn groot ryk nie dat sy mense en hul instellings nie steeds groot is nie.
Seker elke tydperk in die wêreld se bestaan het die val van groot ryke beleef. Ons beleef dit ook weer vandag. Die wyse waarop die VSA en Europa, die twee groot dominante magte van die twintigste eeu, tans agteruitboer is tekenend hiervan.
Josiah Ober, ʼn gerespekteerde Amerikaanse historikus en kenner van Antieke Griekeland beskryf die ontwikkelingsfases van groot ryke deeglik in sy boek “The rise and fall of classical Greece.” Die eerste fase is die ontwikkeling van die bevolking en die intrede van spesialisasie. Dan word die volk uit tirannie gelei tot in ʼn vorm van demokrasie. Daarop volg die groot era waar ʼn ryk sy vorm aanneem en hy ʼn magtige rol in die wêreld begin speel. Grootskaalse groei volg en daaruit spruit wanorde en uiteindelik die val van politieke heersers.
Ober se bespreking van hierdie fases van ontwikkeling is sterk geskoei op sy kennis van Antieke Griekeland, maar kan ook op meer onlangse ervarings toegepas word. Ons kan Ober se fases van ontwikkeling ook identifiseer in die wyse waarop Westerse lande na die Tweede Wêreldoorlog ontwikkel het.
Amerika se groei tot wêreldmag is moontlik gemaak deur interne spesialisasie en sterk ekonomiese ontwikkeling. In Europa het Duitsland weer ʼn mag geword nadat hy uit die as opgestaan en ekonomies ontwikkel het. Vandag word beide hierdie lande gekenmerk aan ʼn visieloosheid. Die verval van identiteit in beide gevalle dra hiertoe by.
Globalisering het natuurlik ʼn nuwe dimensie tot die uitdagings van moderne ryke gevoeg. Die mobiliteit van die moderne mense en die interafhanklikheid van state het meegedring dat homogeniteit toenemend tot die Derde Wêreld beperk word. Die uitdagings wat immigrasie aan lande in die Westerse wêreld skep is tans duidelik sigbaar en is so wesenlik dat dit waarskynlik tot die val van talle moderne Westerse demokrasieë sal lei.
Die huidige verwerping van politieke leierskap in talle Westerse lande, die afvalligheid van voorheen goeie, getroue burgers en die wanorde weens ʼn tekort aan visie is reeds sigbaar. Europa se huidige stryd met immigrasie en die gevolglike probleme van terrorisme is tekenend van die vroeë fase van wanorde. Ons kan nie anders as om te verwag dat ʼn politieke vervalling een of ander tyd in talle Europese lande sal volg nie. Die burgery sal nie maar net getrou bly stilbly terwyl swak politieke leierskap hul toekoms bedreig nie.
Josiah Ober sê egter ook dat daar uit die verval van ryke nuwe kreatiwiteit en geleenthede ontstaan. Verskeie stadstate het juis uit die val van die Griekse Ryk tot stand gekom. Die verval van vandag se moderne ryke bied geleenthede vir volkere om hulself opnuut te organiseer. Dit bied hoop vir die behoud van die Westerse beskawing.
Dit is interessante dat jy VSA en Duitsland as visieloosheid beskou, kan jy asb. daarop uitbrei.
Talle ander voorbeelde kan ook genoem word, maar ek verwys na hierdie twee omdat beide uit groot krisisse opgestaan het en weer sukses behaal het. Vandag is daar egter geen groot ‘Amerikaanse droom’ meer oor nie. Meer as 70% van Amerikaners sê reeds vir die afgelope paar jaar in elke peiling dat hul land agteruitboer en dat hulle slegter daaraan toe is as wat hul ouers was. Die interne verdeeldheid tussen state en selfs net politieke groepe is vandag so groot dat jy nie meer kan verwag dat Amerikaners saam aan een groot ideaal kan werk nie.
In Duitsland is die identiteitsverval reeds sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog in teenwoordig, maar het gedeelde waardes en ‘n droom om die land weer op te bou vir lank groei en vooruitgang gedryf. Wat is die toekoms van Duitsland? Wat is die groot idee wat sy mense dryf? Daar is nie so ‘n droom of idee nie. Dit kan meebring dat Duitsland met tyd disintegreer.
Goeie berig! Die uiteinde van die Islamitiese bedreiging is voorspel in Esegiel 38 en 39! Die Here sal hulle weermag vernietig! Dus sal geen heidige wereld mag Islam kan stuit nie!