Spanje/Marokko: 40 jaar van Wes-Sahara konflik/besetting. 40 jaar gelede, op 6 November 1975, het die “Groen Mars” plaasgevind, waarmee een van die laaste kolonies in Afrika, die Spaanse Sahara (Rio de Oro) tot ‘n val gekom het. Die Spaanse Sahara is was sedert 1884 in Spanje se besit. 350 000 Marokkane het, in opdrag van koning Hassan, in groen geklee (groen is die kleur van Islam) en net met Marokkaanse vlae en Korane “bewapen”, die grens na Rio de Oro oorgesteek en daarmee Marokko se aanspraak op die gebied deur middel van ‘n demografiese magsvertoon onderskraag. Sowat 25 000 troepe het egter ook meegemaak en die “vreedsame besetting” was net ‘n front. Die Spaanse grenstroepe het geen weerstand gebied nie om ‘n bloedvergieting te verhoed, alhoewel hulle militêr sterker was as die Marokkaanse weermag. Die Wes-Sahara se bevrydingsbeweging, Polisario, het wel met die Marokkane slaags geraak. Hierdie episode van die dekolonisering het egter plaasgevind in die wêreldpolitieke klimaat van die tyd.
Spanje was een van die laaste Europese lande, saam met sy buurland Portugal, wat aan kolonies vasgehou het. Al twee lande was diktatorskappe en dus nie in dieselfde mate sensitief oor internasionale opinie of druk vanaf die eie bevolking. Brittanje, België en Frankryk het reeds voor of in 1960 van hulle kolonies ontslae geraak. Francisco Franco het Spanje met harde hand regeer. Nogtans het reeds versigtige dekolonisasie in ander gevalle (die piepklein Ekwatoriaal-Guineë het 1968 onafhanklik geword en Sidi Ifni is 1969 aan Marokko oorhandig) plaasgevind. Ten tye van die Groen Mars het Franco op sterwe gelê en het onsekerheid oor die toekoms van die land se interne politiek geheers. Spanje was dus nie in staat om duur koloniale oorloë te veg nie. Reeds in Oktober het Spanje agter die skerms met die Polisario-front, wat vir onafhanklikheid geveg het, ooreengekom om die gebied in die nabye toekoms aan hulle te oorhandig.
Marokko het in 1953 onafhanklik geword van Frankryk en het 2 dekades later, met koning Hassan II aan bewind, interne woelinge gehad. Nasionale prestige deur middel van vergroting van die grondgebied was dus ‘n aanloklike opsie. Die gety was sterk vir dekolonisasie en Spanje was geïsoleerd. Marokko het ‘’n historiese aanspraak op Rio de Oro geldig gemaak wat op ‘n stadium deel van die Islamitiese ryk in Noord-Afrika was en die bevolking was as Arabiere ook stamverwant. Die internasionale Geregshof het ook in Oktober 1975 uitspraak gelewer op versoek van Marokko oor die gebied en het net ‘n swak en wankelrige aanspraak van Marokko vasgestel en die selfbeskikking van die inheemse bevolking as belangriker beskou, wat ‘n terugslag vir Marokko was. Met die Groen Mars wou Marokko kort voor die VN sitting oor die Wes-Sahara ‘n magsvertoon lewer om sy aanspraak te bevestig. Mauretanië, wat in die suide en ooste aan Rio de Oro grens, het ook aanspraak op die gebied gehad.
Die uitkoms: Spanje het toegegee aan die druk van Marokko en ander lande, o.a. Frankryk, Brittanje en die VSA en het met die ooreenkoms van Madrid op 14 November 1975 ingestem om die gebied Rio de Oro te ontruim en te deel tussen Marokko en Mauretanië. Verteenwoordigers van die inheemse bevolking was nie genooi nie, maar ‘n klousule van die verdrag het melding gemaak dat hulle wense in ag geneem moet word. Polisario het feitlik onmiddellik oorlog teen die besetters verklaar. Die swak Mauretanië kon verslaan word, maar die gebied wat hulle aan Polisario afgestaan het, het Marokko onmiddellik beset. Die OAE en die VN is ten gunste van selfbeskikking van die gebied maar die dispuut is tot vandag toe onopgelos omdat geen konsensus oor die hoe en wat (en veral wie mag stem) van ‘n referendum bestaan. Marokko staan polities in ‘n mate geïsoleerd en sy buurland Algerië vat Polisario se kant en huisves duisende vlugtelinge in die grensdorp Tindouf, waar die Polisario sy regering in ballingskap het. Marokko het egter demografies en geografies feite geskep deur talle Marokkane in die uiters yl bevolkte gebied te vestig en deur in die ooste van Wes-Sahara ‘n geweldige sandwal op te rig wat insuipeling deur die Polisario moeilik maak.
Daar is sekere parallele tussen Wes-Sahara en Suidwes-Afrika: al twee is yl bevolkte woestyn- en semi-woestyngebiede wat deur magtige buurlande beset is en as verlengstuk van die staat bestuur is, terwyl ‘n plaaslike bevrydingsbeweging teen die teenwoordigheid van die lande geveg het (of veg) en die VN en OAE die beweging se kant vat. Al twee is of was van die laaste onopgeloste territoriale dekolonisasie-vraagstukke in Afrika.
Asië:
Sjina: einde van een-kind beleid. Op die kongres van die kommunistiese party van Sjina is so pas aangekondig dat die een-kind beleid geskraap word en pare van nou af twee kinders (maar nie meer nie) mag hê.
Die een-kind beleid is in 1979 ingestel. Die doel was destyds om ‘n bevolkingsontploffing te keer. Sjina is die land met grootste bevolking op aarde (1.3 miljard) en was nog altyd oorbevolk. 1979 was die bevolking amper 1 miljard en dit het gestyg tot 1.3 miljard, maar sedertdien, danksy die een-kind beleid, gestagneer. Die kommunistiese party het destyds, nie sonder rede, gevrees dat onbeheerde bevolkingsgroei die ekonomiese vooruitgang en die verbetering van mense se lewensomstandighede tot niet sou maak. Die land het eenvoudig nie genoeg hulpbronne vir nog meer mense nie. Daar is bereken dat deur die een-kind beleid 400 miljoen minder Sjinese gebore is. Dit sou inderdaad ‘n nagmerriesenario wees om by die 1.3 miljard Sjinese nog 400 miljoen te voeg. Die kommunistiese party argumenteer dat die beleid ook die ekonomiese wonderwerk in Sjina moontlik gemaak het: dit het vroue vrygestel om te werk pleks om by die huis te wees en het gesinne in staat gestel om meer te spaar. Anders gestel het dit Sjina gedwonge verwesters en gemoderniseer en radikaal met die ou Sjinese tradisie van die uitgebreide familie en die patriargale strukture gebreek. Vir die wêreld was dit ook ‘n bedekte seën: die huidige ekonomiese voorspoed het groot besoedeling en vernietiging van hulpbronne tot gevolg en met nog 400 miljoen mense meer sou dit ondraaglik wees. Die een-kind beleid is op tipiese kommunistiese, sentralistiese manier toegepas: pare met meer as een kind is beboet en benadeel, permitte vir uitsonderings moes aangevra word.
Die nadele van die een-kind beleid is egter ook groot: dit is oneties om vir mense voor te skryf hoe hulle moet leef en die een-kind beleid het gelei tot miljoene aborsies en selfs doodmaak van pasgebore babas. Verder het dit tot ‘n groeiende geslagswanbalans gelei: as jy net een kind kan hê, dan moet dit verkieslik ‘n seuntjie wees in Sjina en daarom is talle vroulike fetusse geaborteer. Vir jou sosiale ontwikkeling is dit ook nadelig om as enkelkind op te groei weens gebrek aan sosialisering en ‘n geneigdheid tot selfgesentreerdheid. Na die talle Sjinese enkelkinders word ook verwys as die klein keisers, omdat hulle bederf word en alles kry wat hulle wil hê. Al ‘n paar jaar gelede is die een-kind beleid geleidelik versag: op die platteland is dit minder streng toegepas en pare waar albei self enkelkinders was, is toegelaat om meer as een kind te hê. Wat die regering egter nou oortuig het om die beleid te laat vaar is die demografiese tydbom in die ander rigting: te min kinders beteken dat daar in die toekoms te min werkendes is wat die toenemende ouer bevolking kan dra. Dit is iets wat die Weste reeds lank ondervind. Of die skrapping van die beleid egter die gewenste uitwerking het, is te betwyfel: in ander gemoderniseerde samelewings kon die bevolkingsgroei, as dit eers onder vervangingskoers was, nie meer omgekeer word nie. As een kind die norm is, is dit twyfelagtig dat twee kinders skielik die nuwe normaal sal word. Die onlangse verslappings het reeds min pare beweeg om aansoek te doen vir ‘n tweede kind. Vir die mense is dit egter wel goeie nuus want dit gee hulle meer vryheid in ‘n belangrike saak soos voortplanting.